Arm nasies word vullishope vir die rykes
DIE giftige vrag het soos ’n verstote weeskind van skip tot skip en hawe tot hawe geswerf, op soek na ’n tuiste. Elfduisend vate propvol giftige hars, plaagdoders en ander gevaarlike chemikalieë is van Djibouti, Afrika, na Venezuela, na Sirië en toe na Griekeland vervoer. Die lekkende vate het uiteindelik die bemanning van een van die vragskepe begin aantas. Een man het gesterf, en die meeste van die ander het vel-, nier- en asemhalingsiektes as gevolg van die giftige brousel aan boord opgedoen.
Skepe, vragmotors en treine wat met soortgelyke dodelike afvalstowwe belaai is, deurkruis die planeet op soek na ’n tuiste. Heel dikwels word die lande wat reeds deur armoede, hongersnood en siekte geteister word die stortplek vir tonne gifstowwe en besoedelde afval. Omgewingsdeskundiges vrees dat ’n ekologiese ramp net ’n kwessie van tyd is.
Ou verf, oplosmiddels, motorbande, batterye, radioaktiewe afval en metaalskuim vol lood en PCB het dalk geen aantrekkingskrag vir jou nie, maar dit het wel vir die snelgroeiende industriëleafval-bedryf. Ironies genoeg, hoe strenger ’n regering se omgewingsbeleid word, hoe meer giftige afval sal sy nywerhede in die buiteland stort. “Bykans 20 miljoen ton giftige chemikalieë word elke jaar vir wegdoening na Derdewêreldlande verskeep deur gewetenlose” maatskappye van die nywerheidslande, het die Londense weekblad The Observer gesê. Skuiwergate in die wet en wette wat nie streng toegepas word nie, veroorsaak dat duisende tonne giftige afval op die bodem van Afrika, Asië en Latyns-Amerika beland.
Dit is geen wonder dat hierdie maatskappye die versoeking om die afval te stort, nie kan weerstaan nie! Die koste kan grootliks besnoei word as die regte plek gebruik word. ’n Voorbeeld hiervan is die toerskip United States, wat eens die trotse vlagskip van die Amerikaanse passasiersvloot was. Dit is in 1992 gekoop om vir luukse skeepsreise opgeknap te word. Dit het blykbaar meer asbes bevat as enige ander skip ter see. Asbesverwydering sou in die Verenigde State $100 miljoen (R360 miljoen) gekos het. Die skip is op sleeptou na Turkye geneem, waar dit vir $2 miljoen (R7 miljoen) gedoen kon word. Maar die Turkse regering het daarteen besluit—dit sou te gevaarlik wees om meer as 46 000 vierkante meter kankerverwekkende asbesvesel in hulle land te laat verwyder. Die skip is uiteindelik na die hawe van ’n ander land gesleep, waar die omgewingstandaarde minder streng is.
Dodelike herwinning
Westerse ondernemings in ontwikkelende lande verkies dalk om aan hulleself te dink as weldoeners van die armes. Harvey Alter van die Amerikaanse Handelskamer voer aan dat “die afvaluitvoer- en herwinningsbedryf die lewenstandaard in hierdie lande verhoog”. Maar ’n oorsig van hoe sommige maatskappye in die buiteland optree, het aan die lig gebring dat hierdie ondernemings in die meeste gevalle, in plaas van die lewenstandaard te verhoog, “gewoonlik nie ’n beter loon betaal as die plaaslike minimum loon nie, die omgewing besoedel en produkte verkoop wat in sommige gevalle gevaarlik is en op bedrieglike wyse bemark word”.
Pous Johannes-Paulus II het by ’n onlangse werkgroep oor besoedeling in die ontwikkelende wêreld ook sy besorgdheid uitgespreek. Die Pous het gesê: “Dit is ’n ernstige wangebruik wanneer ryk lande munt slaan uit die swak ekonomie en wetgewing van armer lande deur besoedelende tegnologie en afvalstowwe uit te voer wat die omgewing en gesondheid van die bevolking benadeel.”
’n Tipiese voorbeeld hiervan word in suidelike Afrika gevind, waar die wêreld se grootste herwinnaar van kwikafvalstowwe is. In ’n geval wat “een van die vasteland se ergste besoedelingskandale” genoem is, het die giftige afvalstowwe een werker laat sterf en ’n ander een in ’n koma laat verval, en een derde van die arbeidsmag ly na bewering aan die een of ander vorm van kwikvergiftiging. Die regerings van sekere nywerheidslande verbied of beperk grootliks die wegdoening van sekere kwikafvalstowwe. Skepe van industrieë in ten minste een van hierdie lande vervoer die gevaarlike vrag na die kus van Afrika. ’n Ondersoekspan het 10 000 vate met kwikafvalstowwe van drie buitelandse maatskappye gevind wat by die aanleg geberg word.
Dit klink baie beter om stowwe na ontwikkelende nasies te stuur vir herwinning as om afvalstowwe by hulle te stort. Dit kan nuttige neweprodukte lewer, werk verskaf en die ekonomie stimuleer. Maar soos die voormelde berig uit suidelike Afrika toon, kan dit ook noodlottige gevolge hê. Die herwinning van nuttige produkte uit hierdie stowwe kan dodelike chemikalieë vrystel wat besoedeling en siekte veroorsaak en somtyds die dood van die werkers tot gevolg kan hê. Die tydskrif New Scientist sê: “Dit ly geen twyfel dat herwinning soms ’n voorwendsel vir storting is nie.”
Die taktiek word deur U.S.News & World Report beskryf: “Vals klassifisering, skuiwergate in die wet en gebrek aan kundigheid maak die ontwikkelende lande maklike teikens vir aggressiewe handelaars in afvalstowwe wat giftige rioolslyk as ‘organiese bemestingstof’ verkoop of verouderde plaagdoders as ‘landboumiddels’.”
In Mexiko het maquiladoras, of fabrieke, wat in buitelandse besit is, toegeneem. ’n Vername oogmerk van die buitelandse maatskappye is om streng besoedelingstandaarde vry te spring en munt te slaan uit die eindelose stroom laagbetaalde werkers. Tienduisende Mexikane woon in krotte langs vuil kanale met besoedelde water. “Selfs die bokke drink dit nie”, het een vrou gesê. ’n Berig deur ’n Amerikaanse Mediese Vereniging het gesê dat die grensgebied “’n ware vuilput en teelaarde vir aansteeklike siektes” is.
Nie net die plae word uitgewis nie
“Hoe kan ’n land ’n gifstof op eie bodem verbied en dit tog vervaardig en aan ander lande verkoop? Hoe sedelik is dit?” het Arif Jamal, ’n agronoom en plaagdoderkundige van Khartoem, gevra. Hy het foto’s getoon van vate met die stempel: “Nie vir verbruik geregistreer”—in die nywerheidsland waarvandaan dit gekom het. Die vate is in ’n Soedannese wildreservaat gevind. Daar naby was hope dooie diere.
Een ryk land “voer jaarliks ongeveer 500 miljoen pond [230 miljoen kg] plaagdoders uit wat verbode, beperk of nie vir huishoudelike gebruik gelisensieer is nie”, berig The New York Times. Heptachloor, wat kanker veroorsaak en aan DDT verwant is, is in 1978 vir gebruik op voedselgewasse verbied. Maar die chemikalieëfabriek wat dit uitgevind het, vervaardig dit nog steeds.
’n VN-opname het vasgestel dat “uiters giftige plaagdoders” in ten minste 85 ontwikkelende nasies vryelik beskikbaar is. Ongeveer eenmiljoen mense word elke jaar ernstig vergiftig, en sowat 20 000 sterf weens die chemikalieë.
Die tabakbedryf kan moontlik die verpersoonliking van dodelike hebsug genoem word. ’n Artikel in Scientific American met die opskrif “Die wêreldwye tabakepidemie” sê: “Die omvang van siektes en sterfgevalle wat regoor die wêreld deur tabak veroorsaak word, kan nie oorbeklemtoon word nie.” Die gemiddelde ouderdom waarop mense begin rook, daal al hoe laer, en die aantal vrouerokers neem grootliks toe. Invloedryke tabakmaatskappye wat kop in een mus met geslepe adverteerders is, is besig om die ontsaglike mark in minderontwikkelde lande suksesvol te verower. Hulle weg na rykdom is besaai met lyke en liggame wat deur siektes afgetakel word.a
Ons moet egter toegee dat nie alle maatskappye die welsyn van ontwikkelende nasies verontagsaam nie. Daar is maatskappye wat sake in ontwikkelende lande op ’n billike en verantwoordelike wyse probeer doen. Een maatskappy voorsien byvoorbeeld aftree- en gesondheidsvoordele en betaal sy werkers drie maal die vereiste loon. ’n Ander maatskappy het ’n sterk standpunt oor menseregte ingeneem en het tientalle kontrakte weens die skending daarvan gekanselleer.
Skynheilige ommeswaai
In 1989 is ’n VN-ooreenkoms in Basel, Switserland, onderteken om die verplasing van gevaarlike afval onder nasies te reguleer. Dit het nie daarin geslaag om die probleem op te los nie, en New Scientist het berig gelewer oor ’n latere samekoms van dieselfde nasies, wat in Maart 1994 gehou is:
“In antwoord op die verstaanbare woede van ontwikkelende nasies het die 65 nasies wat deel was van die Basel-ooreenkoms ’n belangrike tree vorentoe geneem toe hulle besluit het om die ooreenkoms uit te brei deur die uitvoer te verbied van gevaarlike afval van die OESO-lande [Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling] na lande wat nie aan OESO behoort nie.”
Maar hierdie jongste besluit het die ontwikkelde lande blykbaar nie geval nie. New Scientist het sy kommer uitgespreek: “Dus is die nuus dat die VSA, Brittanje, Duitsland en Australië almal nou hierdie besluit probeer ondermyn, verontrustend. Dokumente van die Amerikaanse regering wat openbaar geword het, verklap sy ‘stille’ diplomatieke pogings om die verbod te ‘wysig’ voordat hy instem om die ooreenkoms goed te keur.”
’n Dag van afrekening vir die hebsugtiges
“En nou, julle rykaards, kerm en kla oor al die swaar wat oor julle kom”, waarsku die Bybel in Jakobus 5:1 (NAV). Die afrekening sal kom van iemand wat dinge reg kan stel: “Die HERE doen geregtigheid en reg aan almal wat verdruk word.”—Psalm 103:6.
Diegene wat nou in knellende armoede leef, kan moed skep in die wete dat die woorde van Psalm 72:12, 13 binnekort vervul sal word: “Hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red.”
[Voetnoot]
a Sien die Ontwaak! van 22 Mei 1995, “Miljoene word doodgemaak om miljoene te maak”.
[Venster op bladsy 6]
Dodelike vullis wat weier om te verdwyn
“Dodelike kernafval hoop op met geen klinkklare oplossing op hande nie.” Dit was verlede Maart die opskrif van die wetenskapsrubriek in The New York Times. “Die eenvoudigste opsie”, het die artikel gesê, “is om dit te begrawe. Maar dít kom nou onder skoot terwyl wetenskaplikes daaroor debatteer en Federale agentskappe ondersoek instel of ’n voorgestelde ondergrondse stortplek in Nevada dalk later kan ontplof in ’n kernontploffing wat deur afvalplutonium veroorsaak is.”
Wetenskaplikes het baie planne voorgestel om die wêreld van die oorskot plutonium te bevry, maar die koste, geskille en vrese het die planne in die doofpot gehou. Een gedagte wat talle teen die bors stuit, is om dit in die see te stort. ’n Verbeeldingryker voorstel is om dit in die son weg te skiet. ’n Ander oplossing is die gebruik van reaktors om dit te verbrand. Maar dit is verwerp, aangesien dit “honderde of duisende jare sal neem” om dit te doen.
Dr. Makhijani van die Instituut vir Energie en Omgewingsnavorsing het gesê: “Elke oplossing wat tegnies goed is, het uiters onaangename politieke aspekte, en elke oplossing wat polities goed is, is geneig om tegnies swak te wees. Niemand, ons inkluis, het enige goeie alomvattende oplossings vir hierdie gemors nie.”
Om elektrisiteit aan 60 miljoen wonings te voorsien—20 persent van die land se krag—het tot gevolg dat die 107 reaktors in die kernkragsentrales in die Verenigde State elke jaar 2 000 ton verbruikte brandstof oplewer, en sedert 1957 is die verbruikte brandstof tydelik by die kernkragsentrales geberg. Mense wag al dekades lank tevergeefs dat die regering ’n manier sal vind om daarvan ontslae te raak. Nege presidente was al aan bewind en 18 Kongresse het met planne vorendag gekom en sperdatums gestel om te verseker dat die radioaktiewe afval in ondergrondse fasiliteite geberg word, maar die uiteindelike wegdoening van die gevaarlike afval wat duisende jare lank beveilig moet word, is nog hangende.
In teenstelling hiermee hou die biljoene smeltoonde wat Jehovah God in die verafgeleë sterre van die heelal beheer geen gevaar in nie, en die een wat hy in ons son beheer, maak lewe op die aarde moontlik.
[Erkenning]
UNITED NATIONS/IAEA
[Prent op bladsy 7]
Giftige chemikalieë besoedel drink- en waswater
[Prent op bladsy 7]
Kinders speel by gevaarlike of dodelike afval