Ons planeet—Die stryd om dit te red
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE
JOERI, wat in die Russiese stad Karabasj woon, het twee kinders en hulle albei is siek. Hy is bekommerd maar nie verbaas nie. “Daar is geen gesonde kinders hier nie”, verduidelik hy. Die mense van Karabasj word vergiftig. Elke jaar laat ’n plaaslike fabriek 162 000 ton besoedelstowwe in die lug vry—9 ton vir elke man, vrou en kind wat daar woon. In Nikel en Montsjegorsk op die Kola-skiereiland, noord van die Noordpoolsirkel, “laat twee van die wêreld se grootste en mees verouderde nikkelsmelterye . . . elke jaar meer swaar metale en swaweldioksied in die lug vry as enige ander soortgelyke fabriek in Rusland”.—The New York Times.
Die lug in Mexikostad is geensins gesonder nie. ’n Opname deur dr. Margarita Castillejos het getoon dat kinders selfs in ’n welgestelde stadsgebied 4 uit 5 dae siek was. “Vir hulle het dit normaal geword om siek te wees”, het sy opgemerk. Volgens haar is een van die hoofoorsake die deurdringende rookmis wat deur die ophoping van die duisende voertuie in die stad se strate veroorsaak word. Osoonkonsentrasies is vier keer hoër as die maksimum wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie bepaal word.
In Australië is die gevaar onsigbaar—maar net so dodelik. Kinders moet nou hoede dra wanneer hulle by die skool op die speelterrein baljaar. Weens die vernietiging van die beskermende osoonlaag in die Suidelike Halfrond het Australiërs die son as ’n vyand eerder as ’n vriend begin beskou. Hulle het reeds ’n drievoudige toename in velkanker gesien.
In ander wêrelddele is dit ’n daaglikse stryd om genoeg water te vind. Toe Amalia 13 jaar oud was, het die droogte in Mosambiek begin. Daar was skaars genoeg water vir die eerste jaar en amper niks vir die volgende jaar nie. Groentegewasse het verdroog en doodgegaan. Amalia en haar gesin is genoodsaak om wilde vrugte te eet en in die sanderige rivierbeddings te grawe vir die bietjie kosbare water wat hulle kon vind.
In die Indiese staat Rajastan is dit weivelde wat vinnig verdwyn. Fagoe, ’n nomadestamlid, het dikwels moeilikheid met plaaslike boere. Hy kan nie weiding vir sy trop skape en bokke kry nie. As gevolg van die groot tekort aan vrugbare grond het eeue se vreedsame naasbestaan tussen boere en nomade verbrokkel.
Die situasie is selfs erger in die Sahel, ’n breë halfdor landstreek aan die suidekant van die Sahara in Afrika. As gevolg van ontbossing en die gevolglike droogte is hele troppe vee uitgewis en tallose kleinhoewes in die sand van die groeiende woestyn begrawe. “Ek gaan nie weer plant nie”, het ’n Foelani-boer van Niger hom voorgeneem nadat hy sy boermanna-oes vir die sewende keer sien misluk het. Sy beeste het reeds weens ’n gebrek aan weiding gevrek.
Die toenemende bedreiging
Die onlangse droogtes, die misoeste en die besoedelde lug wat stad na stad versmoor, vorm ’n onheilspellende patroon. Dit is simptome van ’n siek planeet, ’n planeet wat nie meer opgewasse is teen al die eise wat die mens aan hom stel nie.
Niks op aarde is belangriker vir ons voortbestaan as die lug wat ons inasem, die kos wat ons eet en die water wat ons drink nie. Hierdie lewensonderhoudende noodsaaklikhede word óf meedoënloos besoedel óf geleidelik vernietig—deur die mens self. In sommige lande is die toestand van die omgewing reeds lewensgevaarlik. Soos die voormalige Sowjet-president, Mikhail Gorbatsjof, dit in beeldspraak gestel het: “Die ekologie het ons aan die keel beetgegryp.”
Hierdie bedreiging moet nie lig opgeneem word nie. Die wêreldbevolking neem geleidelik toe, en die eise wat gestel word aan beperkte hulpbronne vermenigvuldig. Lester Brown, die president van die Worldwatch-instituut, het onlangs gesê dat “die oorweldigende bedreiging vir ons toekoms nie militêre aggressie is nie, maar die omgewingsagteruitgang van die planeet”. Word genoeg gedoen om ’n tragedie af te weer?
Die stryd om die planeet te beskerm
Dit is moeilik om ’n alkoholis te help wat daarvan oortuig is dat hy nie ’n drankprobleem het nie. Die eerste stap ter verbetering van die planeet se gesondheid is eweneens om die erns van die kwaal te erken. Voorligting het moontlik in onlangse jare die grootste omgewingsukses behaal. Die meeste mense is vandag deeglik bewus van die feit dat ons aarde verarm en besoedel word—en dat iets daaromtrent gedoen moet word. Die gevaar van omgewingsagteruitgang is nou groter as die gevaar van kernoorlog.
Wêreldleiers is nie onbewus van die probleme nie. Sowat 118 staatshoofde het in 1992 die Aardespitsberaad bygewoon, waartydens ’n paar maatreëls getref is om die atmosfeer en die aarde se slinkende hulpbronne te beskerm. Die meeste lande het ’n klimaatsverdrag onderteken waarin hulle ooreengekom het om ’n stelsel te begin om veranderinge in koolstofdioksiedvrylatings aan te dui, met die doel om die totale hoeveelheid daarvan in die nabye toekoms tot ’n sekere vlak te beperk. Hulle het ook maniere bespreek om ons planeet se biodiversiteit, al die plant- en diersoorte, te beveilig. Hulle kon nie tot ’n vergelyk kom oor die beskerming van die aarde se woude nie, maar die spitsberaad het twee dokumente opgelewer—die “Rio-verklaring” en “Agenda 21”, wat riglyne bevat oor hoe lande “volhoubare ontwikkeling” kan bereik.
Soos omgewingsdeskundige Allen Hammond dit gestel het: “Die beslissende toets sal wees of die verbintenisse wat in Rio aangegaan is, gehou sal word—of die moedige woorde in die maande en jare wat voorlê tot dade sal lei.”
Die Montreal-Protokol van 1987, wat ’n internasionale ooreenkoms ingesluit het om chloorfluoorkoolstowwe (CFK’s) binne ’n vasgestelde tyd geleidelik uit te skakel, was egter ’n betekenisvolle stap vorentoe.a Waarom die besorgdheid? Omdat CFK’s blykbaar tot die vinnige vernietiging van die aarde se beskermende osoonlaag bydra. Die osoon in die aarde se bo-atmosfeer speel ’n noodsaaklike rol om die son se ultraviolet strale, wat velkanker en katarakte kan veroorsaak, te absorbeer. Dit is nie net ’n probleem in Australië nie. Wetenskaplikes het onlangs ’n afname van 8 persent in die winterosoonkonsentrasie bokant sommige gematigde streke van die Noordelike Halfrond bespeur. Twintigmiljoen ton CFK’s het reeds na die stratosfeer toe gedryf.
Met die oog op hierdie rampspoedige besoedeling van die atmosfeer het nasies van die wêreld hulle verskille tersyde gestel en beslissend opgetree. Verdere internasionale stappe is ook gedoen om bedreigde spesies te beskerm, Antarktika te bewaar en die handel in giftige afval te beheer.
Baie lande doen stappe om hulle riviere skoon te maak (daar is nou weer salm in Engeland se Teemsrivier), om lugbesoedeling te beheer (dit het met 10 persent afgeneem in die stede van die Verenigde State met die meeste rookmis), om omgewingsvriendelike energiebronne te gebruik (80 persent van die wonings in Ysland word met geotermiese energie verhit) en om hulle natuurlike erfenis te bewaar (Costa Rica en Namibië het ongeveer 12 persent van hulle hele grondgebied in nasionale parke omskep).
Bewys hierdie positiewe tekens dat die mensdom die gevaar in ’n ernstige lig beskou? Sal dit net ’n kwessie van tyd wees voordat ons planeet weer eens goeie gesondheid geniet? Die volgende artikels sal hierdie vrae probeer beantwoord.
[Voetnoot]
a CFK’s is algemeen gebruik in aërosolspuitkannetjies, verkoeling, lugreëlaars, skoonmaakmiddels en die vervaardiging van skuimplastiekisolering. Sien die Ontwaak! van 22 Desember 1994, “Wanneer ons atmosfeer beskadig word”.