Word die stryd gewen?
“PAS hierdie planeet op, dit is die enigste een wat ons het.” Dit was die dramatiese woorde van prins Philip van Brittanje, die president van die Wêreldnatuurfonds.
Duisende jare vroeër het die psalmis geskryf: “Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee” (Psalm 115:16). God het die aarde aan ons as tuiste gegee, en ons moet dit oppas. Dit is wat ekologie behels.
Die woord “ekologie” beteken letterlik “’n studie van tuistes”.a Een definisie wat deur The American Heritage Dictionary gegee word, is “die studie van die nadelige gevolge van die moderne beskawing op die omgewing, met die oog op voorkoming of ’n ommekeer deur middel van bewaring”. Eenvoudig gestel, ekologie beteken om vas te stel watter skade die mens aangerig het en om dan maniere te vind om dit reg te stel. Nie een van die twee is ’n maklike taak nie.
Drie grondwaarhede van die ekologie
In sy boek Making Peace With the Planet verstrek Barry Commoner, ’n bioloog, drie eenvoudige wette van die ekologie wat help verklaar waarom die aarde so kwesbaar is vir misbruik.
Alles is onderling verbind. Net soos ’n slegte tand ons hele liggaam kan aantas, kan die beskadiging van ’n bepaalde natuurlike hulpbron tot ’n hele reeks omgewingsprobleme aanleiding gee.
Gedurende die afgelope 40 jaar is 50 persent van Nepal se Himalaja-woude byvoorbeeld al afgekap vir vuurmaakhout of vir houtprodukte. Toe daar nie meer bome was nie, het die bogrond op die berghange weldra met die koms van die moesonreëns weggespoel. Sonder bogrond kon nuwe bome nie maklik wortelskiet nie, en baie berge is nou kaal. Nepal verloor nou elke jaar miljoene tonne bogrond as gevolg van ontbossing. En die probleme is nie tot Nepal beperk nie.
Die stortreëns in Bangladesj, wat voorheen deur die bome geabsorbeer is, stroom nou ongehinderd teen die kaalgestroopte berge af en vloei na die kus, waar dit rampspoedige oorstromings veroorsaak. In die verlede het Bangladesj een keer elke 50 jaar ernstige oorstromings ondervind; nou is dit elke 4 jaar of minder.
In ander wêrelddele het ontbossing tot woestynvorming en veranderinge in die plaaslike klimaat gelei. Woude is net een van die natuurlike hulpbronne wat die mens uitput. Aangesien ekoloë nog betreklik min omtrent die verskillende skakels van ons ontsaglike ekosisteem weet, word ’n probleem dalk nie opgemerk totdat ernstige skade reeds aangerig is nie. Dit is die geval met afvalwegdoening, wat die tweede wet van die ekologie goed toelig.
Alles moet êrens gaan. Stel jou voor hoe ’n gewone huis sou lyk as daar geen afvalwegdoening was nie. Ons planeet is juis so ’n geslote stelsel—al ons afval moet êrens in hierdie aardse tuiste beland. Die gedeeltelike vernietiging van die osoonlaag toon dat selfs skynbaar onskadelike gasse, soos chloorfluoorkoolstowwe (CFK’s), nie bloot in die niet verdwyn nie. CFK’s is net een van honderde potensieel gevaarlike stowwe wat in die lug, die riviere en die oseane vrygelaat word.
Sommige produkte—wat as “bioafbreekbaar” beskryf word—kan wel mettertyd deur natuurlike prosesse afgebreek en geabsorbeer word, maar ander kan nie. Die strande van die wêreld is besaai met plastiekhouers wat nog dekades lank daar sal lê. Nywerhede se giftige afval, wat gewoonlik êrens begrawe word, is minder opvallend. Hoewel dit buite sig is, is daar geen waarborg dat dit vergete sal bly nie. Dit kan steeds in ondergrondse watervoorrade insyfer en ernstige gesondheidsgevare vir mens en dier inhou. “Ons weet nie wat om met al die chemikalieë te doen wat deur hedendaagse nywerhede vervaardig word nie”, het ’n Hongaarse wetenskaplike by Boedapest se Instituut vir Hidrologie erken. “Ons weet nie eers wat alles vervaardig word of wat daarvan word nie.”
Radioaktiewe afval, ’n neweproduk van kernkragsentrales, is die onheilspellendste van alle afvalstowwe. Duisende tonne kernafval word in tydelike bergplekke gehou, hoewel van die afval reeds in die oseane gestort is. Ten spyte van jare se wetenskaplike navorsing is daar nog geen oplossing gevind vir die veilige, permanente berging of wegdoening daarvan nie, en daar is ook nie een op hande nie. Niemand weet wanneer hierdie ekologiese tydbomme kan ontplof nie. Die probleem sal beslis nie verdwyn nie—die afval sal nog eeue of millenniums lank, of totdat God optree, radioaktief bly (Openbaring 11:18). Die mens se verontagsaming van die kwessie van afvalwegdoening vestig die aandag ook op die derde wet van die ekologie.
Laat die natuur sy gang gaan. Met ander woorde, die mens moet eerder met natuurlike stelsels saamwerk as om dit te probeer omseil met iets wat hy dink beter is. Sekere plaagdoders is ’n goeie voorbeeld hiervan. Toe dit aanvanklik ingebring is, het dit boere in staat gestel om onkruid te beheer en om vernietigende plae feitlik uit te wis. Dit het gelyk of buitengewoon ryk oeste ’n uitgemaakte saak was. Maar toe het dinge verkeerd geloop. Onkruid en insekte het bestand geblyk teen die een plaagdoder na die ander, en dit het duidelik geword dat die plaagdoders besig was om die insekte se natuurlike vyande, wilde diere en selfs die mens te vergiftig. Dalk is jy al ernstig deur plaagdoders aangetas. Dan is jy een van ten minste ’n miljoen slagoffers wêreldwyd.
Die uiteindelike ironie van die saak is die toenemende bewyse dat plaagdoders oeste op die lange duur moontlik nie eers verbeter nie. In die Verenigde State verslind insekte nou ’n groter deel van die oes as voor die grootskaalse gebruik van plaagdoders. Die Internasionale Instituut vir Rysnavorsing, met sy hoofkwartier in die Filippyne, het eweneens gevind dat plaagdoders nie meer die rysopbrengste in Suidoos-Asië verbeter nie. Trouens, ’n program wat deur die Indonesiese regering gesubsidieer word en wat nie soveel op plaagdoders staatmaak nie, het sedert 1987 ’n toename van 15 persent in rysproduksie gehad ondanks ’n afname van 65 persent in die gebruik van plaagdoders. Nietemin gebruik die wêreld se boere steeds elke jaar plaagdoders op groot skaal.
Die drie wette van die ekologie wat hierbo uiteengesit word, help verklaar waarom dinge verkeerd loop. Ander belangrike vrae is: Hoeveel skade is reeds aangerig, en kan dit herstel word?
Hoeveel skade is reeds aangerig?
Die bygaande wêreldkaart (sien bladsye 8-9) toon sommige van die vernaamste omgewingsprobleme, asook waar hulle die ergste is. Dit is duidelik dat die mens nie die skade kan herstel wanneer ’n verlies van habitat of ander faktore die uitwissing van ’n plant- of dierspesie veroorsaak nie. Ander skade—soos die agteruitgang van die osoonlaag—is reeds aangerig. Wat van die voortdurende omgewingsagteruitgang? Word daar vordering daarmee gemaak om dit stop te sit of dit ten minste te vertraag?
Twee van die belangrikste maatstawwe waarvolgens ekologiese skade gemeet word, is die landbou en vissery. Waarom? Omdat hulle produksievermoë van ’n gesonde omgewing afhang en omdat ons lewe van ’n bestendige voedselvoorraad afhang.
Beide sektore toon tekens van agteruitgang. Die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-Organisasie het bereken dat die vissersvlote van die wêreld nie meer as 100 miljoen ton vis kan vang sonder om die visvoorraad ernstig te bedreig nie. Daardie hoeveelheid is in 1989 oorskry, en die volgende jaar se wêreldwye vangs was inderdaad viermiljoen ton minder. Daar was ’n drastiese afname van vis in sommige visbanke. In die noordoostelike Atlantiese Oseaan het die vangs byvoorbeeld gedurende die laaste 20 jaar met 32 persent gedaal. Die grootste probleme is oorbevissing, besoedeling van die oseane en die vernietiging van broeiplekke.
Hierdie onrusbarende tendens word in oesopbrengste gesien. Gedurende die sestiger- en sewentigerjare het verbeterde soorte voedselgewasse sowel as besproeiing en die grootskaalse gebruik van chemiese plaagdoders en messtowwe die wêreldgraanproduksie aansienlik verhoog. Nou verloor plaagdoders en messtowwe hulle doeltreffendheid, en waterskaarstes en besoedeling dra ook tot kleiner oeste by.
Hoewel daar elke jaar bykans 100 miljoen ekstra monde is om te voed, het die bewerkte grond as ’n geheel gedurende die laaste dekade verminder. En hierdie bewerkbare grond verloor sy vrugbaarheid. Die Worldwatch-instituut raam dat erosie boere gedurende die laaste 20 jaar van 500 miljard ton bo-grond ontneem het. Dit is onvermydelik dat voedselproduksie sou begin afneem. Die verslag State of the World 1993 sê dat “die afname van 6 persent in die graanopbrengs per persoon tussen 1984 en 1992 vandag moontlik die onrusbarendste ekonomiese tendens in die wêreld” is.
Dit is duidelik dat die lewe van miljoene mense reeds op die spel is as gevolg van die mens se verwaarlosing van die omgewing.
Is die mens opgewasse teen die probleme?
Hoewel die mens nou in ’n mate verstaan wat verkeerd loop, is dit nie maklik om dit reg te stel nie. Die eerste hindernis is dat dit groot somme sal kos—ten minste R2 biljoen per jaar—om die omvattende voorstelle deur te voer wat in 1992 by die Aardespitsberaad ingedien is. Wesenlike opofferings sal ook gemaak moet word—opofferings soos om minder te mors en meer te herbenut, water en energie te bespaar, eerder van openbare as privaat vervoer gebruik te maak en, die allermoeilikste, om eerder aan die planeet as jou eie belange te dink. John Cairns jr., die voorsitter van ’n Amerikaanse komitee vir die herstel van die waterekosisteme, het die probleem in ’n neutedop gestel: “Ek is optimisties oor wat ons kan doen. Ek is pessimisties oor wat ons sal doen.”
Die blote koste verbonde aan ’n algehele opruiming is so ontsaglik dat die meeste lande verkies om die dag van afrekening uit te stel. Gedurende ’n ekonomiese krisistyd word omgewingsmaatreëls as ’n bedreiging vir werksgeleenthede of as ’n belemmering vir die ekonomie beskou. Woorde is goedkoper as dade. Die boek Caring for the Earth beskryf die reaksie tot dusver as “donderstorms van mooi woorde wat deur droogtes van onaktiwiteit gevolg word”. Maar kan nuwe tegnologie nie ondanks hierdie gesloer—as dit die tyd gegun word—’n pynlose genesing vir al die planeet se kwale vind nie? Blykbaar nie.
In ’n gesamentlike verklaring het Amerika se Nasionale Akademie vir die Wetenskappe en die Royal Society van Londen openlik erken: “As die huidige voorspellings aangaande bevolkingsgroei juis is en die mens se werksaamhede op die planeet dieselfde patroon bly volg, sal die wetenskap en die tegnologie moontlik nie onherstelbare omgewingsagteruitgang of voortdurende armoede in baie wêrelddele kan verhoed nie.”
Die angswekkende probleem van kernafval wat nêrens gestort kan word nie, herinner ’n mens daaraan dat die wetenskap nie alvermoënd is nie. Wetenskaplikes soek al 40 jaar lank na veilige plekke om hoogradioaktiewe afval permanent te berg. Die soektog is so moeilik dat sommige lande, soos Italië en Argentinië, tot die slotsom gekom het dat hulle nie voor die jaar 2040 op die vroegste ’n bergplek gereed sal hê nie. Duitsland, wat die mees optimistiese land op hierdie gebied is, hoop om sy planne teen die jaar 2008 te finaliseer.
Waarom is kernafval so ’n probleem? “Geen wetenskaplike of ingenieur kan ’n absolute waarborg gee dat radioaktiewe afval nie eendag in gevaarlike hoeveelhede uit selfs die beste bergplekke sal lek nie”, verduidelik geoloog Konrad Krauskopf. Maar ondanks die vroeë waarskuwings oor hoe moeilik afvalwegdoening is, het regerings en die kernbedryf ongeërg voortgegaan en aanvaar dat die tegnologie van môre met ’n oplossing vorendag sou kom. Daardie môre het nooit aangebreek nie.
Watter ander opsies is daar as die tegnologie nie ’n kitsoplossing vir die omgewingskrisis het nie? Sal die nasies uiteindelik deur die nood gedwing word om saam te werk om die planeet te beskerm?
[Voetnoot]
a Van die Griekse woord oiʹkos (huis, tuiste) en lo·giʹa (studie).
[Venster op bladsy 7]
Die soeke na hernieubare energiebronne
Die meeste van ons beskou energie as vanselfsprekend—totdat daar ’n kragonderbreking of ’n verhoging van oliepryse is. Energieverbruik is egter een van die grootste oorsake van besoedeling. Die meeste van die energie wat verbruik word, word verkry deur die verbranding van hout of fossielbrandstowwe, ’n proses wat miljoene tonne koolstofdioksied in die atmosfeer vrylaat en die wêreld se woude vernietig.
Kernenergie, ’n ander opsie, word al hoe ongewilder weens die gevaar van ongelukke en die probleem met die berging van radioaktiewe afval. Ander alternatiewe word hernieubare energiebronne genoem, aangesien hulle energiebronne benut wat natuurlik voorkom en vryelik beskikbaar is. Daar is vyf hoofsoorte.
Sonenergie. Dit kan maklik vir verhitting benut word, en in sommige lande, soos Israel, het baie huise sonpanele om water te verhit. Dit is moeiliker om die son te gebruik om elektrisiteit op te wek, maar moderne fotovoltaïese selle voorsien reeds elektrisiteit in plattelandse gebiede en word al hoe ekonomieser.
Windenergie. Reusagtige windmeule kan in verskeie winderige wêrelddele oral op die gesigseinder gesien word. Die koste van die elektrisiteit wat deur hierdie so genoemde eoliese energie verskaf word, het geleidelik gedaal en kos nou in sommige gebiede minder as die tradisionele kragvoorsiening.
Hidro-elektrisiteit. Twintig persent van die wêreld se elektrisiteit kom reeds van hidrokragsentrales, maar ongelukkig word die meeste belowende plekke in ontwikkelde lande reeds benut. Ontsaglike damme kan ook aansienlike ekologiese skade aanrig. Dit lyk of dit veral in ontwikkelende lande beter sal wees om talle kleiner hidrokragsentrales te bou.
Geotermiese energie. Vir sommige lande, in die besonder Ysland en Nieu-Seeland, het dit al moontlik geword om die “warmwaterstelsel” onder hulle voete te benut. Ondergrondse vulkaniese aktiwiteit verhit water, wat gebruik kan word om huise te verhit en elektrisiteit op te wek. Die Filippyne, Italië, Japan, Mexiko en die Verenigde State het ook hierdie natuurlike energiebron in sekere mate ontwikkel.
Gety-energie. Die seegetye word in sommige lande, soos Brittanje, Frankryk en Rusland, gebruik om elektrisiteit op te wek. Daar is egter min gebiede in die wêreld wat daarvoor geskik is om hierdie vorm van energie goedkoop te voorsien.
[Venster/Prente op bladsy 8, 9]
Sommige Van Die Wêreld Se Vernaamste Omgewingsprobleme
Die vernietiging van woude. Driekwart van die wêreld se gematigde woude en die helfte van die tropiese woude het reeds verlore gegaan, en gedurende die laaste dekade het die tempo van ontbossing gevaarlik toegeneem. Volgens die jongste ramings word daar elke jaar tussen 150 000 en 200-000 vierkante kilometer tropiese woude vernietig—ongeveer die grootte van Uruguay.
Giftige afvalstowwe. Die helfte van die 70 000 chemikalieë wat tans vervaardig word, word as giftig geklassifiseer. In die Verenigde State alleen word daar elke jaar 240 miljoen ton giftige afvalstowwe opgelewer. ’n Gebrek aan gegewens maak dit onmoontlik om die wêreldtotaal te bereken. Boonop sal daar teen die jaar 2000 bykans 200 000 ton radioaktiewe afval in tydelike bergplekke wees.
Grondverarming. ’n Derde van die aarde se landoppervlakte word deur woestynvorming bedreig. In sommige dele van Afrika het die Sahara in net 20 jaar 350 kilometer gegroei. Die lewensonderhoud van miljoene mense word reeds bedreig.
Waterskaarste. Ongeveer tweemiljard mense woon in gebiede waar daar altyd ’n watertekort is. Duisende putte wat opdroog as gevolg van die dalende vlak van die waterhoudende grondlae waarvan hulle afhanklik is, vererger die tekort.
Bedreigde spesies. Hoewel die syfers in sekere mate op gissings berus, raam wetenskaplikes dat 500 000 tot 1000 000 plant-, dier- en insekspesies teen die jaar 2000 sal uitgesterf het.
Lugbesoedeling. ’n Studie deur die Verenigde Nasies in die vroeë tagtigerjare het bevind dat eenmiljard mense in stadsgebiede bly waar die lug elke dag so besoedel is met roetdeeltjies of gifgasse, soos swaweldioksied, stikstofdioksied en koolstofmonoksied, dat dit gesondheidsgevare inhou. Gedurende die laaste dekade het snelgroeiende stede die probleem ongetwyfeld vererger. Daarbenewens word 24 miljard ton koolstofdioksied elke jaar in die atmosfeer vrygelaat, en daar word gevrees dat hierdie “kweekhuisgas” ’n wêreldwye verwarming tot gevolg kan hê.
[Kaart]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Ontbossing
Giftige afvalstowwe
Lugbesoedeling
Waterskaarste
Bedreigde spesies
Grondverarming
[Erkennings]
Mountain High Maps™ copyright© 1993 Digital Wisdom, Inc.
Foto: Hutchings, Godo-Foto
Foto: Mora, Godo-Foto