Ons brose planeet—Wat van die toekoms?
TWEEHONDERD jaar gelede het die Amerikaanse staatsman Patrick Henry gesê: “Ek kan die toekoms slegs volgens die verlede oordeel.” In die verlede het die mens die omgewing vertrap. Sal hy in die toekoms ’n nuwe blaadjie omslaan? Tot dusver is die tekens nie bemoedigend nie.
Hoewel prysenswaardige vordering al gemaak is, is dit hoofsaaklik oppervlakkig deurdat daar eerder aan die simptome as die oorsake aandag geskenk word. Om die houtwerk te verf van ’n huis wat droëvrot het, sal nie verhoed dat dit ineenstort nie. Slegs groot struktuurveranderinge kan dit red. Die wyse waarop die mens hierdie planeet gebruik, moet insgelyks verander word. Dit is nie voldoende om bloot die skade te probeer beheer nie.
’n Deskundige wat die resultate van 20 jaar se omgewingsbeheer in die Verenigde State ontleed het, het tot die slotsom gekom dat “die aanslag op die omgewing nie doeltreffend beheer kan word nie, maar voorkom moet word”. Dit is vanselfsprekend baie beter om besoedeling te voorkom as om die nadelige gevolge daarvan te herstel. Maar om so ’n doel te bereik, sal niks minder as ’n grondliggende verandering in die mensegemeenskap en in die doelstellings van die sakewêreld vereis nie. Die boek Caring for the Earth erken dat “waardes, ekonomiese stelsels en gemeenskappe wat verskil van die meeste wat vandag bestaan”, nodig is om na die aarde om te sien. Wat is sommige van hierdie waardes wat verander moet word om die planeet te red?
Ingewortelde oorsake van die krisis
Selfsug. Die eerste belangrike stap tot omgewingsbeskerming is dat die planeet se belange bo dié van hebsugtige mense gestel moet word. Maar min mense is bereid om ’n welvarende lewenstyl op te gee, selfs al verderf dit die planeet vir toekomstige geslagte. Toe die regering van Nederland—een van die mees besoedelde lande in Wes-Europa—die gebruik van motors probeer beperk het as deel van ’n veldtog om besoedeling te bestry, het wydverspreide teenkanting die plan in die wiele gery. Hoewel die paaie in Nederland die besigste in die wêreld is, was motoriste net nie bereid om hulle vryheid prys te gee nie.
Eiebelang beïnvloed besluitnemers, sowel as die algemene publiek. Politici huiwer om omgewingsbeleide deur te voer wat dalk stemme vir hulle kan verminder, en nyweraars skop teen enige voorstelle wat profyt en ekonomiese groei kan bedreig.
Hebsug. Wanneer ’n keuse tussen profyt en bewaring gemaak moet word, is geld gewoonlik die beslissende faktor. Invloedryke nywerhede span saam om besoedelingsbeheer tot die minimum te beperk of om regeringsvoorskrifte heeltemal te ontwyk. Die skade aan die osoonlaag lig hierdie probleem toe. Selfs nog in Maart 1988 het die voorsitter van ’n groot chemiese maatskappy in Amerika gesê: “Op die oomblik dui wetenskaplike bewyse nie daarop dat dit nodig is om CFK-emissies drasties te verminder nie.”
Dieselfde maatskappy het egter aanbeveel dat chloorfluoorkoolstowwe (CFK’s) mettertyd heeltemal uitgeskakel moet word. ’n Veranderde gesindheid? “Dit het niks daarmee te doen gehad of die omgewing beskadig word of nie”, het Mostafa Tolba, die direkteur-generaal van die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram (UNEP), gesê. “Dit het alles [gegaan oor] wie ’n [ekonomiese] voorsprong op wie sou kry.” Baie wetenskaplikes besef nou dat die vernietiging van die osoonlaag een van die ergste mensgemaakte omgewingsrampe in die geskiedenis is.
Onkunde. Wat ons weet, is niks in vergelyking met wat ons nie weet nie. “Ons weet nog betreklik min omtrent die oorvloed van lewe in tropiese reënwoude”, verduidelik Peter H. Raven, die direkteur van Missouri se Botaniese Tuin. “Dit is verstommend dat ons meer—baie meer—weet omtrent die oppervlak van die maan.” Dieselfde geld vir die atmosfeer. Hoeveel koolstofdioksied kan ons aanhou om in die lug vry te laat sonder om die wêreldklimaat te beïnvloed? Niemand weet nie. Maar soos die tydskrif Time gesê het: “Dit is roekeloos om die natuur aan sulke reusagtige eksperimente te onderwerp wanneer die uiteinde onbekend is en die moontlike gevolge te skrikwekkend is om te betrag.”
Volgens ramings van UNEP is dit moontlik dat die osoonverlies teen die einde van hierdie dekade uiteindelik elke jaar honderdduisende nuwe gevalle van velkanker sal veroorsaak. Die uitwerking op gewasse en visserye is nog onbekend, maar daar word verwag dat dit aansienlik sal wees.
Kortsigtige beskouings. In teenstelling met ander rampe oorval omgewingsprobleme ons onverwags. Dit belemmer pogings om met gesamentlike optrede te begin voordat blywende skade aangerig is. Die boek Saving the Planet vergelyk ons huidige situasie met dié van die gedoemde passasiers aan boord van die beskadigde Titanic in 1912: “Min is bewus van die omvang van die moontlike tragedie.” Die skrywers meen dat die planeet alleenlik gered kan word as politici en sakemanne die werklikheid onder die oë sien en eerder in terme van langtermynoplossings as korttermynvoordele dink.
Egosentriese gesindhede. By die Aardespitsberaad in 1992 het die Spaanse eerste minister, Felipe González, daarop gewys dat “die probleem wêreldwyd is en die oplossing wêreldwyd moet wees”. Dit is weliswaar so, maar om oplossings te vind wat wêreldwyd aanvaarbaar is, is ’n ontsaglike taak. ’n Amerikaanse afgevaardigde by die Aardespitsberaad het ronduit gesê: “Die Amerikaanse lewenstyl is nie iets waaroor ons bereid is om te onderhandel nie.” Indiese omgewingsdeskundige Maneka Gandhi het daarenteen gekla dat “een kind in die Weste soveel lewensmiddele gebruik as 125 in die Ooste”. Sy het aangevoer dat “bykans al die omgewingsagteruitgang in die Ooste die gevolg van Westerse verbruik is”. Internasionale pogings om die omgewing te verbeter, het keer op keer op die rotse van egosentriese nasionale belange vergaan.
Ondanks al hierdie wesenlike probleme is daar redes om met vertroue na die toekoms te kyk. Een daarvan is ons planeet se groot herstellingsvermoë.
Die genesing van die aarde
Soos die menseliggaam het die aarde ’n verstommende vermoë om homself te genees. ’n Uitsonderlike voorbeeld hiervan is wat in die vorige eeu plaasgevind het. In 1883 het die Indonesiese vulkaniese eiland Krakatau (Krakatoa) uitgebars in ’n reuseontploffing wat byna 5000 kilometer ver gehoor is. Byna 21 kubieke kilometer materie is in die lug gewerp en twee derdes van die eiland het onder die see verdwyn. Nege maande later was die enigste teken van lewe ’n mikroskopiese spinnekoppie. Vandag is die hele eiland oortrek met welige tropiese plantegroei, wat die tuiste van honderde soorte voëls, soogdiere, slange en insekte is. Hierdie herstel is ongetwyfeld aangehelp deur die beskerming wat die eiland as deel van die Oejoeng Koelon- Nasionale Park geniet.
Skade wat die mens aanrig, kan ook ongedaan gemaak word. As die aarde tyd gegee word, kan hy homself genees. Die vraag is: Sal die mens die aarde die blaaskans gee wat dit nodig het? Waarskynlik nie. Daar is egter Iemand wat vasbeslote is om ons planeet die kans te gee om homself te genees—die Een wat dit geskep het.
‘Laat die aarde juig’
Dit was nooit God se bedoeling dat die mens die aarde moet verderf nie. Hy het vir Adam gesê om die tuin van Eden “te bewerk en te bewaak” (Genesis 2:15). Jehovah se besorgdheid oor die beskerming van die omgewing het ook geblyk uit talle van die wette wat hy aan die Israeliete gegee het. Hulle is byvoorbeeld aangesê om die land een maal elke sewe jaar braak te laat lê—die Sabbatsjaar (Exodus 23:10, 11). Toe die Israeliete hierdie en ander Goddelike bevele herhaaldelik verontagsaam het, het Jehovah uiteindelik die Babiloniërs toegelaat om die land te ontvolk, wat toe 70 jaar woes gelê het “totdat die land vir sy sabbatte vergoeding gekry het” (2 Kronieke 36:21). In die lig van hierdie geskiedkundige presedent is dit nie verbasend nie dat die Bybel sê dat God ‘die verderwers van die aarde sal verderf’ sodat die aarde kan herstel van die mens se aanslag op die omgewing.—Openbaring 11:18.
Daardie optrede sal egter net die eerste stap wees. Die planeet se oorlewing, “hang net soveel van die beëindiging van die oorlog met die natuur af as van die beëindiging van die oorloë tussen ons”, soos bioloog Barry Commoner met reg sê. Om hierdie doel te bereik, moet die mense van die aarde “deur Jehovah geleer” word om vir mekaar om te gee en om hulle aardse tuiste op te pas. Gevolglik sal hulle vrede “oorvloedig” wees.—Jesaja 54:13, NW.
God verseker ons dat daar ’n vernuwing van die aarde se ekosisteme sal wees. In plaas van meedoënloos uit te brei, sal die woestyne “bloei soos ’n narsing” (Jesaja 35:1). In plaas van voedseltekorte sal daar “volheid van koring wees in die land” (Psalm 72:16). In plaas van te sterf van besoedeling sal die aarde se riviere “die hande klap”.—Psalm 98:8.
Wanneer sal so ’n verandering moontlik wees? Wanneer ‘Jehovah koning geword het’ (Psalm 96:10, NW). God se heerskappy sal ’n seëning vir elke lewende ding op aarde verseker. “Laat . . . die aarde juig”, sê die psalmis. “Laat die see en sy volheid bruis. Laat die veld juig en al wat daarin is; dan sal al die bome van die bos jubel.”—Psalm 96:11, 12.
’n Aarde wat deur sy Skepper geseën en in regverdigheid regeer word, het ’n glorieryke toekoms. Die Bybel beskryf die resultate: “Geregtigheid en vrede kus mekaar. Trou spruit uit die aarde, en geregtigheid kyk uit die hemel neer. Ook gee die HERE die goeie, en ons land lewer sy opbrings” (Psalm 85:11-13). Wanneer daardie dag aanbreek, sal ons planeet vir ewig buite gevaar wees.
[Prent op bladsy 13]
Soos die menseliggaam het die aarde die verstommende vermoë om homself te genees