Ek was rigtingloos, maar het ’n doel in die lewe gevind
STEL jou my ontsteltenis en ongemak voor toe ek baie vroeg een oggend onverwags wakker gemaak is deur twee fris mans wat die slaapkamer deursoek. My ma het toegekyk, bleek en hulpeloos, en klaarblyklik in ’n toestand van skok. Die mans was speurders.
Ek het onmiddellik geweet waarna hulle soek. Hoewel ek my moedig en uitdagend gehou het, was ek diep binne-in myself bang. Ek het besef dat die polisie se net besig was om nouer te span om ons bende jong diewe in New Jersey, VSA. Die speurders het my nors aangesê om aan te trek en my toe na die polisiehoofkwartier geneem vir ondervraging.
Hoe het ek in hierdie ellendige situasie beland? Dit het heel vroeg in my lewe begin. Terwyl ek nog in my middel-tienderjare was, het ek myself reeds as ’n geharde jeugmisdadiger beskou. Gedurende die sestigerjare het baie jongmense gedink dit is cool om ’n rebel sonder ’n saak te wees, en ek het heelhartig daarmee saamgestem. Op 16-jarige ouderdom het ek dus, nadat ek uit die hoërskool gesit is, by ’n biljartkamer in die buurt uitgehang. Hier het ek betrokke geraak by ’n jeugbende wat gereeld inbraak gepleeg het. Nadat ek saam met hulle aan ’n paar betreklik klein inbrake deelgeneem het, het ek die opwinding en spanning begin geniet en het eintlik elke ondervinding heel opwindend gevind.
Dit was die begin van nege maande van inbrake. Ons bende het hom hoofsaaklik op besigheidskantore toegespits waar groot bedrae geld dikwels gehou is. Hoe meer inbrake ons gepleeg het sonder om gevang te word, hoe manhaftiger het ons geraak. Uiteindelik het ons besluit om ’n tak van die distriksbank te beroof.
Vir die eerste keer het dinge begin skeef loop. Hoewel ons sonder enige moeite by die bank ingekom het, het ons ’n frustrerende nag daar binne deurgebring omdat ons slegs by die kassiere se laaie kon inbreek. ’n Ernstiger probleem was dat ons bankinbraak die Federal Bureau of Investigation (FBI) by die saak betrek het. Met die FBI op ons spoor was dit nie lank voor ons almal gearresteer is nie.
Die hartseer gevolge van verkeerde dade
Ek is persoonlik weens 78 inbrake aangekla en moes die verleentheid verduur dat die besonderhede van elkeen hardop aan die hof voorgelees is. Dit, tesame met al die publisiteit oor ons misdade in die plaaslike koerant, het ’n verpletterende uitwerking op my ouers gehad. Maar die vernedering en verleentheid wat ek hulle veroorsaak het, het my op daardie tydstip nie baie gepla nie. Ek is tot ’n onbepaalde tyd in ’n staatsverbeteringskool gevonnis, wat kon beteken het dat ek onder toesig sou wees totdat ek 21 jaar oud was. Ek is egter, grootliks as gevolg van die pogings van ’n bekwame regsgeleerde, na ’n spesiale verbeteringskool oorgeplaas.
Alhoewel ek tronkstraf vrygespring het, was een van die bepalings dat ek uit die gemeenskap en van al my vorige maats weggeneem moes word. Met dié doel is ek by ’n privaat skool in Newark ingeskryf, een wat gespesialiseer het in probleemkinders soos ek. Daarbenewens moes ek weeklikse sessies met ’n sielkundige hê sodat ek professionele hulp kon ontvang. My ouers het al hierdie voorwaardes nagekom—met groot finansiële opofferings van hulle kant.
Pogings om te verbeter
Dit was ongetwyfeld as gevolg van ons goedgepubliseerde verhoor dat ’n hoofartikel in ons tuisdorp se koerant verskyn het met die titel “As die roede gespaar word”. Hierdie artikel was baie krities oor die skynbaar ligte straf wat die bende ontvang het. Die opmerkings in die artikel het vir die eerste keer tot my gewete deurgedring. Daarom het ek daardie artikel uit die koerant geknip en myself belowe dat ek eendag, op een of ander manier, sou vergoed vir al die lyding, verleentheid en onkoste wat ek my ouers veroorsaak het.
Een manier, het ek gedink, om aan my ouers te bewys dat ek kan verander, sou wees om saam met my oorspronklike klasmaats klaar te maak met hoërskool. Ek het begin leer soos nog nooit tevore in my lewe nie. Toe ek dus, in die teenwoordigheid van my proefbeampte, aan die einde van die skooljaar weer voor die regter verskyn het wat my gevonnis het, het sy streng uitdrukking in ’n glimlag verander toe hy sien dat ek elke kwartaal ’n gemiddelde van B-plus behaal het. As gevolg daarvan kon ek nou na my ou hoërskool terugkeer, en die volgende jaar het ek my skoolopleiding voltooi.
My rigtingloosheid deur voort
Teen dié tyd was dit 1966 en hoewel baie van my klasmaats na die oorlog in Viëtnam toe is, het ek na Concord-kollege in Wes-Virginië gegaan. Op kollege het ek kennis gemaak met dwelms, vredesaamtrekke en ’n hele nuwe kultuur wat my die tradisionele waardes laat bevraagteken het. Ek het na iets gesoek, maar ek het nie geweet wat nie. Toe die vakansie aanbreek waarin Nasionale Dankdag val het ek nie huis toe gegaan nie, maar na die suide oor die Blue Ridge-gebergte na Florida geryloop.
Ek het nooit baie gereis nie, en ek het dit geweldig geniet om so baie nuwe en verskillende plekke te sien—dit wil sê tot op Dankdag, toe ek in die Daytona Beach-tronk beland het weens rondlopery. Ek was te skaam om met my ouers in verbinding te tree, maar die tronkowerhede het. My pa het weer eens reëlings getref om eerder ’n stywe boete te betaal as om my tronkstraf te laat uitdien.
Daarna het ek nie op kollege gebly nie. In plaas daarvan het ek met net een tas en ’n nuutgevonde swerflus weer in die pad geval en doelloos op en af teen die ooskus van die Verenigde State geryloop en los werkies gedoen om myself te onderhou. My ouers het byna nooit geweet waar ek was nie, maar ek het hulle darem van tyd tot tyd besoek. Tot my verbasing het hulle altyd bly gelyk om my te sien, maar ek kon nie tot rus kom nie.
Noudat ek nie meer op kollege was nie, het ek my studenteklassifikasie, wat uitstel van militêre diens verleen het, verloor. My oproepstatus was nou 1-A, en dit was net ’n kwessie van tyd voordat ek vir militêre diens opgeroep sou word. Die gedagte aan dissipline en die verlies van my nuwe vryheid was ondenkbaar. Ek het dus besluit om die land per skip te verlaat. In die proses het ’n nuwe loopbaanmoontlikheid vir my oopgegaan. Kon dit uiteindelik die werklike doel van my lewe wees?
Lewe ter see as ’n huursoldaat
’n Ou vriend van ons familie was ’n kaptein in die Verenigde State se handelsvloot. Hy het my vertel van ’n opleidingsprogram vir skeepsingenieurs wat kort tevore ingestel is. Ek is maklik aanvaar om ’n verkorte tweejaarkursus te volg wat die dubbele voordeel gehad het van uitstel van militêre diens en die vooruitsig op ’n skeepsingenieursgraad. Ek het in 1969 my diploma ontvang en in San Francisco by my eerste skip aangesluit as ’n klasdrie-ingenieursoffisier. Ons het onmiddellik na Viëtnam vertrek met ’n vrag ammunisie. Die vaart was sonder voorval, en ek het van die skip afgeteken toe ons Singapoer bereik het.
In Singapoer het ek by ’n voortvlugtige vlagskip aangesluit, wat so genoem is omdat dit al die werkers wat nie tot die unies behoort het nie van die dokke af gehuur het. Die skip is gebruik om langs die kus van Viëtnam te vaar, van Cam Ranh-baai in die suide tot Da Nang in die noorde, naby die gedemilitariseerde gebied. Hier het die meedoënlose bombardering voortdurend weerklink. Finansieel was hierdie roete egter voordelig, en met oorlogsrisiko en aanvalsbonusse nou en dan wanneer ons onder direkte vuur was, het ek meer as $35 000 (R127 000) per jaar as ’n huursoldaat verdien. Ten spyte van hierdie nuwe welvaart was ek steeds rigtingloos en het gewonder wat die sin van die lewe is—waarheen was ek op pad?
Ek begin die betekenis in die lewe sien
Ná een besonder angswekkende aanval van vyandelike vuur het Albert, my stoomketelbediener, my begin vertel hoe God binnekort vrede op die aarde gaan bring. Hierdie ongewone inligting het my my ore laat spits. Toe ons weer na Singapoer teruggevaar het, het Albert vir my gesê dat hy voorheen een van Jehovah se Getuies was, maar nie meer aktief was nie. Ons het dus saam probeer om die plaaslike Getuies in Singapoer op te spoor. Dit het nie gelyk of enigiemand ons kon help nie, maar die aand voor ons moes vertrek, het Albert ’n Wagtoring in die voorportaal van ’n hotel gevind. Daar was ’n adres op gestempel. Ons het nie tyd gehad om dit op te volg nie, want die volgende oggend het ons na Sasebo, Japan, vertrek waar die skip geskeduleer was om twee weke in die droogdok te bly.
Daar het ons die bemanning afbetaal, en Albert het sy eie gang gegaan. Maar slegs ’n week later is ek verras deur ’n telegram van hom waarin hy my vertel het dat ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies die komende naweek in Sasebo gehou sou word. Ek het besluit om te gaan kyk waaroor hierdie byeenkoms gaan.
Daardie dag—8 Augustus 1970—sal altyd in my verstand bly. Ek het per taxi by die byeenkomsterrein aangekom en uitgeklim tussen honderde Japannese wat almal baie netjies aangetrek was. Hoewel die meeste van hulle nie Engels kon praat nie, het dit gelyk of hulle almal my hand wou skud. Ek het nog nooit so iets gesien nie, en hoewel ek nie ’n woord van die Japannese program verstaan het nie, het ek besluit dat ek die volgende dag weer sou gaan—net om te sien of ek weer dieselfde verwelkoming sou ontvang. Ek het!
Ons het nuwe bemanning in diens geneem, en ’n week later was ons terug op die see en op pad na Singapoer. Die eerste ding wat ek met ons aankoms gedoen het, was om ’n taxi te neem na die adres wat op die Wagtoring gestempel was. ’n Vriendelike vrou het uit die huis gekom en gevra of sy my kon help. Ek het haar die adres op Die Wagtoring gewys en sy het my onmiddellik ingenooi. Ek het toe haar man ontmoet en uitgevind dat hulle sendelinge uit Australië was, Norman en Gladys Bellotti. Ek het verduidelik hoe ek hulle adres gekry het. Hulle het my baie welkom laat voel en baie van my vrae beantwoord, en ek is daar weg met ’n inkopiesak vol Bybellektuur. Gedurende die volgende paar maande, terwyl ons teen die kus van Viëtnam gevaar het, het ek baie van daardie boeke gelees, waaronder Die waarheid wat lei tot die ewige lewe.
Nou, vir die eerste keer in my lewe, het ek die gevoel van ’n ware doel en rigting in die lewe ervaar. Op die volgende rit na Singapoer het ek van die skip af bedank.
’n Teleurstellende tuiskoms
Vir die eerste keer het ek ook werklik lus gevoel om huis toe te gaan. Toe ek dus ’n paar weke later by die huis kom, was ek baie opgewonde en wou my ouers alles oor Jehovah se Getuies vertel. Hulle het nie in my entoesiasme gedeel nie. Dit was te verstane, want my gedrag het nie veel gehelp nie. Ek was slegs ’n paar weke by die huis toe ek in ’n woedebui groot skade in ’n plaaslike nagklub aangerig het. Ek het in ’n tronksel bygekom.
Teen dié tyd het ek begin glo dat daar nie veel hoop was dat ek ooit sou verander en beheer oor my verskriklike humeur sou kry nie. Miskien sou ek altyd ’n rebel sonder ’n saak wees. Ek het gevoel dat ek nie langer by die huis kon bly nie. Ek moes wegkom. Binne ’n paar dae het ek dus plek bespreek op ’n Noorweegse vragskip wat op pad was na Engeland.
Engeland en dramaskool
Ek het dit geniet om in Engeland te wees, maar werk was ’n probleem. Ek het dus besluit om oudisies by verskeie dramaskole te doen, en tot my verbasing is ek by die Londense Skool vir die Toneelkuns aanvaar. Die twee jaar in Londen het ek deurgebring deur baie te drink, sosiaal te verkeer en, natuurlik, allerhande dwelms te gebruik.
Ek het skielik besluit dat ek graag weer my familie in die Verenigde State wou besoek. Maar kan jy jou voorstel hoe my dramatiese voorkoms hulle hierdie keer verbaas het? Ek was geklee in ’n swart skouermantel met twee goue leeukoppe wat by die nek met ’n goue ketting vasgemaak is, ’n rooi fluweelonderbaadjie en ’n swart fluweelbroek met leerafwerking wat in hoë stewels ingedruk is. Dit is geen wonder dat my ouers klaarblyklik nie baie beïndruk was nie en dat ek heeltemal ontuis gevoel het in hulle konserwatiewe milieu! Ek het dus na Engeland teruggekeer, waar ek in 1972 ’n diploma in die toneelkuns ontvang het. Nou het ek nog ’n doel bereik. Maar die knaende, ewige vraag was steeds daar: Waarheen nou? Ek het steeds die behoefte aan ’n ware doel in die lewe gevoel.
Rigtingloosheid kom eindelik tot ’n einde
Kort hierna het ek eindelik begin voel dat daar ’n mate van stabiliteit in my lewe kom. Dit het begin met ’n vriendskap met my buurvrou Caroline. Sy was ’n onderwyseres van Australië en was ’n konvensionele, bestendige persoon—net die teenoorgestelde van my persoonlikheid. Ons was reeds twee jaar lank vriende sonder enige romantiese verbintenis. Caroline is toe vir drie maande na Amerika, en weens ons goeie vriendskap het ek gereël dat sy ’n paar weke by my ouers bly. Hulle het seker gewonder waarom sy enigiets met iemand soos ek te doen sou hê.
Kort ná Caroline se vertrek, het ek vir my vriende gesê dat ek ook huis toe gaan, en hulle het ’n groot afskeidsparty vir my gehou. Maar in plaas van terug te gaan na Amerika het ek net so ver as Suid-Kensington, Londen, gegaan, waar ek ’n kelderwoonstel gehuur en die takkantoor van Jehovah se Getuies in Londen geskakel het. Ek het besef in watter rigting my lewe moes gaan. Binne ’n week het ’n aangename getroude paartjie my besoek en onmiddellik gereël om ’n gereelde Bybelstudie met my te hou. Vanweë die publikasies van die Getuies wat ek reeds gelees het, was ek nou baie gretig en het twee studies ’n week gevra. Aangesien ek so entoesiasties was, het Bob my gou na die Koninkryksaal uitgenooi, en dit was nie lank voordat ek al die weeklikse vergaderinge bygewoon het nie.
Toe ek uitgevind het dat Jehovah se Getuies nie rook nie, het ek besluit om die gewoonte onmiddellik op te gee. Maar wat van my voorkoms? Ek wou nie meer ontuis voel nie, daarom het ek ’n hemp, ’n das en ’n pak klere gekoop. Kort voor lank het ek aan die vereistes voldoen om aan die huis-tot-huis-bediening deel te neem—en hoewel ek aan die begin taamlik senuweeagtig was, het ek dit begin geniet.
Daar wag ’n groot verrassing vir Caroline wanneer sy terugkom, het ek gedink. Dit was dan ook so! Sy kon nie glo dat ek in so ’n kort tydjie soveel verander het nie—in my persoonsversorging en voorkoms en op so baie ander gebiede. Ek het verduidelik hoe my Bybelstudie my gehelp het en haar genooi om ook ’n Bybelstudie te hê. Sy was eers lugtig, maar het uiteindelik ingestem op voorwaarde dat sy net met my sou studeer. Ek was verheug om te sien hoe vinnig sy gereageer het, en sy het gou die waarheid van die Bybel begin waardeer.
Ná ’n paar maande het Caroline besluit om na Australië terug te keer, en sy het haar Bybelstudie in Sydney hervat. Ek het in Londen gebly tot ek gedoop kon word, wat ek sewe maande later gedoen het. Nou wou ek weer huis toe gaan na die Verenigde State en al my familie sien. Maar hierdie keer was ek vasbeslote om dit reg te doen!
’n Tuiskoms met ’n verskil
My verbysterde ouers wou weet wat hierdie keer aan die gang was—ek het té ordentlik gelyk! Maar ek was bly om nou werklik tuis te voel. Hoewel my ouers natuurlik nuuskierig was oor my dramatiese verandering, was hulle taktvol en het met hulle gewone vriendelikheid en verdraagsaamheid gereageer. In die daaropvolgende maande het ek die voorreg gehad om ’n Bybelstudie met hulle te hou. Ek het ’n studie begin met my twee ouer susters, wat ongetwyfeld ook deur my veranderde lewenswyse beïnvloed is. Ja, dit was ’n ware tuiskoms!
In Augustus 1973 het ek Caroline na Australië gevolg, waar ek bly was om te sien hoe sy saam met 1200 ander by die internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in 1973 gedoop is. Ons is die volgende naweek in Canberra, Australië se hoofstad, getroud. Hier neem ek al die afgelope 20 jaar deel aan die voltydse predikingswerk en dien ek al 14 jaar as ’n ouer man in die plaaslike gemeente.
Danksy my vrou se samewerking het ons drie kinders grootgemaak—Toby, Amber en Jonathan. Hoewel ons voor die normale gesinsprobleme te staan kom, slaag ek steeds daarin om voltyds aan die predikingswerk deel te neem as ’n pionier en om terselfdertyd na die materiële behoeftes van ons gesin om te sien.
My ouers is nog in die Verenigde State en is vandag toegewyde knegte van Jehovah, en hoewel al twee nou in hulle tagtigerjare is, neem hulle steeds aan die openbare verkondiging van die Koninkryk deel. My pa dien as ’n bedieningskneg in die plaaslike gemeente. My twee ouer susters is ook ywerig in Jehovah se diens.
Ek dank Jehovah God innig dat my baie jare van rigtinglose omswerwinge nou ver in die verlede is! Hy het my nie net gehelp om die beste manier te leer om my lewe te gebruik nie, maar hy het my ook met ’n verenigde en liefdevolle gesin geseën.—Soos vertel deur David Zug Partrick.
[Prent op bladsy 23]
David en sy vrou, Caroline