Die Grieks-Ortodokse Kerk—’n verdeelde godsdiens
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN GRIEKELAND
VIR opregte mense wat lief is vir God en die waarheid en wat ’n diepe eerbied vir sy aanbidding het, is die huidige situasie in die Grieks-Ortodokse Kerk in Griekeland ontstellend, om dit saggies te stel. Die betreurenswaardige gebrek aan eenheid, die gewelddadige konfrontasies tussen strydende faksies in die kerk, ’n vlaag skokkende morele skandale en die onvermoë van ’n godsdiens—wat homself as “die enigste ware kerk van God” beskryf—om geestelike leiding te voorsien, veroorsaak dat baie Grieke teleurgesteld en ontevrede word.
Die gewone mense is gefrustreerd, selfs woedend, oor hierdie stand van sake. ’n Universiteitsprofessor het in ’n vername Griekse koerant geskryf: “Die Kerk van Griekeland word uitmekaargeskeur deur ’n krisis wat ongeëwenaard is in die hewigheid en duur daarvan, wat vrae laat ontstaan oor [die kerk se] gesag en die inherente waarde van sy instellings ondermyn. Ongelukkig duur die skade voort.”
Hoe het hierdie situasie ontstaan? Was die noue bande wat die Grieks-Ortodokse Kerk met die Staat geniet het waarlik voordelig? Wat is die toekoms van hierdie verhoudinge tussen die Kerk en die Staat? Watter keuse het mense wat na die ware, verenigde gemeente van Christus soek? Kom ons ondersoek die feite en kyk wat die Bybel oor die saak sê.
’n Magstryd
Terwyl ’n militêre diktatorskap gedurende die jare 1967-74 oor Griekeland geregeer het, het dit daadwerklik in die aangeleenthede van die Grieks-Ortodokse Kerk ingemeng om sy eie mag te verstewig. In sy poging om algehele beheer oor te neem, het die militêre junta die voorheen verkose Heilige Sinode—die hoogste uitvoerende mag van die Grieks-Ortodokse Kerk—ontbind en sy eie sinode aangestel, “volgens meriete”, soos dit genoem is. Toe demokrasie in 1974 herstel is, is die heersende mag van die kerk weer eens volgens sy kanonieke handves verkies. Gevolglik is die biskoppe wat deel van die junta-aangestelde sinode uitgemaak het, afgesit en deur ander vervang.
’n Wetsontwerp wat in 1990 aangeneem is, het egter aan die afgesette biskoppe die reg gegee om hulle setels terug te eis deur na sekulêre howe en uiteindelik na die hoogste administratiewe hof, die Raad van State, te appelleer. Dit is presies wat drie van daardie geestelikes gedoen het, en hulle het uiteindelik hulle hofsake gewen. As gevolg hiervan het drie Ortodokse aartsbisdomme in Griekeland vandag elkeen twee biskoppe—een wat amptelik slegs deur die Grieks-Ortodokse Kerk erken word en een wat amptelik deur die Raad van State aanvaar word.
“Vegtende Christene”
Die afgesette biskoppe wat hulle setels teruggeëis het, weier eenvoudig om die bestaan van die ander biskoppe wat deur die amptelike kerk aangestel is te erken. Verder het elkeen van hulle ’n groot aanhang van “godsdiensfanatici”—soos een koerant hulle beskryf het—wat hulle biskop se saak ywerig ondersteun. Hierdie situasie het dus heftige en sterk reaksies tot gevolg gehad toe televisieskerms oor die hele land tonele van geweld gewys het en getoon het hoe groepe van hierdie “vegtende Christene” met geweld by kerke inbreek, ikone stukkend gooi en geestelikes en leke van die teenoorgestelde faksies aanval. In die meeste van hierdie gevalle moes die polisie se onluste-eenheid tussenbeide tree om die vrede te herstel. Gebeure het in Oktober en November 1993 in kerke in die gegoede voorstad Kifisia in Atene, en later in Julie en Desember van 1994 in die stad Larissa ’n hoogtepunt bereik toe wanordelike voorvalle van blinde godsdiensfanatisme die mense in Griekeland geskok het.
Die gewelddadigste botsings het op 28 Julie 1994 plaasgevind gedurende die inhuldiging van Ignatius, die biskop in Larissa wat deur die Heilige Sinode aangestel is. Met die voorbladopskrif “Larissa word ’n slagveld vir die nuwe biskop—die Donker Eeue herlewe” het die koerant Ethnos berig: “Slegs een uitdrukking is gepas: die Donker Eeue. Hoe anders kan ’n mens al die dinge beskryf wat gister in Larissa gebeur het, . . . straatgevegte, oproerige botsings, fisiese beserings?”
’n Paar weke later het teenstanders biskop Ignatius se motor “na ’n woeste jaagtog met ysterstawe en kolwe” aangeval. ’n Joernalis wou weet: “Kan ’n mens aanvaar dat die betrokke skuldiges met Christelike idees besiel is terwyl hulle fanatisme hulle terselfdertyd lei om dade te pleeg wat soortgelyk is aan dié van rampokkers, potensieel noodlottige gewelddade? . . . En hierdie dade word deur vooraanstaande leiers van die kerk aangemoedig en oorgesien.”
Gedurende die Kerstyd het die situasie nog erger geraak. Met verwysing na die traumatiese gebeure van 23-26 Desember 1994 in Larissa het die koerant Eleftherotipia geskryf: “Dit was ’n Kersfees van skande in Larissa, waar die lang, uitgerekte konflik weer eens die [viering] bederf het. . . . Terwyl kerkklokke die geboorte van Christus aangekondig het, het die koppe van die ‘regverdiges en onregverdiges’ onder polisieknuppels deurgeloop. Onluste, botsings, ’n stortvloed van vloekwoorde en arrestasies het Kerswense en seënbedes in die binnehof van die Kerk van Sint Konstantyn in Larissa vervang. . . . Die betogings [teen Ignatius] het gou in woordelikse beledigings en toe in botsings met die polisie verander. . . . Hulle het die binnehof van die kerk in ’n slagveld verander.”
Hoe het mense hierop gereageer? ’n Ortodokse man het gesê: “Ek kan nie verstaan hoe mense wat hulleself Christene noem sulke dade van geweld tydens godsdienstige vakansiedae kan pleeg nie. Hoe kan ek kerk toe gaan as ek die gevaar loop om daar aangeval te word?” En een godsdienstige Ortodokse vrou het gesê: “Ná alles wat gebeur het, is ek bang om kerk toe te gaan.”
Asof dit nie genoeg was nie, is daar ook ’n stortvloed onthullings oor sedelike skandale waarby die Grieks-Ortodokse Kerk betrokke is. Die media het herhaaldelik openbarings in verband met die agteruitgaande sedes van sekere geestelikes aan die lig gebring—priesters wat homoseksuele en pedofiele is, die verduistering van fondse en die onwettige handel in oudhede. Laasgenoemde is moontlik omdat baie geestelikes vrye toegang het tot skatte van kosbare ikone en ander waardevolle kunswerke.
Wat ’n skreiende verbreking is dit tog van die apostel Paulus se streng vermaning aan Christene dat hulle nie navolgers van mense moet wees nie omdat dit tot “onenighede” en “verdeeldhede” lei!—1 Korintiërs 1:10-13; 3:1-4.
Verhoudinge tussen Kerk en Staat—Watter toekoms?
Sedert die stigting van die Griekse Staat het die Grieks-Ortodokse Kerk die bevoorregte status geniet om die vernaamste godsdiens te wees. In Griekeland is daar tot nog toe nie so iets soos skeiding tussen die Kerk en die Staat nie. Die Grondwet self waarborg die posisie van die Grieks-Ortodokse Kerk as die “heersende godsdiens” van Griekeland. Dit beteken dat die Grieks-Ortodokse Kerk tot alle gebiede van die openbare lewe deurdring, onder meer die openbare administrasie, die regstelsel, die polisie, openbare onderwys en feitlik elke ander aspek van die gemeenskap. Hierdie allesomvattende teenwoordigheid van die kerk het onderdrukking en onbeskryflike moeilikhede vir godsdiensminderhede in Griekeland beteken. Hoewel die Grondwet godsdiensvryheid waarborg, gebeur dit amper altyd dat ’n godsdiensminderheid, wanneer hy sy regte probeer eis, verstrengel raak in ’n ondeurdringbare web van godsdienstige partydigheid, vooroordeel en teenstand wat deur hierdie verhouding tussen die Kerk en die Staat geweef is.
’n Hersiening van die Grondwet is blykbaar ’n besliste moontlikheid in die nabye toekoms, en derhalwe word ’n sterk eis vir die skeiding van die Kerk en die Staat reeds gehoor. Invloedryke Griekse grondwetlike deskundiges en ontleders vestig die aandag op die probleme wat deur hierdie noue verband tussen die Kerk en die Staat geskep is. Hulle wys daarop dat die enigste praktiese oplossing ’n streng skeiding tussen hierdie twee entiteite sal wees.
Intussen spreek kerkleiers hulle besware uit teen so ’n moontlike skeiding. ’n Ortodokse biskop het ’n sensitiewe saak aangeraak, wat benadeel sal word deur so ’n ontwikkeling in die verhouding tussen die Kerk en die Staat, en geskryf: “Sal die Staat dan ophou om die salaris van die geestelikes te betaal? . . . Dit sal beteken dat baie gemeentes sonder priesters gelaat sal word.”—Vergelyk Matteus 6:33.
Nog ’n gevolg van die intieme verhouding tussen die Kerk en die Staat in Griekeland is dat die Griekse wet—lynreg in stryd met regulasies van die Europese Unie en die Artikels van die Europese Konvensie oor Menseregte, wat geldig is vir Griekeland—vereis dat die persoonlike identiteitskaart van alle Griekse burgers moet aandui aan watter godsdiens elke burger behoort. Onbevooroordeelde mense maak heftig hierteen beswaar omdat lede van godsdiensminderhede gewoonlik die slagoffers van diskriminasie word. Een joernalis het gesê: “Hierdie feit kan heel moontlik negatiewe gevolge hê wat betref ’n godsdiensminderheid se regte om hulle godsdiensvryheid te beoefen.” Die koerant Ta Nea het hierop kommentaar gelewer en geskryf: “Die Staat moet sy besluite neem en wette aanneem sonder enige inagneming van die heerssugtige gebruike en reaksies van die kerk in sake soos die verpligte registrasie van ’n mens se godsdiens op sy of haar persoonlike identiteitskaart.”
Dimitris Tsatsos, professor in staatsreg en ook ’n lid van die Europese Parlement, het die dringende behoefte aan so ’n skeiding beklemtoon en gesê: “Die Kerk [van Griekeland] moet sy oorheersing van die sosiale, politieke en opvoedkundige lewe staak. Die manier waarop die Griekse Kerk optree, is onderdrukkend. Dit is ’n despoot wat oor ons opvoedkundige stelsel en ons gemeenskap heers.” Dieselfde professor het in ’n ander onderhoud gesê: “Die kerk het skrikwekkend baie mag in Griekeland, wat ongelukkig nie beperk is tot sy natuurlike habitat van meedoënlose konserwatisme nie, maar dit het selfs daarin geslaag om tot in die progressiewe sektor van die Griekse gemeenskap in te dring. Persoonlik eis ek die skeiding van die Kerk en die Staat. Ek eis dat Ortodokse Grieke op dieselfde vlak geplaas moet word en gelyk aan die aanhangers van ander godsdienste in Griekeland moet wees.”
Ware Christene is verenig
Dit is inderdaad moeilik om die merk van die ware Christelike godsdiens in die Grieks-Ortodokse Kerk te vind. Jesus wou nie hê dat verdeeldhede en skeurings in die Christelike godsdiens moes ontwikkel nie. In gebed tot sy Vader het hy gevra dat sy dissipels “almal een kan wees” (Johannes 17:21). En hierdie dissipels moes ‘liefde onder mekaar hê’, aangesien hierdie liefde die kenmerk van ware navolgers van Christus is.—Johannes 13:35.
Dit lyk of eenheid die Grieks-Ortodokse Kerk ontwyk. Maar dit is lank nie ’n unieke geval onder vandag se georganiseerde godsdienste nie. Dit is eerder verteenwoordigend van die verdeeldheid waardeur die godsdienste van die Christendom geteister word.
Vir opregte liefhebbers van God is dit moeilik om hierdie treurige stand van sake te versoen met die apostel Paulus se woorde aan ware Christene in 1 Korintiërs 1:10: “Ek vermaan julle dan nou, broers, deur die naam van ons Here Jesus Christus, dat julle almal eenstemmig moet spreek en dat daar nie verdeeldhede onder julle moet wees nie, maar dat julle paslik verenig kan wees in dieselfde denke en in dieselfde gedagtegang.”
Ja, ware dissipels van Jesus geniet onverbreeklike eenheid onder mekaar. Omdat hulle verenig is deur die band van Christelike liefde het hulle geen politieke, sektariese of leerstellige verskille nie. Jesus het duidelik gesê dat almal sy volgelinge aan “hulle vrugte”, of dade, sou kon herken (Matteus 7:16). Die uitgewers van hierdie tydskrif nooi jou om die “vrugte” van Jehovah se Getuies, wat ware Christelike eenheid in Griekeland sowel as in die res van die wêreld geniet, te ondersoek.
[Prent op bladsy 18]
Priesters het met die polisie gebots
[Foto-erkenning op bladsy 15]
Uit die boek The Pictorial History of the World