“Kankoe”-lughawe—Gesien maar nie gehoor nie
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN JAPAN
WANNEER jy die Kansai- Internasionale Lughawe uit die lug nader, sal jy ’n eiland met ’n kenteken “Kansai” in Engels sien.a Hierdie Japannese eiland lê ongeveer vyf kilometer van die kus af in Osaka-baai. Net die lughawe en fasiliteite wat daarmee verband hou, kan gesien word. Trouens, die eiland is spesiaal gemaak om as ’n lughawe gebruik te word. Die lughawe, wat in September 1994 geopen is, het die bynaam Kankoe gekry, ’n afkorting van sy Japannese naam, Kansai Kokoesai Koeko.
’n Snelwegbrug, wat 3,75 kilometer lank is, verbind die lughawe-eiland met die hoofeiland, sodat dit per pad en spoor toeganklik is. Die eiland is met hawe-fasiliteite vir skepe en pontdienste toegerus. Maar waarom ’n hele nuwe eiland vir ’n lughawe bou?
’n Lughawe wat nie gehoor word nie
’n Toenemende aantal toeriste en besoekers aan die Kansai-gebied het tot gevolg gehad dat meer vliegtuie oor die woongebied om die Osaka- Internasionale Lughawe dreun. ’n Aandklokreëling van 9:00 nm. tot 7:00 vm. is ingestel om die geraas te verminder vir mense wat daar woon. Sedert 1974 is nog geen toestemming vir meer internasionale vlugte gegee nie. ’n Lughawe om die toename in passasiers en vrag te hanteer sonder dat dit van die hoofeiland af gehoor kan word, het dus dringend nodig geword.
’n Lughawe wat dag en nag gebruik kon word sonder om ’n steurnis te veroorsaak—dit was ’n groot uitdaging vir diegene wat by die projek betrokke was. Die enigste oplossing was om ’n eiland te bou ver van waar mense woon en dit ’n lughawe te maak. Dit was inderdaad ’n ontsaglike projek!
Nasionale en plaaslike regerings het saam met die plaaslike sakewêreld die projek van R55 miljard gefinansier en ’n privaat maatskappy opgerig om die nuwe lughawe te bou en te bestuur. Mnr. Keisoeke Kimoera, die uitvoerende visepresident van die Kansai- Internasionale Lughawe-maatskappy, het aan Ontwaak! gesê: “Omdat ons ’n privaat maatskappy is, kon ons nie bekostig om baie tyd aan die maak van die eiland te bestee nie. Die werk moes vinnig gedoen word.”
“Die maak van die eiland”
Dit is een ding om land langs die kus te herwin, maar dit is iets anders om ’n eiland vyf kilometer van die kus af te maak. Ten einde die lughawe-eiland van 511 hektaar te maak, is 180 miljoen kubieke meter sand en grond as opvulling gebruik. “Dit is die ekwivalent van 73 piramides—ek bedoel die grootstes wat koning Khoefoe gemaak het”, verduidelik mnr. Kimoera.
Op die seebodem was daar, op ’n gemiddelde diepte van 18 meter, ’n sagte kleilaag waaruit water gedreineer moes word. “Eenmiljoen sandhope, 40 sentimeter in deursnee, is in daardie laag ingedryf om water daaruit te dreineer en die fondament te verstewig. Met die gewig van die opvulling is water uit die sagte grondlaag van 20 meter gedruk, wat dit tot 14 meter laat krimp het”, verduidelik mnr. Kenitsjiro Minami, wat in beheer van die opvullingsprojek was. “Ons grootste vrees was dat die ondergrond ongelyk sou vassak. Ons het rekenaars gebruik om te bereken presies waar die opvulling moet kom sodat dit gelyk sou vassak.”
Die diepte van die opvulling het altesaam 33 meter bereik, die ekwivalent van ’n gebou met 10 verdiepings. Maar die seebodem het onder die gewig van die opvulling gesak en sak nog steeds. Daar word bereken dat die seebodem binne 50 jaar nog 1,5 meter sal sak en die eiland dan vier meter bo seevlak sal wees.
In 1991, nog voor die hele eiland gemaak is, is daar met werk aan die passasierseindpuntgebou en die beheertoring begin. Ná meer as sewe jaar van harde werk is die konstruksie van die eiland, lughawe en fasiliteite wat daarmee verband hou, voltooi.
Reusagtig maar kompak
Passasiers wat daar aankom, word aangenaam verras. “Teen die tyd dat ons die bagasieafhaalplek bereik het, was ons tasse daar”, sê ’n reisiger uit die Verenigde State. Waarom het alles so vlot verloop? “Die passasierseindpuntgebou is reusagtig maar kompak”, sê mnr. Kazoehito Arao, wat in beheer van die passasierseindpuntgebou is. “Passasiers hoef nie deur ’n doolhof te gaan nie, wat kenmerkend van internasionale lughawens is.”
Die struktuur van die passasierseindpuntgebou is eenvoudig maar uniek. Die hoofgebou is ontwerp om passasiers onnodige lopery te bespaar. Binnelandse passasiers kan van die treinstasie af reguit na hulle vertrektoonbank en dan na die instaphek gaan sonder om met trappe op of af te gaan.
Aan die hoofgebou, waarin die vertrektoonbanke, immigrasiekantore en doeane is, is daar twee vleuelgeboue van 700 meter wat noord- en suidwaarts strek en na 33 instaphekke lei. Passasiers wat hekke weg van die hoofgebou af gebruik, kan van die outomatiese leibaanvervoerstelsel gebruik maak, wat die Vleueltrein genoem word. Dit neem passasiers binne vyf minute na die verlangde hek—met inbegrip van die tyd wat bestee word om vir die trein te wag.
Lughawe wat gesien moet word
“Aangesien dit ’n lughawe is wat heeltemal op die see is, is daar geen hindernisse nie”, sê mnr. Arao. “Ja, ons hoor dat vlieëniers sê dat dit ’n maklike lughawe is om op te land”, stem mnr. Kimoera saam.
Ander waardeer ook hoe dit lyk. Die gesofistikeerde ontwerp van die eindpuntgebou in die vorm van vliegtuigvlerke het baie toeriste na die Kankoe toe gelok. Hulle geniet dit ook om te sien hoe vliegtuie op die ongewone eilandlughawe opstyg en land. “Ons moes ’n waarnemingsplatform bo-op die instandhoudingsentrum bou vir die toeriste wat na die lughawe toe kom, hoewel ons nie aanvanklik van plan was om dit te doen nie”, sê mnr. Kimoera. Sowat 30 000 mense besoek die lughawe elke dag net om rond te kyk.
As jy Japan naby die Kansai-gebied besoek, kan jy gerus na of van die Kankoe af vlieg—’n lughawe wat deur sy bure gesien maar nie gehoor kan word nie.
[Voetnoot]
a Kansai is die algemene gebied in westelike Japan wat die handelstede Osaka en Kobe en die historiese stede Kioto en Nara insluit. Kokoesai koeko beteken “internasionale lughawe”.
[Foto-erkenning op bladsy 25]
Kansai International Airport Co., Ltd.