Ons beskou die wêreld
Nog van Saturnus se mane is ontdek
Foto’s wat deur die Hubble-ruimteteleskoop geneem is, het ten minste twee voorheen onbekende mane wat om Saturnus wentel aan die lig gebring. Die foto’s is gedurende ’n “Aarde-ring-kruising” geneem, wat ’n seldsame verskynsel is wanneer mense op die Aarde Saturnus se ringe van die kant af kan sien. In dié omstandighede is die ringe se helder teruggekaatste lig minder en is die mane makliker waarneembaar. Sterrekundiges skat dat die mane tussen 10 en 60 kilometer in deursnee is. Die pas ontdekte mane wentel om Saturnus op ’n afstand van 140 000 tot 150 000 kilometer van die middel van die planeet af. Dit is baie nader as die 400 000 kilometer tussen die Aarde en sy maan. Saturnus is ongeveer 1,5 miljard kilometer van die Aarde af.
Verskoning—ná 50 jaar
“Ons bely hiermee, bowenal in die teenwoordigheid van God, die sonde van die Meidji Gakoein[universiteit] weens ons deelname aan die vorige oorlog, en ons vra terselfdertyd die mense van ander lande, veral Korea en China, om verskoning”, het die universiteit se superintendent, Hiromasa Nakajama, verlede Junie in sy lesing by die universiteit se kapel in Tokio gesê. Meidji Gakoein-universiteit is ’n “Christelike” sendingskool. Volgens die koerant Asahi Sjimboen was dit die eerste keer dat die skool se verteenwoordiger openlik erken het dat die skool ’n aandeel aan die oorlogspoging gehad het. Gedurende die oorlog het die voorsitter van die universiteit se raad van direkteure die Verenigde Kerk van Christus in Japan georganiseer om die kerke vir die oorlogspoging te verenig. Die Verenigde Kerk het geld ingesamel om vegvliegtuie te vervaardig en het Christene aangespoor om hulle onvoorwaardelik aan hulle land te onderwerp, het Nakajama gesê.
Mormoonse Kerk het hulle nie teen Nazi’s verset nie
Toe hulle van berigte van geweld teenoor Jode in Nazi-Duitsland te hore gekom het, “het die Mormoonse Kerk feitlik niks gedoen nie”, sê The Salt Lake Tribune. Party Mormone, tesame met lidmate van ander kerke, “is deur Hitler en sy boodskap van rassesuiwerheid meegesleur, en daar was diegene wat gedink het dat hulle gehoorsaam was aan hulle kerk se lering om staatsleiers te eer”. Gedurende die Slagting het die Duitse sektor van die Mormone “gedoen wat die meeste kerke gedoen het; die leiers het daarmee saamgegaan”, het professor Franklin Littell van Temple-universiteit, Philadelphia, gesê. Douglas Tobler, ’n professor van geskiedenis aan Brigham Young-universiteit, wil ondersoek instel na “die kerk se versuim om as instelling ’n standpunt teen Nazisme in te neem”, het die koerant gesê. Interessant genoeg, die Tribune het opgemerk dat die geskiedkundige John S. Conway, van die Universiteit van Brits-Columbië, Kanada, gesê het dat die enigste godsdiensorganisasie wat volstrek geweier het om die Nazi’s te volg Jehovah se Getuies was. Hy het bygevoeg dat meer as die helfte van hulle hiervoor konsentrasiekampe toe gestuur is.
Kinders sonder toesig
’n Australiese nasionale opname het aan die lig gebring dat kinders van net ses jaar alleen by die huis gelaat word terwyl albei ouers by die werk is of gesellighede bywoon, berig The Canberra Times. Volgens Wendy Reid, die woordvoerster vir Boys Town- Nasionale Gemeenskapsprojekte, “het meer as die helfte van die kinders gesê dat hulle eensaam was en hulle ouers se geselskap gemis het, terwyl ’n groot persentasie van dié onder 12 bang was—vir die donker, vir storms, vir inbrekers of ontvoering”. Daarbenewens het Wendy Reid gesê dat “71 persent van [die] kinders geen plan gehad het wat hulle kon volg as probleme ontstaan het nie en dat die helfte van die kinders onder 12 nie eers geweet het hoe om met hulle ouers in aanraking te kom nie”, het die Times berig.
“Kragdutjies”
“As ’n mens dut, kan dit jou gemoedstemming, wakkerheid en werksverrigting verbeter”, berig The Wall Street Journal. Die verfrissende uitwerking van ’n goeie slapie het sommige nywerhede beweeg om maniere te soek waarop dutjies in die gewone werksdag ingewerk kan word. Dit geld veral waar veiligheidsbelange verband hou met die wakkerheid van werknemers—soos vragmotorbestuurders, vlieëniers en operateurs by kernkragaanlegte. “Ons het gevind dat jy ná ’n dutjie van 15 minute weer—etlike ure lank—baie wakkerder is”, sê die slaapnavorser Claudio Stampi. Dit sal egter nog lank duur voordat dutjies by die werk deur die meeste werkgewers toegelaat sal word. Die Journal sê dat, ten einde “slaap by die werk meer aanvaarbaar te maak, voorstanders nou daarna verwys as ‘kragdutjies’”.
Tuinchemikalieë—’n Gevaar?
Gras- en tuinchemikalieë stel moontlik jou kinders se gesondheid in gevaar, berig die Franse natuurtydskrif Terre Sauvage. Dit waarsku dat “kinders onder veertien jaar wat in ’n huis bly waar die tuin met onkruid- of plaagdoders behandel word ’n vier keer groter risiko loop om sarkoom, ’n soort kanker, op te doen” as kinders wat nie aan sulke chemikalieë blootgestel word nie. Die verslag sê verder dat die gebruik van insekdoders in ’n kind se omgewing die risiko om leukemie te ontwikkel met een en ’n half tot drie keer vergroot. Aangesien meer as die helfte van alle Franse huishoudings tuinchemikalieë gebruik, skep baie moontlik onbewustelik vir hulle kinders ’n omgewing wat baie giftiger as dié van ’n groot, besoedelde stad is.
Miere wat warm kry
Twee navorsers in Switserland het uitgevind waarom sekere miere in die Sahara-woestyn versengende temperature van 60 grade Celsius kan verduur. Rüdiger Wehner van die Dierkundige Instituut van die Universiteit van Zürich en die genetikus Walter Gehring van die Universiteit van Basel het gevind dat miere “middels [vervaardig] wat as hitteskokproteïene (HSP’s) bekend staan en help om liggaamsproteïene teen hittebeskadiging te beskerm”, berig die tydskrif Science. Tydens blootstelling aan uiterste temperature “maak alle diere HSP’s nadat die skade [weens hitteskok] begin het”, sê die tydskrif, maar “miere doen ’n voorspringaanval”. Hoe? Die navorsers het gevind dat die miere hitteskok naboots en HSP’s vervaardig selfs voordat hulle hulle nes verlaat. Gehring voeg by: “Ons was nie slim genoeg om hieraan te dink nie, maar die miere was.” Of was dit hulle Skepper?
Stop die geraas
“Stop asseblief daardie geraas”, pleit ’n opskrif in die koerant The Toronto Star. Onophoudelike stadsgeraas van petrolgrassnyers, blaarblasers, hamerbore, motortoeters en -alarms, draagbare radio’s, blaffende honde, huilende babas en laataand partytjies laat lede van antigeraas-drukgroepe hulle vir rus en vrede beywer. Langdurige blootstelling aan sulke geraas “kan moegheid en angs laat toeneem”, sê die Star. Dit voeg by: “Mediese navorsing toon dat bloeddruk kan styg, die hartklop kan verander en die liggaam adrenalien en ander hormone vervaardig wat ’n uitwerking op bloedvate het.” Volgens gesondheidsowerhede is dit gevaarlik vir jou gehoor as jy meer as agt uur lank aan enige geluid oor 85 desibels, soos ’n lawaaierige grassnyer of ’n motorfiets, blootgestel word.
Die bestryding van osteoporose
Fisiese bedrywigheid kan help om beenmassa te herstel wat weens osteoporose verlore gegaan het, sê die koerant Jornal do Brasil. Spesialiste by die Kotrauma-kliniek in Rio de Janeiro gee oefenbehandeling, maar leer pasiënte ook hoe “om behoorlik te loop en die regte liggaamshouding in te neem”. Nadat hulle twee jaar met ’n groep vroue van 45 tot 77 jaar gewerk het, het 80 persent van die groep ’n aansienlike toename in beenmassa ondervind. Gedurende daardie tyd het die vroue minder rumatiekrugpyn gehad, en nie een het beenbreuke gehad nie. Dr. Theo Cohen, die direkteur van die kliniek, beveel ook ’n dieet aan wat ryk aan kalsium is en min vet bevat. Daarbenewens spoor hy mense aan om ’n doel in die lewe te vind. “Ons wil nie sien dat bejaardes sit en brei nie”, sê dr. Cohen. “Dit is net so belangrik om uit te gaan en rond te stap as om blokkiesraaisels in te vul om die breinselle te oefen.”
Besorgdheid oor siektes wat deur bloed oorgedra word
Beter veiligheidstrategieë is nodig om die bloedvoorraad te beveilig, sê ’n verslag deur die Instituut vir Geneeskunde van die Amerikaanse Nasionale Akademie vir Wetenskappe. As bewys vestig die verslag die aandag op die verspreiding van die Menslike immuungebreksvirus (HIV) deur bloedoortappings in die vroeë jare van die vigs-epidemie. The New York Times het die verslag bespreek en gesê: “Meer as die helfte van die 16 000 bloeiers in die Verenigde State en meer as 12-000 pasiënte wat oortappings van bloed en bloedprodukte ontvang het, is met H.I.V. besmet.” Die instituut se verslag spreek kommer uit dat onbekende, gevaarlike aansteeklike agense soos HIV weer die nasionale gesondheidstelsel onvoorbereid kan betrap. Dit het aanbeveel dat ’n stelsel tot stand gebring word om “nadelige gevolge in die ontvangers van bloed en bloedprodukte op te spoor, te monitor en daarteen te waarsku”.