Van ons lesers
Alpynse Ysman Ek het so pas “Die raaisel agter die Alpynse Ysman” (8 Mei 1995) gelees. Ek moet erken dat ek werklik nie gedink het dat ek van die onderwerp sal hou toe ek dit aanvanklik ontvang het nie. Maar die artikel was ongelooflik boeiend! Ek waardeer die manier waarop dit getoon het dat die tradisionele beskouing van die “primitiewe” mens nie korrek is nie.
J. S., Verenigde State
Die opvallende opskrif het my gehelp om die tydskrif by ’n man te laat wat ek op die trein ontmoet het. Die volgende week het ek hom weer raak geloop, en hy het gesê dat die artikel van “hoë gehalte” en goed ontwikkel is. Hy het die jongste nommer van Die Wagtoring geneem.
G. C., Japan
Menopouse In julle reeks “’n Beter begrip van die menopouse” (22 Februarie 1995) het julle die gebruik van “groente- of vrugteolies, vitamien E-olie en smeermiddels” as geneesmiddels vir vroulike droogheid gemeld. As ’n senior verpleegstudent voel ek verplig om te meld dat smeermiddels met ’n olie- of vrugtebasis ’n medium vir bakteriese groei voorsien. Wateroplosbare smeermiddels is dus beter.
H. W., Verenigde State
Ons waardeer hierdie jongste inligting.—RED.
Op 45-jarige ouderdom het ek warmgloede begin kry. Ek het dit jare lank sonder medikasie verduur. Daarom het ek gehuil toe ek die liefdevolle besorgdheid gevoel het waarvan julle artikel getuig. Dit het my gehelp om menopouse beter te verstaan, en dit het baie van my vrae beantwoord.
S. T. B. A., Brasilië
Rekenaarspeletjies Ek was verheug toe ek die artikel “Is hierdie speletjie vir jou?” (8 Mei 1995) gesien het. As ’n ouer is ek ontsteld oor die toegeeflike gesindheid van sommige wat dink dat hierdie speletjies onskadelike pret is. Daar is talle opvoedkundige en geweldlose speletjies beskikbaar.
K. G., Verenigde State
Ek evalueer rekenaarsagteware en is onlangs ’n kopie van die speletjie Doom II gegee om te evalueer. Ek het gevind dat die speletjie demoniese simbole, soos omgekeerde kruise en pentagramme, gebruik. Ek hoop mense besef hoe sleg hierdie speletjies is.
R. B., Verenigde State
Jonk getroud Dankie vir die artikel “Jongmense vra . . . Te jonk getroud—Kan ons ’n sukses daarvan maak?” (22 April 1995). As gemeentelike opsieners het ons gereël om ’n herdersbesoek op ’n jong paartjie te doen wat ’n huwelikskrisis beleef het. Wat ’n verrassing was dit tog vir my toe hierdie nommer hier aankom! Dit was net wat ons nodig gehad het om daardie jong paartjie te help. Ons het die hele artikel asook al die Bybeltekste bespreek.
M. C., Brasilië
Ondersese verkenning Ons het die artikel “Veilige verkenning van die wêreld onder die golwe” (8 Mei 1995) baie waardeer. Ons het so pas van ’n reis na die Rooi See tuisgekom en gevind dat julle raad baie nuttig was. Ons het nie net ’n pragtige seebodem verken nie, maar ons het ook baie geld gespaar!
V. C. en K. B., Italië
Ek en my man verskil af en toe oor hoe ons twee seuns hulle vrye tyd bestee. My man stel in duik belang, en ’n nuwe duikskool is onlangs in ons omgewing geopen. Nadat ek julle artikel gelees het, is ek bly dat ek ’n skoon gewete kan hê wanneer hulle hieraan deelneem.
C. P., Duitsland
Oorlewendes van Kommunisme Baie dankie vir die artikel “Meer as 40 jaar onder Kommunistiese beperkings” (22 April 1995). My hart is diep geraak terwyl ek dit gelees het. Dit het my gewys hoe Jehovah die nodige ondersteuning op die gepaste tyd gee sodat ’n mens jou onkreukbaarheid kan handhaaf.
S. A. A., Ghana