Die Bybelse beskouing
Is Maria die “Moeder van God”?
“ONS SOEK SKUILING ONDER DIE BESKERMING VAN U BARMHARTIGHEDE, O MOEDER VAN GOD; MOENIE ONS SMEKING IN NOOD VERWERP NIE, MAAR RED ONS VAN VERDOEMENIS, O U WAT ALLEEN GESEËND IS.”
SO ’N gebed som die gevoelens op van miljoene mans en vrouens wat aan Maria, die moeder van Jesus Christus, toegewyd is. In hulle oë is sy ’n goedhartige moederfiguur wat vir hulle ’n voorspraak by God kan wees en op die een of ander manier sy oordele oor hulle kan versag.
Maar is Maria werklik die “Moeder van God”?
Maria—“Hoogbegunstig” deur God
Maria was sonder twyfel “hoogbegunstig”—inderdaad, meer begunstig as enige ander vrou wat nog geleef het (Lukas 1:28, The Jerusalem Bible). Die engel Gabriël het aan haar verskyn en verduidelik presies hoe bevoorreg sy sou wees. “Luister!” het hy gesê. “Jy sal swanger word en ’n seun baar, en jy moet hom Jesus noem. Hy sal groot wees en Seun van die Allerhoogste genoem word.” Hoe was hierdie wonderdadige gebeurtenis moontlik? Gabriël het voorts gesê: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, .. . . en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. En daarom sal die kind heilig wees en Seun van God genoem word.”—Lukas 1:31, 32, 35, JB.
“‘Ek is die diensmaagd van die Here’, het Maria gesê, ‘laat wat u gesê het aan my gedoen word’” (Lukas 1:38, JB). Sodoende het Maria nederig ingestem tot wat God gesê het gaan gebeur en ná verloop van tyd aan Jesus geboorte gegee.
Gedurende die daaropvolgende paar eeue het haar aanhangers haar egter van haar posisie as ’n nederige “diensmaagd van die Here” tot dié van “koningin-moeder” met ontsaglike invloed in die hemele verhef. Kerkleiers het haar in 431 G.J. by die Konsilie van Efese amptelik tot “Moeder van God” verklaar. Wat het tot hierdie verandering aanleiding gegee? Pous Johannes-Paulus II verduidelik een faktor: “Ware toegewydheid aan die Moeder van God . . . spruit geheel en al uit die Verborgenheid van die Geseënde Drie-eenheid.”—Crossing the Threshold of Hope.
Derhalwe is aanvaarding van Maria as die “Moeder van God” op geloof in die Drie-eenheid gegrond. Maar is die Drie-eenheid ’n Bybelleerstelling?a Ondersoek asseblief wat die apostel Petrus in die Bybel geskryf het. Hy het gewaarsku dat ‘valse leraars verderflike ketterye heimlik sal invoer en met verdigte woorde voordeel uit julle sal trek’ (2 Petrus 2:1, 3, AB). Een van hierdie ketterye was die leerstelling van die Drie-eenheid. Toe dit eers aanvaar is, was die idee dat Maria die “Moeder van God” is (Grieks: Theotokos, wat “Draer van God” beteken) heel logies. Geoffrey Ashe sê in sy boek The Virgin dat, “indien Christus God was, die Tweede Persoon van die Drie-eenheid”, soos die Trinitariërs geredeneer het, “sy moeder in sy menslike openbaarwording dan die Moeder van God was.”
Indien Jesus “geheel en al God” was, soos die nuwe Catechism of the Catholic Church sê, dan kon Maria tereg die “Moeder van God” genoem word. Daar moet egter gesê word dat talle vroeë Trinitariërs dit moeilik gevind het om hierdie leerstelling te aanvaar toe dit aanvanklik voorgestel is—soos vandag met Trinitariese Protestante die geval is. Dit is al ’n “godsdienstige paradoks” genoem, naamlik dat “‘hy wat nie deur die hemele bevat kon word nie, in haar baarmoeder bevat is’” (The Virgin).—Vergelyk 1 Konings 8:27.
Maar is Jesus Christus werklik “geheel en al God”? Nee, hy het dit nooit beweer nie. Hy het eerder altyd erken dat hy aan sy Vader ondergeskik is.—Sien Matteus 26:39; Markus 13:32; Johannes 14:28; 1 Korintiërs 15:27, 28.
‘Aanbid op ’n wyse wat denkende wesens betaam’
Die Bybel spoor Christene egter aan om hulle denkvermoë in aanbidding te gebruik. Ons word nie gevra om blinde geloof te stel in wat as ’n verborgenheid vermom word nie. Die apostel Paulus sê dat ons eerder moet ‘aanbid op ’n wyse wat denkende wesens betaam’.—Romeine 12:1, JB.
“Ons is nooit aangespoor om daaroor te dink nie”, sê Anne, wat as ’n Katoliek grootgemaak is. “Ons het dit nooit bevraagteken nie. Ons het net geglo dat Jesus God is en dat Maria dus die ‘Moeder van God’ is—dit is baie eienaardig!” Onthou dat die Catechism of the Catholic Church sê dat elke lid van die “Goddelike Eenheid” “geheel en al God” is. Dit sê dat daar nie drie afsonderlike gode is nie. Moet ons dan glo dat, terwyl die lewende selle in Maria se baarmoeder verdeel en herverdeel het, dít wat “geheel en al God” was in ’n embrio bevat is wat gedurende die eerste maand van haar swangerskap tot ongeveer ’n halwe sentimeter in die lengte gegroei en nog onontwikkelde oë en ore gehad het?
Hou in gedagte dat die engel Gabriël vir Maria gesê het dat haar kind “Seun van die Allerhoogste” en “Seun van God” genoem sou word, nie “God die Seun” nie. As Jesus inderdaad die almagtige God was, waarom het die engel Gabriël dan nie dieselfde term as wat Trinitariërs vandag gebruik—“God die Seun”—gebruik nie? Gabriël het nie die term gebruik nie omdat die leerstelling nie in die Bybel voorkom nie.
Ons begrip van die werke van God is natuurlik beperk. Maar behoorlike begrip van die Skrif help ons om te glo dat die almagtige God, die Skepper van alle lewe, die krag gehad het om die lewe van sy geliefde Seun, Jesus Christus, op wonderdadige wyse na die baarmoeder van Maria oor te plaas en om daarna die ontwikkeling daarvan deur middel van Sy werkende krag, oftewel heilige gees, te beskerm totdat Maria die moeder geword het van Jesus—die Seun van God.
Ja, Maria was besonder geseënd as die moeder van die een wat die Christus geword het. Dit is nie oneerbiedig teenoor haar om te aanvaar dat sy volgens die duidelike leer van die Bybel—wat die verslag van Maria se eie nederigheid insluit—nie die titel “Moeder van God” gegee moet word nie.
[Voetnoot]
a Sien asseblief Moet jy aan die Drie-eenheid glo?, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania.
[Foto-erkenning op bladsy 26]
Museo del Prado, Madrid