Jessica se toespraak
JESSICA, ’n 13-jarige meisie van die Verenigde State, het saam met haar klasmaats die opdrag ontvang om ’n toespraak oor die tema “God, vlag en land” te hou. Jessica het geweet dat haar skoolmaats nuuskierig was oor waarom sy as een van Jehovah se Getuies nie die vlag salueer nie en het moedig van hierdie geleentheid gebruik gemaak om haar oortuiging te verduidelik. Die volgende is uittreksels uit haar toespraak.
“Aan die begin van elke skooldag word leerlinge gevra om die eed van getrouheid af te lê, maar weens my oortuiging en my geloof doen ek dit nie. Baie mense wonder waarom. Ek sal nou vir julle vertel.
“Die eerste woorde van die vlagsaluering is: ‘Ek sweer trou aan die vlag.’ Wel, wat is trou? Dit is die verpligting om ondersteunend, lojaal en toegewyd te wees. Aangesien ek reeds aan God trou gesweer het, kan en sal ek nie aan die vlag trou sweer nie. Die feit dat ek nie die vlag aanbid of trou daaraan sweer nie, beteken egter nie dat ek dit minag nie.
“God is die belangrikste in my lewe. Ek doen my uiterste bes om sy gebooie te hou soos dit in die Bybel uiteengesit is. Ek bid elke dag tot hom, en ek bid ook wanneer ek bykomende hulp of aanmoediging nodig het. Ek ontvang altyd daardie hulp en aanmoediging op die regte tyd. Ek het gevind dat ek gelukkiger is wanneer ek God eerste stel en wanneer ek die dinge doen wat hy ons beveel het om te doen.
“Hoewel ek dus nie die vlag salueer nie, respekteer ek dit en sal ek dit geensins oneer aandoen nie. Maar ek sweer trou aan God, en dit tereg, want hy het my geskep en ek is daardie trou aan hom verskuldig.”
Die leerlinge in Jessica se klas is gevra om die toesprake wat hulle gehoor het te beoordeel. Hoe bly was Jessica tog dat haar klasmaats weens haar poging gesê het dat hulle ’n beter begrip van haar oortuiging verkry het. Nog belangriker, jongmense wat moedig vir Bybelbeginsels opkom, verbly Jehovah God se hart!—Spreuke 27:11.