Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 4/8 bl. 12-15
  • Jy kan jou geheue verbeter

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jy kan jou geheue verbeter
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe om mense se name te onthou
  • Hoe om lyste te memoriseer
  • Onthou wat jy lees
  • Jy kan jou geheue verbeter!
    Ontwaak!—2009
  • Hoe om jou geheue te verbeter
    Ontwaak!—1992
  • Jou brein—Hoe werk dit?
    Ontwaak!—1999
  • Die mens—’n wonder
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 4/8 bl. 12-15

Jy kan jou geheue verbeter

“Ek het ’n verskriklike swak geheue.” Het jy dit al ooit gesê? Indien wel, moenie moed opgee nie. ’n Paar eenvoudige wenke en ’n bietjie inspanning kan ’n verbasende verbetering teweegbring. Moenie jou brein onderskat nie. Sy vermoëns is verbasend.

HOE verrig die brein sy verstommende funksies? Die brein is in die laaste jare bestudeer soos nog nooit tevore nie. Maar hoewel insig toeneem, weet ons nog steeds baie min van hóé die brein nou eintlik sy werk doen.

Dit is nie duidelik hoe ons inligting leer en onthou nie, maar navorsers probeer hierdie geheim ontrafel. Die leer- en onthouproses behels ’n geskatte 10 miljard tot 100 miljard senuselle, neurone, in die brein. Maar daar is ten minste tienduisend keer soveel verbindings tussen die neurone. Een teorie is dat ons leer wanneer die verbindings, of sinapse, deur gebruik versterk word.

Namate ons ouer word, sal ons verstandelike vermoë miskien afneem; ons reaksies word miskien stadiger. Breinselle hernieu hulleself nie, en volwassenes verloor klaarblyklik gedurig daarvan. Maar die mate waarin ons ons brein gebruik, kan help om ons verstandelike vermoëns langer te bewaar.

Ons geestesgesindheid beïnvloed die brein. ’n Optimistiese, vrolike uitkyk verbeter die werking van die brein op enige ouderdom. ’n Bietjie spanning kan voordelig wees, maar langdurige, oormatige spanning belemmer die doeltreffendheid van die brein. Liggaamlike oefening kan help om verstandelike druk te verlig.

Dit klink moontlik bemoedigend, maar ons sal dalk steeds belangrike dinge vergeet, ongeag hoe oud ons is. Kan ons verbeter? Iets waarmee die meeste mense sukkel, is om die name van mense wat ons ontmoet te onthou.

Hoe om mense se name te onthou

’n Paar eenvoudige wenke kan jou baie help om name beter te onthou. Dit help as jy in die persoon belangstel. ’n Mens se naam is vir hom belangrik. Ons kan dikwels nie die naam onthou nie omdat ons dit in die eerste plek nie reg gehoor het nie. Maak dus seker van die naam wanneer jy voorgestel word. Indien nodig, vra die persoon om dit te herhaal of dit selfs te spel. Gebruik dit ’n paar keer in julle gesprek. Noem die persoon op sy naam wanneer julle groet. Jy sal verbaas wees hoeveel hierdie paar punte sal help.

’n Ander wenk wat jou geheue vir name sal verbeter, is om iemand se naam te assosieer met iets wat jy jou in jou gedagtes kan voorstel. As jy ’n aksie by hierdie prentjie kan voeg, is dit selfs beter.

Iemand het byvoorbeeld gesukkel om ’n kennis se voornaam, Glenn, te onthou. Wanneer hy dus hierdie persoon gesien het, het hy gedink aan die betekenis van die Engelse woord “glen”, dit wil sê “’n versteekte, smal vallei”. Hy het hom die man in hierdie vallei voorgestel, waar hy na die pragtige omgewing kyk. Dit het elke keer gewerk; die naam Glenn het in sy gedagtes opgekom.

Baie name het miskien vir jou geen betekenis nie en daarom sal jy hulle moet vervang met ’n woord wat met die naam ooreenkom. Dit maak nie saak as jou plaasvervangerwoord nie presies soos die naam klink nie. Die assosiasie sal dit vir jou geheue makliker maak om die naam te onthou. Wanneer jy jou eie woorde en prentjies uitdink, is die indruk baie groter.

Jy is byvoorbeeld aan ’n mev. Bettina von Bloemenstein voorgestel. Jy kan dit vervang met bedjie blomtuin. Jy stel jou ’n bedjie in die blomtuin voor.

Jy sal dit ’n ruk lank ywerig moet oefen, maar dit werk beslis. Harry Lorayne verduidelik hierdie metode in sy boek How to Develop a Super-Power Memory, en hy het dit al by talle openbare geleenthede gebruik. Hy sê: “Dit het al baie gebeur dat ek eenhonderd of tweehonderd mense in die bestek van vyftien minute of minder moes ontmoet sonder om een naam te vergeet!”

Hoe om lyste te memoriseer

Hoe kan jy jou vermoë verbeter om ’n lys onverwante items te onthou? ’n Eenvoudige metode is die koppelstelsel. Dit werk soos volg: Jy vorm ’n visuele beeld vir elke item op die lys en dan assosieer jy die beeld vir die eerste item met die beeld vir die tweede item, doen dan dieselfde met die tweede en derde items, ensovoorts.

Jy moet byvoorbeeld vyf items by die supermark kry: melk, brood, ’n gloeilamp, uie en roomys. Begin deur die melk met die brood te koppel. Stel jou voor hoe jy melk uit ’n brood skink. Hoewel die prentjie miskien verspot lyk, sal dit help om die items in jou geheue in te prent. Probeer ook om ’n aksie by die prentjie in jou verstand in te bring wat jou by die skink van die melk betrek.

Nadat die brood met die melk gekoppel is, gaan oor na die volgende item, die gloeilamp. Jy kan miskien die brood met die gloeilamp koppel deur jou voor te stel hoe jy die brood in ’n ligsok probeer indruk. Koppel dan die gloeilamp met die ui deur jouself te sien huil terwyl jy ’n groot gloeilamp skil. Dit is natuurlik beter as jy self die assosiasie maak. Kan jy die laaste twee items, die uie en die roomys, met mekaar koppel? Miskien kan jy jou voorstel dat jy uieroomys eet!

Kyk of jy die lys kan onthou. Toets dan jou geheue met ’n lys wat jy self gemaak het. Maak dit so lank as wat jy wil. Onthou, om die assosiasie onvergeetliker te maak, kan jy dit snaaks of selfs verspot of buite verhouding maak. Probeer om aksie in die prentjie te sit, en vervang een item met ’n ander.

Party maak dalk beswaar dat hierdie metode langer neem as om eenvoudig die lys te memoriseer. Maar dit neem langer om te verduidelik as om dit te gebruik. As jy dit eers ’n bietjie geoefen het, sal jy vinnig assosiasies maak en jou herinneringsvermoë, asook jou leertempo, sal baie beter wees as wanneer jy sonder ’n stelsel probeer leer. Nadat 15 persone gevra is om ’n lys van 15 onverwante items te onthou sonder om ’n stelsel te gebruik, was hulle gemiddelde telling 8,5. Toe hulle die stelsel van visuele assosiasies met ’n ander lys probeer het, was dieselfde groep se gemiddelde 14,3. As jy natuurlik onthou om ’n geskrewe lys van hierdie items saam te neem wanneer jy gaan inkopies doen, sal dit jou ’n telling van 15 gee—100 persent!

Onthou wat jy lees

In hierdie era van oorvloedige inligting is effektiewe studiemetodes ’n ander gebied waarop die meeste van ons hulp nodig het. Studie is noodsaaklik op skool, in besigheid, vir persoonlike verbetering en ter voorbereiding van openbare spreekgeleenthede. Daarbenewens moet ’n Christen tyd opsy sit vir persoonlike Bybelstudie.—Johannes 17:3.

‘Maar ek sukkel om te onthou wat ek gestudeer het’, sê jy miskien. Wat kan jy doen? As jy leer om jou studeertyd ten beste te benut, sal dit jou help om te onthou wat jy lees. Hier is ’n paar wenke.

Persoonlike organisasie is belangrik wanneer jy studeer. Hou boeke, skryfmateriaal en papier byderhand. Probeer in ’n aangename omgewing studeer met min afleidings en behoorlike beligting. Sit die radio en die televisie af.

Stel ’n gereelde tyd vir studie vas. Vir party is dit beter om elke dag ’n kort rukkie te studeer as ’n lang tyd op een slag. Dit is goed om jou tyd te verdeel. In plaas van twee ure aaneen te studeer, is dit miskien beter om jou tyd in sessies van 25 tot 40 minute te verdeel, met kort tussenposes van ’n paar minute tussenin. Navorsing het getoon dat dit tot beter herinneringsvermoë bydra.

Besluit watter materiaal jy gedurende jou studeertyd wil dek. Dit bevorder konsentrasie. Voordat jy ’n boek begin lees, gebruik ’n paar minute vir ’n voorskou. Kyk na die titel. Ondersoek die inhoudsopgawe, wat die boek opsom. Lees dan die voorwoord of die inleiding. Die skrywer se doel en standpunt word dalk hier uiteengesit.

Doen ’n voorskou voordat jy ’n hoofstuk begin lees. Kyk na tussenhofies, illustrasies, tabelle, opsommings en die openings- en slotparagrawe. Lees vlugtig die eerste sin van elke paragraaf. Hierdie sinne bevat dikwels die vernaamste redenasies. Kry ’n algemene oorsig. Vra jou af: ‘Wat wou die skrywer bewys? Wat kan ek uit hierdie materiaal leer? Wat is die hoofpunte?’

Konsentrasie is belangrik. Jy moet heeltemal betrokke raak. Die geheim is om jou studeertyd so stimulerend as moontlik te maak. Wakker entoesiasme aan deur aan die praktiese aspekte van die inligting te dink. Visualiseer. Gebruik die sintuie deur reuk, smaak en gevoel voor te stel as die materiaal dit daartoe leen.

Sodra jy die betekenis van die materiaal gesnap het, is jy gereed om aantekeninge te maak. Doeltreffende aantekeninge kan jou begrip en herinnering van die inligting bespoedig. Aantekeninge hoef nie hele sinne te wees nie, maar moet sleutelwoorde of frases wees wat jou kan help om die hoofgedagtes te onthou.

Om inligting te verstaan, beteken nie noodwendig dat jy in die toekoms alles sal kan onthou nie. Feit is dat tot 80 persent van die inligting binne 24 uur nadat dit geleer is miskien vergeet sal word, ten minste tydelik. Dit klink ontmoedigend, maar ’n bietjie of baie van daardie 80 persent kan herwin word deur die materiaal te hersien. Doen ’n paar minute hersiening ná elke studiesessie. Hersien dit, indien moontlik, ’n dag later weer, dan ’n week later en dan ’n maand later. As jy hierdie punte toepas, kan dit jou help om die meeste uit jou kosbare studeertyd te kry en te onthou wat jy gelees het.

Moet dus nie jou brein onderskat nie. Jou vermoë om dinge te onthou, kan verbeter word. Een wetenskaplike het na die brein verwys as “die ingewikkeldste ding wat ons nog in ons heelal ontdek het”. Dit is ’n huldeblyk aan die ontsagwekkende wysheid en mag van die Skepper daarvan, Jehovah.—Psalm 139:14.

[Diagram op bladsy 15]

Gebruik die koppelstelsel om lyste te onthou: Vorm ’n visuele beeld vir elke item. Assosieer dan die beeld vir die eerste item met dié vir die tweede, ensovoorts

Inkopielys:

1. Melk 1 en 2 word gekoppel

2. Brood 2 en 3 word gekoppel

3. Gloeilamp 3 en 4 word gekoppel

4. Uie 4 en 5 word gekoppel

5. Roomys

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel