Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 4/8 bl. 16-19
  • Hoe om ’n gebruikte motor te koop

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om ’n gebruikte motor te koop
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoeveel kan ek bestee?
  • Watter soort motor het ek nodig?
  • Is dit ’n goeie motor?
  • Motorherstelwerk en veiligheid
    Ontwaak!—2004
  • Jou motor—Veilig of gevaarlik?
    Ontwaak!—1995
  • Beskerm jou teen motorkapings!
    Ontwaak!—2006
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 4/8 bl. 16-19

Hoe om ’n gebruikte motor te koop

WIE sal nie daarvan hou om ’n motor teen die helfte van die oorspronklike prys of minder te koop nie? ‘Is dit werklik moontlik?’ vra jy. Ja—as dit ’n tweedehandse, oftewel gebruikte, motor is. Die probleem is dat baie daaraan twyfel of ’n gebruikte motor ’n goeie kopie is. Motors, soos ander masjinerie, raak uitgeslyt. Gevolglik verminder die waarde van ’n motor met ouderdom, kilometerafstand en gebruik.

Mag ek my aan jou voorstel? Ek is al meer as 15 jaar lank ’n motortegnikus. Laat my dus van die dinge wat ek geleer het aan jou oordra. Hier volg ’n paar vrae wat jy jou moet afvra voor jy ’n gebruikte motor koop.

Hoeveel kan ek bestee?

Eerstens moet jy bereken hoeveel jy volgens jou begroting aan ’n motor kan bestee. Koerantadvertensies kan jou dan ’n idee gee van die jaar en model van motors wat jy kan bekostig. In sommige lande het banke, leningsbanke en party biblioteke maandelikse gidse wat die pryse van gebruikte motors lys. Maak seker dat jy nie net die prys van die motor bereken nie, maar ook die koste van die belasting, registrasie en versekering. Beplan ook om ’n bietjie geld oor te hê vir onverwagte herstelwerk wat die motor dalk nodig sal hê nadat jy dit gekoop het.

Watter soort motor het ek nodig?

Wanneer jy besluit wat jy nodig het, moet jy bepaal wat vir jou belangrik is. Neem die grootte van jou gesin in ag asook waarvoor die motor gebruik sal word, soos om werk toe te ry, die kinders skool toe te vat en om in die Christelike bediening uit te gaan. Sal die motor vir plaaslike of lang ritte gebruik word? Moenie jou tot ’n spesifieke fabrikaat en model beperk nie; soek eerder ’n motor wat goed in stand gehou en in ’n goeie toestand is. Skaf ’n motor aan wat maklik is om te diens. Enige motor sal die een of ander tyd onderdele nodig hê. Is daar in jou omgewing ’n verskaffer van die nodige onderdele? Dit kan moeilik wees om onderdele te bekom vir motors wat meer as tien jaar oud is. As jou begroting knap is, moet jy luukse of spesiale, ingevoerde motors vermy, aangesien onderdele en versiening ongetwyfeld duurder sal wees. Hoewel sulke motors baie betroubaar kan wees, kan hulle ook baie duur wees om aan die gang te hou.

Is dit ’n goeie motor?

’n Goeie motor is een wat goed gediens is. Dit is oor die algemeen die beste om motors met ’n baie hoë kilometerafstand te vermy—veral as dit in die stad eerder as op hoofweë afgelê is. Wat as ’n hoë kilometerafstand beskou word, kan van plek tot plek verskil. Geen gebruikte motor sal volmaak wees nie. Maar sal jy die nodige herstelwerk aan die motor kan bekostig? Die herstelwerk sal gewoonlik nie die waarde van die motor verhoog nie. As jy byvoorbeeld ’n motor vir R10 000 koop en dan R3500 aan nodige herstelwerk bestee, sal die motor nie noodwendig R13 500 werd wees nie. Dit is gewoonlik goedkoper om ’n motor te koop wat in ’n goeie toestand is as om ’n motor te koop wat in ’n slegte toestand is en dit reg te maak.

Hier is ’n paar wenke oor hoe om ’n goeie motor uit te soek:

• Gaan die motor noukeurig na voordat jy dit koop. Om die motor behoorlik te beoordeel, moet jy nie in die aand of in die reën daarna gaan kyk nie. Loop vlugtig om die motor. Watter indruk laat dit op jou? Toon die binne- en buitekant dat die vorige eienaar trots daarop was om dit te besit? Is dit goed in stand gehou? Kan die verkoper ’n rekord voorsien van die instandhoudingswerk wat aan die voertuig gedoen is? Indien nie, is die motor waarskynlik verwaarloos. Jy sal moontlik nie verder na hierdie motor wil kyk nie.

• Toetsbestuur die motor. Versnel tydens die toetsrit tot die spoedgrens op die hoofweg. Jy kan ook gerus ’n paar keer stilhou en wegtrek in ’n heuwelagtige gebied en op gelyk paaie.

Enjin:

Vat die enjin maklik?

Kom daar min rook by die uitlaat uit?

Loop die enjin goed?

Luier dit egalig?

Loop die enjin stil?

Het die enjin genoeg krag vir goeie versnelling?

As die antwoord op enige van die bogenoemde vrae nee is, dan het die enjin instelling of ernstiger herstelwerk nodig. Hierdie dinge kan ook tekens wees van ’n geslyte enjin. Pasop as die verkoper sê dat dit net instelling nodig het. Instelling moes deel gewees het van die gereelde instandhouding van die motor.

Transmissie:

Gly die outomatiese transmissie of skakel dit nie in wanneer dit in rat gesit word nie?

Wissel die ratte dalk nie glad nie?

Is daar krassende geluide in enige van die ratte?

As die antwoord op enige van hierdie vrae ja is, het die transmissiestelsel dalk herstelwerk nodig.

Remme en vering:

Trek die motor eenkant toe wanneer jy bestuur of rem?

Vibreer die motor teen sekere snelhede of wanneer jy rem?

Is daar geluide wanneer jy rem of draai of oor hobbels ry?

As die antwoord op enige van hierdie vrae ja is, sal dit miskien nodig wees om aan die motor se remme of vering te werk.

• Let op ander dinge wat dalk herstelwerk nodig het. Dra klere waarmee jy die binne-, buite- en onderkant van die motor kan bekyk.

• Kyk of daar roes aan die bakwerk is. Vermy motors wat dit het. Die meeste van die nuwer motors word met ’n selfdraende bakwerk gebou. Dele van die bakwerk word op verskeie plekke vir strukturele sterkte gebruik. Wanneer hierdie dele roes, is dit gewoonlik te duur om dit heeltemal te herstel. Roes aan die modderskerms kan oppervlakkig wees, maar is gewoonlik ’n teken dat strukturele dele ook roes het. Kyk of daar roes aan die onderkant van die motor is. Pasop as die motor nuut geverf is; die motor is dalk ’n gewitte graf.

• Kyk of daar ongelukskade is. Kyk onder die enjinkap en in die bagasiebak of daar nie versteekte ongelukskade is nie. Maak die deure, enjinkap en bagasiebak behoorlik toe? Is daar tekens van spuitverf waar dit nie hoort nie, soos in die deurknippe? Is daar lekplekke in die bagasiebak of in gedeeltes wat met matte bedek is? Hierdie lekplekke kan roes veroorsaak.

• Gaan die enjinolie na. Kyk na die oliepeilstok. Is die oliepeil laag? Dit kan die gevolg wees van oormatige olieverbruik of lekke. Is die olie baie vuil of swart? Voel dit sanderig? Let op tekens van nat olie om die klepdeksels. Klim in die motor en draai die sleutel, maar moenie die motor aansit nie. Kom die liggie aan wat waarsku dat die oliedruk laag is? As die motor toegerus is met ’n oliedrukmeter, moet dit op nul wees. Skakel nou die enjin aan, laat dit stadig luier en kyk hoe lank dit neem voor die oliedrukliggie uitgaan of voor die meter normale enjindruk toon. As meer as ’n paar sekondes verloop voor die liggie uitgaan of voor die meter normale druk toon, kan dit op ernstige enjinslytasie dui. Op sommige nuwer motors in die Verenigde State behoort ’n “Gaan enjin na”- of “Versien enjin binnekort”-liggie aan te kom wanneer die sleutel gedraai word maar die enjin nie loop nie. Die liggie moet uitgaan wanneer die enjin loop. As die liggie aan bly terwyl die enjin loop, dui dit gewoonlik op ’n enjinprobleem, miskien met die uitlaatbeheerstelsel of die brandstofleweringstelsel.

• Gaan die outomatiesetransmissievloeistof na. Is die vlak laag of is dit gebrand? Kyk of daar lekplekke onder die transmissie is. Hierdie dinge kan beteken dat groot werk aan die transmissie nodig is. As dit ’n voorwielaangedrewe motor is, moet jy onder die motor kyk om te sien of die rubberkouse van die konstantesnelheidskruiskoppelinge geskeur is. Indien wel, kan die ghries uitskiet, en dit kan die koppelinge, wat duur is om te vervang, baie gou beskadig.

• Gaan al vier bande na. As hulle baie afgeloop is, moet jy verwag dat jy hulle sal moet vervang. As die loopvlak van die bande onegalig afgeloop het, sal dit dalk nodig wees om die wielsporing te laat regstel of stuuronderdele te vervang.

• Gaan die kragstuurstelsel na. Lyk dit asof die vloeistof gebrand of die vlak daarvan laag is? Skakel die motor aan en draai die stuurwiel ’n paar keer heen en weer. Dit behoort dieselfde krag te verg om dit na regs of na links te draai. Is daar enige weerstand terwyl jy die stuurwiel draai? Die werking van die kragstuur behoort redelik stil te wees. Enige probleme met die werking daarvan kan duur herstelwerk beteken.

• Ander dinge om na te gaan.

Kyk na die toestand van die waaierbande en die pype.

Toets die handrem teen ’n skuinste.

Kyk of die rempedaal besonder afgeslyt is.

Gaan die toestand van die uitlaatstelsel na. Raas dit? Is dit los?

Gaan die skokbrekers en vere na. Lê die motor laag, of wip dit meer as drie keer wanneer jy elke hoek om die beurt afdruk?

Werk die lugreëlaar, as daar een is, op elke blaserverstelling?

Werk die ligte, ruitveërs, toeter, sitplekgordels en vensters?

Gaan die agterste deel van die motor se onderstel na vir enige tekens dat daar ’n sleepstang was. Indien wel, moet jy oppas, want sleepwerk kon oormatige druk op die transmissie geplaas het.

As jy onseker is oor enige van die dinge wat in hierdie artikel genoem word, sal dit dalk wys wees om ’n professionele werktuigkundige die motor te laat beoordeel voordat jy dit koop. Vra hom om die motor na te gaan en ’n lys van die volgende op te stel:

1. Die herstelwerk wat die motor onmiddellik nodig het en ’n raming van die koste verbonde aan onderdele en arbeid.

2. Die herstelwerk wat die motor dalk in die volgende jaar nodig sal hê en ’n raming van die koste verbonde aan onderdele en arbeid.

Dit sal ’n professionele werktuigkundige minder as ’n uur neem om die motor na te gaan. Hoewel jy moontlik ’n uur se arbeid sal moet betaal, is die uitgawe gering in vergelyking met die onbekende koste van nodige herstelwerk. Vra die verkoper watter werk onlangs aan die motor gedoen is. Vra om die versieningsrekords te sien. Is die olie en die oliefilter gereeld vervang? Is die outomatiese transmissie al ooit versien? Wanneer laas is die motor ingestel? Onthou, ’n goeie motor is een wat goed in stand gehou is en nie baie werk nodig het nie.

Gaan sit en bereken eers die koste—aan die hand van al die gegewens van die motor. Besluit dan of die motor dit werd is en of jy genoeg geld begroot het om nie net die koopprys te dek nie, maar ook ander uitgawes.—Bygedra deur ’n motortegnikus.

[Prente op bladsy 16, 17]

Hoe kan jy daarvan seker wees dat die gebruikte motor wat jy koop goed is? Hier volg ’n paar van die talle dinge wat jy in gedagte moet hou

Vra ’n motortegnikus om die motor na te gaan voordat jy dit koop

Is die olie en die oliefilter gereeld vervang?

Kyk of daar ongelukskade is. Maak die deure, enjinkap en bagasiebak behoorlik toe?

Motorbande wat onegalig afgeloop het, kan aandui dat daar iets ernstigs met die wielsporing of stuurstelsel skort

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel