Lahars—die nadraai van berg Pinatubo
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DIE FILIPPYNE
HUISE oorstroom. Besighede verwoes. Voertuie weggespoel. Geboue begrawe. Duisende mense gedwing om te vlug. Ander vasgekeer, nie in staat om te vlug nie. Wat het dit veroorsaak? Aardbewing? Sneeustorting? Nee. Dit is die scenario wat steeds deur lahars veroorsaak word. Wat is dit? Lahars is strome wat bestaan uit water en vulkaanneerslae, en dit sluit ook los as, puimsteen en puin van huidige en vroeëre uitbarstings in.
Jy het moontlik ’n dekade gelede nog nooit eens van die Filippyne se berg Pinatubo gehoor nie. Maar ná ’n verskriklike uitbarsting op 15 Junie 1991 het “Pinatubo” ’n welbekende woord in baie wêrelddele geword. Nadat dit amper 500 jaar lank rustend was, het berg Pinatubo sy vulkaniese inhoud in een van die reusagtigste paddastoelwolke van hierdie eeu uitgeskiet. As, sand en klippe is deur die vulkaan uitgespoeg en het op die land neergereën in hoeveelhede wat mense nog selde gesien het.*
Die vulkaan het groot hoeveelhede materiaal meer as 20 kilometer in die aarde se atmosfeer ingeskiet. Hoewel van hierdie materiaal weer na die aarde toe teruggeval het, het groot hoeveelhede stof in die lug agtergebly—en nie net stof nie maar groot hoeveelhede swaeldioksied, ongeveer 20 miljoen ton daarvan!
Jy onthou miskien party van die wêreldwye gevolge: uitsonderlike mooi sonsondergange ’n tyd lank; ’n buitengewoon helder algehele sonsverduistering in Mexiko en nabygeleë gebiede in 1991; veranderde weerpatrone, waaronder ’n afkoelende uitwerking op dele van die Noordelike Halfrond en toenemende vernietiging van die aarde se osoonlaag. Of jy het miskien gehoor van die toename in honger en siektes wat die mense geraak het wat deur die uitbarsting uit hulle tuistes verdryf is.
Die langdurige nadraai
Een van die ernstigste nadraaie van Pinatubo se uitbarsting, en miskien een waarvan groot dele van die wêreld nie bewus is nie, is die verskynsel wat as lahar bekend staan. Soos in die openingsparagraaf van hierdie artikel genoem is, het lahars ongekende lyding vir tienduisende mense veroorsaak. Vanweë die lahars is die gevolge van berg Pinatubo se uitbarsting nog nie heeltemal verby nie. Dit word nou nog gevoel. Jy is miskien nie persoonlik geraak nie, maar in die omgewing van berg Pinatubo word besighede, werksgeleenthede, huise, lewens en selfs hele dorpe steeds uitgewis. Die skuldiges is Pinatubo se lahars.
Hoewel baie lahars soos modderige riviere met ongewone hoeveelhede neerslag is, begin dit soos vloeibare beton word as die lahar meer as 60 persent neerslag bevat. Dit kan uiters verwoestend wees. A Technical Primer on Pinatubo Lahars sê: “Hierdie slyk is so dik (meer as twee maal die digtheid van water) dat groot rotsblokke, skanskorwe vol klippe, voertuie, betongeboue en selfs brûe opgelig en weggespoel word.”
Hoe word lahars gevorm? Jy sal onthou dat berg Pinatubo met sy uitbarsting groot hoeveelhede materiaal uitgeskiet het. Van die materiaal het in die atmosfeer opgegaan, maar baie daarvan het as piroklastiese (deur vulkaanaktiwiteit gevorm) stroomafsettings op die berg en nabygeleë gebied agtergebly. Hoeveel? Volgens ’n verslag van ’n Filippynse Instituut vir Vulkanologie en Seismologie 6,65 miljard kubieke meter. Amerikaanse vulkanoloog C. G. Newhall sê dat genoeg puin uitgekom het om “’n deurpad met vier bane heen en weer regoor Amerika ten minste 10 keer uit te lê”. Hiervan was 3,45 miljard kubieke meter in verweerbare vorm—net reg vir die reën om te kom en dit na laerliggende gebiede te spoel en sodoende lahars te vorm. In die Filippyne kan tropiese storms en tifone ekstra probleme beteken. Groot hoeveelhede reën kan binne ’n kort tydperk val en massiewe lahars veroorsaak.
Dit is presies wat nou al ’n paar jaar lank gebeur. Keer op keer het storms die vulkaniese puin met water deurdrenk en dit laat beweeg. Lahars het vrugbare landbougrond in ’n woesteny omskep en dorpe verander in dakke wat bo die grond uitsteek. In sommige gevalle het dit oornag gebeur. Duisende huise is vernietig en mense is uit hulle geboorteplekke verdryf, gedwing om ’n nuwe lewe in ’n ander gebied te begin. Tot en met die begin van 1995 het lahars 63 persent van die piroklastiese materiaal na die laaglande verskuif, maar dit het nog 37 persent daarvan op die berg gelaat, net reg om in die toekoms verwoesting te saai. En ’n groot deel van die 63 persent wat reeds afgekom het, bly steeds ’n gevaar. Water van swaar reëns kalwe slote in die materiaal wat vroeër stroomop afgeset is. Dit veroorsaak dan dat die lahar weer beweeg, wat lewens en eiendomme verder stroomaf in gevaar stel. In Julie 1995 het die Manila Bulletin gesê: “Een-en-negentig dorpies . . . is van die kaart van Sentraal-Luzon af uitgewis, onder tonne vulkaniese puin begrawe.”
Nog ’n ramp
Op Saterdagaand, 30 September 1995, het die hewige tropiese storm Mameng (wêreldwyd bekend as Sybil) Luzon getref. Groot hoeveelhede reën het in die gebied van berg Pinatubo geval. Dit het ’n ramp beteken. Lahars was weer aan die beweeg. Alles wat in hulle pad was, is verswelg. In een gebied het ’n beheerwal meegegee en is gebiede wat voorheen nie deur lahars getref is nie, oordek met lahars wat tot ses meter diep was. Huise van minder as twee verdiepings is heeltemal oorstroom. Mense het op dakke geklim om hulle lewe te red. Waar die lahars besonder dig was, het dit rotsblokke, voertuie en selfs huise meegesleur.
Oorstromings is nog ’n gevolg van die lahars, aangesien hulle die loop van riviere en waterafvoering verander. Duisende huise was onder water, waaronder baie huise van gesinne wat Getuies van Jehovah is, asook ’n aantal Koninkryksale.
Ander het selfs rampspoediger ondervindinge gehad. ’n Mens sal in ’n bewegende lahar of in die onlangse modderneerslag van ’n lahar wegsink, wat dit baie moeilik maak om daaruit te kom. Die modder is eers ná ’n paar uur of dae hard genoeg om op te loop. Hoe het mense ontvlug? Party het op dakke of in bome hoër as die lahar gewag totdat hulle daarop kon loop. Ander het aan telefoonkabels vasgehou of daarop geloop, aangesien die lahar so hoog gestyg het. Party het op die halfverharde modder gekruip wat die lahar agtergelaat het. ’n Aantal het hulle lewe verloor. Die regering het helikopters na die gebiede gestuur wat swaarder getref is om mense van dakke af op te pik.—Sien die volgende artikel “Ons is uit ’n lahar gered!” vir verdere besonderhede.
Liefde beweeg ander om te help
Hoewel baie huise en sommige Koninkryksale vernietig of erg beskadig is, was Jehovah se Getuies bly om te verneem dat nie een van hulle Christenbroers en -susters gesterf het nie. Maar daar was ongetwyfeld ’n groot behoefte onder diegene wat deur lahars of oorstromings getref is. Party Getuies het ontvlug met net die klere wat hulle aangehad het, en dít was vol laharmodder. Hoe het mede-Christene op die behoefte gereageer?
Gemeentelike ouer manne van die onmiddellike omgewing het probeer vasstel of hulle Christenbroers veilig was of hulp nodig gehad het om die gebied te ontruim. Dit was nie maklik nie, aangesien die laharneerslae op baie plekke nog sag was. Guillermo Tungol, ’n ouer man in die Bacolor-gemeente, het gesê: “Ons het gaan help. Ons het op die telefoonkabels geloop om by die broers te kom.” Wilson Uy, ’n voltydse bedienaar in dieselfde gemeente, het bygevoeg: “Ons kon amper nie daar kom nie, want ons moes deur water gaan wat borshoogte was en nogal sterk gevloei het.” Maar deur versigtig te wees, het hulle dit reggekry en kon hulle die toestand van die gemeentelede vasstel en help waar dit moontlik was.
Teen Maandagoggend, 2 Oktober, was die Wagtoringgenootskap se takkantoor deeglik bewus van die behoefte. Kon die 345 vrywillige werkers by die tak help? Ja! Hulle het onmiddellik opgetree. Teen tienuur die oggend het net hierdie werkers alleen byna ’n ton klere vir hulle Christenbroers bygedra wat in nood verkeer het. Dit is saam met kos en geld per vragmotor gestuur, wat die items dieselfde dag nog afgelewer het.
Binne dae is gemeentes in die Manila-stadsgebied van die behoefte bewus gemaak. Kort daarna is nog meer as vyf ton klere saam met ander nodige voorrade gestuur. ’n Getuie van Japan was ten tye van die ramp op besoek aan die Filippyne. Sy het pas van Hongkong af gekom, waar sy vir haar klere gekoop het. Toe sy van die benarde toestand hoor waarin haar mede-Christene naby berg Pinatubo was, het sy vir hulle al die klere gegee wat sy gekoop het en daarsonder na Japan teruggekeer. Hoe aanmoedigend is dit tog om te sien hoe ware Christene liefde betoon aan diegene wat in nood verkeer—nie net deur goeie wense nie, maar deur vir ‘hulle die nodige vir hulle liggaam te gee’.—Jakobus 2:16.
Dit is ook prysenswaardig dat Jehovah se Getuies nie toegelaat het dat sulke gebeurtenisse hulle ywer vir geestelike dinge demp nie. Christelike vergaderinge is steeds gehou—in een geval selfs waar die water enkeldiep binne-in die Koninkryksaal was. Hierdie Christene het besef hoe belangrik dit is om die Bybel se boodskap na ander te neem en het voortgegaan om die predikingswerk van huis tot huis te doen. Party moes deur water loop om by die gebied te kom waar hulle moes getuig—wat nie so erg oorstroom was nie. Hulle het klere saamgeneem en dit aangetrek waar dit droër was. Al het hierdie Christene dus self gely, het hulle nie toegelaat dat dit hulle verhoed om oor ander besorg te wees nie.
Ja, die nadraai van Pinatubo is erger as wat baie gedink het dit sou wees. Die verhaal sal nog jare lank voortduur. Pogings is al aangewend om die lahars te beheer, maar partykeer is dit buite die mens se vermoë. Wanneer sulke situasies ontstaan, is dit so wonderlik om te sien dat ware Christene dit as ’n geleentheid gebruik om hulle liefde vir God en hulle naaste te openbaar!
[Voetnoot]
Sien die oorspronklike Ontwaak!-verslag van die uitbarsting, “Die dag toe dit sand gereën het”, in die nommer van 8 Februarie 1992, bladsye 15-17, vir verdere inligting.
[Venster/Prent op bladsy 21]
Die uitwerking wat berg Pinatubo op die wêreld gehad het
WANNEER ’n vulkaniese uitbarsting van dieselfde omvang as dié van berg Pinatubo begin afneem of ophou, is alles verby. Reg? Glad nie! Let op sommige van die langdurige wêreldwye gevolge.
◼ Jy het miskien uitsonderlike mooi sonsondergange ’n tyd lank ná die uitbarsting gesien.
◼ Wetenskaplikes in Mexiko was verbaas oor die buitengewone helder algehele sonsverduistering op 11 Julie 1991. Die rede? Die uitbarsting van berg Pinatubo. Die stofdeeltjies daarvan het die koronalig meer as gewoonlik verstrooi.
◼ Die weer is ook beïnvloed. Ongeveer drie maande ná die uitbarsting is daar berig dat Tokio, Japan, ongeveer 10 persent minder direkte sonlig as gewoonlik ontvang. Vulkaniese as het ’n deel van die sonlig versper. Science News het getoon dat die gemiddelde temperatuur in dele van die Noordelike Halfrond met ongeveer 1 graad Celsius gedaal het.
◼ Dit het ook tot die toenemende vernietiging van die aarde se osoonlaag gelei. Die swaelsuur wat as gevolg van die uitbarsting in die atmosfeer was, het met mensgemaakte chloor verbind en ’n afname in osoon veroorsaak. Die osoonlaag voorsien gewoonlik ’n atmosferiese skerm wat help voorkom dat mense kanker kry. Kort ná die uitbarsting het osoonvlakke in Antarktika tot amper nul gedaal; vlakke by die ewenaar het met 20 persent gedaal.
◼ Honger en siekte was nog negatiewe gevolge. Mense wat deur die vulkaan uit hulle tuistes verdryf is, moes tydelik in ontruimingsentrums bly, waar siekte vinnig versprei het. Die Aeta, ’n stam wat deur die uitbarsting van hulle grond af verdryf is en in ’n omgewing moes bly waaraan hulle nie gewoond was nie, is veral swaar getref.
[Prent]
Mense wat gebiede ontruim het wat deur oorstromings of lahars getref is
[Prent op bladsy 18]
Huis wat deur ’n lahar meegesleur is
[Prent op bladsy 18]
Geboue van twee verdiepings tot dakhoogte in die modder
[Prent op bladsy 18]
Heelwat goeie landbougrond is deur lahars in ’n woesteny omskep
[Prente op bladsy 19]
Bo: ’n Bankgebou in Bacolor, Pampanga, gedeeltelik deur ’n lahar oorstroom, Maart 1995
Onder: Dieselfde bank heeltemal oorstroom deur ’n latere lahar, September 1995