Ons beskou die wêreld
Geestesprobleme vermeerder
’n Span wêreldgesondheidsdeskundiges het gewaarsku dat daar “’n onrusbarende vlak van geestesgesondheidsprobleme in ontwikkelende lande” is, sê die tydskrif First Call for Children. Die navorsers aan die Mediese Fakulteit van die Harvard-universiteit het hoë voorkomssyfers vir ’n aantal geestessiektes opgeteken wat “deur oorlog, natuurrampe, die mishandeling en moord van vrouens en kinders sowel as veranderende demografiese, politieke en ekonomiese toestande veroorsaak” is. Daarbenewens is bevind dat die voorkomssyfers van verstandelike vertraging en epilepsie drie tot vyf keer hoër is in gemeenskappe met ’n lae inkomste, en selfmoord was ’n baie groot oorsaak van sterftes onder jongmense. Volgens dr. Arthur Kleinman, die hoof van die span, moet internasionale aandag aan geestesgesondheid geskenk word. “Beide arm en ryk lande het versuim om die nodige belegging te maak om geestesgesondheid te herstel en te bewaar”, het hy gesê.
’n Ooreenkoms word bereik
“Russies-Ortodokse en Moslemleiers van vier republieke van die voormalige Sowjetunie—Kazakstan, Tadjikistan, Toerkmenistan en Oesbekistan—wat oorwegend Moslem is, het ’n ongeëwenaarde interkerklike ooreenkoms bereik om kerkgenootskappe en afdwalende godsdiensgroepe te bedwing wat besig is om meer invloed in Sentraal-Asië te kry”, sê die tydskrif Christianity Today. Die godsdiensleiers het in Tasjkent, die hoofstad van Oesbekistan, byeengekom en “plegtig belowe om saam te werk om die invloed van evangeliese Christene, Baptiste, Mormone en Jehovah se Getuies te keer”, sê die verslag.
Geen ontsag vir bewaring nie
’n Rooinek-fraiingpoot, ’n skaars voël, is by ’n reservoir in die graafskap Leicester, Engeland, opgemerk, en voëlkykers van oor die hele Brittanje het gekom om hom te sien. Maar hulle het met afgryse toegekyk hoe ’n yslike varswatersnoek van 1,2 meter die migrerende voël met een hap insluk. “Dit was soos ’n toneel uit Jaws”, het een voëlkyker gesê. “Die een oomblik het die voël geswem—die volgende oomblik was daar ’n slag en ’n plons, en hy was weg.” “Net ’n paar vere het oorgebly as bewys dat die eksotiese watervoël die reservoir in die graafskap Leicester besoek het”, het die Reuters-verslag gesê.
“Die Bybel moet nie gesensor word nie”
Onder hierdie opskrif het ’n hoofartikel in die koerant The Weekend Australian sy misnoeë uitgespreek oor “pogings om dele van die Bybel te hervertolk en te verander om aan hedendaagse behoeftes te voldoen”. Hoewel die meeste nuwe vertalings “vakkundige werke was wat nuwe ontdekkings van antieke geskrifte en historiese navorsing benut het”, het die artikel gewaarsku dat ‘vertaalwerk nie met vertolking verwar moet word’ nie. Die geskilpunt was die riglyne vir geestelikes en onderwysers wat deur die Raad van Christene en Jode uitgegee is in ’n poging om enige indruk van anti-Semitisme te vermy. Uitdrukkings soos “die Jode”, wat in verband met Jesus se verhoor en dood gebruik is, is verander na “sommige inwoners van Jerusalem”, en die uitdrukking “die Fariseërs” na “sommige godsdiensleiers”. Die artikel het bygevoeg: “Nuwe Testamentiese dokumente is nie meningsuitinge nie. . . . Inmenging met die woorde en veranderinge aan die tekste kan maklik handuit ruk en tot ’n oneerlike voorstelling van die drama van Christus se lewe lei. Die sosiale konteks van sy lewe moet bly net soos dit in daardie tyd was.”
’n Klimaatramp moet afgeweer word
Die aarde se klimaat sal binne die volgende 25 tot 30 jaar voor ’n ramp te staan kom as daar nie gou opgetree word nie, waarsku Duitsland se Wetenskaplike Adviesraad. “Deskundiges dring daarop aan dat die uitlating van koolstofdioksied (CO2), wat die klimaat erg beskadig, wêreldwyd met ten minste 1 persent per jaar verminder moet word”, sê die koerant Süddeutsche Zeitung. “Die temperatuurstyging moet nie toegelaat word om 0,2 grade Celsius per dekade te oorskry nie.” Die grootste oortreders, wat vir 80 persent van die skade aan die wêreld se klimaat verantwoordelik is, is lande van die nywerheidswêreld. ’n Persoon in Duitsland produseer byvoorbeeld gemiddeld 20 keer soveel koolstofdioksied as ’n persoon in Indië. Ander groot omgewingsprobleme wat deur die mens veroorsaak word, is na bewering gronderosie, ’n tekort aan vars water en die vermindering van biologiese diversiteit.
“Herstruktureer die gesin”
Die verwaarlosing van kinders en gewelddadige optrede teenoor hulle neem toe, sê die Brasiliaanse koerant O Estado de S. Paulo. Hoewel sosio-ekonomiese probleme dalk ’n faktor is, is kindermishandeling nie tot arm buurte beperk nie. Volgens Lia Junqueira, koördineerder van die Verwysingsentrum vir Kinders en Adolessente, ‘is daar hoegenaamd geen verskil tussen ryk en arm nie—behalwe dat almal die kinders in plakkersdorpe of woonstelblokke hoor huil; terwyl die gehuil in ’n rykmansbuurt deur die mure gedemp word’. Paulo Victor Sapienza, direkteur van SOS-Kind, meen dat die versterking van gesinsbande die beste manier is om die probleem te bekamp. “Niks word bereik deur ’n kind in ’n inrigting te plaas waar hy geen liefde of toegeneentheid sal ontvang nie”, het hy gesê. “Die gesin moet herstruktureer word sodat die kinders toegeneentheid en liefde by die huis sal ontvang.”
Kafeïenkinders
Kinders wat nie oplet nie, woelig is, wie se aandag maklik afgetrek word en wat impulsief is, neem miskien te veel kafeïen in, sê Tufts University Diet & Nutrition Letter. Vir ’n kind wat 18 kilogram weeg, “is ’n blikkie kola en ’n halwe koppie ystee gelyk aan drie koppies koffie” vir ’n volwassene. Die artikel het verwys na navorsing deur Mitchell Schare, ’n professor in sielkunde aan die Hofstra-universiteit, wat getoon het dat “baie van die simptome van hoëkafeïeninname by kinders die simptome van toestande soos aandagtekortsteurnis met hiperaktiwiteit naboots”. “Voordat jy tot die slotsom kom dat jou onrustige of woelige kind so ’n probleem het”, het dit bygevoeg, “sal jy dalk vind dat die oplossing vir die woeligheid heel eenvoudig is, naamlik om die inname van kola en tee te beperk.”
Herinnering aan diereliefhebbers
Is jy ’n diereliefhebber? Indien wel, dan het ’n vriendelike hond waarskynlik al jou gesig en hande gelek. Maar volgens Lane Graham, ’n parasitoloog aan die Universiteit van Manitoba, bestaan daar ’n moontlikheid dat jy larweparasiete of rondewurms kan kry. “Dit is raadsaam dat jou hond se mond nie te naby aan joune moet kom nie”, sê die Winnipeg Free Press. Honde gebruik hulle tonge om hulle skoon te maak; en aangesien hulle tonge soos ’n wasplank is, tel dit baie dinge op, onder andere fekale besmetting. Jong hondjies is berug daarvoor dat hulle “bondeltjies pels is wat wemel van die kieme”, het die koerant gesê. Hoewel die kanse om siek te word skraal is, is dit, “net om veilig te wees”, raadsaam om “jou hande en gesig, en dié van jong kinders, te was nadat ’n hond julle gelek het”.
Onvervulde beloftes
“Geenterapie het soos elke mediese revolusie voor dit met die visie van ’n rooskleurige toekoms begin”, sê die tydskrif Time. “Navorsers het beloof om oorerflike siektes soos sistifibrose, spierdistrofie en sekelselanemie te genees, nie met gewone geneesmiddels nie, maar met die wonder van genetiese manipulering, dit wil sê wanneer foutiewe gene met normales vervang word.” Maar nou, meer as vyf jaar nadat die eerste eksperimente op mense goedgekeur is en met 600 mense wat vir 100 kliniese toetse ingeskryf is, is daar nog geen positiewe resultate nie. “Ná al die toetse en al die ophef is daar nog geen duidelike bewys dat geenterapie een enkele pasiënt genees—of selfs gehelp—het nie”, sê Time. Trouens, die navorsers weet nog steeds nie wat die beste manier is om die gene in die aangetaste selle te kry of hoe om te keer dat die liggaam se immuunstelsel dit verwerp nie. “As daar geen bewys is dat iets werk nie”, sê genetikus Robert Erickson aan die Universiteit van Arizona, “is dit niks beter as troosmedisyne nie.”
Die oplossing vir die elke-probleem
“Die helfte van al die padongelukke in Swede wat by die polisie aangemeld word, is botsings waarby wilde diere betrokke was”, sê New Scientist. Tussen 12 en 15 Swede sterf elke jaar as gevolg van sulke botsings. Europese elke is veral ’n probleem, want hulle weeg tot 800 kilogram en is nie van nature bang vir motors nie. In die naburige Finland is elke die nasie se ‘tweede grootste oorsaak van padongelukke, naas alkohol’, sê Newsweek. Om die probleem die hoof te help bied, doen die Sweedse motormaatskappy Saab toetsongelukke met nagemaakte elke om die veiligheid van hulle motors te toets. En amptenare in Finland het R80 miljoen opsygesit om duikweë vir elke langs besige paaie te bou. ‘Die tonnels sal vir die elke ’n uitsig op die horison aan die ander punt van die tonnel gee, en hulle gunstelingplante sal in die tonnels geplant wees’, sê Newsweek. “Wanneer dit paartyd is, kyk elke nie albei kante toe nie.”