Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 5/22 bl. 14-16
  • Die baniaan—Een boom word ’n woud

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die baniaan—Een boom word ’n woud
  • Ontwaak!—1996
  • Godsdiens en die baniaan
  • Kom ons klim in ’n baniaan
Ontwaak!—1996
g96 5/22 bl. 14-16

Die baniaan—Een boom word ’n woud

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN INDIË

’NWOUD bestaan gewoonlik uit baie bome. Maar daar is ’n woud wat uit net een boom bestaan. Die baniaan is ’n baie ongewone boom, wat kan versprei totdat dit ’n oppervlak van meer as twee hektaar beslaan! Hoe begin dit groei? Hoe hou dit aan uitbrei totdat dit waarlik ’n woud genoem kan word?

Die baniaan behoort aan die saadplantorde wat Urticales genoem word en aan die familie Moraceae, of die moerbeifamilie, wat sowat 800 vyeplantspesies insluit. Die baniaan, of Bengaalse vy, begin sy lang lewe as ’n saad in die mis van ape, voëls of vlermuise wat die vrug van die baniaan geëet het.

In die takke van ’n gasheerboom ontkiem die sade, en die wortels floreer in organiese stowwe wat in skeure versamel het. Vogtige toestande help die wortels van die nuwe boom om vinnig te groei; hulle verdik om die stam van die “slagoffer”-boom en groei afwaarts tot in die grond. Namate hulle in krag en grootte toeneem, versmoor hulle die gasheerboom, en daarom is hierdie soort plant die naam wurgvye gegee.

Nou is die baniaan gereed om uit te brei. Die wortels versprei nie alleenlik van die basis van die moederstam af nie, maar wanneer die takke horisontaal langer word, groei lugwortels daaruit afwaarts en anker hulle in die grond. Dit is die begin van ’n woud.

Die baniaan, wat in tropiese Afrika en Indië aangetref word, dien met sy groot, plat blare as ’n koeltesambreel vir mense en diere. Een boom in Indië is so ontsaglik dat meer as 20 000 mense glo daaronder kan skuil! Die vrugte is nie geskik vir menslike gebruik nie, en die hout van die baniaan is sag en poreus; maar ’n wit kleefstof wat voëllym genoem word en uit die hout verkry word, word gebruik om voëls te vang.

Hoe lank leef die baniaan? ’n Boom in die staat Andhra Pradesj is volgens skatting meer as 600 jaar oud; ander merkwaardige, bewaakte bome is ver oor die 250 jaar oud. En ’n baniaan hou vir ’n onbepaalde tyd aan groei en versprei.

Die grootste baniaan wat glo bekend is, is in Sri Lanka. Dit het 350 groot stamme en meer as 3000 kleiner stamme wat almal aan die een moederboom vas is. In Indië is ’n boom met meer as 1100 stutwortels en ’n blaredak van meer as twee hektaar kort gelede gemeet en die grootste in daardie land bevind. Dit word deurentyd deur vier gewapende manne bewaak om dit teen beskadiging te beskerm. Ander bekende baniane in Indië sluit een naby Bangalore in wat 1,2 hektaar beslaan en ’n geliefkoosde piekniekplek vir die stadsbewoners is. Dan is daar ’n ontsaglike boom in die Ranthambhore-natuurpark. Hierdie boom, wat 500 jaar gelede in die geskrifte van ’n Mogol-keiser gemeld is, voorsien skadu aan voëls, vlermuise, slange, eekhorings en ’n menigte klein diertjies en insekte, benewens die feit dat dit ’n speelveld en ’n jagveld vir die tiers en ander roofdiere in die park is.

Maar die baniaan wat moontlik die bekendste in Indië is, is die 240 jaar oue boom in die Nasionale Botaniese Tuin in Kalkutta. Dit is meer as 24,5 meter hoog, beslaan ’n oppervlak van 1,2 hektaar en het meer as 1800 lugwortels asook ’n ontsaglike kruin met ’n omtrek van 420 meter. Inderdaad ’n woud!

Godsdiens en die baniaan

Mense aanbid bome al van die vroegste tye af. Die baniaan is geen uitsondering nie; dit word selfs vandag nog in Indië as heilig beskou. Heilige bome stel glo bepaalde godhede voor—in die geval van die baniaan is dit die god Wisjnoe. Dit word as verering van die godheid van die boom beskou wanneer ’n boom geplant, natgegooi en versorg word.

In eertydse Polinesiese gemeenskappe is die baniaan ook as heilig beskou. Godsdiensplegtighede het op ’n reghoekige plein, of tohua, plaasgevind waaromheen huise gebou was. Aan die een kant van die plein was daar gewoonlik ’n tempel met ’n heilige baniaan, en aan die takke daarvan het die bondels bene van vooraanstaande, afgestorwe lede van die stam gehang.

Europeërs het oorspronklik hierdie yslike boom sy naam gegee. Die vroeë Europese reisigers het in die Persiese Golf en in Indië gesien dat die ontsaglike, sambreelagtige blaredak van die boom skadu voorsien het aan handelaars wat hulle ware daaronder uitgesprei het om dit teen die skroeiende hitte van die son te beskerm. In die Hindoe-kastestelsel het die handelaars uit die grootste groep gekom, wat Waisja genoem is, en ’n ondergeskikte groep, die banias, was vername verkopers van graan en ander kruideniersware. Hierdie buitelanders het opgelet dat die banias hulle ware onder die skaduboom verkoop en het die boom gevolglik ’n baniaan genoem.

In daardie dae het die banias gewoonlik ’n katoenfrokkie gedra waarin daar versteekte sakke vir hulle geld was. Die frokkie, wat koel was en maklik gewas kon word, was so deel van die baniahandelaars dat die kledingstuk die naam baniaan gegee is, en later is die naam vir enige mansfrokkie of -onderhemp gebruik. Hierdie naam word steeds vir ’n mansonderhemp in Indië gebruik, en die banias se gewoonte om hierdie soort kledingstuk te dra wanneer hulle werk, bestaan selfs vandag nog.

Kom ons klim in ’n baniaan

Sal jy daarvan hou om tot in die hart van ’n baniaan te klim? Jy kan as jy ooit Haiderabad in die suide van Indië besoek. Nie ver van die Begumpet-lughawe af nie en naby die hartjie van die stad is die Matsjan, ’n boomrestaurant wat gebou is in die stewige takke van ’n baniaan en ’n peepul langs hom, wat ook ’n vy is. Klim met die dik touleer verby platforms wat hier en daar geplaas is. Hierdie restaurant is van bamboes, kokospalmblare en toue gemaak. Die piramidevormige bamboesdak beskerm jou teen die son en reën wanneer jy ingaan in die boonste van die twee eetsale wat op verskillende vlakke geplaas is. Jy is nou nege meter bo die grond. Mooi rottangmeubels en inboorlingmuurbehangsels dra tot die woudatmosfeer by.

Wanneer jy gaan sit, kry jy ’n spyskaart wat Mowgli genoem word, ’n naam waarmee lesers van Rudyard Kipling se verhale in The Jungle Book bekend is. Dit dra ook tot die woudstemming by. Nou kan jy die unieke ondervinding geniet om ’n maaltyd in die middel van ’n baniaan te nuttig. Geniet van die Indiese lekkernye, soos die smaaklike breyani’s waarvoor Haiderabad bekend is, kebabs en ’n verskeidenheid ander geregte.

Met die ete agter die rug kan jy versigtig met die touleer afklim, na die watervalletjie en die lotusdam kyk en hierdie unieke boomrestaurant verlaat wat hoog in die ontsaglike blaredak van die baniaan geleë is—die boom wat kan versprei en versprei en versprei totdat een boom ’n woud geword het.

[Prente op bladsy 15]

Een baniaan het gegroei totdat dit ’n woud geword het

Bo: ’n Naby foto van ’n baniaan in die Nasionale Botaniese Tuin, Kalkutta

[Prent op bladsy 16]

’n Baniaanboom in die Nasionale Botaniese Tuin, Kalkutta

[Prent op bladsy 16]

Matsjan, ’n restaurant in ’n baniaanboom, Haiderabad

    Afrikaanse publikasies (1975-2022)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2022 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel