Die tsetsevlieg—is dit Afrika se vloek?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NIGERIË
ONS het kort gelede na ’n plattelandse gebied in Wes-Afrika verhuis. Ons was omring deur tropiese woude. Een middag het my vrou in die kas ingegaan en geskreeu: “Hier’s ’n perdevlieg!”
Die vlieg het uit die kas geskiet en die badkamer ingevlieg. Ek het ’n blik insekdoder gegryp, hom agternagesit en die deur agter my toegemaak. Die vlieg was nêrens te sien nie. Skielik het hy op my gesig afgepyl. Hy was besig om my aan te val! Met arms wat woes swaai, het ek hom sonder welslae probeer raak slaan. Hy het vinnig na die venster toe gevlieg. Die sifdraad voor die venster het gekeer dat hy ontsnap. Die vlieg het daarop gaan sit.
Ek het korrelgevat en die vlieg met insekdoder bespuit. Normaalweg sou so ’n kolskoot byna enige insek onmiddellik gedood het. Maar nie dié vlieg nie. Hy het weggevlieg en voortgegaan om in die badkamer rond te gons.
Hierdie vlieg is taai! Ek was daarvan oortuig dat die insekdoder sy werk sou doen en dat die vlieg weldra op die vloer sou val. Maar hy het nie. Toe hy weer gaan sit, het ek hom ’n tweede keer bespuit. En hy het weer weggevlieg.
Watter soort supervlieg is dit? Nog twee raakskote het hom uiteindelik gedood.
Ek het my bril opgesit en die insek sorgvuldig bestudeer. Hy was groter as ’n huisvlieg, maar nie so groot soos ’n perdevlieg nie. Sy vlerke was oor sy rug gekruis, wat hom ’n meer vaartbelynde voorkoms as die gewone vlieg gegee het. ’n Lang naaldvormige suigslurp het by sy monddele uitgesteek.
Ek het my vrou toegeroep: “Dit is nie ’n perdevlieg nie. Dit is ’n tsetsevlieg.”
Die voorval het my laat besef hoe moeilik dit moet wees om die vlieg uit sy Afrika-gebied van 11,7 miljoen vierkante kilometer uit te roei, ’n gebied wat groter as die Verenigde State is. Waarom wil mense hom uitroei? Die vlieg word van drie dinge beskuldig. Die eerste klagte:
Hy is ’n bloedsuier
Daar is 22 verskillende soorte tsetsevlieë. Hulle kom almal in Afrika suid van die Sahara voor. Almal, mannetjies en wyfies, suig gulsig die bloed van gewerwelde diere; met ’n enkele byt suig hulle tot drie keer hulle gewig in bloed.
Hulle val ’n groot verskeidenheid grasetende diere aan—dié wat inheems in Afrika is sowel as die uitheemses. Hulle byt ook mense. Die byt is ’n diep, bloedsuiende steek, wat skerp en pynlik is. Dit jeuk en pyn terselfdertyd. En dit maak ’n knop.
Tsetsevlieë is bedrewe in wat hulle doen. Hulle verspil nie tyd deur om jou kop te gons nie. Hulle kan soos ’n koeël op iemand afpyl en dan op een of ander manier remme aanslaan en so saggies op jou gesig land dat jy hulle nie eens voel nie. Hulle kan soos diewe wees; soms is dit eers nadat hulle weg is dat jy agterkom hulle het van jou bloed gesteel—en al wat jy dan kan doen, is om vas te stel hoe groot die skade is.
Hulle byt jou gewoonlik waar jou vel ontbloot is. (Dit lyk of hulle van die agterkant van my nek hou!) Soms besluit hulle egter om by ’n broekspyp of ’n hemp se mou op te kruip voordat hulle bloed uit ’n bloedvat suig. Of as hulle wil, kan hulle deur jou klere byt—dit is geen probleem vir ’n insek wat selfs deur die harde huid van ’n renoster kan byt nie.
Mense beskuldig die tsetsevlieg daarvan dat hy nie net slim is nie, maar ook slinks. Toe ek een van hulle eenkeer met insekdoder wou doodmaak, het hy in my klerekas ingevlieg en in my swembroek geskuil. Twee dae later, toe ek my swembroek aantrek, het hy my twee keer gebyt! By ’n ander geleentheid het ’n tsetsevlieg in my vrou se handsak geskuil. Sy het die handsak na ’n kantoor geneem, en toe sy haar hand insteek, het die vlieg haar gebyt. Daarna het hy in die vertrek rondgevlieg en chaos onder die kantoorwerkers veroorsaak. Almal het opgehou werk om hom te probeer doodslaan.
Die eerste klagte teen die tsetsevlieg is dus dat hy ’n bloedsuier met ’n pynlike byt is. Die tweede klagte:
Hy maak diere dood
Party soorte tsetsevlieë dra ’n siekte oor wat deur klein parasiete genaamd tripanosome veroorsaak word. Wanneer die tsetsevlieg die bloed van ’n dier met dié siekte suig, sluk hy bloed waarin die parasiete voorkom. Hulle ontwikkel en vermenigvuldig in die vlieg. Wanneer die vlieg ’n ander dier byt, word die parasiete van die vlieg na die dier se bloedstroom oorgedra.
Die siekte is tripanosomiase. Die soort wat by diere voorkom, word nagana genoem. Nagana-parasiete floreer in die bloedstroom van baie diere wat inheems in Afrika is, veral wildsbokke, buffels, bosvarke, duikers, rietbokke en vlakvarke. Die parasiete maak nie hierdie diere dood nie.
Maar die parasiete wis diere uit wat nie inheems in Afrika is nie—kamele, honde, donkies, bokke, perde, muile, beeste, varke en skape. Volgens die tydskrif National Geographic veroorsaak nagana jaarliks die dood van driemiljoen beeste.
Beeswagters, soos die Masai van Oos-Afrika, het al geleer hoe om die gebiede te vermy waar tsetsevlieë baie volop is, maar droogte en ’n gebrek aan weiveld maak dit soms onmoontlik. Gedurende ’n onlangse droogte het vier families wat hulle 600 beeste saam gehou het elke dag ’n dier verloor weens die vlieg. Lesalon, een van die familie-oudstes, het gesê: “Ons, die Masai’s, is moedige mense. Ons deurboor die leeu en trotseer die buffel wat ons bestorm. Ons slaan die swart mamba met ’n knuppel dood en keer die kwaai olifant voor. Maar orkimbai [die tsetsevlieg]? Teen hom is ons hulpeloos.”
Daar is middels om nagana te genees, maar party regerings laat slegs toe dat dit onder toesig van ’n veearts gebruik word. Daar bestaan goeie rede hiervoor, aangesien gedeeltelike dosisse nie alleen tot die dier se dood lei nie, maar ook parasiete tot gevolg het wat teen geneesmiddels bestand is. Dit is dalk vir die beeswagter in die bos moeilik om betyds ’n veearts te vind wat sy sterwende diere kan behandel.
Die eerste twee klagtes teen die tsetsevlieg is onbetwisbaar—hy is ’n bloedsuier en versprei ’n siekte wat diere doodmaak. Maar dit is nie al nie. Die derde klagte:
Hy maak mense dood
Mense word nie deur nagana-tripanosome aangetas nie. Maar die tsetsevlieg versprei ’n ander soort tripanosoom van mens tot mens. Hierdie vorm van tripanosomiase word slaapsiekte genoem. Moenie dink dat iemand met slaapsiekte net baie slaap nie. Die siekte is nie ’n salige slaap nie. Dit begin met ongesteldheid, moegheid en ’n effense koors. Daarna volg langdurige lomerigheid, hoë koors, pyn in die gewrigte, geswelde weefsels en ’n vergrote lewer en milt. In die laaste stadiums, namate die parasiete die sentrale senustelsel binnedring, ondervind die pasiënt verstandelike agteruitgang, stuipe, bewusteloosheid en die dood.
Vroeg in hierdie eeu het slaapsiekte die vasteland van Afrika geteister. Tussen 1902 en 1905 het die siekte ongeveer 30 000 mense in die omgewing van die Victoria-meer gedood. In die daaropvolgende dekades het die siekte na Kameroen, Ghana en Nigerië versprei. In baie dorpe was ’n derde van die inwoners besmet, wat die grootskaalse ontruiming van riviervalleie vereis het. Mobiele spanne het honderdduisende mense behandel. Dit was eers teen die einde van die dertigerjare dat die epidemie afgeneem en verdwyn het.
Vandag word sowat 25 000 mense jaarliks deur die siekte geteister. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie loop meer as 50 miljoen mense in 36 lande suid van die Sahara gevaar om die siekte op te doen. Hoewel slaapsiekte dodelik is as dit nie behandel word nie, bestaan daar wel geneesmiddels om dit te behandel. ’n Nuwe geneesmiddel met die naam eflornitien is onlangs ontwikkel om die siekte te behandel—die eerste geneesmiddel van dié aard in 40 jaar.
Die mens het ’n lang stryd gevoer teen die tsetsevlieg en die siektes wat hy oordra. In 1907 het Winston Churchill geskryf van ’n veldtog om die tsetsevlieg uit te roei: “’n Fyn net word meedoënloos om hom gespan.” As ’n mens terugkyk, is dit duidelik dat daar groot gate in Churchill se “fyn net” was. Die boek Foundations of Parasitology sê: “Tot dusver het 80 jaar van tsetse-uitroeiing ’n geringe uitwerking op die tsetseverspreiding gehad.”
’n Woordjie ter verdediging
Die Amerikaanse digter Ogden Nash het geskryf: “God het in Sy wysheid die vlieg gemaak en toe vergeet om vir ons te sê waarom.” Hoewel dit waar is dat Jehovah God die Skepper van alle dinge is, is dit beslis nie waar dat hy vergeetagtig is nie. Daar is baie dinge wat hy ons self laat uitvind. Wat dan van die tsetsevlieg? Is daar iets wat ter verdediging van hierdie oënskynlike kwaaddoener gesê kan word?
Die sterkste verdediging tot dusver is moontlik die feit dat sy rol in die vernietiging van vee tot die beskerming van die oorblywende inheemse Afrika-wild gelei het. Groot gebiede van Afrika kom ooreen met die grasvelde van die westelike Verenigde State—die veld self is in staat om vee te onderhou. Maar danksy die tsetsevlieg word vee deur tripanosome gedood, terwyl dit nie inheemse grasetende diere dood nie.
Baie meen dat die groot getalle wild van Afrika lankal reeds deur beestroppe vervang sou gewees het as dit nie vir die tsetsevlieg was nie. “Ek is vir die tsetsevlieg”, het Willie van Niekerk, ’n gids in ’n wildreservaat in Botswana, gesê. “Roei die tsetsevlieg uit en beeste sal instroom, en beeste is die vernietigers van Afrika, wat die vasteland tot een groot woestyn sal plattrap.” Hy het bygevoeg: “Die vlieg moet bly.”
Almal is dit natuurlik nie met hom eens nie. Dié argument is nie juis oortuigend vir die man wat sien hoe sy kinders of beeste aan tripanosomiase ly nie. Dit oortuig ook nie dié wat beweer dat Afrika beeste nodig het om dit van voedsel te voorsien nie.
Maar daar is ongetwyfeld steeds baie om te leer aangaande die rol wat die tsetsevlieg in die natuur speel. Hoewel die klagtes teen hom blykbaar ernstig is, is dit dalk te vroeg om ’n uitspraak te lewer.
Van vlieë gepraat, hier het so pas een die vertrek ingevlieg. Verskoon my, terwyl ek seker maak dat dit nie ’n tsetsevlieg is nie.
[Foto-erkenning op bladsy 11]
Die tsetsevlieg: ©Martin Dohrn, The National Audubon Society Collection/PR