Bedreigde spesies—Hoe jy daarby betrokke is
TIERS, waterskilpaaie, renosters, vlinders—die lys van bedreigde spesies lyk waarlik nimmereindigend! Jy sal ongetwyfeld saamstem dat die mens baie van die skuld moet dra. Maar hoe raak dit jou?
Is dit in die lig van die wêreld se ekonomiese verknorsing redelik om te verwag dat mense wat oor hulle eie welsyn bekommerd is bewaringskemas moet ondersteun, hoe edel dit ook al mag wees? “Dit is beslis nie maklik om omgewingsbewus te wees in die grootste deel van Afrika suid van die Sahara, waar miljoene mense met politieke omwenteling, stamoorloë, hongersnood en epidemiese siektes te kampe het nie”, sê die Time. Dieselfde geld elders.
Ingrypende veranderinge is nodig om die probleem van bedreigde spesies op te los. Volgens The Atlas of Endangered Species is hierdie veranderinge “so omvangryk dat hulle slegs deur regerings gemaak kan word”. Dan beveel dit aan: “Waar regerings ingestem word, is dit die verantwoordelikheid van elke mens om te verseker dat slegs politici wat omgewingsbewus is teen die jaar 2000 verkies sal word.”
Is dit ’n realistiese vooruitsig? Te oordeel na wat die geskiedenis toon, moet ons tot die slotsom kom dat ‘die een mens oor die ander heers tot sy ongeluk’—en dié van die natuur (Prediker 8:9). Trouens, baie bewaringsgesindes meen dat die aarde se flora en fauna as omgewingsaanwysers dien. Wanneer dit bedreig word, word ons as mense ook bedreig. Maar dit is nie die eerste keer in die geskiedenis dat die hele aarde se lewende wesens met uitwissing bedreig word nie.
In die oudste geskiedenisboek is dié woorde opgeteken: “Ék bring ’n watervloed oor die aarde, om van onder die hemel te verdelg alle vlees waar ’n lewensgees in is. Alles wat op die aarde is, sal wegsterwe” (Genesis 6:17). Maar nóg elke mens, nóg elke ander lewensvorm het gesterf, want God het ’n middel tot oorlewing voorsien.
’n Ark vir oorlewing
Wetenskaplikes meen dat die beste oplossing vir die probleem van vandag se bedreigde spesies is om hulle habitats te bewaar. Interessant genoeg, die New Scientist lewer berig hieroor en verwys na bewaringsgesindes se gebruik van “die metafoor Noag se ark”. Noag se ark was juis die middel waardeur mense en diere die Vloed van Noag se dag oorleef het.
God het Noag voorsien van die ontwerp vir die ark, ’n ontsaglike houtkis, wat bo-op die vloedwater moes dryf. Dit het die lewe van Noag, sy vrou, hulle drie seuns en die seuns se vrouens bewaar, tesame met verteenwoordigers van verskillende diersoorte, wilde sowel as mak diere—ja, “van al die vlees waar ’n lewensgees in was” (Genesis 7:15). Die groot aantal lewensvorme wat vandag bestaan, bewys hoe goed daardie ark vir sy doel geskik was.
Maar let ook daarop dat oorlewing nie alleenlik van mensepogings afhanklik was nie. Noag en sy gesin moes gehoorsaam wees aan God, wat die mag gehad het om hulle behoue te laat bly. Dit was God wat die onenigheid, geweld en hebsug, wat kenmerkend was van daardie wêreld voor die Vloed, tot ’n einde gebring het.—2 Petrus 3:5, 6.
Diere in die nuwe wêreld
Jehovah God het beloof dat gehoorsaamheid aan sy wette mense kan verander van persone wat soos wilde, roofsugtige diere was na persone wat soos sagmoedige, saggeaarde diere is (Jesaja 11:6-9; 65:25). Daar is selfs nou al oorvloedige bewys hiervan. Woon gerus die vergaderinge by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in jou omgewing by en kyk self. As Jehovah sulke ingrypende veranderinge onder mense kan teweegbring, kan hy seer seker ook reël dat die diereryk in vrede en veiligheid saamwoon, selfs al sou dit beteken dat hy hulle huidige eienskappe moet verander. Trouens, hy beloof: “Ek [sluit] in dié dag vir hulle ’n verbond met die wilde diere van die veld en met die voëls van die hemel en die kruipende diere van die aarde; . . . en Ek sal hulle in veiligheid laat rus.”—Hosea 2:17.
Die apostel Petrus het geskryf van ’n toekomstige “dag van die oordeel en van die vernietiging van die goddelose mense” (2 Petrus 3:7). God se beheerde ingryping sal net die goddelose mense vernietig. God sal ‘die verderwers van die aarde verderf’.—Openbaring 11:18.
Dink net hoe aangenaam dit sal wees om in ’n wêreld te lewe waar diere nie meer bedreig sal wees nie. Hoeveel sal ons dan nie van die natuurlewe om ons kan leer nie! Ja, tiers, leeus, olifante, sal ongehinderd rondloop. Seelewe sal volop wees, soos dit ook die geval met reptiele, insekte en ’n verskeidenheid voëls, met inbegrip van makao’s, sal wees—alles in volkome balans. Aangesien die gehoorsame mensdom onder die Messiaanse Koninkryk tot menslike volmaaktheid herstel sal word, sal ’n volmaakte ekosisteem heers.