Die Bybelse beskouing
Moet jy die dooies vrees?
PRAAT oor die dood, en baie mense huiwer om enigsins iets verder te sê. Party mense voel egter nie net ongemaklik wanneer die onderwerp bespreek word nie; hulle is vreesbevange. Dit is dus nie ongewoon om in kulture regoor die wêreld gewoontes en gebruike te vind wat met vrees vir die dooies verband hou nie. Laat ons byvoorbeeld kyk na die gebruike in Afrika suid van die Sahara.
Een vrou in ’n stad in Wes-Afrika onthou baie duidelik wat gebeur het toe een van haar familielede gesterf het. Sy vertel: “’n Familielid het gereeld ’n bord kos vir die oorledene voorberei en dit versigtig in sy slaapkamer neergesit. Wanneer sy nie daar was nie, het ek gegaan en van die kos geneem. Wanneer die familielid teruggekom het, was sy so bly! Sy het geglo dat die dooie die lekkernye ontvang het. Dit het ’n geruime tyd aangehou totdat ek siek geword het. Ek het my eetlus verloor en kon geen kos eet nie. Dit het my paniekerig gemaak! Baie van my familielede het tot die gevolgtrekking gekom dat my siekte deur ons oorlede familielid veroorsaak is. Hy moet vir iemand in die familie kwaad wees, het hulle gedink.”
As ’n gesin in daardie selfde stad ’n tweeling het en die een sterf, mag niemand van die oorledene in die huis praat nie. As iemand vra na die tweeling wat gesterf het, sal die gesin gewoonlik sê: “Hy, of sy, het gaan sout koop.” Hulle glo vas dat die tweeling wat agterbly, sal sterf as hulle die waarheid praat.
Stel jou vervolgens hierdie toneel voor: ’n Man wat drie vrouens gehad het, het gesterf. Die dag ná die begrafnis word spesiale wit klere vir die vrouens gemaak. Terselfdertyd word ’n spesiale plek wat van hout en gras gemaak is naby die huis gebou, waar hierdie vroue sal bad en die wit klere sal aantrek. Niemand mag in daardie plek ingaan behalwe hulle en ’n vrou wat gevra is om hulle te help nie. Wanneer hulle by hierdie spesiale waskamer uitkom, word die vroue se gesigte versluier. Die vroue dra ook ’n sebe, ’n halssnoer van tou vir “beskerming”. Hierdie seremoniële wassery word 100 dae lank elke Vrydag en Maandag gedoen. Gedurende hierdie tydperk kan hulle niks direk by ’n man neem nie. Wanneer ’n man iets vir hulle wil gee, moet hy dit eers op die grond of op ’n tafel sit. Die vrou sal dit dan optel. Niemand mag op hierdie vroue se bed sit of daarin slaap nie. Wanneer hulle ook al die huis verlaat, moet hulle elkeen ’n spesiale stok dra. Hulle dink dat die besit van hierdie stok hulle oorlede man sal verhoed om hulle aan te val. As die bogenoemde instruksies nie gevolg word nie, meen hulle dat die oorlede man hom kan vererg en hulle leed kan aandoen.
Sulke ondervindinge is algemeen in daardie deel van die wêreld. Maar hierdie soort gebruike kom nie net in Afrika voor nie.
Vrees vir die dooies kom algemeen voor
Een ensiklopedie, Encarta, sê die volgende oor die manier waarop baie mense hulle afgestorwe voorouers beskou: “Hulle glo dat afgestorwe familielede . . . magtige geesskepsele geword het of, minder dikwels, die status van gode verkry het. [Hierdie opvatting] is gegrond op die oortuiging dat voorouers bedrywige lede van die gemeenskap is wat steeds in die aangeleenthede van hulle lewende familielede belangstel. Daar is oorvloedige bewyse hiervan in gemeenskappe in Wes-Afrika . . . , in Polinesië en Melanesië (die Doboe en die Manoes), onder verskeie Indo-Europese volke (die antieke Skandinawiërs en Germane) en veral in China en Japan. Oor die algemeen oefen voorouers glo groot gesag uit en besit hulle spesiale mag om die verloop van gebeurtenisse te beïnvloed of om die welsyn van hulle lewende familielede te beheers. Die beskerming van die familie is een van hulle grootste bekommernisse. Hulle word as bemiddelaars tussen die allerhoogste god, of die gode, en die mense beskou en kan met die lewendes kommunikeer deur drome en deur in hulle in te vaar. ’n Gemengde gesindheid van vrees en ontsag word teenoor hulle geopenbaar. As die voorouers afgeskeep word, kan hulle siekte en ander teenspoed veroorsaak. Versoening, smeekbede, gebed en offerandes is verskillende maniere waarop die lewendes met hulle voorouers kan kommunikeer.”
’n Familie se inkomste kan voorwaar uitgeput word weens vrees vir die dooies. Diegene wat vas glo dat die dooies gevrees moet word, dring dikwels aan op oordadige seremonies waarvoor voedsel en drank, lewende diere vir offerandes en duur klere nodig is.
Maar is afgestorwe familielede of voorouers werklik in ’n toestand wat vrees of ontsag vereis? Wat sê God se Woord, die Bybel?
Kan die dooies jou kwaad aandoen?
Jy sal dit miskien interessant vind om te weet dat die Bybel sulke oortuigings erken. In die boek Deuteronomium word gebruike genoem wat met vrees vir die dooies verband hou. Dit sê: “Daar mag niemand by jou gevind word wat . . . met besweringe omgaan, of wat ’n gees van ’n afgestorwene vra of ’n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ’n gruwel.” (Ons kursiveer.)—Deuteronomium 18:10-12.
Let op dat Jehovah God sulke gebruike afgekeur het. Waarom? Omdat hulle op ’n leuen gegrond is. Die vernaamste leuen aangaande die dooies is dat die siel voortleef. Die tydskrif The Straight Path het byvoorbeeld die volgende gesê oor wat met die dooies gebeur: “Die dood is niks anders as die vertrek van die siel nie. . . . Die graf is ’n bewaarplek net vir die liggaam, nie die siel nie.”
Die Bybel stem nie daarmee saam nie. Lees self Esegiël 18:4: “Kyk, al die siele is myne; soos die siel van die vader, so die siel van die seun—hulle is myne; die siel wat sondig, dié moet sterwe.” Die toestand van die dooies word ook duidelik in God se Woord beskryf in Prediker 9:5: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie.” Dit verduidelik waarom voedsel wat vir die dooies gelaat word, nie geëet word nie, behalwe as ’n lewende persoon dit eet.
Die Bybel laat ons egter nie sonder hoop vir diegene wat in die graf is nie. Hulle kan weer lewe! Die Bybel praat van ’n “opstanding” (Johannes 5:28, 29; 11:25; Handelinge 24:15). Dit sal op God se bestemde tyd plaasvind. Intussen lê die dooies in ’n toestand van onbewustheid in die graf en “slaap” tot God se bestemde tyd vir hulle om ‘wakker te word’.—Johannes 11:11-14; Psalm 13:4.
Mense is gewoonlik bang vir die onbekende. Juiste kennis kan ’n mens vrymaak van ongegronde bygelowe. Die Bybel gee ons die waarheid oor die toestand van diegene in die graf. Om dit eenvoudig te stel, jy hoef nie die dooies te vrees nie!—Johannes 8:32.