Ons beskou die wêreld
TB—’n “wêreldwye noodgeval”
Elke jaar sterf meer volwassenes aan tering (TB) as aan vigs, malaria en tropiese siektes saam, sê die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO). Elke sekonde word iemand êrens met TB besmet. Die TB-basil kan deur ’n hoes of ’n nies oorgedra word. Die WGO verwag dat 300 miljoen mense gedurende die volgende tien jaar met TB besmet sal word en dat 30 miljoen daaraan sal sterf. Nog erger, die verskyning van TB-soorte wat teen medisyne bestand is, dreig om die siekte ongeneeslik te maak. Volgens die WGO “word net 5-10% van die mense wat met TB besmet is self siek of infeksiedraers omdat die immuunstelsel die TB-organismes ‘afhok’”. Die pandemie is nietemin so ernstig dat die WGO dit ’n “wêreldwye noodgeval” genoem het—die eerste verklaring van so ’n aard in die geskiedenis van die WGO.
Op soek na Sodom en Gomorra
Sweedse argeoloë beweer dat hulle die antieke stede Sodom en Gomorra gevind het. In samewerking met Amman se Departement van Oudhede het die wetenskaplikes hulle ontdekkings in El Lisan, oos van die Dooie See, in Jordanië, gedoen. Die Sweedse koerant Östgöta-Correspondenten verduidelik dat dit verbasend is om die oorblyfsels van geboue te vind wat ongeveer 1900 jaar voor Christus vernietig is. Die argeoloë is daarvan oortuig dat hulle Sodom en Gomorra gevind het. Nadat erdewerk, mure, grafte en vuursteen ontleed is, het hulle tot die gevolgtrekking gekom dat die stede deur ’n natuurramp vernietig is. Die Bybel toon egter dat dit God is wat daardie stede weens hulle growwe onsedelikheid vernietig het.
Die gevaar van harde musiek
Rockkonserte kan permanente gehoorverlies veroorsaak, sê die tydskrif New Scientist. Die Franse gehoorspesialis Christian Meyer-Bisch het 1364 mense tussen die ouderdomme van 14 en 40 bestudeer en uitgevind dat ’n groot persentasie gereelde konsertgangers aan tydelike gehoorverlies gely het. Vanweë die gewildheid van rockkonserte waarsku Meyer-Bisch dat hierdie skadelike uitwerkings “nie meer ’n probleem vir die individu nie, maar van openbare gesondheid” is.
Toename van slegte gedrag onder vroue
• Die Sunday Mail van Brisbane sê dat jong vroue in Australië in toenemende getalle vuil taal gebruik. Professor Max Brandle, direkteur van die Australiese Instituut vir Moderne Tale, verduidelik: “Jy vind dat vroue nou meer drink, meer rook as wat hulle vantevore in vergelyking met mans gedoen het. Hulle gebruik ook meer vloektaal. Een van die gevolge is ongelukkig dat die tradisionele hoflikhede tussen mans en vroue afgeneem het. Wanneer albei geslagte vloek, verdwyn die romantiese gees van die verlede baie vinnig. Die romantiese taal wat die vroeëre geslagte gebruik het, het nie op die oomblik ’n plek in die gemeenskap nie. Ek vind dat vulgêre taal vandag iets baie algemeens onder jongmense is.”
• In Brasilië het die aantal misdade wat deur vroue gepleeg is gedurende 1995 verdubbel. Volgens polisiebeampte Francisco Basile raak meer vroue by aanrandings, diefstalle en selfs dwelmhandel betrokke, sê die koerant O Estado de S. Paulo. Baie vroue begin hulle lewe van misdaad deur crack te rook by partytjies waar dwelmhandelaars die crack weggee. Die vroue raak nie net aan dwelms verslaaf nie, maar word dikwels self dwelmhandelaars. Volgens die koerant verduidelik polisiehoof Antônio Vilela: “Dit is verbasend hoe die aantal vroue wat dwelms verkoop, toegeneem het . . . , en daar is geen spesifieke ouderdomsgroep nie.” Baie is jong vroue in hulle twintigerjare, maar sommige is al in hulle vyftigerjare.
Sommige niekerkgangers bid nog steeds
Volgens The Sydney Morning Herald word Australië oor die algemeen as ’n wêreldlike gemeenskap beskou wie se kerkbywoning jaar ná jaar rekordlaagtepunte bereik. ’n Onlangse studie het egter getoon dat sommige Australiërs nog steeds gereeld bid. Die opname toon dat 1 uit 5 volwassenes ten minste een keer per dag bid en ook dat 11 persent ten minste een keer per week bid. In die Christelike Navorsingsvereniging se verslag oor godsdiens in die negentigerjare verduidelik hulle dat kerkbywoning onrusbarend daal, maar dat “baie mense steeds ’n mate van geestelikheid in hulle lewe het”, sê The Herald.
Die wêreld se tweedegrootste “nywerheid”
Die onwettige dwelmhandel floreer met ’n jaarlikse omset van meer as R1,5 biljoen, sê World Health, die Wêreldgesondheidsorganisasie se tydskrif. Dit is dus die snelgroeiendste “nywerheid” in die wêreld. Dit is ook die wêreld se tweedegrootste nywerheid—na die wapenbedryf maar voor olie. Gedurende die laaste 30 jaar het die beskikbaarheid van onwettige dwelms sesvoudig toegeneem. Die misbruik van wettige middels, soos oplosmiddels, voorskrifmedisyne en alkohol, neem teen ’n soortgelyke tempo toe.
Doop te koop
Meer as 300 jaar lank het die Lutherse Kerk in Swede ’n Kerk-Staat-verhouding met die regering geniet. Kerkamptenare het egter onlangs aangekondig dat hierdie Kerk-Staat-verhouding teen 1 Januarie 2000 feitlik beëindig sal wees. Eeue lank het alle Swede by geboorte outomaties lid van die kerk geword. Maar sedert die begin van 1996 word kerklidmaatskap op doop gegrond. Die koerant Dagens Industri sê dat die Aartsbiskop ’n strawwe bemarkingsprogram aankondig, wat sal insluit dat geestelikes huisbesoek doen om ‘doop te verkoop’. Een vroulike geestelike in Stockholm is na bewering besig met “’n aggressiewe verkoopsveldtog” waarin “doop een van haar beste verkopers is”. Die tydskrif Må Bra sê dat een gemeente aan elke baba wat vir doop ingebring word ’n bankboekie met ’n balans van 100 Sweedse krone (R60) sal gee.
Jong moeders
Volgens die Brasiliaanse Instituut vir Aardrykskunde en Statistiek het 11 457 meisies jonger as 15 in 1994 in Brasilië geboorte gegee. Sulke vroeë swangerskappe het in die laaste 18 jaar met 391 persent toegeneem, terwyl die bevolkingsgroei gedurende dieselfde tydperk met slegs 42,5 persent toegeneem het. Die aantal meisies tussen 15 en 19 jaar oud wat geboorte gegee het, het met 60 persent toegeneem. Dr. Ricardo Rego Barros van Rio de Janeiro se Federale Universiteit verduidelik dat “vroeë seksualiteit deur die omgewing, televisie, boeke en tydskrifte veroorsaak word”, sê die tydskrif Veja. ’n Ander deskundige het gesê dat ouers en skole dit nog steeds moeilik vind om kinders in sulke sake te onderrig.
TV-standaarde gaan agteruit
Televisiekykers aanvaar seks en naaktheid op TV makliker as tien jaar gelede, sê die Londense koerant Independent. Volgens ’n opname vir die Britse Uitsaaikorporasie het middeljarige vroue se verdraagsaamheid teenoor TV-seks en -naaktheid toegeneem. Ongeveer 41 persent van ouer vroue vind hierdie soort TV-program ook nou onaanstootlik. Onder jongmense verdra ongeveer 75 persent vuil taal in vergelyking met 69 persent ’n dekade gelede. Die gesindheid teenoor homoseksualiteit het die meeste verander. Veertig persent van vroue ouer as 55 jaar, 56 persent van mans van die ouderdomme 35 tot 55 en 70 persent van jong mans van 18 tot 34 jaar oud vind nou die vertoning van die homoseksuele lewenstyl op televisie onaanstootlik—’n toename van 20 persent in die laaste tien jaar.
Biskop bevraagteken Bybel se wysheid
By ’n seminaar in Indië oor “Wette wat die huwelik en egskeiding onder Christene beheer” het Nestoriaanse biskop Poulose Mar Poulose gesê dat ’n mens jou nie na die Bybel as ’n etiese kode kan wend nie. As ’n mens daarop aandring dat die Bybellering oor egskeiding onherroeplik is, het hy volgens die Indian Express gesê, ignoreer jy die vooruitgang wat die hedendaagse mens gemaak het om die verhouding tussen man en vrou te verstaan. Volgens die Express het die Biskop ’n Hindoegeleerde aangehaal wat glo gesê het dat elke teks twee kante het, die een tydelik en verganklik, eie aan die idees van mense van die tyd en die land waar dit geskryf is, en die ander ewig en onverganklik en toepaslik op alle ouderdomme en lande. “In die Bybel”, het die Biskop gesê, “moet ons die kern van die dop onderskei. Ons moet besluit wat permanente waarheid en kulturele vooroordeel is . . . en die rigting van ons eie lewe bepaal.”