’n Veelsydige, kleurvolle oes
WAT het dieselbrandstof, beesvoer, seep en margarien gemeen? In sommige lande word al hierdie items vervaardig met behulp van die raapplant, met sy heldergeel blom.
Hierdie kleurvolle lid van die mosterdfamilie, wat in dele van Europa, Asië en Noord-Amerika gekweek word, is veral van waarde vanweë sy olieryke sade. Tot 40 persent van raapsaad is olie, wat ’n verskeidenheid gebruike het.
Die meeste raapolie—miskien tot 90 persent—word vir die vervaardiging van voedsel gebruik. Dit word gebruik om margarien, koekies, soppe, roomys en soetgebak te maak. Maar raapolie kan ook gebruik word om ’n dieselbrandstof te vervaardig wat minder besoedeling veroorsaak, en sodoende skade aan die omgewing verminder. Wanneer die olie gesuiwer is, kan dit ook gebruik word om fyn masjinerie te olie, en nadat dit onttrek is, kan die grootste gedeelte van die oes saamgepers word in ’n koek wat ryk is aan proteïen en nuttig is as veevoer.
Wat ’n veelsydige oes! Ons kan waarlik soos die psalmis sê: “Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak.”—Psalm 104:24.