Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 9/8 bl. 22-25
  • Pompeji—Waar die tyd stilgestaan het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Pompeji—Waar die tyd stilgestaan het
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die uitbarsting van 79 G.J.
  • Geen veiligheid in Herculaneum nie
  • Die tyd het stilgestaan
  • Die private lewe
  • Dit is tyd om op te tree
  • Dit is nou belangriker as ooit tevore om wakker te bly!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Versuim was dodelik!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1997
  • In die skadu van ’n sluimerende reus
    Ontwaak!—2007
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 9/8 bl. 22-25

Pompeji—Waar die tyd stilgestaan het

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË

KOMBUISE met panne op die vuurherd, winkels vol voorraad, fonteine sonder water, onbeskadigde strate—alles net soos dit was, in ’n stad sonder inwoners, leeg en verlate. Dit is Pompeji, waar dit lyk of die tyd stilgestaan het.

Alles is nog net soos dit daardie rampspoedige dag meer as 1900 jaar gelede was toe die berg Vesuvius, die vulkaan wat op die baai van Napels uitkyk, uitgebars het. Dit het Pompeji, Herculaneum, Stabiae en die omliggende platteland onder as en lawa begrawe.

“Die ou volke”, sê die boek Pompei, “het net ’n vae begrip gehad van die vulkaniese aard van Vesuvius en het dit gewoonlik net beskou as ’n groen berg waar digte woude deur pragtige wingerde afgewissel is.” Maar op 24 Augustus 79 G.J., ná ’n stilte van baie jare, het daardie berg met ’n geweldige ontploffing wakker geword.

Die uitbarsting van 79 G.J.

Die vulkaan het ’n groot kolom gas, magma en puin uitgestoot wat die lug laat donker word en ’n verskriklike reën van as en lapilli (klein stukkies lawa) veroorsaak het. Binne twee dae was Pompeji en ’n groot deel van die platteland bedek met ’n dik laag, wat gemiddeld 2,5 meter diep was. Terwyl hewige skuddings steeds die aarde geskud het, het ’n reusewolk gifgasse, onsigbaar maar dodelik, die stad in ’n dodelike greep gehad. Hoewel Pompeji stadig begrawe is, het Herculaneum in ’n oomblik verdwyn. Volgens die boek Riscoprire Pompei (Die herontdekking van Pompeji) is Herculaneum oorspoel deur ’n vloed “modder en vulkaniese puin wat naby die strand tot twee-en-twintig meter diep was”.

Die reaksies van Pompeji se ongeveer 15-000 inwoners was uiteenlopend. Slegs diegene wat onmiddellik gevlug het, kon hulleself red. Party, wat nie hulle huis en alles wat daarin was, wou verlaat nie, het egter agtergebly en gehoop dat hulle die gevaar sou vryspring. Ander, wat graag hulle duur besittings wou red, het geaarsel voordat hulle besluit het om te vlug en is dood toe hulle huis se dak onder die gewig van die as op hulle ineengestort het.

Een voorbeeld is die eienares van “die Huis van die Faun”, wat blykbaar nie haar rykdomme wou agterlaat nie. “Inderhaas”, sê Robert Étienne in sy boek La vie quotidienne à Pompéi (Die daaglikse lewe in Pompeji), “het die vrou van die huis haar kosbaarste juwele bymekaargemaak—goue armbande in die vorm van slange, ringe, haarnaalde, oorringe, ’n silwerspieël, ’n sak vol goue munte—en gereed gemaak om te vlug.” Verskrik, moontlik vanweë die vallende as, het sy in die huis gebly. “Kort daarna”, gaan Étienne voort, “het die dak ineengestort en die stomme vrou en haar skatte begrawe.” Ander is versmoor deur die gifgasse wat oral ingedring het.

Dié wat getalm het, moes oor die laag lawa-as wat intussen gevorm het, hardloop vir hulle lewe. Hulle het bly lê waar hulle geval het, versmoor deur die inaseming van dodelike gasse en bedek deur die onophoudelike reën van fyn as. Hulle jammerlike oorblyfsels is eeue later gevind, met hulle waardevolle besittings steeds by hulle. Die stad en sy inwoners is begrawe onder ’n laag as van meer as ses meter diep.

Maar danksy daardie dodelike reën het selfs die inwoners van die stad nou weer verskyn. Weet jy hoe? Kyk na die afgietsels van hulle liggame op die foto op hierdie bladsy. Hoe is dit gemaak? Deur gips te giet in die holtes wat deur ontbinde vlees in die as gelaat is, het argeoloë dit vir ons moontlik gemaak om die laaste angsvolle gebare van die ongelukkige slagoffers te sien—“die jong vrou wat met haar kop op haar arm lê; ’n man, sy mond bedek met ’n sakdoek wat nie die inaseming van stof en gifgasse kon keer nie; die bediendes van die Badhuis van die Forum, wat gesterf het in verwronge posisies as gevolg van die spiersametrekkings en spasmas weens versmoring; . . . ’n moeder wat haar dogtertjie in ’n laaste jammerlike en nuttelose omhelsing vashou”.—Archeo.

Geen veiligheid in Herculaneum nie

In Herculaneum, ’n paar kilometer van Pompeji af, is dié wat nie onmiddellik gevlug het nie, vasgekeer. Baie het hulle na die strand toe gehaas en moontlik gehoop om via die see te ontsnap, maar ’n hewige ondersese aardbewing het skepe verhinder om uit te vaar. Onlangse opgrawings op die eertydse strand by Herculaneum het meer as 300 geraamtes opgelewer. Hierdie mense is lewend begrawe deur die verskriklike vloed modder en vulkaniese puin terwyl hulle skuiling gesoek het onder ’n terras wat op die see uitgekyk het. Ook hier het baie hulle kosbaarste besittings probeer red: goue ornamente, silwer houers, ’n volledige stel chirurgiese instrumente—alles is nog daar, nutteloos, naby die oorblyfsels van hulle eienaars.

Die tyd het stilgestaan

Pompeji toon duidelik hoe broos die lewe is wanneer dit voor natuurkragte te staan kom. Die ruïnes van Pompeji en die omliggende gebiede gee, soos geen ander argeologiese terrein in die wêreld nie, vir hedendaagse geleerdes en die nuuskieriges ’n kykie in die daaglikse lewe in die eerste eeu G.J. en stel hulle in staat om dit noukeurig te ondersoek.

Die welvarendheid van die streek was hoofsaaklik gegrond op landbou, nywerheid en handel. Deur die intensiewe benutting van mannekrag—slawe en vry manne wat daagliks gehuur is—het die vrugbare platteland ’n oorvloedige opbrengs gelewer. Baie van die stad se bedrywighede het verband gehou met die handel in voedsel. Enigiemand wat Pompeji besoek, kan nog die graanmeulens, die groentemark en die winkels van vrugteverkopers en wynhandelaars sien. Jy kan die geboue sien wat eens vir handel gebruik is—waar wol en linne verwerk is en waar materiaal op ’n nywerheidskaal gespin en geweef is. Saam met tientalle ander kleinskaalse sakeondernemings, van die juwelier se werkswinkel tot die hardewarewinkel, het hierdie geboue, tesame met die huise, ’n stad uitgemaak.

Die smal, eens besige strate is met gekapte klippe uitgelê. Aan weerskante van die strate is daar verhewe sypaadjies en openbare fonteine wat deur ’n vernuftige waterleidingstelsel gevoer is. Iets eienaardigs kan op die hoeke van die hoofstrate gesien word. Soos ’n oeroue vorm van hedendaagse voetoorgange is daar groot verhewe vierkantige klippe in die middel van die strate waarop die voetgangers geloop het en wat gekeer het dat hulle voete nat word wanneer dit reën. Enigiemand wat met perdekarre in die stad gery het, moes nogal behendig gewees het om hierdie verhewe klippe te vermy. Hulle is nog steeds daar! Niks het verander nie.

Die private lewe

Nie eens die geslotenheid waarin die private lewe van die Pompejane gehul was, kan keer dat mense hulle vandag onbedagsaam aanstaar nie. ’n Vrou met pragtige juwele aan lê dood in die arms van ’n swaardvegter in sy barak. Deure van huise en winkels staan wyd oop. Kombuise kan gesien word, asof hulle minute tevore verlaat is, met panne op die vuurherd, ongebakte brood nog in die oond en groot kruike wat teen die muur leun. Daar is vertrekke wat versier is met pragtige pleisterwerk, muurskilderye en mosaïekwerk, waar die rykes in gemak feesgevier het met silwerbekers en -flesse wat besonder fyn afgewerk is. Rustige binnenshuise tuine word omring deur suilegange en is versier met vrolike fonteine wat nou stil is. Marmer- en bronsstandbeelde van voortreflike vakmanskap en altare van huisgode is ook te sien.

Die lewenstyl van die meeste mense was egter baie meer beskeie. Baie wat nie kookgeriewe by die huis gehad het nie, het gereeld die talle tavernes besoek. Daar kon hulle, sonder om baie te betaal, skinder, dobbel of kos en drank koop. Party van hierdie plekke moes ook ’n slegte naam gehad het, want die kelnerinne, dikwels slavinne, het as prostitute gewerk nadat hulle drankies aan die klante bedien het. Hoewel daar baie van hierdie soort tavernes was, is daar ook tientalle ander berugte plekke opgegrawe, wat dikwels deur uiters onwelvoeglike skilderye en inskripsies gekenmerk is.

Dit is tyd om op te tree

Die skielike verwoesting van Pompeji laat ’n mens dink. Dit is duidelik dat die duisende wat daar gesterf het nie vinnig genoeg gereageer het op die waarskuwingstekens van ’n naderende ramp nie—die herhaalde aardbewings, die ontploffings van die vulkaan en die verskriklike reën van lapilli. Hulle het geaarsel, omdat hulle dalk nie hulle gemaklike lewe en hulle besittings wou prysgee nie. Miskien het hulle gehoop dat die gevaar sou verbygaan of dat daar nog tyd sou wees om te vlug as dinge erger raak. Ongelukkig was hulle verkeerd.

Die Skrif deel ons mee dat die hele wêreld vandag in ’n soortgelyke situasie is. Die verdorwe gemeenskap waarin ons leef, is van God vervreemd. Dit gaan binnekort skielik vernietig word (2 Petrus 3:10-12; Efesiërs 4:17-19). Al die bewyse dui daarop dat daardie tyd naby is (Matteus 24:3-42; Markus 13:3-37; Lukas 21:7-36). En die tragiese oorblyfsels van Pompeji is ’n stille getuie van die dwaasheid van besluiteloosheid.

[Venster op bladsy 24]

Christelike Kruise?

Die ontdekking van verskeie kruise in Pompeji, waaronder een in pleisterwerk teen die muur in ’n bakkery, word deur party mense gesien as bewys van die teenwoordigheid van Christene in die stad voordat dit in 79 G.J. vernietig is. Is dit ’n geldige veronderstelling?

Blykbaar nie. Om “’n grootskaalse aanbidding van die kruis as ’n voorwerp” te vind, sê Antonio Varone in sy boek Presenze giudaiche e cristiane a Pompei (Joodse en Christelike teenwoordigheid in Pompeji), “moet ons tot die vierde eeu wag, toe die bekering van die keiser en die menigte heidene so ’n vorm van verering meer in ooreenstemming met hulle geestelikheid gebring het”. “Selfs in die tweede en derde eeu en tot die tyd van Konstantyn toe”, voeg Varone by, “is dit baie ongewoon om so ’n simbool wat met die Christelike godsdiens verband hou te vind.”

Van watter oorsprong is sulke simbole dan as dit nie Christelik is nie? Bo en behalwe die twyfel wat bestaan oor die identifisering van hierdie simbool wat vermoedelik ’n kruis is en die ontdekking van ’n skildery van ’n godheid in die vorm van ’n slang in dieselfde bakkery, is daar “’n paar uiters onwelvoeglike items gevind wat ook moeilik vereenselwig kan word met die vermeende Christelike geestelikheid van die bakkery se huurder”, sê Varone. Hy voeg by: “Dit is bekend dat die kruisvormige embleem sedert die begin van die beskawing, voordat dit ooit die simbool van verlossing geword het, beslis van magiese en rituele belang was.” In die ou dae, verduidelik hierdie geleerde, is daar gedink dat die kruis bose invloede kon afweer of vernietig en is dit veral as ’n gelukbringer gebruik.

[Prent op bladsy 23]

Die Caligula-boog met die berg Vesuvius op die agtergrond

[Prente op bladsy 23]

Bo: Gipsafgietsels van Pompeji se inwoners

Links: Die Nero-boog en ’n deel van die Jupitertempel

[Foto-erkennings op bladsy 22]

Vertikale rante: Glazier

Foto’s op bladsye 2 (onder), 22 en 23: Soprintendenza Archeologica di Pompei

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel