Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 9/8 bl. 26-27
  • Waarom uitsetting ’n liefdevolle reëling is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom uitsetting ’n liefdevolle reëling is
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Dit hou God se naam hoog
  • Dit beskerm die gemeente
  • Beskerming vir individue
  • ’n Terugkeer tot God
  • Waarom uitsetting ’n liefdevolle voorsiening is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Dissipline wat ’n vredevolle vrug kan lewer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Aanvaar altyd Jehovah se dissipline
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Uitsetting—’n Liefdevolle voorsiening?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 9/8 bl. 26-27

Die Bybelse beskouing

Waarom uitsetting ’n liefdevolle reëling is

EKSKOMMUNIKASIE—net die gedagte daaraan wek gemengde gevoelens onder talle godsdienstige mense.a Die meeste mense stem saam dat godsdienste die een of ander vorm van dissipline nodig het. Maar baie beskou ekskommunikasie as ’n ouderwetse gebruik—’n kras vorm van dissipline wat hulle aan heksejagte en inkwisisies herinner.

Die probleem word vererger deur die deurdringende invloed van die sekulêre wêreld. Die meeste van die Christendom se godsdienste het dus ’n verdraagsamer beskouing van sonde aangeneem. Dit is derhalwe geen wonder nie dat een Episkopaalse geestelike gesê het: “Ekskommunikasie maak deel uit van ons tradisie, maar ek dink nie dat dit in hierdie eeu toegepas is nie.”

Maar baie mense sal miskien verbaas wees om uit te vind dat uitsetting (die ekwivalent van ekskommunikasie) nog onder Jehovah se Getuies ernstig opgeneem word. Dit is weliswaar nie ’n maklike stap nie, maar dit is ’n liefdevolle reëling. Hoe so?

Dit hou God se naam hoog

Jehovah is ’n heilige God. Hy duld nie opsetlike sonde deur diegene wat beweer dat hulle hom aanbid nie. Die apostel Petrus het aan Christene geskryf: “Word . . . self ook in julle hele gedrag heilig, want daar staan geskrywe: ‘Julle moet heilig wees, want ek is heilig.’” (1 Petrus 1:15, 16). Die uitsetting van onberouvolle sondaars hou dus God se heilige naam hoog; dit toon liefde vir daardie naam.—Vergelyk Hebreërs 6:10.

Beteken dit dat ’n Christen outomaties uit die gemeente gesit word as hy aan ’n swakheid toegee of struikel en ’n ernstige sonde pleeg? Glad nie! Jehovah is nie ’n hardvogtige diktator nie. Hy is barmhartig en verstaan ons. Hy hou in gedagte dat ons onvolmaak is (Psalm 103:14). Jehovah besef dat ‘almal gesondig het en te kort skiet aan die heerlikheid van God’ (Romeine 3:23). God het gereël dat daar geestelike hulp in die gemeente is sodat ’n Christen liefdevol in ’n gees van sagmoedigheid ‘reggehelp’ kan word as hy ’n “misstap” begaan of selfs ’n ernstige sonde pleeg (Galasiërs 6:1). Deur raad uit God se Woord aan te neem en innige spyt asook opregte berou te toon, kan iemand wat van die weg van regverdigheid afgewyk het geestelik ‘genees word’.—Jakobus 5:13-16.

Maar sê nou ’n gedoopte Christen pleeg ’n ernstige sonde en alle pogings om hom reg te help, misluk? Met ander woorde, sê nou hy weier hardkoppig om sy sondige lewenswandel te verander?

Dit beskerm die gemeente

Die Bybel beveel Christene: ‘Hou op om met enigeen om te gaan wat ’n broer genoem word maar wat ’n hoereerder of ’n gierigaard of ’n afgodedienaar of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n afperser is, en moet selfs nie saam met so iemand eet nie.’—1 Korintiërs 5:11.

Is hierdie Bybelwet kras en vernederend? Dink ’n bietjie hieraan: Gestel ’n geharde misdadiger word tronk toe gestuur omdat hy die wet verbreek het. Word dit as kras of hardvogtig beskou? Nee, want die publiek het die reg om die vrede en veiligheid van die gemeenskap te beskerm. Die misdadiger word gedurende sy straftyd as ’t ware uit die wetsgehoorsame gemeenskap gesit.

Die Christengemeente is eweneens daartoe geregtig om onberouvolle oortreders uit hulle geledere te sit. Waarom? Omdat die gemeente ’n veilige hawe moet wees teen onsedelike mense en ander wat opsetlik sonde beoefen.

Omdat die apostel Paulus besef het dat ‘een sondaar baie goeie dinge kan bederf’, het hy medegelowiges beveel: “Verwyder die goddelose mens onder julle uit” (Prediker 9:18; 1 Korintiërs 5:13). Hierdie optrede verhoed dat die sondaar verdorwenheid in die gemeente versprei, en dit beskerm die gemeente se goeie naam.—Vergelyk 1 Timoteus 3:15.

Beskerming vir individue

Uitsetting beskerm ook individuele gemeentelede. Kom ons lig dit toe: Stel jou voor dat jy deur die geraas van ’n motor se toeter of alarm wakker gemaak word. Dit is moeilik om die deurdringende geluid te ignoreer; trouens, dit laat jou skrik! Hopelik trek dit eweneens die aandag van elke lid van die kudde wanneer iemand uit die gemeente gesit word. Dit verontrus hulle. Dit kan nie geïgnoreer word nie. Hoe kan dit ’n beskerming wees?

“Die eerste keer toe ek by die Koninkryksaal gehoor het dat iemand uitgesit is, was my eerste reaksie skok”, sê ’n Getuie. “Toe het dit my nederig laat voel. Dit het my laat besef dat ek ook kan val.” Soos blyk uit haar woorde, kan uitsetting ander beweeg om hulle eie gedrag in oënskou te neem.—1 Korintiërs 10:12.

As ons onsself vrae vra soos: ‘Is daar gebiede in my lewe waar ek geestelik kwesbaar is?’ kan dit ons help om ons eie posisie voor God te ondersoek. So kan ons aanhou om ‘ons eie redding met vrees en bewing te bewerk’.—Filippense 2:12.

’n Terugkeer tot God

“Al was dit baie moeilik”, het een Christen gesê wat ’n tyd lank uitgesit was, “was die dissipline nodig en baie belangrik, en dit het my lewe gered.” Dit bring nog ’n belangrike aspek van uitsetting na vore. Dit kan sondaars wat voorheen onberouvol was, beweeg om die eerste stappe te doen om tot God terug te keer.

Die apostel Paulus het gesê: “Jehovah dissiplineer hom wat hy liefhet” (Hebreërs 12:6). En hoewel ‘geen dissipline weliswaar op die oomblik vreugdevol lyk nie, maar bedroewend; lewer dit tog later vir dié wat daardeur geoefen is vreedsame vrug op, naamlik regverdigheid’.—Hebreërs 12:11.

Dit is wat met Richard gebeur het. Nadat hy amper twee jaar uitgesit was, het hy berou gehad, sy godonterende gedrag reggestel en is hy weer in die Christengemeente aanvaar. Wanneer hy terugkyk, sê hy aangaande sy ondervinding: “Ek besef dat ek uitgesit moes word en dat ek my verdiende loon ontvang het. Dit was beslis nodig en het my help besef presies hoe ernstig my weg was en ook hoe belangrik dit is om Jehovah om vergifnis te vra.”

Dissipline is dalk nie maklik om te verduur nie. Dit verg nederigheid om dit te aanvaar, maar diegene wat daaruit leer, maai oorvloedige vrugte.

Uitsetting is dus ’n liefdevolle reëling omdat dit God se heilige naam hooghou en die gemeente teen die verderflike invloed van sonde beskerm. Dit toon ook liefde vir die oortreder deurdat dit hom aanspoor om berou te toon en ‘om te draai sodat sy sondes uitgewis kan word, dat tye van verkwikking van die persoon van Jehovah kan kom’.—Handelinge 3:19.

[Voetnoot]

a Ekskommunikasie is ’n dissiplinêre stap wat tot uitsluiting uit lidmaatskap van ’n godsdiens lei.

[Foto-erkenning op bladsy 26]

The New Testament: A Pictorial Archive from Nineteenth-Century Sources, by Don Rice/Dover Publications, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel