Ons beskou die wêreld
Godsdiensvryheid gehandhaaf
Op 8 Maart 1996 het die Hooggeregshof van Japan beslis dat die Kobe- Munisipale Industriele Tegniese Kollege die wet oortree het deur Koenihito Kobajasji, een van Jehovah se Getuies, uit die kollege te sit weens sy weiering om aan verweerkunsoefeninge deel te neem, sê The Daily Yomiuri van Tokio. Met hierdie beslissing het Japan se hoogste hof ’n appèl wat deur die kollege aangeteken is, verwerp en ’n presedent geskep vir toekomstige sake. (Sien asseblief die Ontwaak! van 8 Oktober 1995 vir verdere besonderhede.) Die hof het erken dat die student se rede waarom hy nie aan die kendo-verweerkunsoefeninge wou deelneem nie “eerlik en in noue verband met die kern” van sy geloof was. Die hof het Kobajasji “’n uitmuntende student” genoem en gesê dat die skool hom ’n alternatiewe liggaamlike opvoedingsprogram in die plek van kendo kon aangebied het.
Ateïsme neem toe
Kardinaal Joachim Meisner merk op dat daar in Duitsland ’n “kragtige neiging tot ateïsme” is. Kommunisme het dalk op ekonomiese gebied verloor, maar dit lyk asof dit op ideologiese gebied gewen het, het Meisner gesê. Hy voeg by: “Hierdie neiging het blykbaar van die nuwe [voormalige Kommunistiese] federale state na die ou [westerse] federale state versprei.” Volgens die koerant Weser Kurier behoort ongeveer 70 persent van die 16 miljoen inwoners van voormalige Oos-Duitsland aan geen kerk nie. Die berig sê voorts: “As die kerk nie die moed het om die waarheid wat aan hom geopenbaar is bekend te maak nie, dan is die kerk hopeloos verlore.”
Gee asseblief die goggas aan!
Baie mense, hoewel blykbaar nie almal nie, sal dit nie juis aptytwekkend vind om insekte te eet om kwale te genees nie. Maar volgens die tydskrif Asiaweek is die idee niks nuuts nie. In Singapoer bedien die Keiserlike Kruierestaurant geregte met bestanddele soos miere en skerpioene, wat albei blykbaar nie net voedsaam is nie, maar ook geneeskrag het. Die eienares van die restaurant, mev. Tee Eng Wang-Lee, sê miere is goed vir rumatiek, terwyl skerpioengif blykbaar die senuwees kalmeer en migraine verlig. Ander goggageneesmiddels sluit in gedroogde larwes om pyn te verlig; sonbesielarwes om winderigheid, koorsblare en masels teë te werk en gedroogde perdebyneste om parasiete dood te maak. Hoe proe hierdie gediertetjies? Miere het ’n skerp asynsmaak en skerpioene is taaierig. Mev. Wang-Lee sê: “Dit is ’n smaak wat ’n mens moet aanleer.”
Stop uitbranding!
Alle soorte spanning is aan die toeneem, en Ellen McGrath, ’n sielkundige wat in die Amerikaanse tydskrif Health skryf, gee ’n paar wenke wat kan keer dat spanning in jou lewe tot uitbranding lei.
◼ Neem ’n blaaskansie: Gaan stap tien minute of haal vyf minute rustig en diep asem. Sit 15 minute aan die begin en aan die einde van elke dag opsy om te lees of te peins.
◼ Wees in beheer: Omring jou met dinge wat jou laat glimlag—foto’s, blomme of aandenkings. Stel vir jou ’n rooster op en reël om belangrike dinge op minder spanningsvolle tye te doen.
◼ Eet goed: Moenie werk totdat jy rasend honger is of net ’n bietjie gemorskos eet om jou honger te stil nie—ongeag hoe besig jy is. Gereelde maaltye wat hoofsaaklik uit vrugte en groente bestaan, sal jou help om moegheid te voorkom.
◼ Hou aan beweeg: Goeie oefening verminder spanning, laat jou meer tevrede voel en laat jou voel dat sake onder beheer is. Laat dit aangenaam wees!
Voorkom kindervergiftiging
Jong kinders loop gevaar om in hulle eie huis vergiftig te word deur selfs net een tablet in te neem van ’n geneesmiddel wat nie vir hulle bedoel is nie, sê die tydskrif FDA Consumer. ’n Klein kindjie kan siek word en selfs sterf as hy medisyne, huishoudelike chemikalieë en alkoholiese drank inkry. Daarom moet hierdie produkte buite hulle bereik en sig gehou word. Oordosisse ysteraanvullings, wat vitamiene vir kinders insluit, is veral ’n probleem. “Omdat [pediatriese vitamiene] gemaak word om soos lekkergoed of tekenprentkarakters te lyk, lyk dit soos lekkergoed en nie soos medisyne nie”, verduidelik dr. George Rodgers van die Streekvergiftigingsentrum van Kentucky, VSA. As ’n kind ongewone simptome ontwikkel, soos onreëlmatige oogbewegings of oormatige slaperigheid, of as ’n oop bottel pille gevind word, skakel onmiddellik ’n dokter of ’n gifbeheersentrum en volg hulle instruksies noukeurig, sê deskundiges.
Lees—“’n Stadige dood”?
Volgens ’n opname wat in Italië vir die Vereniging van Klein Uitgewersfirmas gemaak is, het 80 persent van die Italianers verlede jaar “nooit ’n boek oopgemaak nie, of as hulle dit wel gedoen het, onthou hulle nie eens die titel van die boek of die naam van die skrywer nie”. Die gedrag, optrede en lewe van die Italianers word gewoonlik meer beïnvloed deur visuele beelde, waaronder die televisie, as deur leesstof, het die koerant La Repubblica van Rome gesê. “Die Italianers lees nie, en hulle is nie eers daarvan bewus dat hulle iets belangriks mis nie”, het die koerant gesê. Die opname het ook getoon dat baie Italianers die lees van boeke assosieer met ’n “onvermoë om ‘warm’ menseverhoudings aan te kweek” en met ’n “gebrek aan hartstog”. Nielesers “is oortuig dat lees net ’n mors van tyd is”, dat dit ‘iets vir ou mense’ is of dat dit selfs “‘’n stadige dood’ sterf”.
Noodoproepe
’n Landwye tolvry noodlyn vir ontstelde jongmense in Kanada ontvang 4000 oproepe per dag, wat “’n groter mate van wanhoop as ooit tevore” openbaar, volgens die koerant The Globe and Mail. Christine Simmons-Physick, direkteur van raadgewende dienste vir die program, het gesê: “Die [ekonomiese] oorgang wat in die wêreld aan die gang is, veroorsaak onsekerheid onder volwassenes, en dít beïnvloed die kinders.” Byna die helfte van die oproepe is oor verhoudings, en 78 persent kom van meisies, wat dit makliker as seuns vind om hulp te vra. Jongmense skakel omdat dit hulle ’n geleentheid bied om hulle probleme met ’n volwassene te bespreek wat dit ernstig gaan opneem, het Simmons-Physick gesê. Ouers en ander volwassenes is dikwels “geneig om kinders se probleme as oorgangsprobleme af te maak—hulle sê dat die kinders dit sal ontgroei”, het sy gesê en bygevoeg: “As jy daardie gesindheid openbaar, kan jy verseker wees dat hulle nie weer na jou toe sal kom vir hulp nie.”
Vlindernavigators
Elke Maart navigeer swerms koningvlinders oor 800 kilometer oop see wanneer hulle van Mexiko af na een klein deeltjie van die kus van Louisiana, VSA, migreer. Die koningvlinders vlieg van daar af verder noord, sommige tot by Kanada. Die daaropvolgende Oktober keer hulle agter-agterkleinkinders langs dieselfde roete na Mexiko terug. Maar hoe weet hulle, met ’n piepklein brein, net so groot soos ’n speld se kop, waar om te vlieg? Dit is nog steeds ’n geheim. Die Enterprise-Record van Chico, Kalifornië, sê dat vlindernavorser dr. Gary Noel Ross glo dat die insekte dalk deur magnetisme gelei word. Die verbysterende vraag is: Hoe word die vlugplan vir die tog terug na Mexiko deur vyf geslagte heen oorgedra? “Die ingewikkeldheid van dit alles gaan die verstand te bowe”, het dr. Ross gesê.
Waarskuwing in verband met nuwe klere
Waarskuwings in verband met die gevare van chemikalieë wat in die vervaardiging van klere gebruik word, word in Frankryk, Engeland en Thailand gehoor, sê die tydskrif Asiaweek. Formaldehied, ’n sterk preserveermiddel wat in kleurstowwe gebruik word, word in baie weefstowwe gevind, en dit veroorsaak glo vel-, oog- en asemhalingsprobleme. Werkers in die tekstielbedryf kan in gevaar verkeer tensy hulle fabrieke goed geventileer en droog is, aldus die berig, en om moontlike nadelige reaksies te voorkom, moet verbruikers enige nuwe kledingstuk was voor dit gedra word.
Misdaad en Rusland se tieners
In St. Petersburg, Rusland, “word jeugmisdaad wreedaardiger en opsetliker”, sê The St. Petersburg Press. By ’n skool in die stad is ’n 13-jarige seun in 1995 byvoorbeeld vasgebind en doodgeslaan net nadat hy sy eksamen aan die einde van die jaar geskryf het. Ouers en onderwysers se besorgdheid oor gewelddadige skoolmisdaad het aanleiding gegee tot ’n spesiale kursus vir skoolkinders oor “Basiese Oorlewingsriglyne”, wat “Basiese Mediese Opleiding” vir meisies insluit. By ’n seminaar vir aanbieders van die kursus is daar gesê dat 25 persent van hoërskoolmeisies in die stad dink dat prostitusie ’n integrale deel van die Russiese lewe is. Bowendien het die aantal aborsies onder meisies van 17 en jonger glo oor die afgelope vyf jaar verdubbel, volgens Populi, die tydskrif van die Verenigde Nasies se Bevolkingsfonds.