Van woorde wat seermaak tot woorde wat heel
“Dood en lewe is in die mag van die tong.”—SPREUKE 18:21.
UITSKELLERY—’n doelbewuste gewoonte om beledigende skeltaal te gebruik—word onteenseglik in die Bybel veroordeel. Onder die Mosaïese Wet kon iemand wat sy ouers uitgeskel het die doodstraf kry (Exodus 21:17). Jehovah God beskou die saak dus in ’n ernstige lig. Sy Woord, die Bybel, steun nie die gedagte dat enigiets wat ‘agter geslote deure’ gebeur van min belang is solank ’n mens verklaar dat jy God dien nie. Die Bybel sê: “As iemand meen dat hy ’n vormlike aanbidder is en tog nie sy tong in toom hou nie, maar voortgaan om sy eie hart te bedrieg, dié man se vorm van aanbidding is vergeefs” (Jakobus 1:26; Psalm 15:1, 3). As ’n man dus sy vrou uitskel, kan dit al sy ander Christelike werke in God se oë nutteloos maak.a—1 Korintiërs 13:1-3.
Daarbenewens kan ’n Christen wat ’n kwaadspreker is uit die gemeente gesit word. Hy kan selfs die seëninge van God se Koninkryk ontneem word (1 Korintiërs 5:11; 6:9, 10). Dit is duidelik dat iemand wat ander met sy woorde seermaak ’n ingrypende verandering moet aanbring. Maar hoe kan dit gedoen word?
Bring die probleem aan die lig
’n Oortreder sal natuurlik nie verander tensy hy goed verstaan dat hy ’n ernstige probleem het nie. Ongelukkig beskou baie mans wat smadende taal gebruik, soos een raadgewer opgemerk het, “hulle gedrag glad nie as smaad nie. Vir hierdie mans is sulke optrede heeltemal normaal en die ‘natuurlike’ manier waarop wisselwerking tussen mans en vrouens plaasvind.” Daarom sal baie nie besef dat hulle moet verander nie totdat die situasie pertinent onder hulle aandag gebring word.
Dikwels sal die vrou, nadat sy haar situasie biddend oorweeg het, verplig voel om te praat—ter wille van haar eie welsyn asook dié van haar kinders en uit besorgdheid oor haar man se posisie voor God. Daar is weliswaar altyd die moontlikheid dat dit sake kan vererger as sy praat en dat haar woorde hewig ontken kan word. Miskien kan ’n vrou dit voorkom deur vooraf goed na te dink oor hoe sy die onderwerp sal aanroer. “Goue appels op versierde silwerborde, so is ’n woord op sy tyd gespreek”, sê die Bybel (Spreuke 25:11). ’n Sagmoedige maar openhartige benadering op ’n rustige oomblik sal dalk sy hart bereik.—Spreuke 15:1.
’n Vrou moenie aantygings maak nie, maar moet eerder probeer sê hoe die kwetsende woorde haar raak. “Ek”-stellings werk dikwels die beste. Byvoorbeeld: ‘Ek voel seergemaak omdat . . .’ of ‘Ek voel gekrenk wanneer jy vir my sê . . .’ Dit is waarskynliker dat sulke stellings die hart sal bereik, want dit val nie die persoon aan nie, maar pak die probleem aan.—Vergelyk Genesis 27:46–28:1.
’n Vrou se besliste maar taktvolle tussenkoms kan goeie gevolge hê. (Vergelyk Psalm 141:5.) ’n Man wat ons Steven sal noem, het gevind dat dit die geval is. “My vrou het die uitskeller in my gesien wat ek nie kon sien nie en het die moed gehad om dit aan die lig te bring”, sê hy.
Kry hulp
Maar wat kan ’n vrou doen as haar man weier om te erken dat hy ’n probleem het? Dit is wanneer party vrouens elders hulp soek. In sulke moeilike tye kan Jehovah se Getuies hulle gemeentelike ouer manne nader. Die Bybel spoor hierdie manne aan om liefdevol en goedhartig te wees wanneer hulle as herders oor die geestelike kudde van God toesig hou en ook om “die teësprekers tereg te wys” wat die gesonde leer van God se Woord weerspreek (Titus 1:9; 1 Petrus 5:1-3). Hoewel die ouer manne hulle nie met die persoonlike sake van egpare behoort te bemoei nie, is hulle tereg besorg wanneer een huweliksmaat deur die skeltaal van die ander getreiter word (Spreuke 21:13). Aangesien hierdie manne streng by Bybelstandaarde bly, verskoon of verklein hulle nie smadende taal nie.b
Die ouer manne kan dalk kommunikasie tussen die man en die vrou vergemaklik. ’n Ouer man is byvoorbeeld deur ’n vrou genader wat hom van jare van uitskellery deur haar man, ’n medeaanbidder, vertel het. Die ouer man het gereël om saam met hulle twee bymekaar te kom. Terwyl die een gepraat het, het hy gevra dat die ander een moet luister sonder om die spreker in die rede te val. Toe dit die vrou se beurt was, het sy gesê dat sy haar man se woedeuitbarstings nie langer kon verduur nie. Sy het verduidelik dat sy jare lank aan die einde van elke dag bang was omdat sy nie geweet het of hy in ’n slegte bui sou wees wanneer hy by die deur inloop nie. Wanneer hy in woede uitgebars het, het hy vernederende dinge oor haar, haar familie en haar vriende gesê.
Die ouer man het die vrou gevra om te verduidelik hoe haar man se woorde haar laat voel het. “Ek het gevoel of ek hierdie slegte mens is vir wie niemand lief kan wees nie”, het sy geantwoord. “Ek het my moeder soms gevra: ‘Ma, is ek moeilik om mee saam te leef? Is ek onbeminlik?’” Terwyl sy beskryf het hoe sy woorde haar laat voel het, het haar man begin huil. Vir die eerste keer kon hy sien hoe diep hy sy vrou met sy woorde seergemaak het.
Jy kan verander
Sommige Christene in die eerste eeu het ’n probleem met smadende taal gehad. Die Christenapostel Paulus het hulle vermaan om “gramskap, toorn, slegtheid, smadende taal en onwelvoeglike praatjies” van hulle te verwyder (Kolossense 3:8). Maar skeltaal is meer ’n probleem van die hart as van die tong (Lukas 6:45). Dit is waarom Paulus bygevoeg het: “Lê die ou persoonlikheid met sy gebruike af, en beklee julle met die nuwe persoonlikheid” (Kolossense 3:9, 10). Verandering behels dus nie net dat ’n mens anders praat nie, maar ook dat jy anders voel.
’n Man wat kwetsende taal gebruik, het moontlik hulp nodig om vas te stel wat presies hom so laat optree.c Hy moet die gesindheid van die psalmis hê: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ’n weg is van smart” (Psalm 139:23, 24). Byvoorbeeld: Waarom voel hy dat hy oor sy maat moet heers, of haar onder beheer moet hê? Wat gee aanleiding tot uitskellery? Is sy aanvalle ’n teken van dieper bitterheid? (Spreuke 15:18). Voel hy soms nutteloos, wat miskien die gevolg is van ’n opvoeding wat deur kritiek gekenmerk is? Sulke vrae kan ’n man help om die oorsake van sy optrede aan die lig te bring.
Dit is egter moeilik om van smadende taal ontslae te raak, veral as dit ingewortel is deur ouers wat self sarkasties was of deur ’n kultuur wat oorheersende gedrag aanmoedig. Maar enigiets wat aangeleer is, kan—met tyd en inspanning—afgeleer word. Die Bybel is die grootste hulp in hierdie opsig. Dit kan ’n mens help om selfs diepgewortelde gedrag te verander. (Vergelyk 2 Korintiërs 10:4, 5.) Hoe?
Regte beskouing van godgegewe rolle
Mans wat beledigend is, het dikwels ’n verwronge beskouing van die godgegewe rolle vir die man en vrou. Die Bybelskrywer Paulus sê byvoorbeeld dat vrouens “onderdanig [moet] wees aan hulle mans” en dat ‘’n man die hoof is van sy vrou’ (Efesiërs 5:22, 23). ’n Man meen dalk dat hoofskap hom die reg op absolute beheer gee. Maar dit is nie die geval nie. Hoewel sy vrou onderdanig is, is sy nie sy slaaf nie. Sy is sy “hulp” en “komplement” (Genesis 2:18, NW). Daarom voeg Paulus by: “Mans [behoort] hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggame. Hy wat sy vrou liefhet, het homself lief, want geen mens het nog ooit sy eie vlees gehaat nie; maar hy voed en koester dit, soos die Christus ook met die gemeente doen.”—Efesiërs 5:28, 29.
As hoof van die Christengemeente het Jesus nooit sy dissipels uitgeskel en hulle senuweeagtig laat wonder wanneer die volgende kritiekuitbarsting sou plaasvind nie. Hy was eerder teer en het hulle sodoende hulle waardigheid laat behou. “Ek sal julle verkwik”, het hy hulle belowe. “Ek is saggeaard en nederig van hart” (Matteus 11:28, 29). As ’n man biddend peins oor hoe Jesus sy hoofskap uitgeoefen het, kan dit hom help om ’n meer gebalanseerde beskouing van sy hoofskap te hê.
Wanneer daar spanning ontstaan
Kennis van Bybelbeginsels is een ding; die toepassing daarvan terwyl jy onder druk verkeer, is iets heeltemal anders. Hoe kan ’n man voorkom dat hy in ’n patroon van skeltaal terugval wanneer daar spanning ontstaan?
Dit is nie ’n teken van manlikheid as ’n man beledigend is wanneer hy omgekrap is nie. Die Bybel sê: “Die lankmoedige is beter as ’n held; en hy wat sy gees beheers, as een wat ’n stad inneem” (Spreuke 16:32). ’n Ware man beheers sy gees. Hy toon empatie deur te dink: ‘Watter uitwerking het my woorde op my vrou? Hoe sou ek gevoel het as ek in haar posisie was?’—Vergelyk Matteus 7:12.
Die Bybel erken egter dat sommige situasies tot woede aanleiding kan gee. Die psalmis het oor sulke omstandighede geskryf: “As jy ontsteld raak, moenie sondig nie; dink in stilte daaroor na as jy gaan lê, en laat dit daarby!” (Psalm 4:5, NAV). Dit is ook al so gestel: “Daar is niks mee verkeerd om kwaad te wees nie, maar dit is verkeerd om te beledig deur sarkasties, vernederend of verlagend te wees.”
As ’n man voel dat hy beheer oor sy spraak verloor, kan hy leer om halt te roep. Miskien sal dit verstandig wees om die vertrek te verlaat, ’n ent te gaan stap of ’n private plek te vind om af te koel. Spreuke 17:14 sê: “Laat die twis vaar voordat dit losbreek.” Hervat die gesprek wanneer gemoedere bedaar het.
Niemand is natuurlik volmaak nie. ’n Man wat ’n probleem met skeltaal gehad het, kan terugval. Wanneer dit gebeur, moet hy om verskoning vra. Dit is ’n voortdurende proses om ’n mens met “die nuwe persoonlikheid” te beklee, maar dit bring groot beloninge mee.—Kolossense 3:10.
Woorde wat heel
Ja, “dood en lewe is in die mag van die tong” (Spreuke 18:21). Kwetsende woorde moet vervang word deur woorde wat ’n huwelik opbou en versterk. ’n Bybelspreuk sê: “Vriendelike woorde is soos ’n heuningkoek: soet vir die siel en ’n genesing vir die gebeente.”—Spreuke 16:24.
’n Paar jaar gelede is ’n studie gedoen om vas te stel watter faktore sterk gesinne doeltreffend laat funksioneer. “Die studie het bevind dat die lede van hierdie gesinne van mekaar hou en gedurig vir mekaar gesê het dat hulle van mekaar hou”, sê huweliksdeskundige David R. Mace. “Hulle het mekaar van hulle goedkeuring verseker, mekaar ’n gevoel van eiewaarde gegee en elke moontlike geleentheid benut om liefdevol te praat en op te tree. Die gevolg was vanselfsprekend dat hulle dit geniet het om saam te wees en mekaar versterk het op ander maniere wat hulle verhoudings baie bevredigend gemaak het.”
Geen godvresende man kan waarlik sê dat hy sy vrou liefhet as hy haar opsetlik met sy woorde seermaak nie (Kolossense 3:19). Dieselfde geld natuurlik vir ’n vrou wat haar man uitskel. Albei huweliksmaats staan inderdaad onder verpligting om op Paulus se vermaning aan die Efesiërs ag te slaan: “Laat ’n slegte woord nie uit julle mond uitgaan nie, maar watter woord ook al goed is vir opbouing na gelang van die behoefte, sodat dit iets gunstigs aan die hoorders kan meedeel.”—Efesiërs 4:29.
[Voetnote]
a Hoewel ons na die oortreder verwys as ’n man, is die beginsels hierin ewe veel op vrouens van toepassing.
b Een van die vereistes om as ouer man te dien of aan te hou dien, is dat ’n man nie ’n slaner moet wees nie. Hy kan nie iemand wees wat mense fisies slaan of hulle met bitsige aanmerkings intimideer nie. Ouer manne en bedieningsknegte moet hulle eie huisgesin op voortreflike wyse beheer. Ongeag hoe goedhartig hy dalk elders optree, ’n man voldoen nie aan die vereistes as hy ’n tiran by die huis is nie.—1 Timoteus 3:2-4, 12.
c ’n Christen moet self besluit of hy vir behandeling moet gaan. Maar hy moet seker wees dat enige behandeling wat hy ontvang nie in stryd met Bybelbeginsels is nie.
[Prent op bladsy 9]
’n Christen- ouer man kan ’n egpaar dalk help kommunikeer
[Prent op bladsy 10]
Mans en vrouens moet mekaar werklik probeer verstaan