Die Bybelse beskouing
Sal die aarde deur vuur vergaan?
VERSKROEI tydens ’n kernslagting, verkool deur die uitswelling van die son of aan die brand gesteek deur ’n woedende god—die metode verskil miskien, maar baie mense is oortuig daarvan dat die planeet Aarde, die tuiste van die mensdom, vernietig sal word in ’n allesverterende inferno, ’n rampspoedige apokalips.
Party haal Bybeltekste aan wat voorspel dat God ’n verwoestende brand gaan bring as vergelding vir die mens se oortredings teen die aarde. Ander is dit eens met die mening van Paul Davies, ’n professor aan die Universiteit van Adelaide, Australië, wat skryf oor hoe hy die aarde se onvermydelike vernietiging met vuur sien. Hy gee hierdie teorie in sy boek The Last Three Minutes: “Namate die son al hoe meer uitswel, sal dit . . . die Aarde in ’n vlammegloed verswelg. Daar sal slegs ’n kooltjie van ons planeet oorbly.” Wat is die waarheid aangaande die aarde se toekoms? Hoe moet ons Bybeltekste verstaan wat skynbaar ’n vernietiging deur vuur voorspel?
Gee God om?
In Jeremia 10:10-12 word ons vertel: “Die HERE is waarlik God . . . Hy wat die aarde gemaak het deur sy krag, wat die wêreld gegrond het deur sy wysheid en die hemel uitgespan het deur sy verstand.” God het die aarde gemaak en dit stewig gegrond. Hy het die aarde dus met wysheid, liefde en insig sorgvuldig voorberei om vir ewig te bestaan as ’n pragtige tuiste vir die mensdom.
Die Bybel sê oor God se skepping van die mens: “Man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, [en] onderwerp dit” (Genesis 1:27, 28). Toe hy sy skeppingswerk voltooi het, kon hy beslis verklaar dat ‘dit baie goed was’ (Genesis 1:31). Hy wou gehad het dat dit so moet bly. Net soos sommige voornemende ouers ’n kinderkamer beplan en inrig vir die baba wat hulle verwag, het God ’n pragtige tuin aangeplant en die man Adam daar geplaas om dit uit te brei en daarvoor te sorg.—Genesis 2:15.
Adam het volmaaktheid en sy opdrag om die aarde te versorg die rug toegekeer. Maar het die Skepper van Sy voorneme afgesien? Nie volgens Jesaja 45:18 nie: “So sê die HERE, wat die hemele geskape het . . . wat die aarde geformeer [het] . . . Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word.” (Sien ook Jesaja 55:10, 11.) Hoewel die mens sy plig versuim het om na die aarde om te sien, het God voortgegaan om sy ooreenkoms met die aarde en die lewe daarop na te kom. Die Wet wat aan die eertydse nasie Israel gegee is, het voorsiening gemaak vir “’n sabbat” elke sewende jaar waarin “die land volkome [moes] rus”. Dit het wette met betrekking tot menslikheid ingesluit wat diere in sekere mate beskerm het (Levitikus 25:4; Exodus 23:4, 5; Deuteronomium 22:1, 2, 6, 7, 10; 25:4; Lukas 14:5). Dit is maar net ’n paar voorbeelde in die Bybel wat duidelik toon dat God baie omgee vir die mensdom en alles wat Hy onder die sorg van die mens geplaas het.
“Die vorige aarde”
Hoe versoen ons dus Bybeltekste wat oënskynlik teenstrydig met ander is? Een van hierdie tekste is 2 Petrus 3:7, wat volgens die Afrikaanse Bybel sê: “Die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ’n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.” Nog een is Openbaring 21:1, wat sê: “Ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien; want die vorige hemel en die vorige aarde het verbygegaan.”
Indien Petrus se woorde letterlik opgeneem moet word en die planeet Aarde deur letterlike vuur verteer gaan word, dan behoort die letterlike hemele—die sterre en al die ander hemelliggame—ook deur vuur vernietig te word. Hierdie beskouing is egter teenstrydig met die versekering wat gevind word in tekste soos Matteus 6:10: “Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” en Psalm 37:29: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.” Wat meer is, watter uitwerking sal vuur hê op die son en sterre wat reeds intens warm is en voortdurend kernontploffings voortbring?
Daarteenoor gebruik die Bybel die woord “aarde” dikwels in figuurlike sin. Genesis 11:1 sê byvoorbeeld: “En die hele aarde het dieselfde taal gehad.” Hier verwys die woord “aarde” na die mensdom oor die algemeen, of die mensegemeenskap. (Sien ook 1 Konings 2:1, 2; 1 Kronieke 16:31.) Die verband van 2 Petrus 3:5, 6 dui op dieselfde figuurlike gebruik van “aarde”. Dit verwys na Noag se dag toe ’n goddelose mensegemeenskap tydens die Vloed vernietig is, maar Noag en sy huisgesin sowel as die aardbol self bewaar is (Genesis 9:11). In 2 Petrus 3:7 sê dit eweneens dat diegene wat vernietig gaan word “goddelose mense” is. Hierdie beskouing stem ooreen met die res van die Bybel. Die goddelose gemeenskap wat vir vernietiging bestem is, is ook “die vorige aarde” waarna Openbaring 21:1 verwys, wat vroeër aangehaal is.
Trouens, net soos ’n liefdevolle aardse vader alles moontlik sal doen om die veiligheid van sy huis te verseker, is Jehovah God diep besorg oor sy skepping. Hy het vroeër ’n onsedelike en goddelose volk uit die vrugbare Jordaanvallei verdryf en die nuwe opsigters van die land, met wie hy ’n verbond gesluit het, verseker dat ‘die land hulle nie sal uitspuug soos dit die nasie uitgespuug het wat voor hulle daar was nie’, mits hulle sy insettinge onderhou en ‘die land nie verontreinig nie’.—Levitikus 18:24-28.
“’n Nuwe aarde”
Vandag het ’n gemeenskap wat seksueel verdorwe, wreedaardig en polities korrup is die aarde verontreinig. Net God kan dit red. En dit is presies wat hy gaan doen. In Openbaring 11:18 beloof hy “om die verderwers van die aarde te verderf”. Die herstelde en hernieude aarde sal bewoon word deur mense wat God vrees en hulle naaste opreg liefhet. (Hebreërs 2:5; vergelyk Lukas 10:25-28.) Die veranderinge wat onder God se hemelse Koninkryk gaan plaasvind, sal so omvattend wees dat die Bybel van “’n nuwe aarde” praat—’n nuwe mensegemeenskap.
Wanneer ons tekste soos Psalm 37:29 lees en ons die betekenis van Christus se woorde in Matteus 6:10 verstaan, is ons oortuig dat nóg blinde natuurkragte nóg die mens met al sy vernietigingskrag ons planeet sal vernietig. Hulle sal nie God se voorneme dwarsboom nie (Psalm 119:90; Jesaja 40:15, 26). Die getroue mensdom sal op die aarde leef onder toestande van grenslose prag en eindelose vreugde. Dit is die waarheid aangaande die aarde se toekoms, want dit is en was nog altyd die voorneme van die mensdom se liefdevolle Skepper.—Genesis 2:7-9, 15; Openbaring 21:1-5.