Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 3/22 bl. 3
  • Die Amasone-Reënwoud—In Mites Gehul

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Amasone-Reënwoud—In Mites Gehul
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Vroue wat soos tien man veg’
  • Die magtige Amasone—’n Lewensaar vir miljoene
    Ontwaak!—2003
  • Skaduwees oor die reënwoud
    Ontwaak!—1997
  • Brasilië se Indiane—Word hulle deur uitsterwing bedreig?
    Ontwaak!—2007
  • ’n Soeke na oplossings
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 3/22 bl. 3

Die Amasone-Reënwoud—In Mites Gehul

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRASILIË

DIE Irimarai-Indiane wat langs die Napo-rivier in Peru woon, kon hulle oë nie glo nie! Twee skepe met raseile, wat glad nie soos hulle eie smal kano’s gelyk het nie, het na hulle dorpie aangeseil gekom. Hulle het bebaarde krygsmanne aan boord gesien—verskillend van enige ander stam wat hulle al ooit gesien het. Verward het die Indiane vinnig skuiling probeer vind en toegekyk hoe die wit vreemdelinge aan land kom, die dorpie se voedselvoorraad verorber en wegseil—aangedryf deur die gedagte om geskiedenis te maak as die eerste ekspedisie wat deur die hele reënwoud gevaar het, van die Andesgebergte tot by die Atlantiese Oseaan.

Gedurende daardie jaar, 1542, het die een Indianestam na die ander soortgelyke skokke gekry namate daardie Europese ontdekkers, met opsigtige kruisboë en stutgewere, Suid-Amerika se tropiese woud al dieper ingevaar het.

Francisco de Orellana, die Spaanse kaptein wat beheer oor die veroweraars gevoer het, het spoedig ontdek dat die nuus van sy troepe se geplunder en geskiet vinniger versprei het as wat hulle twee seilskepe kon vaar. Verder af met die rivier (naby die hedendaagse Brasiliaanse stad Manaus) het Indianestamme die 50 of wat invallers slaggereed met hulle pyle ingewag.

En daardie Indiane was goeie skuts, het bemanningslid Gaspar de Carvajal erken. Hy het uit ondervinding gepraat, want een van die Indianepyle het hom tussen sy ribbes getref. “As my mondering nie so dik was nie”, het die gewonde monnik geskryf, “sou dit die einde van my gewees het.”

‘Vroue wat soos tien man veg’

Carvajal het vervolgens die dryfkrag agter daardie moedige Indiane beskryf. ‘Ons het vroue gesien wat as vrouekapteins voor die manne uit geveg het. Hierdie vroue is wit en lank, met lang, gevlegte hare wat om hulle kop gedraai is. Hulle is gespierd, en met hulle boog en pyle in die hand veg hulle net so hard soos tien man.’

Of die ontdekkers werklik vrouekrygers gesien het of, soos een bron dit stel, “bloot ’n lugspieëling weens boskoors”, is onbekend. Maar volgens ten minste party verslae het Orellana en Carvajal, teen die tyd dat hulle die monding van die ontsaglike rivier bereik en die Atlantiese Oseaan ingevaar het, geglo dat hulle ’n vlugtige blik op die Nuwe Wêreld se weergawe van die Amasones gekry het, die wrede vrouekrygers wat in Griekse mitologie beskryf word.a

Monnik Carvajal het die verhaal van die Amerikaanse Amasones vir die nageslag bewaar deur dit in te sluit in sy ooggetuieverslag van Orellana se agt maande lange ekspedisie. Kaptein Orellana het op sy beurt na Spanje gevaar, waar hy ’n aanskoulike verslag gegee het van sy reis oor wat hy die Río de las Amazonas, of Amasonerivier, genoem het. Kort voor lank het 16de-eeuse kartograwe ’n nuwe naam op die ontwikkelende kaart van Suid-Amerika geskryf—die Amasone. Dít is hoe die Amasonewoud in mites gehul is, maar nou word daardie woud deur werklikhede geteister.

[Voetnoot]

a Die woord “Amasone” kom waarskynlik van die Griekse woord a, wat “sonder” beteken, en ma·zosʹ, wat “bors” beteken. Volgens oorlewering het die Amasonevrouens hulle regterbors afgesny om die pyl en boog makliker te hanteer.

[Foto-erkenning op bladsy 3]

Agtergrond bo: The Complete Encyclopedia of Illustration/J. G. Heck

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel