Skaduwees oor die reënwoud
VANUIT ’n vliegtuig gesien, laat die Amasonereënwoud ’n mens aan ’n kontinentale pluistapyt dink, en dit lyk nou nog net so groen en ongerep soos toe Orellana dit ontdek het. Terwyl jy al sukkelende deur die warm, klam woud loop en vir insekte so groot soos soogdiertjies koes, vind jy dat dit moeilik is om te onderskei waar die werklikheid eindig en waar fantasie begin. Wat soos blare lyk, word vlinders, liane word slange en stukke droë hout word verskrikte knaagdiere wat so vinnig as moontlik wegskarrel. In die Amasonewoud is die onderskeid tussen feit en fiksie steeds vaag.
“Die grootste ironie”, sê een waarnemer, “is dat die Amasone-werklikheid so fantasties soos die mites daaroor is.” En dit ís fantasties! Stel jou ’n woud so groot soos Wes-Europa voor. Vul dit met meer as 4000 verskillende boomspesies. Verfraai dit met die skoonheid van meer as 60 000 blomplantspesies. Kleur dit in met die skitterende skakerings van 1000 voëlspesies. Versier dit met 300 soogdierspesies. Vul dit met die gegons van sowat tweemiljoen insekspesies. Nou kan jy sien waarom enigiemand wat die Amasonereënwoud beskryf op die ou end net die oortreffende trap gebruik. Geen ander trap van vergelyking sal reg laat geskied aan die milddadige biologiese verskeidenheid van hierdie reënwoud wat die grootste tropiese reënwoud op aarde is nie.
Die afgesonderde “lewende dooies”
Negentig jaar gelede het die Amerikaanse skrywer en humoris Mark Twain hierdie bekoorlike woud beskryf as “’n betowerende land, ’n land met ’n oormaat van tropiese wonders, ’n romantiese land waar al die voëls en blomme en diere eintlik in die museum behoort en waar die alligator en die krokodil en die aap só tuis gelyk het asof hulle in die dieretuin was”. Vandag is daar ’n ernstiger sy aan Twain se gevatte opmerkings. Museums en dieretuine kan binnekort die enigste tuiste vir ’n toenemende aantal tropiese wonders van die Amasone wees. Waarom?
Die vernaamste oorsaak is klaarblyklik die feit dat die mens besig is om die Amasonereënwoud uit te kap en die natuurlike tuiste van die streek se flora en fauna uit te roei. Maar benewens grootskaalse habitatvernietiging is daar ander—subtieler—oorsake wat plant- en dierspesies in “lewende dooies” verander, hoewel hulle nog lewe. Met ander woorde, kenners meen dat daar niks is wat kan keer dat die spesies uitsterf nie.
Een van hierdie oorsake is afsondering. Staatsamptenare wat in bewaring belangstel, verbied dalk die gebruik van die kettingsaag in ’n deel van die woud om die voortbestaan van spesies wat daar lewe te verseker. Maar ’n klein woudeiland bied vir hierdie spesies die vooruitsig op uiteindelike dood. Protecting the Tropical Forests—A High-Priority International Task gee ’n voorbeeld om toe te lig waarom klein woudeilande lewe nie baie lank kan onderhou nie.
Tropeboomspesies bestaan dikwels uit manlike en vroulike bome. Om voort te plant, kry hulle hulp van vlermuise wat stuifmeel van manlike na vroulike blomme dra. Hierdie bestuiwingsdiens werk natuurlik net as die bome binne die vlermuis se vlieggebied groei. As die afstand tussen ’n vroulike en ’n manlike boom te groot word—wat dikwels gebeur wanneer ’n woudeiland eindelik deur ’n see van verskroeide aarde omring word—kan die vlermuis nie die gaping oorbrug nie. Die bome word dan, volgens die verslag, “‘lewende dooies’ aangesien hulle langtermynvoortplanting nie meer moontlik is nie”.
Hierdie band tussen bome en vlermuise is maar een van die verhoudings wat die Amasone se natuurgemeenskap vorm. Kortom, die Amasonewoud is soos ’n groot huis wat losies verskaf aan ’n groep individue wat verskillend is en tog ’n noue onderlinge verband het. Om oorbewoning te vermy, woon die bewoners van die reënwoud op verskillende vlakke, party na aan die grond en ander hoog bo in die wouddak. Alle inwoners het werk, en hulle werk 24 uur aaneen—party in die dag, ander gedurende die nag. As alle spesies toegelaat word om hulle deel by te dra, verloop die werk van hierdie ingewikkelde gemeenskap van Amasoneflora en -fauna seepglad.
Die Amasone se ekosisteem (“eko” kom van oiʹkos, die Griekse woord vir “huis”) is egter delikaat. Selfs as die mens hierdie woudgemeenskap net steur deur ’n paar spesies daaruit weg te neem, weerklink sy ontwrigting deur al die vlakke van die woudhuis heen. Bewaringsgesinde Norman Myers raam dat die uitwissing van ’n enkele plantspesie uiteindelik tot die uitsterwing van tot 30 dierspesies aanleiding kan gee. En aangesien die meeste tropiese bome weer op diere staatmaak vir saadverspreiding, lei die mens se uitroeiing van die dierspesies tot die uitwissing van die bome wat hulle bedien. (Sien die venster “Die boom-vis-verhouding.”) Net soos afsondering, laat die versteuring van verhoudings al hoe meer woudspesies “lewende dooies” word.
Is die verlies gering wanneer klein dele uitgekap word?
Party regverdig ontbossing van klein gebiede deur te redeneer dat die woud sal herstel en dat nuwe groenigheid oor ’n kaal stuk grond sal groei, amper net soos ons liggaam ’n nuwe vel oor ’n sny in ’n vinger laat groei. Reg? Wel, nie eintlik nie.
Dit is natuurlik waar dat die woud weer groei as die mens ’n ontboste strook lank genoeg ongesteurd laat. Maar dit is ook waar dat die nuwe laag plantegroei net so min met die oorspronklike woud ooreenkom as wat ’n swak fotokopie met die oorspronklike dokument ooreenkom. Ima Vieira, ’n Brasiliaanse botanikus, het ’n stuk woud in die Amasone bestudeer wat ’n eeu lank kans gehad het om te herstel, en sy het gevind dat slegs 65 van die 268 boomspesies wat voorheen welig in die ou woud gegroei het vandag ’n deel van die nuwe woud uitmaak. Hierdie selfde verskil geld vir die gebied se dierspesies, sê die botanikus. Hoewel ontbossing dus nie, soos sommige beweer, groen woude in rooi woestyne verander nie, verander dit wel dele van die Amasonereënwoud in ’n swak nabootsing van die oorspronklike.
Buitendien, al word selfs net ’n klein strook van die woud uitgekap, vernietig dit dikwels baie plante en diere wat net in daardie deel van die woud, en nêrens anders nie, groei, rank en klim. Navorsers in Ecuador het byvoorbeeld 1025 plantspesies gevind in ’n sekere gebied wat 1,7 vierkante kilometer tropiese woud beslaan. Meer as 250 van daardie spesies het nêrens anders ter wêreld gegroei nie. “’n Plaaslike voorbeeld”, sê Brasiliaanse ekoloog Rogério Gribel, “is die sauim-de-coleira (gespikkelde oop-gesig leeu-apie)”, ’n klein, bekoorlike apie wat lyk asof hy ’n wit T-hempie dra. “Die paar oorblywendes lewe in ’n klein woudstrook naby Manaus in die sentrale deel van die Amasone, maar die vernietiging van daardie klein habitat”, sê dr. Gribel, “sal hierdie spesie vir ewig uitwis.” Klein dele is uitgekap, maar die verliese is groot.
Die “tapyt” word opgerol
Volslae ontbossing werp egter die onrusbarendste skaduwee oor die Amasonereënwoud. Padbouers, houtkappers, mynwerkers en hordes ander is besig om die woud soos ’n vloertapyt op te rol en hele ekosisteme in ’n oogwink te vernietig.
Hoewel daar ’n sterk meningsverskil is oor presies hoe vinnig die jaarlikse woudvernietiging in Brasilië plaasvind—na matige raming 36 000 vierkante kilometer per jaar—is daar dalk altesaam meer as 10 persent van die Amasonereënwoud reeds vernietig, ’n gebied groter as Duitsland. Veja, Brasilië se vernaamste weekblad, het berig dat daar in 1995 sowat 40 000 bosbrande, wat veroorsaak is deur boere wat bome afkap en brand, in die land gewoed het—vyf keer meer as die vorige jaar. Die mens is besig om die woud met sulke ywer af te brand, het Veja gewaarsku, dat dele van die Amasone na ’n “inferno aan die groen grens” lyk.
Spesies verdwyn—Maak dit saak?
‘Maar het ons al daardie miljoene spesies nodig?’ vra sommige. Ja, ons het, sê bewaringsgesinde Edward O. Wilson, van Harvard-universiteit. “Aangesien ons afhanklik is van werkende ekosisteme om ons water te reinig, ons grond te verryk en die lug te skep wat ons inasem”, sê Wilson, “is biodiversiteit beslis nie iets om onverskillig uit te wis nie.” Die boek People, Plants, and Patents sê: “Toegang tot oorvloedige genetiese diversiteit sal die sleutel tot die mens se voortbestaan wees. As diversiteit verdwyn, sal ons spoedig ook verdwyn.”
Trouens, die uitwerking wat spesievernietiging het, strek baie verder as afgekapte bome, bedreigde diere en inboorlinge wat geteister word. (Sien die venster “Die menslike faktor”.) Die feit dat woude kleiner word, kan jou raak. Dink hieraan: ’n Boer in Mosambiek wat kassawestele afsny, ’n moeder in Oesbekistan wat ’n voorbehoedpil drink, ’n gewonde seuntjie in Sarajevo wat morfien toegedien word of ’n klant in ’n winkel in New York wat ’n eksotiese parfuum ruik—al hierdie mense, sê die Panos-instituut, gebruik produkte wat van die tropiese woud afkomstig is. Dit is hoe die gevestigde woud mense oor die hele wêreld baat—jy inkluis.
Geen fees, geen hongersnood
Reg genoeg, die Amasonereënwoud kan nie ’n wêreldfees voorsien nie, maar dit kan help om ’n wêreldwye hongersnood te voorkom. (Sien die venster “Die vrugbaarheidsmite”.) Hoe? Wel, in die sewentigerjare het die mens op groot skaal ’n paar plantvariëteite begin saai wat rekordoeste gelewer het. Hoewel hierdie superplante nog 500 miljoen mense help voed het, steek daar iets agter. Aangesien dit aan genetiese variasie ontbreek, is dit swak en vatbaar vir siekte. ’n Virus kan ’n land se superoes in groot mate vernietig.
Om dus oeste voort te bring wat groter weerstandsvermoë het en verhongering te voorkom, spoor die VN se Voedsel- en Landbou-Organisasie (VLO) nou die “gebruik van ’n groter reeks genetiese materiaal” aan. En dit is waar die reënwoud en sy oorspronklike bewoners ’n rol speel.
Aangesien tropiese woude meer as die helfte van die wêreld se plantspesies bevat (waaronder ongeveer 1650 spesies wat potensiaal as voedselgewasse het), is die Amasonekwekery die ideale plek vir enige navorser wat op soek is na wilde plantspesies. Boonop weet die woudbewoners hoe om hierdie plante te benut. Brasilië se Cayapo-Indiane kweek byvoorbeeld nie net nuwe gewasvariëteite nie, maar bewaar ook monsters in genebanke aan die heuwelhange. Die kruising van hierdie wilde gewasvariëteite met die swak, gekweekte gewasvariëteite sal die sterkte en weerstandsvermoë van die mens se voedselgewasse verhoog. En daardie versterking is dringend nodig, sê VLO, want “’n vermeerdering van 60% in voedselopbrengste is noodsaaklik in die volgende 25 jaar”. Ten spyte hiervan beweeg stootskrapers wat die woud vernietig dieper die Amasonereënwoud in.
Die gevolge? Wel, die mens se vernietiging van die reënwoud is baie soos ’n boer wat sy koringsaad eet—hy stil sy onmiddellike honger, maar bedreig toekomstige voedselvoorraad. ’n Groep deskundiges op die gebied van biodiversiteit het onlangs gewaarsku dat “die bewaring en ontwikkeling van die oorblywende gewasdiversiteit ’n saak van lewensbelang vir die wêreld is”.
Belowende plante
Stap nou die “woudapteek” binne en jy sal sien dat die mens se lot verstrengel is met die tropiese rank- en ander plante. Byvoorbeeld, alkaloïed wat uit Amasonerankplante getrek word, word as spierverslappers voor ’n operasie gebruik; 4 uit 5 kinders met leukemie word gehelp om langer te lewe danksy die chemikalieë wat in die rooskleurige kanniedood, ’n woudblom, aangetref word. Die woud voorsien ook kinien, wat gebruik word as ’n middel teen malaria; digitalis, wat gebruik word om hartversaking te behandel en diosgenien wat in geboortebeperkingspille gebruik word. Ander plante lyk belowend in die stryd teen vigs en kanker. “In die Amasone alleen”, sê ’n VN-verslag, “is 2000 plantspesies aangeteken wat deur die inboorlingbevolking as medisyne gebruik word en wat farmaseutiese potensiaal het.” ’n Ander studie toon dat 8 uit elke 10 mense regoor die wêreld geneeskragtige plante gebruik om hulle siektes te behandel.
Dit maak dus sin om die plante te red wat ons red, sê dr. Philip M. Fearnside. “Verlies aan Amasonewoud word beskou as ’n ernstige potensiële terugslag vir pogings om geneesmiddels vir kanker onder mense te vind. . . . Die opvatting dat die merkwaardige suksesse van die moderne geneeskunde ons toelaat om sonder ’n groot deel van hierdie voorraad klaar te kom”, voeg hy by, “verteenwoordig ’n potensieel dodelike vorm van aanmatiging.”
Die mens gaan nietemin voort om diere en plante vinniger uit te roei as wat hulle ontdek en geïdentifiseer kan word. Dit laat ’n mens wonder: ‘Waarom duur ontbossing voort? Kan die neiging verander word? Het die Amasonereënwoud ’n toekoms?’
[Venster op bladsy 8]
Die vrugbaarheidsmite
Die opvatting dat Amasonegrond vrugbaar is, sê die tydskrif Counterpart, is ’n “mite wat moeilik is om af te skud”. In die 19de eeu het ontdekkingsreisiger Alexander von Humboldt die Amasone as die “graanskuur van die wêreld” beskryf. ’n Eeu later het die Amerikaanse president, Theodore Roosevelt, eweneens gedink dat die Amasone belowend lyk vir goeie landbou. Hy het geskryf: “So ’n ryk en vrugbare land kan nie ongebruik gelaat word nie.”
Dit is waar, die landbouer wat soos hulle dink, vind dat die grond ’n jaar of twee ’n redelik goeie oes lewer omdat die as van verbrande bome en plante as bemesting dien. Maar daarna word die grond onvrugbaar. Hoewel die woud se welige groenigheid dit laat lyk of die grond daaronder vrugbaar is, is die grond in werklikheid die woud se swak punt. Waarom?
Ontwaak! het met dr. Flávio J. Luizão, ’n navorser by die Nasionale Instituut vir Navorsing in die Amasone en ’n deskundige op die gebied van reënwoudgrond, gesels. Hier is van sy kommentare:
‘Anders as baie ander woudgrond, kry die meeste grond in die Amasonebekken nie voedingstowwe van onder af, van rots wat ontbind, nie want die moedergesteente is arm aan voedingstowwe en is te diep onder die oppervlak geleë. Die uitgeloogde grond kry eerder voedingstowwe van bo af, van reën en humuslae. Maar reëndruppels en dooie blare het hulp nodig om voedingstowwe te word. Waarom?
‘Reënwater wat op die reënwoud val, het op sigself nie baie voedingstowwe nie. Wanneer dit egter op die blare val en langs die stam van die bome afrol, versamel dit voedingstowwe van blare, takke, mos, alge, mierneste, stof. Teen die tyd dat die water in die grond insyfer, het dit goeie plantkos geword. Ten einde te keer dat hierdie vloeibare kos sommer net in die spruitjies wegvloei, gebruik die grond ’n voedingstofopvanger wat deur ’n mat van fyn wortels gevorm word en dwarsdeur die eerste paar sentimeter van die bogrond versprei is. ’n Bewys van die opvanger se doeltreffendheid is dat die spruitjies wat hierdie reënwater ontvang ’n selfs swakker voedingstofinhoud as die woudgrond self het. Die voedingstowwe bereik dus die wortels voordat die water in die spruitjies of riviere beland.
‘Nog ’n bron van voedsel is humus—blare, takkies en vrugte wat afval. Omtrent agt ton fyn humus beland jaarliks op een hektaar woudvloer. Maar hoe kom die humus onder die grondoppervlak en in die plante se wortelstelsels? Termiete help hiermee. Hulle sny ronde stukkies uit die blare en dra hierdie stukkies na hulle ondergrondse neste. Veral gedurende die nat seisoen is hulle ’n bedrywige klomp wat ’n ongelooflike 40 persent van alle humus op die woudvloer ondergronds neem. Daar gebruik hulle die blare om tuine te maak vir die kweek van swamme. Hierdie swamme ontbind op hulle beurt die plantmateriaal en stel stikstof, fosfor, kalsium en ander elemente vry—kosbare voedingstowwe vir plante.
‘Wat kry die termiete in ruil hiervoor? Voedsel. Hulle eet die swamme en sluk dalk stukkies blare ook in. Daarna spring die mikro-organismes in die termiete se ingewande aan die werk om die termiete se kos chemies om te sit sodat die insekte se uitskeiding gevolglik plantkos word wat ryk aan voedingstowwe is. Reënval en die herbenutting van organiese stowwe is dus twee van die faktore wat die reënwoud laat voortbestaan en groei.
‘Dit is maklik om te sien wat gebeur as ’n mens die woud ontbos en brand. Daar is nie meer ’n wouddak om reënval op te vang of ’n humuslaag om te herbenut nie. In plaas daarvan tref stortreëns die kaal grond regstreeks met groot geweld, en daardie aanslag maak die oppervlak hard. Terselfdertyd laat die sonlig wat direk op die grond val die oppervlaktemperatuur styg en die grond dig word. Die gevolg is dat reënwater nou van die land af wegvloei, en nie die grond nie, maar die riviere voed. Verlies aan voedingstowwe van ontboste en verbrande grond kan so groot wees dat die strome naby ontboste gebiede selfs te veel voedingstowwe het, wat die lewe van waterspesies bedreig. Dit is dus duidelik, as die woud ongesteurd gelaat word, hou dit homself in stand, maar die mens se inmenging beteken rampspoed.’
[Venster/Prent op bladsy 7]
Die menslike faktor
Ontwrigting en ontbossing benadeel nie net plante en diere nie, maar ook mense. Ongeveer 300 000 Indiane, ’n oorblyfsel van die 5000 000 Indiane wat eens Brasilië se Amasonegebied bewoon het, lewe steeds in eenheid met hulle woudomgewing. Die Indiane word al hoe meer gesteur deur houtkappers, goudsoekers en ander, waarvan baie die Indiane as “struikelblokke in die weg van ontwikkeling” beskou.
Dan is daar die caboclos, sterk mense met gemengde bloed wat van blankes en Indiane afstam en wie se voorvaders hulle omtrent 100 jaar gelede in die Amasonegebied gevestig het. Hulle huise is op pale al langs die rivier gebou en hulle het dalk nog nooit van die woord “ekologie” gehoor nie, maar hulle leef van die woud sonder om dit te vernietig. Tog word hulle alledaagse bestaan geraak deur die vloed van nuwe immigrante wat nou hulle woudtuiste instroom.
Trouens, regdeur die Amasonereënwoud is die toekoms onseker vir die ongeveer 2000-000 neutplukkers, rubbertappers, vissers en ander inboorlinge, wat in harmonie met die kringlope van die woud en die ritmes van die riviere saamleef. Baie meen dat pogings om die woud te bewaar verder moet strek as die beskerming van mahoniebome en lamantyne. Dit moet ook die mense beskerm wat die woud bewoon.
[Venster/Prente op bladsy 9]
Die boom-vis-verhouding
Gedurende die reënseisoen styg die vlak van die Amasonerivier en oorstroom die bome wat in die laagliggende woude groei. Wanneer die oorstroming ’n hoogtepunt bereik, dra die meeste bome in hierdie woude vrug en skiet hulle saad—maar daar is natuurlik geen onderwaterknaagdiere wat dit kan versprei nie. Hier speel die tambaqui-vis (Colonnonea macropomum) ’n rol, want dit is ’n drywende neutekraker met ’n fyn reuksin. Hy swem tussen die takke van onderwaterbome en kan ruik watter bome gereed is om saad te skiet. Wanneer die sade in die water val, kraak die vis die doppe met sy sterk kake, sluk die sade in, verteer die vlesige vrug wat dit omhul en laat die sade op die woudvloer val om te ontkiem wanneer die vloedwater sak. Die vis en die boom vind hierby baat. Die tambaqui gaar vet op, en die boom bring ’n nageslag voort. Wanneer daardie bome afgekap word, word die voortbestaan van die tambaqui en sowat 200 ander spesies van vrugetende visse bedreig.
[Prent op bladsy 5]
Vlermuise dra stuifmeel van manlike na vroulike blomme
[Erkenning]
Rogério Gribel
[Prent op bladsy 7]
Jou kwekery en apteek
[Prent op bladsy 7]
Brande bedreig die groen grens
[Erkenning]
Philip M. Fearnside