Spitstyd tydens hoogwater
Deur Ontwaak!-medewerker in Brittanje
ONGEVEER tienmiljoen voëls oorwinter elke jaar in Noordwes-Europa. Hulle kom nie net van broeiplekke in die Noordpoolstreke nie, maar selfs ook van Kanada en Sentraal-Siberië. Onderweg na Afrika sluit baie ander by hulle aan op die Oos-Atlantiese vliegroete, ’n trekroete oor die Britse Eilande.
Voedsel en rusplekke word voorsien deur ’n reeks van meer as 30 groot tregtermondings aan die kus van Brittanje. Elkeen van hulle sien om na meer as 20 000 voëls, maar die belangrikste een is The Wash, aan die ooskus van Engeland, wat meer as ’n kwartmiljoen voëls huisves—waaronder wulpe, bont strandlopers, grutto’s, knoete, oestervangers, strandlopers, rooipootruiters en steenlopers. Watter soort voedsel voorsien die tregtermondings, en waarom is hulle so belangrik?
Die belangrikheid van tregtermondings
Tregtermondings is halfingeslote kusgebiede waar seewater en vars water meng. Hier onderhou die warm water, wat ryk is aan minerale sowel as organiese voedingstowwe, die helfte van die lewende materie van die wêreld se oseane. Garnale, strandvlooie en ander lewensvorme word in die sand aangetref, maar die modder in tregtermondings onderhou selfs ’n groter verskeidenheid lewe.
Modder verskil na gelang van die tekstuur van die afsaksel waaruit dit bestaan. Elke moddersoort bevat sy eie spesiale seediertjies, die waadvoëls se voedsel.a In ’n vierkante meter van een soort modder kan daar byvoorbeeld miljoene piepklein slakkies wees wat minder as drie millimeter lank is! Daarbenewens onderhou die modder weekdiere, borselwurms en seewurms tesame met ander ongewerwelde diertjies.
Springgetye
Al is daar derduisende waadvoëls in ’n tregtermonding, kan dit moeilik wees om hulle op te spoor omdat hulle gewoonlik oor baie groot gebiede versprei is. Maar wanneer die springgetye aanbreek, vind ’n baie opvallende verandering in die situasie plaas. Die hoogwatervloed veroorsaak dat die sand- en modderbanke oorstroom word, wat die waadvoëls na die soutmoerasseb en ander hoër liggende dele dwing. Dit is dan baie makliker om hulle dop te hou terwyl hulle byeenkom en in groot gemengde swerms slaap.
Vandag, ’n helder, sonnige oggend in April, sal daar ’n springgety wees. ’n Koue noordoostelike wind waai terwyl ons op pad is na ’n klein, skilderagtige tregtermonding waar die Alde-rivier deur die Engelse graafskap Suffolk kronkel en in die Noordsee uitmond. Hier bereik die waadvoëls se winterbevolking ’n hoogtepunt van ’n rapsie meer as 11 000, en dit sal vir ons baie makliker wees om hulle bedrywighede dop te hou, aangesien die tregtermonding net ’n kilometer wyd is.
’n Reeks oneffe golfbrekers staan al met die rivier langs. Party van die oewers is oortrek van biesies, ander van sandhawer. Die res bestaan uit kaal, swart balke en klip. ’n Entjie stroomop, tussen ’n interessante groep Viktoriaanse geboue, is die Snape Maltings-konsertsaal, die sentrum van die Aldeburg-musiekfees. Maar ons moet verder langs die rivier af na ’n beskutte plek toe loop. Die wind is nou sterk en bytend, en kort voor lank begin ons oë brand.
Toe ons by die rand van die rivier aankom (sien prent, punt A), word ons dadelik deur die duidelike, helder roep van ’n paar bontelsies begroet. Hulle is net omtrent 40 meter van ons af, aan ons kant van die tregtermonding en besig om mekaar se vere glad te stryk. Elke voël knabbel aan die kante van sy bors met die punt van sy dun, na bo geboë snawel. Ons geniet dit om na hulle te kyk, maar ons moet verder stap, want daar is nog baie meer te sien.
Die opkomende gety
Die gety kom nou vinnig op; daarom haas ons ons na ons gekose uitkykpunt. (Sien prent, punt B.) Op pad daarheen vlieg ’n rooipootruiter—wat sy reputasie as die wag van die tregtermonding ophou—uit die soutmoeras op met sy skril waarskuwingsroep, “toehoehoe-toehoehoe”. Sy rooi bene vorm ’n kontras met die spierwit agterrand van sy vlerke wat in die sonlig glinster. Toe ons ons bestemming bereik, bespied ons vinnig die krimpende sand- en modderbanke.
In die verte is ’n klomp rooipootruiters rustig besig om kos liggies uit die modder op te pik, terwyl ander in meer beskutte inhamme na kos soek. Bont strandlopers, met hulle kenmerkende snawels wat na onder geboë is, bly nader aan mekaar, in kleinerige groepies. Hulle loop haastig in ’n verstrooide lyn al pikkende oor die modder en probeer naby die waterkant bly. Hier en daar slenter ’n wulp verby, terwyl hy die sagte, slymerige slyk versigtig deursoek. Verder stroomop soek ’n paar steenlopers kos deur hulle kort, effens na bo geboë snawels te gebruik om opdrifsels op die getylyn op die ou sandbank om te rol.
Skielik vul die wilde, weemoedige, drielettergrepige fluit “tlee-oo-ee” van die grys strandloper die lug. Terwyl hy bo-oor ons vlieg, kan ’n mens duidelik die onderste swart deel van sy vlerke teen die res van sy vaal onderkant sien. Vierhonderd goue strandlopers, dig bymekaar in ’n ovaalvormige formasie, rus elkeen met sy kop onder sy vlerk, teen die wind in. Elke nou en dan is daar ’n onenigheid tussen ’n paar van hulle wanneer die rangorde herbevestig word. Die meeste van hulle het nog hulle gespikkelde wintervere—goud en donker aan die bokant; vaal om die oë, gesig en onderkant en ’n swart snawel. Wanneer ons ons teleskoop verder draai, sien ons ook ringnekstrandlopertjies.
’n Wydverspreide swerm van ongeveer 1000 Europese kiewiete daag skielik op. Die voëls kom met groot uitgelatenheid nader en vlieg op hulle onnavolgbare manier deur die lug. Die Europese kiewiete en die goue strandlopers was op die vrugbare grond aan die westekant, hulle geliefkoosde eetplek. Hulle kom nie net na die tregtermonding toe om te eet nie, maar ook om te bad en hulle vere glad te stryk.
Die agtergrondgeraas kom hoofsaaklik van die borrelende roep van die wulpe, die rustiger, musikale gefluit van die rooipootruiters en die gekrys van swartkopmeeue. Twee rosse grutto’s krap diep in die modder. ’n Paar oestervangers trek borselwurms uit met hulle dik, oranje-rooi snawels. ’n Eensame grys strandloper gee ’n paar statige treë, staan stil, skud sy regterpoot, gaan dan agter sy prooi aan en sluk. Maar die opkomende gety is vinnig besig om hulle almal in te haal!
Die stormloop begin
Skielik vlieg die voëls op om swerms te vorm, meestal van hulle eie soort. Dit is ’n indrukwekkende gesig, want die hordes waadvoëls vlieg in formasie. Die golwende swerms verander van kleur wanneer die son op hulle skyn—van donkerbruin tot helder silwerwit—die een oomblik duidelik sigbaar en die volgende feitlik deel van die agtergrond van die modderige opkomende gety. Van donker na silwer, van silwer na donker, in volmaakte ritme, en terselfdertyd verander die formasie voortdurend—van byna ovaalvormig na rond, dan na ’n spiraal en uiteindelik ’n reguit lyn. Die meeste land weer op die modderbanke wat nog nie deur die gety oorstroom is nie.
Die modder- en sandbanke om ons gaan kort voor lank onder water wees; daarom haas ons ons teen die rivier op, vergesel van ’n egalige stroom waadvoëls. Die eerstes om ons verby te steek, is klein swerms bont strandlopers, met hulle vinnige vlerkslae, wat kontak behou deur elke nou en dan hulle kort, skril fluit te gee. Dan kom die groter rooipootruiters verby; hulle swerm is meer uitgesprei en statiger. Wulpe so groot soos meeue vlieg verby en laat in die verbygaan hulle pragtige, borrelende, soet trilgeluid hoor. Ná hulle kom die bontelsies in een groot swerm, met hulle swart en wit wat skerp teen die blou lug afsteek. Hulle gaan land aan die bopunt van die tregtermonding, hulle lang, leiblou bene net-net sigbaar bo die water.
Die sitplek
Ons stap ’n bietjie vinniger tot by ’n hoër punt waar die tregtermonding vernou. (Sien prent, punt C.) Soorte is geneig om bymekaar te bly, hoewel dit beslis nie die reël is nie. Terwyl die gety steeds vinnig opkom, sluit nog voëls by die menigte aan. Dit veroorsaak ’n voortdurende geskuif namate staanplek op die oewers al hoe minder word, met ’n immertoenemende vraag na ruimte deur dié wat laat kom.
Die hoogwater is nou hier. Die Europese kiewiete en goue strandlopers het teruggevlieg na die vrugbare grond toe. Al die oorblywende voëls moes van die modder af padgee en op die ou rivieroewers gaan sit. Die aanhoudende gefluit van die oestervangers is heeltemal buite verhouding met hulle getalle. Die rooipootruiters en wulpe dra by tot die agtergrondlawaai, wat nou oorheers word deur ’n lewerik wat bo ons koppe sing—voorwaar ’n wonderlike atmosfeer.
Ons vertrek terwyl die waadvoëls hulle welverdiende middagslapie geniet, terwyl hulle wag tot die hoë springgety verby is. Ten spyte van die feit dat party van hulle agter die seemuur is en nie die water kan sien nie, sal die voëls weet wanneer om na hulle modderbanke of strande terug te keer. As volmaakte tydhouers wat instinktief wys is, weet hulle hoe die gety werk.
Ja, dit is opwindend om te sien wat met spitstyd tydens hoogwater plaasvind, veral die eerste keer!
[Voetnote]
a In die Verenigde State en Kanada staan waadvoëls (orde Charadriiformes) oor die algemeen bekend as strandvoëls.
b Grond wat gereeld deur die gety oorstroom word.
[Venster/Prent op bladsy 26]
Geniet die spitstyd
Om ’n spitstyd tydens hoogwater te geniet, moet jy eerstens ’n geskikte tregtermonding vind. Dan moet jy ’n bietjie inligting oor die omgewing kry, soos waarheen die waadvoëls gaan en waar om na hulle te gaan kyk. Raadpleeg getytafels vir ’n hoë springgety net ná ’n vol- of nuwemaan. Benewens reistyd moet jy drie uur toelaat vir ’n goeie kykie na die voëls en ten minste twee uur voor hoogwater daar arriveer.
Watter toerusting sal jy nodig hê? As jy nie bekend is met waadvoëls nie, kan jy ’n boek saamneem om jou te help om hulle te identifiseer. ’n Verkyker kan ook baie nuttig wees. Jy sal gou uitvind dat elke soort waadvoël sy eie kenmerkende eienskappe het en kos soek op die manier waarvoor sy snawel gemaak is. ’n Teleskoop is nie noodsaaklik nie—maar warm, waterdigte klere is wel! Wees op jou hoede vir gevare. Moenie op die modderbanke gaan stap as jy dit nie goed ken nie. Dit is maklik om deur die vinnig opkomende gety vasgekeer te word. Daarbenewens kan jy maklik verdwaal as daar skielik mis oor die see opkom. Hou ook die wind in gedagte. Stormwinde kan vloedgolwe veroorsaak, wat baie gevaarlik in enige tregtermonding kan wees.
[Venster/Prent op bladsy 27]
Vernaamste tregtermondings van die wêreld
Die Wadde-see, in Nederland, is die belangrikste tussentyse gebied in Europa waar daar soms seker meer as viermiljoen waadvoëls is. Dit strek noordwaarts tot by die suidweste van Jutland. Drie goeie plekke in hierdie uitgestrekte gebied om te besoek, is die laagwaterbrug by Rømø, in Denemarke; die Weser-riviermonding, ’n groot rusplek tydens hoogwater, in Duitsland, en Lauwers-see naby Groningen, in Nederland. Op die Iberiese Skiereiland is die noemenswaardigste tregtermonding dié van die Tagus-rivier in Portugal.
Tregtermondings langs Noord- sowel as Suid-Amerika se kus aan die Stille Oseaan voorsien voedsel vir ongeveer ses- tot agtmiljoen waadvoëls. Onder die vernaamste plekke is San Francisco- en Humboldt-baai, in Kalifornië; die 200 vierkante kilometer in Kanada vanaf Vancouver se Boundary-baai om tot by Iona-eiland, Brits-Columbië, asook Alaska se Stikine-tregtermonding en Copperrivier-delta.
Uitstekende plekke vir waadvoëls kan ook gevind word by Bolivar-vlakte en Galveston, in Texas, VSA; by Tai-Po, in Hongkong; by Cairns, in Noordoos-Australië, en naby Mombassa, Kenia.
[Prent op bladsy 24]
Vyf oestervangers
[Prent op bladsy 25]
Knoete wat uit hulle sitplek opvlieg
[Prent op bladsy 25]
ALDE-TREGTERMONDING, SUFFOLK
Snape Maltings- konsertsaal
Waarnemingspunt B
Uitkykpunt C
Eerste waarneming A
[Erkenning]
Snape Maltings Riverside Centre
[Prent op bladsy 26]
Knoet
[Prent op bladsy 26]
Rooipootruiter
Wulp
[Prent op bladsy 27]
Bo: Wulpe