Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 4/22 bl. 4-9
  • Godsdiensoorloë in Frankryk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Godsdiensoorloë in Frankryk
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geskiedkundige agtergrond
  • Wrede onderdrukking
  • Die voorspel tot oorlog
  • Die eerste drie oorloë
  • Bartolomeusnag-slagting
  • Godsdiensoorloë duur voort
  • Vrugte van die oorloë
  • Die Hugenote se vlug na vryheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Die Edik van Nantes—’n Handves vir verdraagsaamheid?
    Ontwaak!—1998
  • Godsdiensonverdraagsaamheid nou erken
    Ontwaak!—2000
  • Die Waldense—Ketters of soekers na die waarheid?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 4/22 bl. 4-9

Godsdiensoorloë in Frankryk

OP Sondag, 1 Maart 1562, was die hertog van Guise en sy broer Karel, kardinaal van Lotharinge—twee leiers van Franse Katolisisme—saam met hulle gewapende wagte op pad na Wassy, ’n dorp wat oos van Parys geleë is. Hulle het besluit om by die kerk in Wassy te stop om die mis by te woon.

Skielik het hulle mense gesange hoor sing. Die sang het gekom van etlike honderde Protestante wat vir aanbidding in ’n skuur bymekaargekom het. Die soldate het daar ingebars. Gedurende die chaos wat daarop gevolg het, is beledigings heen en weer geslinger en toe het hulle mekaar met klippe begin gooi. Die soldate het begin skiet en tientalle Protestante doodgemaak en honderd ander beseer.

Wat het tot hierdie slagting aanleiding gegee? Wat was die Protestante se reaksie?

Geskiedkundige agtergrond

Gedurende die eerste helfte van die 16de eeu was Frankryk welvarend en het dit ’n groot bevolking gehad. Hierdie ekonomiese en demografiese situasie het gepaardgegaan met pogings om ’n geesteliker en broederliker vorm van Katolisisme te beoefen. Die mense wou ’n kerk hê wat minder rykdom en meer heiligheid gehad het. Sommige geestelikes sowel as geleerde humaniste het godsdienshervormings geëis om misbruike deur hooggeplaaste kerkvorste en die onbevoegdheid van die laer geestelikes teë te werk. Een geestelike wat hom vir vernuwing beywer het, was die Katolieke biskop Guillaume Briçonnet.

Briçonnet het almal in sy bisdom van Meaux aangemoedig om die Skrif te lees. Hy het selfs geld voorsien vir ’n nuwe vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Frans. Kort voor lank het hy hom die gramskap op die hals gehaal van die Sorbonne-universiteit van Teologie in Parys, die bewaker van Katolieke ortodoksie, wat sy pogings onderbreek het. Maar die Biskop het die beskerming geniet van Frans I, wat van 1515 tot 1547 koning van Frankryk was. Op daardie stadium was die koning ten gunste van hervorming.

Maar Frans I het slegs kritiek teen die kerk geduld solank dit nie openbare orde en nasionale eenheid bedreig het nie. In 1534 het Protestantse ekstremiste plakkate opgesit wat die Katolieke mis as afgodery veroordeel het, en selfs ’n plakkaat aan die deur van die koning se slaapkamer vasgespyker. Frans I se gesindheid het gevolglik heeltemal verander en hy het ’n wrede onderdrukkingsveldtog van stapel gestuur.

Wrede onderdrukking

Kort voor lank is Protestante op die brandstapel verbrand. Talle humaniste, hulle ondersteuners asook navolgers van die nuwe Protestantisme het uit die land uitgevlug. Die owerheid het begin om boeke te sensor en beheer oor onderwysers, uitgewers en drukkers uit te oefen.

Die Waldense het die volle gloed van die amptelike teenstand verduur. Hulle was ’n minderheidsgroep van Bybelgeoriënteerde mense wat in arm dorpies in die suidooste van die land gewoon het. Sommige is op die brandstapel verbrand, honderde is vermoor en ongeveer 20 van hulle dorpe is verwoes.—Sien venster op bladsy 6.

’n Raad van Katolieke biskoppe, wat bewus was van die nodigheid van hervorming in die kerk, het in Desember 1545 in Trente, Italië, bymekaargekom. Toe die raad in 1563 ontbind het, volgens The Cambridge Modern History, was die “algemene uitwerking daarvan . . . om die hande te versterk van diegene wat vasbeslote was om Protestantisme uit te roei”.

Die voorspel tot oorlog

Baie van die lede van die hervormingsbeweging in die Katolieke Kerk het moeg geword om te wag vir veranderinge en het hulle aan die kant van Protestantisme geskaar. In ongeveer 1560 het talle Franse aristokrate en hulle ondersteuners aangesluit by die Hugenote, soos die Protestante toe genoem is. Die Hugenote het hulle stem al hoe meer laat hoor. Hulle openbare vergaderinge was soms ’n bron van uittarting en vyandigheid. In 1558 het duisende van hulle byvoorbeeld vier opeenvolgende dae in Parys bymekaargekom om psalms te sing.

Dit alles het die magtige kerkvorste van die Katolieke Kerk sowel as die Katolieke menigtes woedend gemaak. Op aandrang van kardinaal Karel van Lotharinge het koning Hendrik II, wat sy vader, Frans I, opgevolg het, in Junie 1559 die Edik van Écouen uitgevaardig. Die uitgesproke doel daarvan was om die “skandelike Lutherse gepeupel” met wortel en tak uit te roei. Dit het aanleiding gegee tot ’n wrede veldtog teen die Hugenote in Parys.

Hendrik II is ’n paar weke later dood aan wonde wat hy in ’n toernooi opgedoen het. Sy seun, koning Frans II, het op aandrang van die Guise-familie die edik hernieu wat bepaal het dat volhardende Protestante die doodsvonnis kry. Die jaar daarna is Frans II oorlede, en sy moeder, Catharina de Médicis, het in die plek van sy tienjarige broer, Karel IX, regeer. Catharina se versoeningsbeleid het nie by die Guises, wat vasbeslote was om Protestantisme uit te roei, byval gevind nie.

In 1561 het Catharina ’n seminaar in Poissy, naby Parys, gereël, waar Katolieke en Protestantse teoloë bymekaargekom het. In die edik wat in Januarie 1562 uitgevaardig is, het Catharina Protestante die vryheid verleen om buite stede vir aanbidding bymekaar te kom. Die Katolieke was woedend! Dit het die weg berei vir wat twee maande later gebeur het—die slagting van Protestante by die skuur in die dorp Wassy, wat vroeër beskryf is.

Die eerste drie oorloë

Die slagting by Wassy het aanleiding gegee tot die eerste in ’n reeks van agt godsdiensoorloë wat Frankryk van 1562 af tot die middel van die 1590’s in ’n nagmerrie van wedersydse bloedvergieting gedompel het. Hoewel politieke en maatskaplike geskille ook betrokke was, is die bloedbad hoofsaaklik deur godsdiens aangedryf.

Ná die Slag van Dreux in Desember 1562, wat 6000 lewens geëis het, het daardie eerste godsdiensoorlog tot ’n einde gekom. Die Vrede van Amboise, wat in Maart 1563 onderteken is, het aan adellike Hugenote beperkte vryheid verleen om op sekere plekke te aanbid.

“Die tweede oorlog is ontketen weens die Hugenote se vrese vir ’n internasionale Katolieke komplot”, sê The New Encyclopædia Britannica. Destyds was dit gebruiklik vir Katolieke landdroste om burgers te laat hang net omdat hulle Hugenote was. In 1567 het ’n poging deur die Hugenote om koning Karel IX en sy moeder, Catharina, te ontvoer, die tweede oorlog laat uitbreek.

Nadat geskiedskrywers Will en Ariel Durant van ’n besonder bloedige slag by St. Denis, buite Parys, vertel het, het hulle geskryf: “Frankryk het weer eens gewonder watter soort godsdiens mense so ’n slagting laat aanrig.” Kort daarna, in Maart 1568, het die Vrede van Longjumeau aan die Hugenote die geringe verdraagsaamheid toegestaan wat hulle voorheen onder die Vrede van Amboise geniet het.

Die Katolieke was egter woedend en het geweier om by die bepalings van die vrede te hou. In September 1568 het die derde godsdiensoorlog dus uitgebreek. ’n Daaropvolgende vredesverdrag het selfs groter toegewings aan die Hugenote gemaak. Versterkte stede, waaronder die hawestad La Rochelle, is aan hulle afgestaan. ’n Belangrike Protestantse kerkvors, admiraal de Coligny, is ook as lid van die koning se raad aangestel. Die Katolieke was weer eens woedend.

Bartolomeusnag-slagting

Ongeveer ’n jaar later, op 22 Augustus 1572, het Coligny ’n sluipmoordaanval in Parys oorleef wat plaasgevind het terwyl hy van die Louvre-paleis na sy huis gestap het. Die Protestante was briesend en het gedreig om drastiese stappe te doen om hulle te wreek as geregtigheid nie gou geskied nie. In ’n privaat vergadering het die jong koning Karel IX, sy moeder Catharina de Médicis en verskeie prinse besluit om Coligny uit die weg te ruim. Ten einde enige weerwraak te voorkom, het hulle ook beveel dat al die Protestante wat Parys toe gekom het om die troue van die Protestantse Hendrik van Navarre en Catharina se dogter Margareta van Valois by te woon, vermoor word.

Op die aand van 24 Augustus het die klokke van die kerk van Sint-Germain-l’Auxerrois, oorkant die Louvre, die teken gegee vir die slagting om te begin. Die hertog van Guise en sy manne het die gebou waar Coligny geslaap het, bestorm. Coligny is daar vermoor en by die venster uitgegooi, en sy lyk is vermink. Die Katolieke hertog het dié boodskap versprei: “Maak hulle almal dood. Dit is die koning se bevel.”

Vanaf 24 tot 29 Augustus het afgryslike tonele die strate van Parys ontsier. Party het beweer dat die Seine-rivier rooi was van die bloed van duisende vermoorde Hugenote. Ander dorpe het hulle eie slagtings aanskou. Skattings van die dodetal wissel van 10 000 tot 100 000; maar volgens die meeste skattings was dit ten minste 30 000.

“Een feit wat net so verskriklik as die slagting self is”, het ’n geskiedskrywer berig, “was die vreugde wat dit veroorsaak het.” Toe pous Gregorius XIII van die slagting hoor, het hy beveel dat ’n dankseggingseremonie gehou word en het hy sy gelukwense aan Catharina de Médicis gestuur. Hy het ook beveel dat ’n spesiale medalje geslaan word om die slagting van die Hugenote te herdenk en het ’n skildery van die slagting laat skilder, met dié woorde daarop: “Die Pous keur die moord op Coligny goed.”

Na bewering het Karel IX ná die slagting gesigte van sy slagoffers gesien en by sy verpleegster gehuil: “Na watter bose raad het ek geluister! O my God, vergewe my!” Hy is in 1574 op 23-jarige ouderdom oorlede en is deur sy broer Hendrik III opgevolg.

Godsdiensoorloë duur voort

Intussen is die Katolieke bevolking deur hulle leiers opgestook teen die Hugenote. In Toulouse het Katolieke geestelikes hulle volgelinge aangespoor: “Maak almal dood, plunder; ons is julle vaders. Ons sal julle beskerm.” Die koning, parlemente, goewerneurs en kapteins het deur middel van gewelddadige onderdrukking die voorbeeld gestel, en die Katolieke massas het hulle gevolg.

Die Hugenote het egter teruggeveg. Binne twee maande ná die Bartolomeusnag-slagting het hulle die vierde godsdiensoorlog begin. Waar hulle meer as die Katolieke was, het hulle standbeelde, kruisbeelde en altare in Katolieke kerke vernietig en selfs mense doodgemaak. “God wil nie hê dat dorpe of mense behoue moet bly nie”, het Johannes Calvyn, die leier van die Franse Protestantisme, in sy pamflet Verklaring om die Ware Geloof te Handhaaf gesê.

Nog vier godsdiensoorloë het gevolg. Die vyfde het in 1576 geëindig toe koning Hendrik III ’n vredesverdrag onderteken het wat aan die Hugenote algehele godsdiensvryheid in die hele Frankryk gegee het. Die ultra-Katolieke stad Parys het uiteindelik in opstand gekom en Hendrik III uitgedryf, wat na hulle mening te tegemoetkomend teenoor die Hugenote was. Die Katolieke het ’n opposisieregering, die Katolieke Heilige Liga, opgestel onder leiding van Hendrik van Guise.

Uiteindelik, gedurende die agtste godsdiensoorlog, of die Oorlog van die Drie Hendriks, het Hendrik III (Katoliek) ’n bondgenootskap met sy toekomstige opvolger, Hendrik van Navarre (Protestants), gevorm teen Hendrik van Guise (Katoliek). Hendrik III het daarin geslaag om Hendrik van Guise te laat vermoor, maar in Augustus 1589 is Hendrik III self deur ’n Dominikaanse monnik vermoor. Hendrik van Navarre, wat 17 jaar tevore die Bartolomeusnag-slagting oorleef het, het dus koning Hendrik IV geword.

Aangesien Hendrik IV ’n Hugenoot was, het Parys geweier om hulle aan hom te onderwerp. Die Katolieke Heilige Liga het oral in die land gewapende teenstand teen hom georganiseer. Hendrik het verskeie gevegte gewen, maar toe die Spaanse leër opdaag om die Katolieke by te staan, het hy uiteindelik besluit om Protestantisme te verwerp en die Katolieke geloof aan te neem. Hendrik is op 27 Februarie 1594 gekroon en het Parys binnegegaan, waar die mense, wat geheel en al deur die oorloë uitgeput was, hom as koning toegejuig het.

So het die Franse godsdiensoorloë tot ’n einde gekom ná meer as 30 jaar waartydens Katolieke en Protestante mekaar van tyd tot tyd uitgemoor het. Op 13 April 1598 het Hendrik IV die geskiedkundige Edik van Nantes uitgevaardig, wat gewetens- en godsdiensvryheid aan Protestante verleen het. Volgens die pous was die edik “die ergste ding denkbaar omdat dit aan almal gewetensvryheid gegee het, wat die verskriklikste ding in die wêreld was”.

Regdeur Frankryk het Katolieke gevoel dat die edik Hendrik se belofte om hulle geloof te ondersteun, verbreek het. Die kerk het nie gerus voordat koning Lodewyk XIV, byna ’n eeu later, die Edik van Nantes herroep het en ’n selfs kwaaier vervolging van die Hugenote van stapel gestuur het nie.

Vrugte van die oorloë

Teen die einde van die 16de eeu het Frankryk se welvaart verdwyn. Die helfte van die koninkryk was beleër, geplunder, tot losprys gehou of verwoes. Die soldate het buitensporige eise aan mense gestel, wat tot opstand onder die kleinboere gelei het. Die Protestantse bevolking, wat deur doodsvonnisse, slagtings, verbannings en herroepings uitgedun is, het die 17de eeu as ’n baie kleiner groep binnegegaan.

Op die oog af het die Katolieke die Franse godsdiensoorloë gewen. Maar het God hulle oorwinning geseën? Blykbaar nie. Baie Franse was moeg vir al hierdie bloedvergieting in die naam van God en het ongodsdienstig geword. Hulle was die voorlopers van wat al die anti-Christelike denkrigting van die 18de eeu genoem is.

[Lokteks op bladsy 9]

“God wil nie hê dat dorpe of mense behoue moet bly nie.” Só het die leier van die Franse Protestantisme gesê

[Venster/Prent op bladsy 6]

Die Waldense het standvastig gebly met watter gevolg?

PIERRE VALDES, oftewel Petrus Waldus, was ’n ryk handelaar van Frankryk in die 12de eeu. Gedurende hierdie tyd toe die Rooms-Katolieke Kerk die mense opsetlik in onkunde oor die Bybel gehou het, het Waldus die geld voorsien vir die vertaling van die Evangelies en ander Bybelboeke in die spreektaal van die mense in die suidooste van Frankryk. Hy het toe sy sakeonderneming laat vaar en hom aan die verkondiging van die Evangelie gewy. Kort voor lank het baie mense by hom aangesluit, en in 1184 is hy en sy metgeselle deur pous Lucius III geëkskommunikeer.

Mettertyd het hierdie Bybelgeoriënteerde groepe predikers as die Waldense bekendgeraak. Hulle het ’n terugkeer tot die oortuigings en gebruike van die vroeë Christelike godsdiens verkondig. Hulle het tradisionele Katolieke gebruike en oortuigings verwerp, waaronder aflaatgeld, gebede vir die dooies, vaevuur, Maria-aanbidding, gebede tot die “heiliges”, kinderdoop, verering van die kruis en transsubstansiasie. Die Waldense het gevolglik verskriklike vervolging van die Katolieke Kerk verduur. Die geskiedskrywer Will Durant beskryf die situasie toe koning Frans I ’n kampanje teen nie-Katolieke van stapel gestuur het:

“Kardinaal de Tournon, wat beweer het dat die Waldense in ’n verraderlike sameswering teen die regering was, het die sieklike, besluitelose koning oorreed om ’n bevel te onderteken (1 Januarie 1545) dat alle Waldense wat aan kettery skuldig bevind word, tereggestel moet word. . . . Binne ’n week (12-18 April) is verskeie dorpe tot op die grond toe afgebrand; in een dorp is 800 mans, vrouens en kinders vermoor; binne twee maande is 3000 mense doodgemaak, twee-en-twintig dorpe verwoes en 700 mans na die galeie toe gestuur. Vyf-en-twintig verskrikte vrouens, wat in ’n grot skuiling gesoek het, het versmoor toe ’n vuur in die ingang van die grot gemaak is.”

Durant het aangaande sulke geskiedkundige gebeure gesê: “Hierdie vervolgings was die heel grootste mislukking van Frans se bewind.” Maar watter uitwerking het dit op diegene gehad wat gesien het hoe die Waldense standvastig bly gedurende die vervolgings wat deur die koning gemagtig is? Durant het geskryf: “Die moed van die martelaars het waardigheid en grootsheid aan hulle saak verleen; duisende toeskouers moes beïndruk en ontsteld gewees het, mense wat, sonder hierdie skouspelagtige teregstellings, miskien nooit die moeite sou gedoen het om hulle oorgeërfde geloof te verander nie.”

[Prent op bladsy 5]

Die slagting by Wassy het tot die godsdiensoorloë aanleiding gegee

[Erkenning]

Bibliothèque Nationale, Paris

[Prent op bladsy 7]

Bartolomeusnag-slagting, waartydens duisende Protestante deur Katolieke vermoor is

[Erkenning]

Photo Musée cantonal des Beaux-Arts, Lausanne

[Prente op bladsy 8]

Protestante het Katolieke doodgemaak en kerkeiendom verwoes (bo en onder)

[Erkennings]

Bibliothèque Nationale, Paris

Bibliothèque Nationale, Paris

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel