Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 4/22 bl. 24-25
  • Die didgeridoo en sy fassinerende ritmes

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die didgeridoo en sy fassinerende ritmes
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Unieke klank
  • Hoe ’n didgeridoo gemaak word
  • Die Australiese inboorlinge—’n Unieke volk
    Ontwaak!—1994
  • ‘As ek maar so kon speel!’
    Ontwaak!—1991
  • Hoe kan ek musiek op sy plek hou?
    Ontwaak!—1993
  • Waarom musiek ons beïnvloed
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 4/22 bl. 24-25

Die didgeridoo en sy fassinerende ritmes

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

KOM saam met ons na ’n corroboree van die Australiese inboorlinge in die Noordelike Gebied, net ’n paar uur per motor van Darwin, sy hoofstad. Baie hedendaagse corroborees word veral vir toeriste opgevoer en word nie as ’n voorspel tot stamoorloë gehou nie. Dit is die soort opvoering wat ons gaan bywoon.

Die dansers, wie se liggame helder geverf is, staan doodstil terwyl hulle wag vir die musiek om die teken te gee om hulle dans te begin. Skielik begin die musiek, en die stilte van die skemer in die Agterveld ontplof met ’n kragtige, pulserende ritme. Verdere begeleiding word voorsien deur slaanstokke—twee kort houtstokke wat hulle teen mekaar slaan op die maat van die musiek wat op die didgeridoo gespeel word.

Min mense buite Australië het moontlik al die didgeridoo gehoor, ’n musiekinstrument wat eie aan Australië se inboorlinge is. Dit word gewoonlik van die uitgeholde tak van ’n bloekomboom gemaak, en die voorkeurlengte is van 1 tot 1,5 meter. Die musikant sit op die grond langs die hoofopvoerarea en blaas in sy didgeridoo—’n skynbaar eenvoudige tog fassinerende instrument.

’n Unieke klank

Hoewel die didgeridoo ’n relatief konstante toonhoogte voortbring—dit word gepas ’n “bromtrompet” genoem—kan dit ingewikkelde ritmes en trilklanke skep. Die een oomblik het dit die klank van ’n solo-instrument, maar die volgende oomblik kan dit ryk wees aan krag en gevoel, soos ’n volle orkes.

Voordat Europeërs ongeveer 200 jaar gelede na Australië toe gekom het, was die inboorlinge wat deur die noordelike dele van die eilandvasteland geswerf het die enigstes wat die didgeridoo geken het. By corroborees het dit musikale begeleiding voorsien vir danse wat inboorlingmitologie oor die skepping voorgestel het. Destyds het diegene wat die didgeridoo goed gespeel het hoë aansien geniet, en selfs vandag word ’n bedrewe speler as ’n gesiene lid van die stam beskou.

Bedrewe spelers voeg dikwels gevokaliseerde nabootsings van diere- en voëlgeluide by die fundamentele note van die didgeridoo. Die gelag van die kookaburra; die gehuil van die Australiese wildehond, of dingo; die sagte geroep van die duif en ’n menigte ander geluide is deel van hulle vernuftige nabootsing.

The New Grove Dictionary of Music and Musicians sê aangaande die didgeridoo-speler: “Sommige van sy vaardighede is die presiese en behendige gebruik van sy tong, puik beheer oor sy asemhaling, die vermoë om die punt van die buis heeltemal met sy lippe te verseël en ’n uitstekende geheue vir musiek. . . . Hoewel [die inboorling] nie oor die tegnologie en materiale beskik nie, en onvertroud is met die konsep van mondstuk, riete, skuif of vingergate, het hy nietemin ’n meesterlike musiekinstrument van ’n eenvoudige implement gemaak deur die aanwending van musikale verbeelding en fisiese vaardighede van ’n baie hoë standaard.”

Die merkwaardigste kenmerk van didgeridoo-musiek is ongetwyfeld die onafgebroke noot, of bromtoon, daarvan. Die speler skep die indruk dat hy ’n eindelose longkapasiteit het, want daar kan tot tien minute op ’n keer geen onderbreking in die musiek wees nie.

Hoe ’n didgeridoo gemaak word

Met ’n geoefende oog bespied ’n inboorlingvakman die bos vir ’n geskikte hardehoutboom, verkieslik ’n bloekomboom. Hoewel sagter hout gebruik kan word, bring hardehout ’n beter toon voort. Die boom moet redelik naby termiethope staan, aangesien termiete die didgeridoo maak. Hulle hol die takke uit wat vir hierdie musiekinstrument gebruik word.

Nadat die tak uitgekies is, word dit tot die gewenste lengte gesny. Die lengte wat gekies word, bepaal die toonhoogte van die voltooide instrument. Dan word die bas afgestroop, die buitenste jonghout weggeskaaf om krake te voorkom en die binnekant skoongemaak. As die termiete genoeg van die kern weggevreet het, behoort dit moontlik te wees om ’n groterige muntstuk deur die kern te rol. Die volgende stap is die versiering, wat heel aantreklik kan wees. Maar die didgeridoo is nog nie gereed om gespeel te word nie.

Die vel om die speler se mond sal kort voor lank geïrriteer word deur die voortdurende gevryf teen die hout. Daarom word daar om die opening van die didgeridoo ’n randjie van byewas gemaak, wat ’n gladde afwerking meebring wat nie die speler se vel irriteer nie. Vandag word baie didgeridoos egter in fabrieke, en dikwels van sagtehout, gemaak. Maar die fabrieksvervaardigde didgeridoos skiet gewoonlik ver tekort wat die unieke toonkleur en rykheid van die natuurlike hardehoutproduk betref.

Namate die corroboree dus ten einde loop en ons tropiese aandjie onder die sterre einde se kant toe staan, beskou ons nie meer die didgeridoo as iets wat slegs ons nuuskierigheid prikkel nie. Waarlik, die vreemde klanke van die didgeridoo is iets waarop die inboorlinge van Australië, as musiekliefhebbers, trots kan wees.

[Prent op bladsy 24]

Die ‘didgeridoo’ word soms kleurvol geverf

[Prent op bladsy 25]

’n ‘Corroboree’ wat deur die inboorlinge gehou word

[Foto-erkenning op bladsy 25]

Bladsye 24-5 Inboorlinge: Met vergunning van Australian Northern Territory Tourist Commission

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel