Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 4/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vigs en ontwikkeling
  • Leesvaardighede en werksgeleenthede
  • Kokkerot-allergie
  • Armoede neem toe
  • Europese dwelmverslawing
  • “Die tirannie van slankheid”
  • Onverwagte belangstelling in die Bybel
  • ’n Lewenslange vriend
  • Eet elke dag vrugte
  • Versorging van demensiepasiënte
  • Gevaarliker as om te rook?
  • Hoe nodig is oefening?
    Ontwaak!—2005
  • Hoe om jou gesondheid te beskerm
    Ontwaak!—1999
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1994
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 4/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Vigs en ontwikkeling

Wêreldwyd het die vigs-epidemie menslike ontwikkeling met 1,3 jaar laat agteruitgaan, sê ’n onlangse verslag deur die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram. Die lande wat die swaarste getref is, is in Afrika—Zambië het meer as tien jaar van vooruitgang in menslike ontwikkeling verloor; Tanzanië, agt jaar; Rwanda, sewe jaar en die Sentraal-Afrikaanse Republiek, meer as ses jaar. Vigs het ook die verwagte lewensduur verminder. In Noord-Amerika en Europa het vigs die vernaamste doodsoorsaak by volwassenes onder 45 geword. Wêreldwyd word 6000 mense elke dag met HIV besmet, 1 elke 15 sekondes. Meer as 85 persent van die mense wat aan vigs sterf, is tussen 20 en 45 jaar oud.

Leesvaardighede en werksgeleenthede

“Tussen 56 en 64 persent van Kanadese wat werkloos is, het onvoldoende geletterdheidsvaardighede”, sê ’n verslag deur Statistics Canada, volgens die koerant The Vancouver Sun. ’n Opname wat in 1995 gedoen is om geletterdheidsvaardighede in die lees van prosa, dokumente en syfers te toets, het aan die lig gebring dat 36 persent van Kanadese op al drie gebiede probleme ondervind. In die “‘ouer’ bedrywe, soos die landbou, mynbou, nywerhede en die boubedryf, . . . is geletterdheid gewoonlik die swakste”, sê die Sun. Aangesien daar al hoe minder werksgeleenthede in hierdie sektore is, is werkers met swak geletterdheidsvaardighede veral kwesbaar om ontslaan te word. Volgens John O’Leary, die president van ’n geletterdheidsorganisasie, “is mense in 1996 met minimale geletterdheid afgesny van ’n groot verskeidenheid persoonlike en professionele geleenthede”.

Kokkerot-allergie

Volgens die University of California at Berkeley Wellness Letter word daar geskat dat tussen 10 miljoen en 15 miljoen mense in die Verenigde State allergies is vir kokkerotte. Wanneer ’n allergiese persoon aan kokkerotte blootgestel word, kan hy “velirritasies, hooikoors of asmasimptome” ondervind. Die nuusbrief het gesê dat “tot 80% van alle asmatiese kinders allergies is vir kokkerotte”. Kokkerotte is nie noodwendig ’n teken van ’n vuil kombuis nie. “Hulle kan in [selfs] die skoonste kombuis aangetref word”, beweer die Wellness Letter. Na raming kan daar vir elke kokkerot wat gesien word tot 1000 ongesiene kokkerotte in ’n huis rondkruip. Een paar kokkerotte kan in net een jaar ongeveer 100-000 nakomelinge voortbring.

Armoede neem toe

Wêreldwyd is daar ongeveer 1,3 miljard mense, byna ’n kwart van die wêreldbevolking, wat in algehele armoede lewe—mense wat minder as R1730 per jaar verdien. Die meeste woon in die ontwikkelende wêreld. Gewoonlik het hierdie mense nie toegang tot genoeg kos, skoon water, gesondheidsorg, voldoende skuiling, opvoeding en werk nie. In die meeste gevalle word hulle waarde onderskat in die gemeenskappe waarin hulle lewe en is hulle magteloos om hulle omstandighede te verander. Volgens die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram is daar jaarliks ’n toename van byna 25 miljoen mense wat in algehele armoede lewe.

Europese dwelmverslawing

’n Nuwe Europese organisasie wat daaraan gewy is om die gebruik en misbruik van dwelms te monitor, het onlangs hulle eerste jaarverslag gepubliseer. Hulle studie, volgens die Franse dagblad Le Monde, toon dat daar “tussen 500 000 en eenmiljoen” heroïenverslaafdes in die Europese Unie is. Hoewel dit lyk of heroïenverslawing in groot Europese stede stabiel of selfs aan die afneem is, neem dit toe in kleiner dorpe. Cannabisprodukte soos hasjisj en dagga is nog steeds die dwelms wat die algemeenste in Europa gebruik word. Deskundiges is besorg oor die toenemende sukses van so genoemde mengeldrankies waarin dwelms met medisyne en alkohol gemeng word. In Noord-Europa word amfetamiene, Ecstasy (’n metamfetamienderivaat) en LSD al hoe gewilder onder die jongmense.

“Die tirannie van slankheid”

Onder die opskrif “Die stryd teen die tirannie van slankheid” berig The Irish Times: “’n Rekordaantal jong meisies kry bloedarmoede as gevolg van voedselgiere.” Dokters het ernstige kommer oor die neiging uitgespreek. In sommige gevalle word die modebedryf die skuld gegee “vir die verwoestende uitwerking wat hulle op vatbare jongmense het”. Die verslag sê dat die gemiddelde model ’n geslag gelede 8 persent minder as die gemiddelde vrou geweeg het. Deesdae is sy 23 persent ligter. “Uitgeteerde ledemate”, sê The Irish Times, “is hoog in die mode en die maermode—bleek, jonk en anoreksies . . . —word nou as die norm voorgehou.” Talle jong meisies is onder druk om by hierdie norm aan te pas, en in hulle strewe na slankheid volg hulle ’n dieet wat hulle nie van noodsaaklike yster, proteïen en vitamiene voorsien nie.

Onverwagte belangstelling in die Bybel

“’n Halfmiljoen eksemplare van die Nuwe Testament in Deens [’n vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte] is weggegee—een elk aan ongeveer 98 persent van die huisgesinne in Kopenhagen”, berig ENI Bulletin. Dit is gedoen as deel van die viering van Kopenhagen se rol as die Europese Kulturele Hoofstad vir 1996. Baie het voorspel dat tussen 10 en 20 persent van Kopenhagen se huisgesinne die geskenk van die hand sou wys. Tog, volgens Morten Aagaard, die hoofsekretaris van die Deense Bybelgenootskap, “het slegs een of twee persent van die huisgesinne” nie die geskenk aanvaar nie. ’n Soortgelyke verspreiding word vir 1998 in Stockholm, Swede, beplan.

’n Lewenslange vriend

In Duitsland sê 9 uit 10 mense dat hulle ’n lewenslange vriend het, berig die Nassauische Neue Presse. Dit is getoon deur ’n opname wat deur die Vereniging vir Empiriese Wetenskaplike en Maatskaplike Navorsing gedoen is, wat meer as 1000 mense tussen die ouderdomme van 16 en 60 ondervra het. Onder die faktore in ’n blywende vriendskap is kommunikasie en eerlikheid van die grootste belang beskou. Byna al die mense wat ondervra is, het saamgestem dat ontrouheid en verraad sulke vriendskappe beslis sou beëindig. Volgens die koerant “verwag slegs 16 persent dat ’n goeie vriend [vir hulle] geld in ’n noodgeval leen”. Daarenteen het ’n groot persentasie dit as baie belangrik beskou om die ondersteuning van ’n vriend in tye van siekte te hê.

Eet elke dag vrugte

Die daaglikse inname van vars vrugte word geassosieer met ’n vermindering in die risiko van hartkwale, volgens ’n studie van 11 000 mense oor 17 jaar, wat in die British Medical Journal gepubliseer is. Onder diegene in die studie wat elke dag vars vrugte geëet het, was daar 24 persent minder sterftes aan hartaanvalle en 32 persent minder sterftes aan beroertes. Van diegene wat elke dag vrugte geëet het, was daar 21 persent minder sterftes vergeleke met diegene wat minder dikwels vrugte geëet het. Diëte met te min vars vrugte kan bydra tot toenames in vaatsiektes soos beroertes en hartkwale in sekere bevolkings, sê ’n span Britse en Spaanse wetenskaplikes. Vir die grootste gesondheidsvoordele beveel navorsers nou aan dat ’n mens ten minste vyf porsies groente en vrugte per dag eet. As vars vrugte en groente onbekombaar is, kan bevrore vrugte en groente soortgelyke voordele bied, volgens die British Medical Journal.

Versorging van demensiepasiënte

“Warm pap, sagte musiek en ’n noukeurig beplande omgewing is nie mediese deurbrake nie, maar dit verander wel die versorging van die bejaardes”, sê The Globe and Mail van Kanada. Deur eenvoudige en goedkoop veranderinge aan te bring in die manier waarop pasiënte gebad en gevoer word, help dit om hulle verwarring en angs te verminder. As elke kossoort byvoorbeeld afsonderlik tydens maaltye bedien word, hoef ’n pasiënt nie te besluit wat om eerste te eet nie, iets wat dikwels verwarrend is vir iemand met demensie, sê die verslag. Die gewilligheid om nuwe benaderings op die proef te stel, het selfs ’n merkbare vermindering in die gebruik van luimwysigende medikasie by pasiënte tot gevolg gehad.

Gevaarliker as om te rook?

Volgens Statistics Canada “hou ’n sittende lewenswyse meer as twee keer soveel gesondheidsgevaar in as om sigarette te rook”, berig The Medical Post. Hoewel sowat sewemiljoen Kanadese waarskynlik ernstige gesondheidsprobleme en ’n vroeë dood weens die rook van tabak sal ondervind, loop tussen 14 miljoen en 17 miljoen mense soortgelyke gesondheidsgevare as gevolg van ’n gebrek aan oefening. Te min tyd, energie en motivering word as belangrike faktore gemeld wat gereelde oefening moeilik maak. Mense wat baie sit, sal ook waarskynlik meer vette en minder vrugte en groente eet. “Die huidige doelwit vir optimale hartvoordele is om mense so ver te kry om ten minste elke tweede dag minstens 30 minute lank teen ’n gemiddelde of hoër pas te oefen”, sê die Post.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel