Geestelike honger in Roemenië
’N VERSLAG van die Associated Press uit Brasov, Roemenië, het gesê dat ongeveer 90 persent van Roemenië se 23 miljoen mense lidmate van die Ortodokse Kerk is, wat toegelaat is om hulle werksaamhede onder die Kommunistiese bewind voort te sit. Maar die Daily Record van Canon City, Colorado, VSA, het opgemerk dat baie mense nou die kerk te lig bevind. Dit het die opskrif gehad: “Roemeniërs vind Ortodokse Kerk irrelevant.”
“Alexandru Paleologu, ’n skrywer en filosoof”, het die koerant verlede Oktober berig, “het verwys na ’n gebrek aan vertroue in die kerkowerheid en gesê dat die styl en wese van die godsdiens deurmekaargeraak het. Mense maak byvoorbeeld die teken van die kruis en vas op die regte dae. Maar aborsie, wat die kerk as ’n sonde beskou, is ’n algemene gebruik.”
Die Daily Record het gesê dat baie mense Jehovah se Getuies geword het en het verwys na die uitwerking wat die Bybelonderrigprogram van die Getuies op ’n gesin gehad het: “Florentina Petrisor se man was ’n strawwe drinker en het haar dikwels geslaan, sê sy. Maar vandat die egpaar Getuies van Jehovah geword het, is haar gesinslewe ’n toonbeeld van harmonie.”
Florentina, ’n 38-jarige naaister, het volgens berig “die Ortodokse kerk verlaat weens die kerk se gebrek aan geestelike onderrigting en die plaaslike priester se materialisme”. Die koerant het verduidelik: “Toe haar skoonpa gesterf het, moes die gesin, volgens Petrisor, die priester betaal en kos gee om ’n mooi diens te verseker voor sy haar kinders kon kos gee. ‘Ek het nie gedink dat dit reg was nie’, het sy gesê.”
Die Daily Record het die volgende gesê oor die kerk se kampanje om verkeerde inligting oor die Getuies te versprei: “In Roemenië het die Ortodokse kerk, wat invloed herwin het, gehelp om die regering sover te kry om hierdie somer ’n massavergadering van Jehovah se Getuies van die hoofstad Boekarest na die Transsilvaniese stede Brasov en Cluj te verskuif.”
Die Ontwaak! van 22 Februarie 1997 het van die kerk se kampanje vertel om die regering te beïnvloed om die internasionale byeenkoms te kanselleer wat in Julie 1996 in Boekarest gehou moes word. Jy kan in daardie tydskrif lees hoe alternatiewe byeenkomste gou in Cluj-Napoca en Brasov gereël is en hoe altesaam 34866 mense dit bygewoon het. Die publisiteit wat dit wêreldwyd tot gevolg gehad het, was merkwaardig. “Wat die Roemeense Ortodokse Kerk gedink het ons sou strem”, het een Getuieverteenwoordiger gesê, “het in werklikheid tot die bevordering van die goeie nuus bygedra.”
[Prent op bladsy 31]
Byeenkomsgangers sing by die Brasov-byeenkoms