Wanneer groter nie beter is nie
“Ek pas nie meer in my klere nie”, het die 35-jarige Rosa gekla. “Ek weeg nou al 190 pond [86 kg]; ek het nooit kon droom dat ek so groot sou word nie!”
ROSA is nie die enigste een wat bekommerd is oor haar toenemende gewig nie. In die Verenigde State, waar sy woon, is byna ’n derde van die bevolking oorgewig.a Die aantal volwassenes in Brittanje wat oorgewig is, het in tien jaar verdubbel. En in Japan—waar oorgewig ongewoon was—raak dit nou algemeen.
Toenemende getalle kinders weeg meer as wat hulle behoort te weeg. Ongeveer 4,7 miljoen Amerikaanse jeugdiges tussen die ouderdomme van 6 en 17 is baie oorgewig, terwyl ongeveer 20 persent van die kinders in Kanada oorgewig is. In die laaste jare het oorgewig onder kinders verdriedubbel in Singapoer.
Om groot te wees weens gewigsvermeerdering word in sommige lande beskou as ’n teken van voorspoed en gesondheid, ’n toestand wat baie wensliker is as armoede en ondervoeding. Maar in Westerse lande, waar voedsel dikwels geredelik beskikbaar is, word gewigsvermeerdering gewoonlik nie as wenslik beskou nie. Inteendeel, dit is gewoonlik ’n bron van groot kommer. Waarom?
“Hoewel die meeste mense glo dat oorgewig ’n probleem met jou voorkoms is”, sê dr. C. Everett Koop, vroeër die Amerikaanse geneesheer-generaal, “is dit in werklikheid ’n ernstige siekte.” Endokrinoloog F. Xavier Pi-Sunyer, van New York, verduidelik: “[Die feit dat Amerika vetter word], veroorsaak dat meer mense die gevaar loop om suikersiekte, hoë bloeddruk, beroerte, hartsiektes, selfs sekere soorte kanker te kry.”
Meer gewig, groter risiko
Beskou byvoorbeeld ’n studie van 115 000 Amerikaanse verpleegsters wat 16 jaar lank gemonitor is. Die studie het bevind dat volwassenes se kanse op hartsiektes groter is as hulle selfs net vyf tot agt kilogram aansit. Hierdie studie, wat in The New England Journal of Medicine van 14 September 1995 gepubliseer is, het daarop gewys dat ’n derde van kankersterftes en die helfte van kardiovaskulêre sterftes aan oorgewig toegeskryf kan word. Volgens ’n berig in The Journal of the American Medical Association (JAMA) van 22/29 Mei 1996 “kan 78% van hipertensie by mans en 65% by vroue direk aan oorgewig toegeskryf word”. Die Amerikaanse Kankervereniging sê dat diegene wat “aansienlik oorgewig” is (40 persent of meer oor die ideale gewig) “groter gevaar loop om kanker op te doen”.
Maar dit is nie net die aansit van ekstra gewig wat gevaarlik is nie; die verspreiding van liggaamsvet beïnvloed ook die gevaar van siekte. Diegene wat oormatige vet in die onderlyf dra, loop in werklikheid ’n groter risiko as diegene wat meer gewig in hulle heupe en bobene dra. Vet in die maagarea word verbind met ’n groter gevaar van suikersiekte, hartsiektes, borskanker en baarmoederkanker.
Net so ly jeugdiges wat oorgewig is aan hoë bloeddruk, verhoogde cholesterolvlakke en prediabetiese toestande. En hulle word dikwels oorgewig volwassenes. The New York Times, wat inligting gebruik het wat in die Britse mediese tydskrif The Lancet uitgegee is, het berig dat “mense wat as kinders vet was vroeër gesterf het en op baie jonger ouderdomme aan baie meer siektes gely het as die algemene publiek”.
Nuwe gewigsriglyne
Die Amerikaanse regering, wat daarvan oortuig is dat ’n ernstige gewigskrisis bestaan, het hulle voorgestelde gewigsriglyne in 1995 strenger gemaak. (Sien die venster op die volgende bladsy.) Die jongste riglyne identifiseer “gesonde gewig”, ‘matige oorgewig’ en ‘ernstige oorgewig’. Die riglyne geld vir beide volwasse mans en vrouens, ongeag hulle ouderdom.
Die riglyne wat in 1990 uitgegee is, het toegelaat vir middellyf-groei in die middeljare, wat dikwels die vetrolletjies van die middeljare genoem word. Die nuwe riglyne maak nie hiervoor voorsiening nie, aangesien daar aanduidings is dat volwassenes nie mettertyd gewig moet aansit nie.b ’n Persoon wie se gewig voorheen as normaal beskou is, kan dus nou vind dat hy in die oorgewigkategorie val. Byvoorbeeld, ’n persoon tussen die ouderdomme van 35 en 65, wat 1,68 meter lank is en 75 kilogram geweeg het, sou volgens die 1990-riglyne in die groep met gesonde gewig gewees het. Maar volgens die nuwe riglyne sal hy of sy vyf kilogram oorgewig wees!
Hoe het ons so groot geword?
Genetiese eienskappe kan ’n persoon se geneigdheid om oorgewig te wees, beïnvloed, maar dit verklaar nie die gewigstoename in Westerse lande nie. Iets anders is vir die probleem verantwoordelik.
Gesondheidsdeskundiges stem saam dat ons vet kan word as ons vet eet. Baie vleis en talle suiwelprodukte, gebakte voedsel, kitskos, peuselhappies, diepgebraaide voedsel, souse, vleissouse en olies bevat baie vet, en as ons dit eet, kan dit tot oorgewig lei. Hoe so?
Wel, die inname van meer kilojoules in die voedsel wat ons eet as wat ons liggaam verbruik, veroorsaak dat ons gewig aansit. Vet bevat 38 kilojoules per gram, in vergelyking met 17 kilojoules in ’n gram proteïene of ’n gram koolhidrate. Ons neem dus meer kilojoules in wanneer ons vet eet. Maar daar is nog ’n belangrike faktor—die manier waarop die menseliggaam die energie gebruik wat deur koolhidrate, proteïene en vet voorsien word. Die liggaam verbrand eers koolhidrate en proteïene en dan vet. Die ongebruikte vetkilojoules word in liggaamsvet omgesit. ’n Belangrike manier om gewig te verminder, is dus om minder vetterige voedsel te eet.
Maar sommige mense wat glo dat hulle hulle vetinname verminder het, vind dat hulle liggaam nog steeds groter word. Waarom? Een rede is dat hulle groot hoeveelhede kos eet. ’n Dieetkundige in die Verenigde State sê: “Ons eet te veel omdat te veel opgedien word. As dit daar is, eet ons dit.” Mense is ook geneig om te veel laevet- of vetvrye voedsel te eet. Maar ’n deskundige by ’n Amerikaanse raadgewende firma in die voedselbedryf verduidelik: “Produkte wat minder vet bevat se smaak word dikwels verbeter deur die suikerinhoud te verhoog [wat ryk aan kilojoules is].” The New York Times het dus berig: “Twee neigings van die negentigerjare—om waarde vir jou geld te kry en om laevet-, of vetvrye, voedsel te eet—het vraatsug in die hand gewerk”, en gevolglik ’n toename in gewig.
Die sofapatat-lewenstyl bevorder ook gewigstoename. ’n Studie in Brittanje het bevind dat meer as ’n derde van die volwassenes in daardie land minder as 20 minute matige oefeninge elke week doen. Minder as die helfte neem ooit aan aktiewe sportsoorte deel. In talle Westerse lande stap mense nie meer nie, hulle ry met hulle motors, en toenemende televisiekykery moedig luiheid en vraatsug aan. In die Verenigde State sit en kyk kinders na raming elke week 26 uur lank televisie, om nie eers te praat van die tyd wat hulle aan videospeletjies bestee nie. Intussen bied slegs ongeveer 36 persent van die skole nog liggaamlike opvoeding aan.
Daar is ook sielkundige redes vir oorgewig. “Ons eet om emosionele redes”, sê dr. Lawrence Cheskin, van die Johns Hopkins-gewigsbeheersentrum. “Ons eet wanneer ons gelukkig is, ons eet wanneer ons ongelukkig is. Ons word groot met die idee dat voedsel ’n plaasvervanger vir baie ander dinge is.”
Kan ons sukses behaal?
Oorgewig is ’n ingewikkelde saak. Daar word geskat dat 80 miljoen Amerikaners elke jaar op dieet gaan. Maar feitlik almal keer terug tot hulle vorige eetgewoontes kort nadat hulle ’n bietjie gewig verloor het. Binne vyf jaar sit 95 persent van hulle weer die gewig aan wat hulle verloor het.
’n Verandering in lewenstyl is wat nodig is om gewig te verloor en dit nie weer aan te sit nie. Sulke veranderinge verg inspanning en toewyding, tesame met ondersteuning van familie en vriende. In sommige gevalle kan die hulp van gesondheidsdeskundiges ook nodig wees.c Om jou pogings te laat slaag, móét jy egter positiewe motivering hê. Dit is goed om jou af te vra: ‘Waarom wil ek gewig verloor?’ Jou pogings om gewig te verloor, het ’n groter kans op sukses as jou begeerte om gesondheidsgevare te vermy, gepaardgaan met ’n begeerte om beter te voel en beter te lyk, asook om die gehalte van jou lewe te verbeter.
Daar is heelwat heerlike en versadigende voedsel wat jy kan eet wat voedsaam is en min kilojoules bevat. Maar voordat ons na die kossoorte kyk wat jou kan help om gewig te verloor, laat ons ondersoek instel na hoe sekere dinge in ons dieet gesondheidsgevare kan word.
[Voetnote]
a Oorgewig word dikwels gedefinieer as 20 persent of meer oor wat as die ideale gewig beskou word.
b Die 1995-riglyne geld vir die meeste ouderdomsgroepe, maar nie vir almal nie. “Daar is algemene konsensus dat die nuwe gewigsriglyne waarskynlik nie geld vir persone wat ouer as 65 jaar is nie”, sê dr. Robert M. Russell in JAMA van 19 Junie 1996. “’n Bietjie ekstra gewig in die ouer persoon kan selfs voordelig wees deurdat dit ’n energiereserwe voorsien vir tye van siekte en deurdat dit spier- en beenmassa help bewaar.”
c Sien die Ontwaak! van 8 Mei 1994, bladsye 20-2; 22 Januarie 1993, bladsye 12-14, en 8 Desember 1989, bladsye 3-12, vir voorstelle om gewig te verloor.
[Tabel op bladsy 6]
Is jy in die groep vir “gesonde gewig”, “matig oorgewig” of “ernstig oorgewig”? Die grafiek wat hier verskyn, sal jou help om hierdie vraag te beantwoord
1995-gewigsriglyne vir mans en vrouens
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Lengte*
1,98
1,90
1,80 GESONDE GEWIG MATIG OORGEWIG ERNSTIG OORGEWIG
1,70
1,60
1,50
kg 30 40 50 60 70 80 90 100 110
Gewig
Gegewens gebaseer op: U.S. Department of Agriculture, U.S. Department of Health and Human Services
* Sonder skoene.
† Sonder klere. Die swaarder gewigte geld vir mense met meer spier- en beenmassa, soos in die geval van baie mans.