Waar die krisis ernstiger is
MARY, wat in die Verenigde State woon, begin haar dag deur te stort, daarna borsel sy haar tande terwyl die kraan loop, spoel die toilet en was dan haar hande. Nog voor sy aansit vir ontbyt het sy dalk al genoeg water gebruik om ’n middelslag bad te vul. Teen die einde van die dag het Mary, soos baie ander mense in die Verenigde State, meer as 350 liter water gebruik, genoeg om ’n bad twee en ’n half keer vol te maak. Vir haar is daar meer as genoeg skoon water in die naaste kraan. Dit is altyd beskikbaar; sy neem dit as vanselfsprekend aan.
Vir Dede, wat in Wes-Afrika woon, is dit heeltemal anders. Sy staan douvoordag op, trek aan, balanseer ’n groot skottel op haar kop en stap agt kilometer na die naaste rivier toe. Daar bad sy, maak die skottel vol water en keer dan terug huis toe. Hierdie daaglikse roetine neem ongeveer vier uur. Gedurende die volgende uur filtreer sy die water om parasiete te verwyder en verdeel dit dan in drie houers—een vir drinkwater, een vir huishoudelike gebruik en nog een waaruit sy saans bad. Enige wasgoed moet by die rivier gewas word.
“Die watertekort maak ons dood”, sê Dede. “Hoeveel van die dag bly oor vir boerdery en ander werk as byna die helfte van die oggend daarmee heen is in die proses om water te gaan haal?”
Dede se situasie is glad nie uniek nie. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beloop die totale hoeveelheid tyd wat menigtes vroue en kinders elke jaar daaraan bestee om water van vergeleë, dikwels besoedelde, bronne te gaan haal en aan te dra meer as tienmiljoen jaar!
Party het, ander het nie
Hoewel daar dus wêreldwyd volop vars water is, is dit nie eweredig verspreid nie. Dit is die eerste groot probleem. Wetenskaplikes reken byvoorbeeld dat 36 persent van die water in die wêreld se mere en riviere in Asië is, en tog huisves daardie kontinent 60 persent van die wêreldbevolking. In kontras hiermee bevat die Amasone-rivier 15 persent van die wêreld se rivierwater, maar slegs 0,4 persent van die wêreldbevolking woon naby genoeg daaraan om dit te gebruik. Net so geld oneweredige verspreiding vir reënval. Party dele van die aarde is feitlik permanent droog; ander dele is nie altyd droog nie, maar word van tyd tot tyd deur droogtes geteister.
’n Aantal deskundiges glo dat mense verantwoordelik kan wees vir sommige weersveranderinge wat reënval beïnvloed. Ontbossing, oorbenutting en oorbeweiding is alles dinge wat die grond kaalstroop. Party redeneer dat die aarde se oppervlak meer sonlig terug in die atmosfeer in weerkaats wanneer dit gebeur. Die gevolg: Die atmosfeer word warmer, wolke breek op en reënval neem af.
Kaalgestroopte grond kan ook reënval laat afneem, aangesien baie van die reën wat in woude val water is wat oorspronklik van die plantegroei self verdamp het—van die blare van die bome en struikgewasse. Met ander woorde, plantegroei werk soos ’n groot spons wat reënwater opneem en hou. Neem jy die bome en struikgewasse weg, is daar minder water beskikbaar om reënwolke te vorm.
Presies hoe ernstig die mens se optrede die reënval beïnvloed, word nog oor gedebatteer; meer navorsing moet nog daaroor gedoen word. Maar dít is seker: Watertekorte is wydverspreid. Tekorte bedreig reeds die ekonomie en gesondheid van 80 lande, waarsku die Wêreldbank. Soos dit is, het 40 persent van die wêreldbevolking—meer as tweemiljard mense—nie toegang tot skoon water of sanitêre geriewe nie.
Wanneer ryk lande voor watertekorte te staan kom, het hulle gewoonlik die geld om ’n krisis af te weer. Hulle bou damme, maak gebruik van duur tegnologie om hulle water te herbenut of verwyder selfs sout uit seewater. Arm lande het nie sulke keuses nie. Hulle moet dikwels óf die gebruik van skoon water beperk, wat vooruitgang kan belemmer en voedselproduksie kan verminder, óf hulle moet onbehandelde water weer gebruik, wat tot die verspreiding van siektes lei. Namate die vraag na water oral toeneem, lyk die toekoms baie, baie droog.
’n Dekade van hoop
Op 10 November 1980 het die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering met vertroue gepraat van die komende “Internasionale Drinkwatervoorraad- en Sanitasiedekade”. Die vergadering het verklaar dat dit hulle doel was om teen die jaar 1990 vir almal wat in die ontwikkelende wêreld woon vrye toegang tot skoon water en sanitêre geriewe te voorsien. Teen die einde van die dekade is ongeveer R594 miljard bestee om skoon water na meer as ’n miljard mense te bring en rioolverwyderingsfasiliteite aan meer as 750 miljoen te voorsien—’n indrukwekkende prestasie.
Maar hierdie vordering is gekanselleer deur ’n bevolkingsaanwas van 800 miljoen mense in ontwikkelende lande. Teen 1990 was daar dus nog meer as ’n miljard mense wat nie skoon water en voldoende sanitêre geriewe gehad het nie. Hierdie haglike toestand word goed beskryf deur die koningin se woorde aan Alice in die kinderstorie Through the Looking-Glass: “Jy moet so vinnig hardloop as wat jy kan om op dieselfde plek te bly. As jy êrens anders wil kom, moet jy ten minste twee keer so vinnig hardloop!”
Sedert 1990 is die algemene vordering om die lot van diegene sonder water en sanitêre geriewe te verlig, volgens die WGO, “treurig”. Toe Sandra Postel vise-president van navorsing by die Worldwatch-instituut was, het sy geskryf: “Dit bly ’n ernstige morele fout dat 1,2 miljard mense nie water kan drink sonder om die gevaar te loop van siekte of die dood nie. Die rede is nie soseer ’n tekort aan water of onvoldoende tegnologie as wat dit ’n gebrek aan maatskaplike en politieke toegewydheid is om in die basiese behoeftes van die armes te voorsien nie. Na raming sal dit $36 miljard [R160 miljard] per jaar meer kos, ongeveer 4 persent van die wêreld se militêre besteding, om aan almal op aarde dit te voorsien wat die meeste van ons nou as vanselfsprekend aanneem—skoon drinkwater en ’n sanitêre vullisverwyderingstelsel.”
Groter bevolking, groter aanvraag
Die oneweredige verspreiding van water word deur ’n tweede probleem gekompliseer: Namate bevolkings toeneem, neem die vraag na water ook toe. Wêreldwye reënval bly min of meer dieselfde, maar bevolkingsyfers skiet die hoogte in. Waterverbruik het gedurende hierdie eeu ten minste twee keer verdubbel, en sommige mense raam dat dit binne die volgende 20 jaar weer kan verdubbel.
Toenemende getalle mense vereis natuurlik nie net meer drinkwater nie, maar ook meer voedsel. En voedselproduksie vereis weer al hoe groter hoeveelhede water. Die landbou moet egter meeding met die wateraanvraag van die nywerheid en van mense. Namate stede en nywerheidsgebiede uitbrei, trek die landbou dikwels aan die kortste ent. “Waar gaan die voedsel vandaan kom?” vra een navorser. “Hoe op aarde kan ons in die behoeftes van 10 miljard mense voorsien as ons skaars in die behoeftes van 5 miljard kan voorsien en in werklikheid water van die landbou af wegneem?”
Die grootste deel van die bevolkingsaanwas vind plaas in die ontwikkelende lande, waar water dikwels reeds skaars is. Ongelukkig is daardie lande, beide finansieel en tegnologies, die minste daartoe in staat om waterprobleme die hoof te bied.
Besoedeling
Benewens die probleme wat verband hou met watertekorte en die behoeftes van groeiende bevolkings, is daar ’n derde verwante probleem: besoedeling. Die Bybel praat van “’n rivier van water van die lewe”, maar baie van vandag se riviere is riviere van die dood (Openbaring 22:1). Volgens een skatting vloei altesaam 450 kubieke kilometer afvalwater—huishoudelik en industrieel—elke jaar in die wêreld se riviere in. Baie riviere en strome is besoedel van hulle oorsprong af tot waar hulle eindig.
In die wêreld se ontwikkelende lande besoedel onbehandelde rioolvullis byna al die groot riviere. ’n Ondersoek van 200 groot riviere in Rusland het getoon dat 8 uit 10 gevaarlik hoë vlakke bakteriële en virusagense bevat. Hoewel die riviere en watertafels van hoogs ontwikkelde lande nie vol rioolvullis is nie, is dit dikwels besoedel met giftige chemikalieë, waaronder die chemikalieë wat in landboukunsmis gebruik word. In feitlik alle wêrelddele pomp kuslande onbehandelde rioolvullis uit in die vlak water aan hulle kus, wat die strande erg besoedel.
Waterbesoedeling is dus ’n wêreldwye probleem. Die Audubon-vereniging se brosjure Water: The Essential Resource som die situasie op deur te sê: “’n Derde van die mensdom sukkel gedurigdeur met siekte en ’n verswakte gestel as gevolg van vuil water; nog ’n derde word bedreig deur chemiese stowwe wat in die water vrygestel word en waarvan die langtermynuitwerkings onbekend is.”
Vuil water, swak gesondheid
Toe Dede, wat vroeër gemeld is, gesê het “watertekort maak ons dood”, het sy dit figuurlik bedoel. Maar ’n gebrek aan skoon, vars water kan letterlik die dood veroorsaak. Sy, en miljoene ander soos sy, het nie veel van ’n keuse as om water uit strome en riviere te gebruik wat dikwels niks meer as oop rioolstelsels is nie. Dit is geen wonder dat ’n kind, volgens die WGO, elke agt sekondes aan waterverwante siektes sterf nie!
Volgens die tydskrif World Watch word 80 persent van alle siektes in die ontwikkelende wêreld deur die verbruik van vuil water versprei. Waterverspreide patogene en besoedeling veroorsaak elke jaar die dood van 25 miljoen mense.
Die dodelike waterverwante siektes—waaronder diarreale siektes, cholera en tifus—eis die meeste van hulle slagoffers in die Trope. Maar waterverspreide siektes is nie beperk tot die ontwikkelende wêreld nie. Gedurende 1993, in die Verenigde State, het 400 000 mense in Milwaukee, Wisconsin, siek geword nadat hulle kraanwater gedrink het wat ’n mikrobe bevat het wat teen chloor bestand was. In dieselfde jaar het gevaarlike mikrobes in die waterstelsels van ander stede in die Verenigde State beland—Washington, DC; New York en Cabool, Missouri—en inwoners is genoodsaak om die water uit hulle krane te kook.
Riviere om te deel
Die onderling verbinde probleme: watertekorte, die eise van groeiende bevolkings en besoedeling wat tot swak gesondheid lei, is alles faktore wat tot spanning en konflik aanleiding kan gee. Water is per slot van rekening nie ’n luukse nie. ’n Politikus in Spanje wat met ’n waterkrisis geworstel het, het gesê: “Dis nie meer ’n ekonomiese stryd nie, maar ’n stryd om oorlewing.”
’n Groot geskilpunt is die gemeenskaplike gebruik van water uit riviere. Volgens Peter Gleick, ’n navorser in die Verenigde State, woon 40 persent van die wêreldbevolking in die 250 stroomgebiede om wie se water meer as een land meeding. Die Brahmapoetra-, Indus-, Mekong-, Niger-, Nyl- en Tigris-rivier vloei almal deur baie lande—lande wat soveel water as moontlik uit daardie riviere wil haal. Daar was alreeds onenigheid daaroor.
Namate die vraag na water toeneem, sal sulke spanning ook toeneem. Die Wêreldbank se vise-president vir Omgewingsvolhoubare Ontwikkeling voorspel: “Baie van die oorloë in hierdie eeu is gevoer oor olie, maar oorloë sal in die volgende eeu gevoer word oor water.”
[Venster/Prente op bladsy 7]
Die reis van ’n molekule
Kom ons volg die pad van ’n enkele watermolekule op sy eindelose reis. Die meegaande reeks prente, wat ooreenkomstig die teks genommer is, illustreer net een van die tallose paadjies wat ’n enkele watermolekule kan volg om terug te keer na die plek waarvandaan dit gekom het.—Job 36:27; Prediker 1:7.
Ons sal begin met ’n molekule op die oppervlak van die oseaan (1). Wanneer water deur die krag van die son verdamp, styg die molekule op totdat dit ’n paar honderd meter bo die aarde is (2). Nou sluit dit by ander watermolekules aan om ’n klein waterdruppeltjie te vorm. Die druppeltjie reis honderde kilometers ver saam met die wind. Mettertyd verdamp die druppeltjie, en die molekule styg weer totdat dit uiteindelik aansluit by ’n reëndruppel wat groot genoeg is om grond toe te val (3). Die reëndruppel val saam met miljarde ander druppels op ’n hang; die water spoel af ondertoe in ’n stroom in (4).
Dan drink ’n bok uit die stroom en sluk ons molekule in (5). Ure later urineer die bok, en die molekule syfer in die grond in waar dit deur ’n boom se wortels opgeneem word (6). Van daar af beweeg die molekule in die boom op en verdamp uiteindelik deur ’n blaar in die lug in (7). Soos vantevore styg dit op om weer ’n reëndruppel te help vorm. Die druppeltjie sweef saam met die wind totdat dit by ’n donker, swaar reënwolk aansluit (8). Ons molekule val weer eens saam met die reën, maar hierdie keer bereik dit ’n rivier wat dit na die oseaan neem (9). Daar kan dit duisende jare bly voor dit die oppervlak bereik, verdamp en weer in die lug opstyg (10).
Die kringloop hou nooit op nie: Water verdamp uit die seë, beweeg oor die land, val as reën en vloei terug na die seë. Sodoende onderhou water alle lewe op aarde.
[Venster/Prent op bladsy 9]
Wat is al voorgestel
Om ontsoutingsaanlegte te bou. Hierdie aanlegte verwyder sout uit seewater. Dit word gewoonlik gedoen deur die water in laedrukkamers in te pomp, waar dit tot kookpunt verhit word. Die water verdamp en word êrens anders heen gelei, en die soutkristalle bly agter. Dit is ’n duur proses, buite die bereik van baie ontwikkelende lande.
Om ysberge te smelt. Sommige wetenskaplikes glo dat massiewe ysberge, wat suiwer, vars water bevat, deur sleepbote van die Suidpool af gesleep kan word en gesmelt kan word om water aan droë lande in die Suidelike Halfrond te voorsien. Daar is net een probleem: Ongeveer die helfte van elke ysberg sal in die see smelt voor dit sy bestemming bereik.
Om akwifers te tap. Akwifers is waterhoudende rotse diep onder die aarde. Water kan uit hulle gepomp word, selfs in die droogste woestyne. Maar dit is duur om hierdie water te onttrek en dit verlaag die watertafel. Daar is nog ’n nadeel: Die meeste akwifers word net stadig hernieu—en party glad nie.
[Foto-erkenning op bladsy 8]
Foto: Mora, Godo-Foto
[Prente op bladsy 5]
Dit kan elke dag vier uur neem om water te kry
[Prente op bladsy 8]
Elke jaar vloei ongeveer 450 kubieke kilometer afvalwater in riviere in