Wat is die oplossing?
DESKUNDIGES voer hewige debatte oor die oplossings vir die mensdom se ingewikkelde waterprobleme. Die Wêreldbank wil hê dat R2,66 biljoen gedurende die volgende tien jaar in sanitasie- en waterskemas belê moet word. As die geld nie hierin belê word nie, kan die koste selfs hoër wees. In Peru byvoorbeeld het ’n cholera-epidemie van tien weke, wat deur besmette water veroorsaak is, onlangs ongeveer R4430 miljoen gekos—drie keer soveel as wat altesaam in die tagtigerjare in die land se watervoorraad belê is.
Maar ten spyte van die goeie voornemens van diegene wat waterprojekte voorstaan, doen dit dikwels nie veel om die heel armes te help nie. Die groei in die megastede van die ontwikkelende wêreld is baie vinnig en chaoties. Die armes woon in oorvol pondokkies van minderwaardige kwaliteit met geen water of sanitêre geriewe wat aangelê is nie. Omdat hulle nie toegang tot staatsgesubsidieerde waterdienste het nie, moet hulle hoë pryse aan privaatverkopers betaal vir water, wat dikwels vuil is.
Die wêreldwye waterkrisis is duidelik ingewikkeld en behels faktore wat onderling verbind is: tekorte, besoedeling, armoede, siektes en die toenemende eise van groeiende bevolkings. En dit is net so duidelik dat mense nie hierdie probleme kan oplos nie.
’n Grondslag vir optimisme
Die toekoms is egter nie so donker as wat baie mense voorspel nie. Hoe so? Omdat die oplossing vir die wêreld se waterkrisis nie by mense berus nie; dit berus by God. Hy alleen het die vermoë sowel as die begeerte om alle waterprobleme op te los.
Dat Jehovah God wel hierdie probleme kan oplos, is onbetwisbaar. Hy is die Ontwerper en Skepper, nie net van die aarde nie, maar ook van die water daarop. Dit is hy wat die wonderlike waterkringloop in werking gestel het saam met al die ander kringlope van die natuur wat lewe op aarde moontlik maak. Openbaring 14:7 identifiseer Jehovah as “die Een wat die hemel en die aarde en see en waterfonteine gemaak het”.
Jehovah het die mag om die wêreld se water te beheer. Dit is hy “wat reën gee oor die aarde en waters uitstuur oor die velde” (Job 5:10). Die Bybel sê van hom: “Hy het die woestyn ’n waterplas gemaak en die dor land waterfonteine.”—Psalm 107:35.
Hy het herhaaldelik bewys dat hy die vermoë het om water te voorsien. Hy het byvoorbeeld vir die Israeliete water voorsien toe hulle 40 jaar in die woestyn was, soms op wonderdadige wyse. “Hy het strome laat uitgaan uit die rots en die waters laat afloop soos riviere”, sê die Bybel. “Kyk, Hy het die rots geslaan, dat waters gevloei en spruite gestroom het.”—Psalm 78:16, 20.
Wat God sal doen
God sal nie toelaat dat die waterkrisis vir ewig voortduur nie. Die Bybel voorspel dat daar ’n tyd gaan kom wanneer hy sal optree ten behoewe van almal op die aarde wat graag wil woon onder die liefdevolle heerskappy van sy hemelse regering, wat binnekort beheer oor die aarde gaan oorneem.—Matteus 6:10.
Hierdie regering, of Koninkryk, sal ’n einde maak aan waterverspreide siektes, asook alle ander siektes. Die Bybel verseker diegene wat lojaal is aan God: “[God sal] jou brood en jou water seën, en [hy] sal siektes uit jou midde verwyder” (Exodus 23:25). Wat meer is, daar sal weggedoen word met die mense wat die aarde se water besoedel wanneer hy ‘die verderwers van die aarde verderf’.—Openbaring 11:18.
Die hele aarde sal onder God se liefdevolle sorg floreer. Mense sal nooit weer ’n eindelose stryd moet voer om vars, skoon water te kry nie. Die almagtige God, wat altyd die waarheid praat, het sy profeet geïnspireer om aangaande die toekoms te skryf: “Want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis. En die gloeiende grond sal ’n waterplas word, en die dorsland fonteine van water.”—Jesaja 35:6, 7; Hebreërs 6:18.
[Prent op bladsy 10]
God belowe: ‘In die woestyn breek waters uit, en die dorsland sal fonteine van water word.’—Jesaja 35:6, 7