Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 12/8 bl. 5-8
  • Toesig oor kinders—godsdiens en die wet

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Toesig oor kinders—godsdiens en die wet
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Fundamentele regte van ouers en kinders
  • Regte van nietoesighoudende ouers
  • Bemiddeling buite die hof
  • Toesig oor kinders—’n gebalanseerde beskouing
    Ontwaak!—1997
  • Gesinsprobleme opgelos deur Bybelraad
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Wat is in die kind se belang?
    Ontwaak!—1997
  • Enkelouers, baie uitdagings
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 12/8 bl. 5-8

Toesig oor kinders—godsdiens en die wet

IN EGSKEIDINGSAKE en sake in verband met toesig en beheer oor kinders kan godsdiens ’n belangrike faktor wees—asook ’n ingewikkelde faktor. Vrae soos die volgende kan byvoorbeeld ontstaan.

Moet ’n regter getuienis in aanmerking neem waarin beweer word dat een ouer onbevoeg is om toesig en beheer oor ’n kind te hê omdat daardie ouer ’n lid is van ’n sekere godsdiens, veral ’n minderheidsgodsdiens? Moet ’n regter getuienis oor die godsdiensopvattings en -gebruike van die ouers in aanmerking neem sodat hy kan besluit watter godsdiens, na sy mening, vir die kind die beste sal wees? Moet hy dan beveel dat die kind in daardie godsdiens grootgemaak word en verbied dat die kind aan ander godsdienste blootgestel word?

Vandag trou al hoe meer mense met iemand van ’n ander godsdiens- en etniese agtergrond. Wanneer hierdie egpare dan skei, het die kinders moontlik reeds bande met twee godsdiensgemeenskappe. Partykeer het ’n ouer wat by ’n egskeidingsaak betrokke is dalk kort tevore ’n ander godsdiens aangeneem as wat daardie ouer voorheen gehad het. Die nuwe godsdiensgenootskap is moontlik ’n stabiliserende faktor in die lewe van daardie ouer en vir hom baie belangrik, maar is vir die kinders onbekend. ’n Ander vraag ontstaan dus: Kan die hof die ouer belet om die kinders na die dienste van daardie godsdiens te neem net omdat dit anders is as die godsdiens wat die ouers voorheen beoefen het?

Dit is moeilike vrae. Dit vereis dat ’n regter nie net die behoeftes van die kind in ag neem nie, maar ook die belange en regte van die ouers.

Fundamentele regte van ouers en kinders

Regters kan weliswaar deur hulle eie godsdiensbeskouings beïnvloed word. Maar in baie lande sal ouers en kinders se godsdiensregte waarskynlik nie geïgnoreer word nie. Hierdie lande het moontlik ’n grondwet wat die regter verbied om beperkings te plaas op die ouers se fundamentele reg om beheer uit te oefen oor die opvoeding van die kind, wat die kind se skool- en godsdiensonderrig insluit.

Op sy beurt het die kind die reg om sulke opleiding van sy ouers te ontvang. Voordat ’n regter wettiglik met die godsdiensopleiding van ’n kind kan inmeng, moet die hof oortuigende getuienis aanhoor dat “bepaalde godsdiensgebruike ’n onmiddellike en wesenlike bedreiging vir ’n kind se fisiese welstand inhou”. (Ons kursiveer.) Blote geskille oor godsdiens of selfs vyandigheid tussen die ouers oor godsdiens is nie genoeg om ingryping deur die staat te regverdig nie.

Die redelike standpunt wat ’n moeder wat een van Jehovah se Getuies is in ’n toesigsaak in Nebraska, VSA, ingeneem het, lig toe hoe hierdie regsvoorsienings die ouers sowel as die kinders beskerm. Die vader, wat nie ’n Getuie is nie, wou nie hê dat hulle dogter die godsdiensvergaderinge van Jehovah se Getuies by die Koninkryksaal moes bywoon nie. ’n Laer hof het met die vader saamgestem.

Die moeder het toe by die Appèlhof van Nebraska geappelleer. Die moeder het aangevoer dat daar geen bewys is van ’n onmiddellike of wesenlike bedreiging vir die welstand van die kind in enige van die bedrywighede van Jehovah se Getuies nie. Die moeder het getuig “dat die bywoning van en deelname aan die godsdiensbedrywighede van albei ouers . . . ’n grondslag sal voorsien waarvolgens die kind kan besluit watter godsdiens sy sal verkies wanneer sy oud genoeg is om te verstaan”.

Die hoër hof het die laer hof se beslissing ter syde gestel en beslis dat “die [laer] hof sy oordeel misbruik het deur beperkings te plaas op die toesighoudende moeder se reg om oor die godsdiensopvoeding van haar minderjarige kind beheer uit te oefen”. Daar was hoegenaamd geen bewys dat die kind benadeel is deur godsdiensvergaderinge by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies by te woon nie.

Regte van nietoesighoudende ouers

Partykeer probeer geskeide ouers geskille oor godsdiensopleiding gebruik as ’n manier om beheer oor die kinders te kry. In Khalsa v. Khalsa, ’n saak in die staat Nieu-Mexiko, VSA, het albei ouers byvoorbeeld gedurende hulle huwelik die Sikh-godsdiens beoefen. Maar kort nadat hulle geskei het, het die moeder ’n Katoliek geword en die kinders begin afraai om Sikhisme te beoefen.

Die vader was kwaad en het die saak hof toe geneem in ’n poging om meer gesag te verkry om die kinders godsdiensopleiding in sy Sikh-godsdiens te gee. Hoe het die verhoorhof op die vader se versoek gereageer? Dit het sy versoek geweier. Die verhoorhof het gelas dat “die kinders, wanneer hulle by [hom] was, nie vrywillig of onvrywillig aan enige Sikh-bedrywigheid kon deelneem nie, wat enige kerkbedrywigheid, Sikh-kamp of Sikh-dagsorgsentrum ingesluit het”.

Die vader het hierdie beslissing by die Appèlhof van Nieu-Mexiko geappelleer. Hierdie hoër hof het met die vader saamgestem en die verhoorhof se beslissing ter syde gestel. Die appèlhof het gesê: “Howe moet bly by ’n beleid van onpartydigheid teenoor godsdienste en moet net op hierdie sensitiewe en grondwetlik beskermde gebied ingryp wanneer daar duidelike en bevestigende bewys is dat die kinders benadeel word. Beperkings op hierdie gebied hou die gevaar in dat beperkings wat deur die hof opgelê word op ongrondwetlike wyse inbreuk sal maak op ’n ouer se vryheid van aanbidding of die indruk sal gee dat dit daardie uitwerking het.”

So ’n beslissing is die gevolg van ’n hele reeks beginsels wat in baie lande goed gevestig is. ’n Redelike ouer sal hierdie beginsels oorweeg. Daarbenewens sal die Christenouer goed nadink oor die kind se behoefte aan interaksie met albei ouers, asook die kind se verpligting om sy moeder sowel as sy vader te eer.—Efesiërs 6:1-3.

Bemiddeling buite die hof

Hoewel bemiddeling buite die hof moontlik nie so formeel soos ’n verhoor voor ’n regter is nie, moet ’n ouer dit nie met ’n ongeërgde houding benader nie. Enige ooreenkoms of bepaling wat gedurende hierdie toesigproses bereik word, kan daarna deur hofbevele bindend gemaak word. Dit sal derhalwe raadsaam wees as ’n ouer ’n ervare gesinsadvokaat raadpleeg om seker te maak dat alle sake in verband met toesig behoorlik en met redelikheid hanteer word.

Elke ouer moet tyd inruim om vir die bemiddelingsproses voor te berei. ’n Ouer se houding en gedrag gedurende die bemiddelingsproses kan die uitslag grootliks beïnvloed. Alte dikwels is ouers wat skei emosioneel so betrokke by die egskeidingsaak dat hulle die belangrike kwessies uit die oog verloor: Wat is in die kind se belang? Wat het die kind nodig sodat hy verstandelik, emosioneel en fisies kan ontwikkel?

Onthou dat die hoofkwessie in bemiddeling, uit die regsoogpunt, nie godsdienstige of ander persoonlike geskille is nie, maar hoe die ouers gemeenskaplike terrein kan vind en tot ’n vergelyk kan kom wat die kinders sal bevoordeel. ’n Ouer sal moontlik te staan kom voor godsdiens- of ander vooroordeel, onverwagte vrae, of manipulasies wat bedoel is om ’n mens te verontrus en verbouereerd te maak. Elke ouer se tekortkominge sal dalk blootgelê of selfs oordryf word. As die betrokkenes egter redelik bly, kan ’n skikking getref word.

Soms lyk dit of die bemiddelingsproses uitgerek en frustrerend is. Die alternatief is ’n uitgerekte hofsaak met die gepaardgaande publisiteit wat verleentheid veroorsaak, die finansiële las en die nadelige uitwerking op die kind. Dit is beslis minder wenslik. Soos met alle ernstige probleme in die lewe wil ’n Christenouer die bemiddelingsproses biddend benader en die geïnspireerde uitnodiging onthou om ‘jou weg aan die HERE oor te laat en op Hom te vertrou, en Hý sal dit uitvoer’.—Psalm 37:5.

Maar gestel ’n skikking kan nie getref word nie en die regter ken toesig en beheer oor die kind aan die ander ouer toe. Of gestel een van die ouers wat skei, is uit die Christengemeente gesit. En hoe moet ’n mens gesamentlike toesig en alleentoesig beskou? Hierdie vrae en verwante Bybelbeginsels sal in die volgende artikel bespreek word.

[Venster op bladsy 6]

Drie belangrike eienskappe

’n Gesinshofregter met wie Ontwaak! ’n onderhoud gevoer het, het gesê dat die volgende drie eienskappe onder die belangrike eienskappe is waarna hy in ’n ouer soek:

Redelikheid—’n bereidwilligheid om die ander ouer die maksimum toegang tot die kind toe te staan (mits daar geen fisiese of sedelike gevaar vir die kind is nie)

Sensitiwiteit—’n bewustheid van die kind se emosionele behoeftes

Selfbeheersing—’n gebalanseerde huislike lewe wat tot ’n kalm atmosfeer sal bydra waarin die kind kan floreer

[Venster op bladsy 6]

Regterlike riglyne

Party regters het onnodige geskille oor ’n ouer se godsdienswaardes probeer voorkom deur riglyne te gee. Byvoorbeeld:

1. ’n Betekenisvolle verhouding moet tussen ’n kind en albei ouers aangemoedig word. Kanada se appèlregter John Sopinka het gesê dat elke ouer toegelaat moet word “om aan daardie bedrywighede deel te neem wat help om die ouer te identifiseer as die persoon wat hy of sy werklik is [waaronder die beoefening van sy of haar godsdiens]. Daar word nie van die ouer wat toegang tot die kind het, verwag om hom gedurende tydperke van toegang anders voor te doen of om ’n onnatuurlike lewenswyse te volg nie.”

2. As die ouer wat toegang tot die kind het, verbied word om die kind sy/haar godsdiensopvattings te leer, is dit ’n skending van die ouer se godsdiensvryheid, behalwe wanneer daar duidelike, bevestigende bewys is van onmiddellike en wesenlike nadeel vir die kind.

[Prent op bladsy 7]

Regters het in toesigsake ’n groot verantwoordelikheid

[Prent op bladsy 8]

’n Bemiddelaar kan ouers help om geskille te besleg sonder lang regsgedinge

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel