Toesig oor kinders—’n gebalanseerde beskouing
DIKWELS kom die werklike uitdaging ná die egskeiding in ’n stryd om die liefde en beheer van die kind. Die gesegde: “Twee is nodig om te baklei”, is nie altyd waar nie. Één baasspelerige ouer wat sy of haar sin wil hê, is dalk al wat nodig is. ’n Gesinsregprokureur in Toronto, Kanada, het gesê: “Alles in gesinsreg is met baie emosie gelaai en raak die hart.”
Pleks van aan die kind se belange te dink, hou party ouers die geskil aan die gang deur mosies oor ontoepaslike sake in te dien. Party het byvoorbeeld probeer bewys dat die toesig verander moet word omdat die ander ouer een van Jehovah se Getuies is en die kind ’n ‘normale lewenswyse’ sal ontsê.
Die ouer wat nie ’n Getuie is nie, maak dalk ’n geskilpunt van die viering van verjaarsdae, Kersfees of selfs Allerheiligeaand. Party kla dalk dat die kind se omgang en sosiale aanpassing beperk sal wees as die kind besluit om nie die vlag te salueer nie. Of party sê dalk dat die kind sielkundig benadeel sal word deur die ouer te vergesel wanneer hy met ander oor die Bybel praat. Party ouers wat nie Getuies is nie, het selfs al beweer dat die kind se lewe in gevaar gestel sal word omdat die Getuie-ouer nie toestemming sal gee dat die kind ’n bloedoortapping kry nie.
Hoe bied ’n Christen die uitdaging van sulke emosiegelaaide argumente die hoof? ’n Emosionele reaksie—om ewe heftig op te tree—sal van geen nut wees nie. As die saak voor ’n regter verhoor word, sal elke ouer ’n geleentheid hê om gehoor te word. Dit is baie belangrik om dié Bybelraad in gedagte te hou: “Werp jou sorg op die HERE, en Hý sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie” (Psalm 55:23). As ouers hieroor peins en Bybelbeginsels toepas, kan hulle, met Jehovah se hulp, opgewasse wees teen enige gebeurlikheid met betrekking tot toesig en beheer oor kinders.—Spreuke 15:28.
Redelikheid
Die belange van die kind is die hoofsaak. As ’n ouer te veeleisend is, kan hy toesig verloor en selfs vind dat sy besoekvoorregte beperk is. Die verstandige ouer gedra hom op ’n vreedsame manier en hou dié Bybelraad in gedagte: “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie. . . . Gee plek vir die gramskap . . . Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin” (Romeine 12:17-21). Of ouers nou in die hof, in ’n regsgeleerde se kantoor of by iemand is wat sake in verband met toesig oor kinders evalueer, hulle moet hulle “redelikheid aan alle mense bekend [laat] word”.—Filippense 4:5.
Partykeer sal ’n vervreemde huweliksmaat ander probeer bedrieg deur misleidende en veronderstelde probleme te opper. Dit is verstandig om te stry teen die menslike neiging om te oorreageer op hierdie aanvallende woorde. Gesondheid, godsdiens en opvoeding is gunstelingonderwerpe wat vervreemde huweliksmaats gebruik om onheil te stig by die verhoor van ’n toesiggeskil.—Spreuke 14:22.
Redelikheid sluit die vermoë in om die feite te oorweeg en ’n regverdige skikking te tref. Geen ouer moet vergeet dat die kind selfs ná die egskeiding nog steeds twee ouers het nie. Die ouers het van mekaar geskei, maar hulle het nie van die kind geskei nie. Behalwe in uiterste omstandighede moet elke ouer derhalwe die vryheid hê om as ’n ouer op te tree wanneer hy of sy die kind het. Elkeen moet die vryheid hê om sy of haar gevoelens en waardes uit te spreek en om die kind aan die ouer se wettige bedrywighede te laat deelneem, hetsy dit godsdiens- of ander bedrywighede is.
Kom ons bespreek die moontlike beslissings van ’n verhoor: (1) gesamentlike toesig, (2) alleentoesig en (3) beperkings op besoekvoorregte. Wat is die verskil tussen gesamentlike toesig en alleentoesig? Hoe kan jy dit verwerk wanneer jy toesig verloor? Gestel een ouer is uitgesit.
Gesamentlike toesig
Party regters meen dat dit belangrik is dat die kind met albei ouers in aanraking bly. Hulle redenasie is gegrond op navorsingstudies wat toon dat kinders ná die egskeiding moontlik minder spanning verduur en emosionele skade ly as die ouers die toesig kan deel. Die kind voel dan nie dat hy deur een ouer verlaat is nie, maar eerder dat albei ouers hom liefhet en dat hy by albei huishoudings betrokke is. “Gesamentlike toesig is ’n manier waarop albei ouers betrokke kan bly”, sê ’n gesinsadvokaat.
Maar dr. Judith Wallerstein, uitvoerende direkteur van die Sentrum vir die Gesin in Oorgang, in Corte Madera, Kalifornië, waarsku dat gesamentlike toesig net kan werk as die ouers tegemoetkomend is en die kind buigsaam is en met mense oor die weg kom. Hierdie eienskappe is noodsaaklik, want in die geval van gesamentlike toesig behou albei ouers die wetlike reg om ’n aandeel te hê aan die besluite oor belangrike kwessies in verband met die gesondheid, opvoeding, godsdiensopvoeding en sosiale lewe van hulle kind. Maar dit werk slegs as albei ouers redelik bly deur eerder in aanmerking te neem wat in hulle kind se belang is as wat in hulle eie belang is.
Alleentoesig
Die hof kan alleentoesig toeken aan die ouer wat, na die hof se mening, beter toegerus is om in die behoeftes van die kind te voorsien. Die regter besluit dalk dat die toesighoudende ouer alleen die besluite moet neem ten opsigte van belangrike kwessies rakende die kind se welstand. Dikwels neem die hof die besluit nadat dit na die bevindings van die evalueerders geluister het—hulle is gewoonlik sielkundiges, psigiaters of maatskaplike werkers.
Voorstanders van alleentoesig meen dat die reëling die kind meer bestendigheid gee. Wanneer ouers nie doeltreffend met mekaar kan kommunikeer nie of dit waarskynlik nie gaan doen nie, verkies baie verhoorregters hierdie toesigreëling. Die nietoesighoudende ouer word natuurlik nie uit die kind se lewe uitgesluit nie. Besoekregte word gewoonlik aan die nietoesighoudende ouer toegeken, en albei ouers kan voortgaan om die kind te voorsien van die leiding, liefde en toegeneentheid wat hy nodig het.
Besoekvoorregte
Dit is onrealisties vir ouers om toesig en beheer oor kinders te beskou as ’n saak met ’n “wenner” en ’n “verloorder”. Ouers is suksesvol en “wen” wanneer hulle hulle kinders volwasse, bedrewe, ordentlike volwassenes sien word. Sukses met die grootmaak van kinders hou nie regstreeks verband met wie wetlik toesig het nie. Deur gehoor te gee aan die bepalings van ’n hofbevel in sake met betrekking tot toesig en beheer oor kinders, selfs wanneer dit onregverdig lyk, toon ’n Christen dat hy “onderdanig [is] aan die hoër owerhede” (Romeine 13:1). Dit is ook belangrik om te onthou dat dit nie nou die tyd is om mee te ding om die liefde of lojaliteit van julle kinders deur die ander ouer te verkleineer in ’n poging om sy of haar verhouding met hulle te vernietig nie.
Daar is Bybelse voorbeelde van godvresende ouers wat om verskeie redes van hulle kinders geskei was. Amram en Jogebed, die ouers van Moses, het byvoorbeeld in hulle kind se belang opgetree deur hom in ’n klein drywende mandjie “in die riete aan die kant van die Nyl” te sit. Toe die kindjie deur Farao se dogter gevind is, het hulle nog steeds hulle vertroue in Jehovah gestel. Hierdie verstandige en getroue ouers is met milddadige “besoekvoorregte” beloon wat hulle op doeltreffende wyse gebruik het om die seun in Jehovah se weg op te lei. Moses het grootgeword en ’n uitsonderlike kneg van die ware God geword.—Exodus 2:1-10; 6:19.
Maar gestel een van die ouers is uitgesit. Moet die Christenouer die kind vir besoeke beskikbaar stel? Die uitsettingsproses van die gemeente verander net die geestelike verhouding tussen die individu en die Christengemeente. Trouens, dit verbreek die geestelike bande. Maar die verhouding tussen die ouer en die kind bly bestaan. Die toesighoudende ouer moet die uitgesette ouer se besoekreg respekteer. Maar as die nietoesighoudende ouer ’n onmiddellike en wesenlike gevaar vir die kind se fisiese of emosionele welstand inhou, kan die hof (nie die toesighoudende ouer nie) reël dat ’n derde party tydens die kind se besoeke toesig hou.
Jy is nooit alleen nie
Egskeidingsake en daaropvolgende geskille in verband met toesig en beheer oor kinders is emosioneel uitputtend. ’n Huweliksverbintenis wat so belowend begin het, is saam met die egpaar se drome, planne en verwagtings verpletter. Ontrouheid of uiterste mishandeling kan ’n lojale vrou byvoorbeeld dwing om wetlike beskerming vir haar en haar kind te kry. En tog kan ’n skuldgevoel en ’n gevoel van onvolwaardigheid voortduur terwyl sy nadink oor wat verkeerd geloop het of hoe die saak doeltreffender hanteer kon word. Baie egpare is bekommerd oor hulle kinders se reaksie op die gesin se verbrokkeling. Die stryd in die hof om toesig en beheer te verkry, kan ’n emosionele tuimeltreinrit word wat nie net ’n mens se onkreukbaarheid as ’n liefdevolle ouer op die proef stel nie, maar wat ook ’n mens se geloof in en vertroue op Jehovah op die proef stel.—Vergelyk Psalm 34:16, 19, 20, 23.
Wanneer ’n onskuldige huweliksmaat besluit om op te tree as gevolg van kindermishandeling of uiterste huweliksmishandeling of om sy of haar gesondheid teen die gevaar van seksueel oordraagbare siektes van ’n ontroue huweliksmaat te beskerm, hoef daardie onskuldige huweliksmaat nie skuldig te voel of te voel dat Jehovah hom of haar verlaat het nie (Psalm 37:28). Dit is die huweliksmaat wat ontrou is of wat sy of haar maat mishandel wat die heilige huwelikskontrak verbreek en met sy of haar maat “verraderlik gehandel het”.—Maleagi 2:14, NW.
“Behou ’n goeie gewete” voor mense en Jehovah deur Bybelbeginsels toe te pas, jou vervreemde huweliksmaat eerlik te behandel en buigsaam te wees in julle toesigooreenkomste. “Dit is beter om te ly omdat julle goed doen, as die wil van God dit verlang, as omdat julle kwaad doen.”—1 Petrus 3:16, 17.
Wat die kinders betref, hulle moet gerusgestel word dat die verbrokkeling van die gesin nie hulle skuld was nie. Partykeer werk dinge net nie uit soos dit beplan is nie. Maar die toepassing van Bybelbeginsels kan die slag van die egskeiding versag deur ouers en kinders aan te spoor om openhartig en met begrip met mekaar te gesels. Dit kan byvoorbeeld gedoen word deur die kinders daadwerklik aan die beplanning vir ’n gesinslewe ná die egskeiding te laat deelneem. As jy geduldig en goedhartig is en in die kinders se gevoelens belangstel en na hulle luister wanneer hulle praat, sal jy hulle baie help om by die nuwe rooster en woonreëlings aan te pas.
Ander kan help
Ouers is nie die enigstes wat ’n kind kan help wat die verbrokkeling van ’n gesin ondervind nie. Familielede, onderwysers en vriende kan baie doen om kinders van geskeide ouers te ondersteun en gerus te stel. Grootouers kan veral baie doen om tot die kind se stabiliteit en emosionele welstand by te dra.
Christengrootouers kan die kinders geestelik onderrig en aan heilsame bedrywighede laat deelneem, maar hulle moet die ouers se besluite oor godsdiensopleiding respekteer, want dit is die ouers, nie die grootouers nie, wat die sedelike en wetlike gesag het om hierdie besluite te neem.—Efesiërs 6:2-4.
Met sulke ondersteuning kan kinders van geskeide ouers die verbrokkeling van hulle ouers se huwelik oorleef. En hulle kan steeds na die seëninge van God se nuwe wêreld uitsien, waar alle gesinne vry sal wees van “die slawerny van die verderflikheid . . . en die glorieryke vryheid van die kinders van God sal hê”.—Romeine 8:21; 2 Petrus 3:13.
[Venster op bladsy 11]
Hoe om misverstande reg te stel
“Die tong van die wyse getuig van grondige kennis”, en ’n Christenouer het ’n goeie geleentheid om misverstande of halwe waarhede reg te stel (Spreuke 15:2). Neem byvoorbeeld die gesondheidsorg van die kinders van Jehovah se Getuies. “Jehovah se Getuies aanvaar mediese behandeling en ondergaan operasies”, maar wanneer ’n Getuie as die toesighoudende ouer aangewys is, het hy die reg van ingeligte toestemming vir enige prosedure.a—The Journal of the American Medical Association.
Jehovah se Getuies neem hulle godsdiens, wat op God se Woord, die Bybel, gegrond is, ernstig op. Dit maak hulle beter vaders, moeders, kinders, vriende, bure en burgers. Christenouers pas dissipline op ’n liefdevolle wyse toe, wat respek vir gesag opbou en hulle kinders toerus met ’n goeie stel waardes vir die lewe.b—Spreuke 13:18.
Sekulêre opvoeding is ’n belangrike deel van ’n kind se opvoeding, en Jehovah se Getuies wil hê dat hulle kinders die beste opvoeding moet kry wat beskikbaar is.c—Spreuke 13:20.
[Voetnote]
a Sien die brosjure Hoe kan bloed jou lewe red?, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania.
b Sien die boek Die geheim van gesinsgeluk, hoofstukke 5-7, 9, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
c Sien die brosjure Jehovah se Getuies en opvoeding, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania.
[Prent op bladsy 10]
’n Toesighoudende ouer moet geduldig luister wanneer ’n kind van sy of haar besoek by die nietoesighoudende ouer vertel