Die Franse Bybel se stryd om behoue te bly
Deur Ontwaak!-medewerker In Frankryk
MEER as ’n honderdmiljoen mense in die wêreld praat Frans. Selfs al is jy nie een van hulle nie, is die verhaal van die Franse Bybel se stryd om behoue te bly boeiende leesstof, deels as gevolg van die verband wat dit met godsdiensvryheid het. Deur die eeue heen is talle Franse Bybels op gevoellose wyse deur vyande en vals vriende vernietig. Ondanks geweldige teenkanting het vertalers en drukkers hulle lewe gewaag om die stryd te wen.
Gedurende die 12de eeu was dele van die Bybel in ’n aantal volkstale beskikbaar, met inbegrip van Frans. Groepe wat deur die Katolieke Kerk as ketters beskou is, het die gebruik hiervan aangemoedig. Maar dit was eers in die 19de eeu dat die Bybel in Frans wye verspreiding begin geniet het. Hierdie verloop van eeue weerspieël die gevaarlike toetse wat die Franse Bybel moes deurstaan om behoue te bly.
Een van die eerste boeke in Frans was ’n Bybelwoordeboek wat omstreeks 900 G.J. uitgegee is. Dit was bedoel om lesers te help om die Bybel in Latyn te verstaan, die taal wat die Katolieke Kerk gebruik het. Maar teen daardie tyd het die gewone mense ’n hele aantal dialekte gepraat en nie meer Latyn nie. Hulle is dus toegang tot God se Woord ontsê. Dít het die voorreg gebly van die geestelikes wat vertroud was met Latyn en dit dus kon lees.
In 842 G.J. het die eerste amptelike staatsdokument in Frans verskyn. Dit was ’n stilswyende erkenning dat die meeste mense nie meer Latyn gepraat het nie. Omstreeks 880 G.J. het godsdiensgedigte in die volkstaal in Frankryk begin verskyn. Bybelvertalings het egter eers twee eeue later verskyn. Onder die vroegstes was die Normandies-Franse vertalings van dele van die Bybel wat aan die begin van die 12de eeu verskyn het.
Die stryd begin in alle erns
Die eerste volgehoue poging om die Heilige Skrif aan die mense van Frankryk beskikbaar te stel in ’n vorm wat hulle kon lees, is aangewend deur Petrus Waldus, ’n 12de-eeuse handelaar van Lyon in Sentraal-Frankryk. Waldus het mense aangestel om dele van die Bybel in Provensaals, ’n dialek wat in suidoostelike Frankryk gepraat is, te vertaal. In 1179, by die Derde Lateraanse Konsilie, het hy sy gedeeltelike vertaling van die Bybel aan pous Aleksander III voorgelê.
Die kerk het Waldus en sy ondersteuners later as ketters veroordeel, en monnike het die vertalings wat hy laat maak het, verbrand. Van toe af het die kerk alle pogings teëgestaan om die Woord van God aan die gewone mense beskikbaar te stel.
Die kerk se strategie was duidelik toe hulle in 1211 Bybels verbrand het in Metz, ’n stad in die ooste van Frankryk. In 1229 het die Konsilie van Toulouse leke uitdruklik verbied om Bybels in enige van die volkstale te gebruik. Dit is in 1234 gevolg deur die Konsilie van Tarragona, Spanje, wat selfs die geestelikes verbied het om Bybels in enige Romaanse taal (taal wat van Latyn afstam) te besit.
Ondanks sulke meedoënlose teenkanting het die eerste volledige Franse vertaling van die Bybel in die tweede helfte van die 13de eeu verskyn. Daar is maar min eksemplare van hierdie Bybel, wat anoniem vertaal is, versprei. Op hierdie stadium was die Bybel in geen vorm vir die gewone mense beskikbaar nie. Afskrifte is met die hand gemaak. Weens die hoë prys en die beperkte beskikbaarheid het feitlik net die adelstand en die geestelikes Bybels besit.
Die Bybel word verdedig
Met Johannes Gutenberg se uitvinding van die drukpers en los letters omstreeks 1450, is Frankryk meegevoer deur die omwenteling in die drukkuns in Europa. Drie Franse stede—Parys, Lyon en Rouen—het belangrike sentrums vir drukwerk geword, skanse in die verdediging van die Bybel.a
Tot op hierdie stadium van die stryd was Franse Bybelvertalings op die Latynse Vulgaat gebaseer. Die Latynse teks is deur talle foute bederf ná duisend jaar van oorskrywery, maar die kerk het aan die Vulgaat bly vasklou. Die Franse Katoliek Jacques Lefèvre d’Étaples het egter besluit om die Bybel vir die mense toeganklik te maak. In 1530 het hy die Vulgaat in Frans vertaal en party van die foute reggemaak deur na Hebreeuse en Griekse manuskripte te verwys wat kort tevore beskikbaar geword het. Hy het ook die verwarrende leerstellige verduidelikings uitgehaal wat die kerk in die teks ingevoeg het.
Lefèvre se vertaling is kort voor lank aangeval. Party vertalings moes buite Frankryk gedruk word. Hulle is op die lys geplaas van boeke wat deur die kerk verbied is. Lefèvre moes ’n tyd lank skuiling soek in Straatsburg, wat toe ’n vrye rykstad oos van Frankryk was. Sy vertaling was nietemin ’n sukses.
Die eerste Franse vertaling van die Bybel wat op die teks van die oorspronklike tale gebaseer was, is in 1535 uitgegee. Die vertaler was die Franse Protestant Pierre-Robert Olivétan, ’n neef van die hervormer Johannes Calvyn. Weens die teenkanting van die kerk kon dit nie in Frankryk gedruk word nie, en hierdie vertaling is dus in Neuchâtel, Switserland, ’n nuwe Protestantse gemeenskap, gedruk. Olivétan se Franse Bybelvertaling het as die standaard vir talle latere hersienings en Bybelvertalings in ander tale gedien.
’n Lewensgevaarlike stryd
In Frankryk is party dapper drukkers, soos Étienne Dolet in 1546, op die brandstapel verbrand omdat hulle die Bybel gedruk het. Die Konsilie van Trente het in 1546 die “betroubaarheid” van die Vulgaat herbevestig, ten spyte van die foute daarin, en van toe af het die kerk selfs fermer standpunt ingeneem teen die vertalings in die volkstale. In 1612 het die Spaanse Inkwisisie ’n wreedaardige veldtog onderneem om Bybels in die volkstale te vernietig.
Vervolging het soms tot vindingryke nuwighede gelei. “Bolla”-Bybels, wat klein genoeg was om in ’n vrou se bolla weg te steek, is gemaak. En in 1754 is uittreksels uit die Hebreeuse en Griekse Geskrifte gedruk in ’n boek wat net drie sentimeter by vyf sentimeter groot was.
Teenaanvalle
Maar mettertyd het veranderinge plaasgevind. Nadat die Bybel eeue van wrede aanvalle weerstaan het, is beslissende teenaanvalle in die guns daarvan gemaak. Nuwe idees en godsdiensvryheid wat ná die Franse Revolusie toegestaan is, het die kern van die kerk se teenkanting aangeval. ’n Protestantse Nuwe Testament is dus in 1803 in Frankryk gedruk, die eerste in 125 jaar!
Bybelgenootskappe het ook hulp verleen. In 1792 is die Franse Bybelgenootskap in Londen, Engeland, gestig “om soveel moontlik Franse Bybels te bekom vir die Franse wat nie hierdie Goddelike skat besit in ’n taal wat hulle kan verstaan nie”. Ander Bybelgenootskappe het tot die stryd toegetree. Hulle het dus geslaag in hulle doelwit om die Bybel in Frans te produseer en te versprei.
Die genadeslag
Die Katolieke Kerk het geweier om van taktiek te verander, maar dit het geen kans gestaan om die stryd te wen nie. Deur die hele 19de eeu is ’n reeks verordeninge deur die pouse uitgevaardig wat Bybels in die volkstale meedoënloos teëgestaan het. Selfs nog in 1897 het pous Leo XIII herbevestig dat “alle vertalings van die Heilige Boeke deur enige nie-Katolieke skrywer en in enige gewone taal verbied word, veral dié wat deur Bybelgenootskappe uitgegee is en wat al by etlike geleenthede deur die Biskop van Rome afgekeur is”.
Maar weens die beskikbaarheid van goedkoop Protestantse Bybels wat deur die Bybelgenootskappe uitgegee is, het die Katolieke Kerk toegelaat dat Katolieke geleerdes die Bybel in Frans vertaal. Augustin Crampon se vertaling wat eers in sewe dele uitgegee is (1894-1904), en toe in een bundel (1904), was die eerste Franse Katolieke vertaling wat op die oorspronklike teks gebaseer is. Wat noemenswaardig is, is die talryke noukeurige voetnote en die feit dat Crampon die Franse vorm van God se naam, Jéhovah, dikwels gebruik het.
Die Vatikaan het uiteindelik van standpunt verander en het in sy ensikliek, Divino Afflante Spiritu van 1943, die reëls vir die vertaling van die Bybel in die volkstale uiteengesit. Talle Katolieke vertalings is sedertdien uitgegee, waaronder die gewilde Jerusalem Bible wat eers in Frans uitgegee is en later in verskeie ander tale vertaal is, met inbegrip van Engels.
’n Bybel wat Franssprekende mense regoor die wêreld gehelp het, is die Franse uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif. Dit is in 1974 vir die eerste keer in sy volledige vorm uitgegee en is in 1995 hersien. In die talle tale waarin dit tot dusver uitgegee is, gee die Nuwe Wêreld-vertaling erkenning aan die Bybel se Outeur deur sy naam, Jehovah, in die Hebreeuse Geskrifte en, waar toepaslik, in die Griekse Geskrifte terug te sit. Tot op hede is meer as vyfmiljoen eksemplare van die Franse uitgawe gedruk. Die Bybel het ongetwyfeld sy stryd om in Frans behoue te bly, gewen.
[Voetnoot]
a Die Franse drukwerk was so suksesvol dat die tribunaal van Sevilla berig het dat ongeveer 90 persent van die anderstalige Bybels wat in 1552 op bevel van die Spaanse Inkwisisie in beslag geneem is in Frankryk gedruk is!
[Prent op bladsy 16]
Lefèvre d’Étaples se Bybel van 1530
[Prent op bladsy 16]
Olivétan se Bybel van 1535
[Prent op bladsy 17]
’n Seldsame voorbeeld van die “13de-eeuse Bybel”
[Foto-erkenning op bladsy 17]
Bybels: Bibliothèque Nationale de France