Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 2/8 bl. 13-15
  • Laat Christelike eenheid ruimte vir verskeidenheid?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Laat Christelike eenheid ruimte vir verskeidenheid?
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • God spreek tot ons as individue
  • God se oorspronklike voorneme
  • Besorgdheid oor ander
  • Eenheid en verskeidenheid —’n fyn balans
  • Vereis Christelike eenheid eenvormigheid?
    Ontwaak!—2003
  • Verheerlik God “uit een mond”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Christelike eenheid verheerlik God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Handhaaf eenheid in hierdie laaste dae
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 2/8 bl. 13-15

Die Bybelse Beskouing

Laat Christelike eenheid ruimte vir verskeidenheid?

EENHEID in die Christengemeente is noodsaaklik. Verdeeldheid wat geloofsoortuiging betref, sal aanleiding gee tot hewige geskille, onenigheid en selfs vyandskap (Handelinge 23:6-10). Die Bybel sê dat ‘God nie ’n God van wanorde is nie, maar van vrede’ (1 Korintiërs 14:33). Christene word gevolglik gemaan om eenstemmig te spreek en verenig te wees in dieselfde denke en in dieselfde gedagtegang.—1 Korintiërs 1:10.

Moedig hierdie woorde en soortgelyke Bybelgedeeltes streng eenvormigheid onder Christene in elke opsig aan? (Johannes 17:20-23; Galasiërs 3:28). Ontmoedig die ware Christelike geloof soos dit in die Bybel beskryf word verskeidenheid wat individuele persoonlikhede betref? Word daar van alle Christene verwag om in alle opsigte presies dieselfde te wees?

God spreek tot ons as individue

Party mense glo vas dat die Bybel net nog ’n instrument is waarmee die volksmassa na willekeur beheer kan word. Party sektes het dit weliswaar al dikwels op hierdie wyse misbruik. Jesus het egter ’n heeltemal ander beeld van die Skrif en die Goddelike Outeur daarvan geskilder. Hy het God beskryf as iemand wat ’n lewendige belangstelling in elkeen van sy skepsele toon.

In Johannes 6:44 het Jesus verduidelik: “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie.” Die werkwoord wat hier gebruik word, gee nie te kenne dat God mense teen hulle sin sleep nie. God trek mense eerder op liefderyke wyse aan deur tot die hart te spreek. Daar is, soos een Bybelgeleerde dit gestel het, ‘’n invloed wat van God kom wat die verstand beweeg om te glo’. Die Skepper beskou nie die mensdom as ’n naamlose massa nie. Hy beoordeel mense as individue en trek op liefderyke wyse mense na hom toe wie se hart die regte gesindheid het.—Psalm 11:5; Spreuke 21:2; Handelinge 13:48.

Let op hoe aanpasbaar die apostel Paulus was. Hy het die spesiale behoeftes van mense in aanmerking geneem en het besef dat sekere beskouings algemeen onder mense van bepaalde nasionaliteite of agtergronde was. Dan het hy sy benadering dienooreenkomstig aangepas. Hy het geskryf: “Vir die Jode [het ek] soos ’n Jood geword om Jode te wen . . . Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Ek het alles vir alle soorte mense geword om op elke moontlike manier sommige te red.”—1 Korintiërs 9:20-22.

Dit is duidelik dat Paulus mense nie in stereotipes ingedeel het of almal dieselfde behandel het nie. Hy het hulle hierdie aanmoediging gegee: “Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen ’n antwoord behoort te gee” (Kolossense 4:6). Ja, Paulus en die ander Christene moes elke mens se uniekheid erken en respekteer sodat hulle hom kon help.

God se oorspronklike voorneme

Hierdie respek vir iemand as individu duur voort nadat hy deel van die Christengemeente word. God se volk word nie verswelg in ’n see van algehele eenvormigheid en absolute onderwerping aan die voorkeure van diegene in gesagsposisies nie. Hulle het eerder ’n groot verskeidenheid persoonlikhede, en hulle vermoëns, gewoontes en menings verskil. Die individualiteit van elkeen word nie as ’n las of iets hinderliks beskou nie. Dit maak deel uit van God se oorspronklike voorneme.

In die nuwe wêreld wat in die Bybel vir die regverdiges beloof word, sal die volmaaktheid van mense dus ruimte vir groot verskeidenheid laat (2 Petrus 3:13). Onder die opskrif “Perfection” (Volmaaktheid) lewer die Bybelensiklopedie Insight on the Scripturesa gepas die volgende kommentaar: “Volmaaktheid beteken egter nie ’n einde aan verskeidenheid, soos mense dikwels aanneem nie. Die diereryk, wat die gevolg van Jehovah se ‘volmaakte werk’ is (Ge[nesis] 1:20-24; De[uteronomium] 32:4), bestaan uit ’n ontsaglike verskeidenheid.”

Die Insight voeg by: “Die volmaaktheid van die planeet Aarde is eweneens nie onverenigbaar met verskeidenheid, verandering of teenstelling nie; dit laat ruimte vir die eenvoudige en die ingewikkelde, die gewone en die swierige, die suur en die soet, die ruwe en die gladde, die graslande en die woude, die berge en die valleie. Dit sluit die verkwikkende frisheid van die vroeë lente in, asook die warmte van die somer met sy hemelsblou lug, die lieflikheid van die herfskleure, die skone prag van sneeu wat pas geval het (Ge[nesis] 8:22). Volmaakte mense sal dus nie stereotipes wees met identiese persoonlikhede, talente en vermoëns nie.”

Besorgdheid oor ander

Maar die ware Christelike geloof ontmoedig wel ’n selfsugtige minagting vir diegene om ons. Die apostel Paulus het noukeurig op elke faset van sy lewe en gedrag gelet sodat hy ander nie sou laat struikel nie. Hy het in sy brief aan die gemeente in Korinte gesê: “In geen opsig gee ons enige aanleiding tot struikeling nie, sodat daar nie met ons bediening foutgevind sal word nie” (2 Korintiërs 6:3). Soms moet ons ons persoonlike begeertes onder beheer hou en die behoeftes van ander bo ons eie voorkeure stel. Paulus het byvoorbeeld aan die Christene in Rome geskryf: “Dit is goed om nie vleis te eet of wyn te drink of enigiets te doen waaroor jou broer struikel nie.”—Romeine 14:21.

’n Mens kan vandag eweneens besluit om nie alkohol te gebruik in die teenwoordigheid van iemand wat sukkel om sy drinkery onder beheer te hou nie (1 Korintiërs 10:23, 24). Dit word nie gedoen uit ’n drang om gelykvormig te wees nie, maar as ’n edele daad van goedhartigheid en liefde. “Selfs die Christus het homself nie behaag nie.” Jesus was ’n individu, maar hy het nie op sy voorkeure aangedring sonder inagneming van ander se gevoelens nie.—Romeine 15:3.

Een van die verkwikkendste aspekte van die ware Christelike geloof is nog altyd dat dit persoonlike vryhede en voorkeure respekteer binne die perke van Bybelriglyne. Dit leer dat God ons verskillend en uniek gemaak het. In 1 Korintiërs 2:11 lees ons: “Wie onder die mense ken die dinge van ’n mens, behalwe die gees van die mens wat in hom is?” Ons probeer ander so goed moontlik verstaan. Maar hierdie teks gee te kenne dat elkeen van ons ’n uniekheid het wat net ons en ons Skepper verstaan. Ons het ’n “geheime persoon van die hart” wat ons openbaar soos ons verkies.—1 Petrus 3:4.

Eenheid en verskeidenheid —’n fyn balans

Die apostel Paulus het ’n goeie voorbeeld van Christelike balans gestel. Hoewel hy gesag as ’n apostel van Christus gehad het, was hy versigtig om nie sy mening aan ander op te dring nie.

Paulus het byvoorbeeld baie sterk gevoel oor die voordele van die ongetroude lewe in hierdie onvolmaakte wêreld. Hy was self ongetroud toe hy geskryf het: “Diegene wat wel trou, sal . . . verdrukking in hulle vlees hê” en “[’n weduwee] is, na my mening, gelukkiger as sy bly soos sy is”. Die feit dat sy woorde ’n deel van die geïnspireerde Woord van God geword het, toon dat daar niks met sy mening fout was nie. Maar hy het ook verduidelik: “Selfs as jy sou trou, sou jy geen sonde pleeg nie.”—1 Korintiërs 7:28, 40.

Die meeste van die apostels was blykbaar getroud, soos Paulus erken het met die woorde: “Ons het die reg om ’n suster as vrou rond te neem net soos die res van die apostels en die Here se broers en Sefas, nie waar nie?” (1 Korintiërs 9:5). Christene het geweet dat hulle wat hierdie saak betref anders as Paulus kon kies en dat hy hulle nog steeds sou respekteer.

Aanbidders van God kon nog altyd hulle geloof ooreenkomstig hulle unieke persoonlikheid uitleef. Trouens, God het selfs die Bybelskrywers toegelaat om hulle eie styl te volg wanneer hulle geskryf het. Nehemia het byvoorbeeld in alle nederigheid sy verslag in die eerste persoon geskryf (Nehemia 5:6, 19). Daarenteen het die apostel Johannes uit beskeidenheid nie een enkele keer sy eie naam in sy Evangelieverslag gebruik nie en selde na homself verwys. God het albei hierdie style goedgekeur en dit in die Bybel laat bewaar.

Soortgelyke voorbeelde van balans en redelikheid word dwarsdeur die Skrif gevind. Dit is duidelik dat Christelike eenheid ruimte vir verskeidenheid laat. Verskillende agtergronde en uiteenlopende menings kan natuurlik tot verdeeldheid lei wanneer geestelike eienskappe ontbreek (Romeine 16:17, 18). Maar wanneer ons ‘ons beklee met liefde, die volmaakte band van eenheid’, leer ons om die unieke persoonlikhede van ander te aanvaar en te waardeer.—Kolossense 3:14.

“Verwelkom mekaar dus”, sê die Bybel, “net soos die Christus ons ook verwelkom het, tot heerlikheid van God” (Romeine 15:7). Met behulp van God se gees kan Christene die fyn balans verkry wat nodig is om die eenheid te bewaar en terselfdertyd ’n verskeidenheid persoonlikhede in die gemeente te waardeer.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Lokteks op bladsy 14]

Die Skepper beskou nie die mensdom as ’n naamlose massa nie

[Lokteks op bladsy 15]

Ons het elkeen ’n uniekheid wat net ons en ons Skepper verstaan

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel