Wanneer hoop en liefde terugkeer
OUERS, onderwysers en ander wat met adolessente te doen het, besef dat nie hulle of jongmense of enige ander persoon die wêreld kan verander nie. Daar is kragte aan die werk wat soos vloedgolwe is, wat niemand kan keer nie. En tog is daar baie wat ons kan doen om daartoe by te dra dat jongmense gelukkiger, gesonder en goed aangepas is.
Aangesien voorsorg beter is as nasorg, moet ouers goed nadink oor hoe hulle lewenswyse en prioriteite die gesindhede en gedrag van hulle kinders kan beïnvloed. Wanneer ouers ’n liefdevolle milieu in die huis voorsien, gee dit die sekuriteit wat selfvernietigende gedrag die beste kan voorkom. Een van die dringendste behoeftes van jongmense is om iemand te hê wat na hulle sal luister. As ouers nie wil luister nie, sal minder gewenste mense dalk wel luister.
Wat beteken dit vir ouers van vandag? Maak tyd vir jou kinders wanneer hulle dit nodig het—wanneer hulle jonk is. Vir baie gesinne is dit nie maklik nie. Hulle sukkel om die pot aan die kook te hou, en gevolglik móét albei ouers eenvoudig werk. Diegene wat bereid en in staat was om opofferings te maak sodat hulle meer tyd saam met hulle kinders kon deurbring, het dikwels die beloning ontvang deurdat hulle gesien het hoe hulle seuns en dogters ’n groter sukses van hulle lewe maak. Maar soos daar vroeër gesê is, kan ernstige probleme met kinders ontwikkel al het ouers alles in hulle vermoë gedoen.
Vriende en ander volwassenes kan help
Oorloë, verkragting en molestering van jongmense vereis dat volwassenes wat waarlik vir hulle omgee buitengewone pogings aanwend om die skade te herstel. Jongmense wat weens sulke negatiewe ondervindinge ly, sal moontlik nie eers goed reageer op pogings om hulle te help nie. Dit sal dalk baie tyd en inspanning van jou verg. Dit is beslis nie verstandig of liefdevol om hulle te verkleineer of te verwerp nie. Kan ons dalk emosioneel meer van onsself gee en die nodige goedhartigheid en liefde teenoor diegene betoon wat hulle in hierdie situasie bevind?
Nie net ouers nie, maar ook vriende en selfs broers en susters moet besonder wakker wees om neigings in jongmense op te merk wat dalk getuig van ’n brose of moontlik ongebalanseerde emosionele toestand. (Sien die venster “Deskundige hulp is nodig”, bladsy 8.) As die tekens daar is, moet jy gou wees om ’n horende oor te gee. Probeer, indien moontlik, om die bekommerde jongmense te laat praat deur vriendelike vrae te vra om hulle van jou opregte vriendskap te verseker. Vertroude vriende en familielede kan ouers moontlik help om moeilike situasies die hoof te bied; maar hulle moet natuurlik versigtig wees om nie die rol van die ouers oor te neem nie. Jongmense se selfmoordneigings is dikwels ’n desperate versoek om aandag—ouers se aandag.
Een van die beste geskenke wat enigiemand vir jongmense kan gee, is ’n vaste hoop op ’n gelukkige toekoms, ’n aansporing om te lewe. Baie jongmense het tot die besef gekom dat die Bybelbeloftes van ’n beter wêreldstelsel wat binnekort gaan kom betroubaar is.
Gered van moontlike selfmoord
’n Jong vrou van Japan wat dikwels selfmoord oorweeg het, sê die volgende: “Ek wou al baie keer daardie uitweg kies. Toe ek ’n kleuter was, het iemand wat ek vertrou het my seksueel gemolesteer. . . . Ek weet nie eers meer hoeveel briefies ek al geskryf het waarin ek gesê het ‘Ek wil doodgaan’ nie. Ek het sedertdien een van Jehovah se Getuies geword, en ek dien nou as ’n voltydse evangeliedienaar, maar ek ondervind nog steeds van tyd tot tyd hierdie drang. . . . Maar Jehovah het my toegelaat om te bly lewe, en dit voel of hy saggies vir my sê: ‘Hou aan lewe.’”
’n Vyftienjarige meisie van Rusland het verduidelik: “Toe ek agt jaar oud was, het ek begin voel dat niemand my nodig het nie. My ouers het nie tyd gehad om met my te gesels nie, en ek het my probleme self probeer oplos. Ek het teruggetrokke geraak. Ek het gedurig met my familielede gestry. Toe het die gedagte van selfmoord by my opgekom. Hoe bly was ek tog toe ek Jehovah se Getuies ontmoet!”
En uit Australië kom hierdie aanmoedigende kommentare van Cathy, wat nou in haar vroeë dertigerjare is, wat toon dat wanhoop werklik in hoop kan verander: “Ek het voortdurend aan verskillende maniere gedink om my lewe te beëindig en uiteindelik selfmoord probeer pleeg. Ek wou wegkom van hierdie wêreld, wat vol pyn, woede en sinloosheid is. Depressie het dit vir my moeilik gemaak om uit die web te kom waarin ek gevoel het ek vasgevang was. Selfmoord het dus op daardie stadium na die oplossing gelyk.
“Toe ek die eerste keer gehoor het van die moontlikheid dat die aarde ’n paradys sal word waarin almal vreedsaam en gelukkig kan lewe, het ek werklik daarna gesmag. Maar dit het net na ’n onmoontlike droom geklink. Ek het egter geleidelik begin verstaan wat Jehovah se beskouing van lewe is en hoe kosbaar elkeen van ons in sy oë is. Ek het begin seker voel dat daar wel hoop vir die toekoms is. Uiteindelik het ek ’n manier gevind om uit daardie web te kom. Dit was egter moeilik om daaruit te kom. Soms het ek weer depressief geword, en ek het baie verward gevoel. Maar deur Jehovah God die middelpunt van my lewe te maak, kon ek baie na aan hom kom en veilig voel. Ek bedank Jehovah vir alles wat hy vir my gedoen het.”
Geen sterfgevalle onder jongmense meer nie
Deur die Bybel te bestudeer, kan ’n jongmens tot die besef kom dat daar iets beters is om na uit te sien—wat die Christenapostel Paulus “die werklike lewe” noem. Hy het dié raad aan die jong man Timoteus gegee: “Gee bevel aan dié wat . . . ryk is . . . om hulle hoop nie op onsekere rykdom te vestig nie, maar op God, wat ons alles ryklik vir ons genot verskaf; om goed te doen, om ryk te wees in voortreflike werke, . . . en vir hulleself ’n voortreflike fondament vir die toekoms as ’n skat veilig weg te lê, sodat hulle ’n stewige houvas op die werklike lewe kan kry.”—1 Timoteus 6:17-19.
Paulus se raad beteken in werklikheid dat ons by ander mense betrokke moet raak en hulle moet help om ’n vaste hoop vir die toekoms te hê. “Die werklike lewe” is wat Jehovah belowe het in sy nuwe wêreld van “nuwe hemele en ’n nuwe aarde”.—2 Petrus 3:13.
Baie jongmense wat in die verlede die gevaar geloop het om selfmoord te pleeg, het geleer dat dwelmmisbruik en ’n onsedelike lewenswyse net ’n lang kronkelpad is na die dood, waarheen selfmoord ’n kortpad is. Hulle het tot die besef gekom dat hierdie wêreld, met sy oorloë, haat, mishandeling en liefdelose weë, binnekort sal verbygaan. Hulle het geleer dat hierdie wêreldstelsel nie meer gered kan word nie. Hulle het die feit ter harte geneem dat God se Koninkryk die enigste werklike hoop is, want dit sal ’n nuwe wêreld inlui waar nie net jongmense nie, maar alle gehoorsame mense nooit hoef te sterf nie—en ook nie meer sal wil sterf nie.—Openbaring 21:1-4.
[Venster op bladsy 8]
Deskundige hulp is nodig
The American Medical Association Encyclopedia of Medicine sê dat “meer as 90 persent van selfmoorde plaasvind as gevolg van psigiatriese siektes”. Dit gee ’n lys van siektes soos ernstige depressie (ongeveer 15 persent), skisofrenie (ongeveer 10 persent), afhanklikheid van alkohol (ongeveer 7 persent), antisosiale persoonlikheidsversteuring (ongeveer 5 persent) en die een of ander vorm van neurose (minder as 5 persent). Dit gee dié raad: “Alle selfmoordpogings moet as ernstig behandel word. Twintig tot 30 persent van mense wat selfmoord probeer pleeg het, probeer binne ’n jaar weer.” Dr. Jan Fawcett skryf: “Meer as 50 persent van selfmoorde [in die Verenigde State] word deur mense gepleeg wat geen kontak met ’n geestesgesondheidspraktisyn gehad het nie.” En ’n ander bron sê: “Die belangrikste aspek van die behandeling is dat die persoon so gou as moontlik ’n psigiater moet raadpleeg sodat hy die onderliggende depressie kan behandel.”