Brûe—Hoe sou ons sonder hulle klaarkom?
“Prys die brug wat jou oorgedra het.”—George Colman, 19de-eeuse Engelse dramaturg.
WANNEER laas het jy oor ’n brug gegaan? Het jy dit selfs agtergekom? Miljoene mense gaan elke dag oor brûe. Ons neem hulle as vanselfsprekend aan. Ons loop of ry oor hulle of onder hulle deur, moontlik sonder dat ons daaraan dink. Maar sê nou hulle was nie daar nie?
Mens en dier kan al duisende jare lank, danksy allerhande soorte brûe, oor andersins onbegaanbare openinge gaan, hetsy dit ’n rivier, ’n kloof of ’n skeur is. Dit is moeilik om party stede sonder hulle brûe voor te stel—Kaïro, Londen, Moskou, New York, Sydney en baie ander. Ja, brûe het ’n lang geskiedenis.
Brûe van die verlede
Meer as 2500 jaar gelede het koningin Nitokris van Babilon ’n brug oor die Eufraatrivier laat bou. Waarom? Die Griekse geskiedskrywer Herodotus antwoord: “Die rivier het [Babilon] duidelik in twee gedeel. Onder die vorige konings moes iemand wat van die een deel na die ander wou gaan die rivier in ’n boot oorsteek; wat, soos dit vir my lyk, baie moeite moes gewees het.” Nitokris het ’n brug oor een van die bekendste riviere van die ou tyd gebou deur hout, bakstene en klipblokke as boumateriaal en yster en lood as messelklei te gebruik.
Partykeer het brûe die verloop van die geskiedenis beïnvloed. Toe koning Darius die Grote van Persië sy militêre veldtog teen die Skitiërs onderneem het, wou hy die vinnigste landroete van Asië na Europa volg. Dit het beteken dat hy sy leër van 600 000 man oor die Straat van Bosporus moes lei. Dit was gevaarlik om die straat met bote oor te steek weens die digte mis en gevaarlike strome; Darius het dus bote aanmekaar vasgemaak totdat hy ’n drywende pontonbrug gemaak het wat 900 meter lank was. Vandag hoef jy nie soveel moeite soos Darius te doen om die straat oor te steek nie. Jy kan die rit in minder as twee minute in ’n motor aflê as jy die Bosporus-brûe in Istanboel, Turkye, gebruik.
As jy ’n Bybelstudent is, sal jy dalk aan ’n geleentheid kan dink toe die afwesigheid van ’n brug die verloop van die geskiedenis beïnvloed het. Dink aan wat gebeur het toe koning Nebukadnesar van Babilon die eilandstad Tirus beleër het. Hy het 13 jaar lank die stad probeer verower, maar hy kon dit nie doen nie, deels omdat daar geen brug tussen die eiland en die vasteland was nie (Esegiël 29:17-20). Die eilandstad is eers driehonderd jaar later verower, toe Aleksander die Grote ’n verhoogde pad van die vasteland na die eiland gebou het.
Teen die eerste eeu het ‘alle paaie na Rome gelei’, maar die Romeine het brûe sowel as paaie nodig gehad om die verskillende dele van die ryk te verbind. Romeinse ingenieurs het klipblokke gebruik wat elk tot agt ton geweeg het en boogbrûe gebou wat met soveel vaardigheid ontwerp is dat party van hulle ná meer as tweeduisend jaar nog staan. Hulle akwadukte en viadukte was ook brûe.
In die Middeleeue het brûe soms as vestings gedien. In 944 G.J. het die Saksers ’n houtbrug oor die Teemsrivier in Londen gebou om ’n aanval van die Dene af te weer. Byna driehonderd jaar later is hierdie houtbrug deur die Old London Bridge vervang, wat in die geskiedenis en in gedigte beroemdheid verwerf het.
Teen die tyd dat koningin Elizabeth I die troon van Engeland bestyg het, was Old London Bridge nie meer net ’n klipvesting nie. Geboue is reg op die brug opgerig. Daar was winkels op die hoofdek. En die boonste dekke? Welgestelde handelaars en selfs lede van die koninklike hof het daar gewoon. London Bridge het ’n middelpunt van Londen se sosiale lewe geword. Die huur wat ingesamel is vir die winkels en wonings het gehelp om vir die instandhouding van die brug te betaal, en boonop was London Bridge ook ’n tolbrug!
Terwyl die Europeërs brûe van hout en klip gebou het, het die Inkas van Suid-Amerika brûe van tou gemaak. Een bekende voorbeeld is die brug van San Luis Rey, wat oor die Apurímacrivier in Peru gestrek het. Die Inkas het die vesels van ’n plant geneem en hulle saamgevleg om kabels so dik soos ’n man se liggaam te maak. Hulle het die kabels oor klippilare gelê en dit toe oor die rivier gespan. Nadat hulle die kabels aan albei kante vasgemaak het, het hulle ’n platform van houtplanke aan die kabels laat hang om ’n brug te maak. Instandhoudingspanne het die kabels elke twee jaar hernieu. Hierdie brug is so goed gebou en in stand gehou dat dit vyfhonderd jaar bestaan het!
Brûe en ons veranderende behoeftes
Brûe moet aardbewings, sterk winde en temperatuurwisseling kan weerstaan. Soos ons gesien het, het ingenieurs tot heel onlangs toe hout, stene of klip gebruik om brûe te bou. Toe mense aan die einde van die 19de eeu motors begin gebruik het, moes bestaande brûe verbeter en vergroot word om swaarder verkeer te dra.
Die uitvinding van die stoomlokomotief het ook die bou en ontwerp van brûe groter momentum gegee. Die geskikste roetes vir spoorlyne het dikwels oor ’n wye kanaal of ’n diep kloof gegaan. Kon ’n brug gebou word om die opening te oorbrug en die gewig te dra namate al hoe meer goederewaens bygevoeg is? Gietysterbrûe het ’n tyd lank in dié behoefte voorsien. Een van die bekendste brûe van die vroeë 19de eeu is die hangbrug oor die Straat van Menai in Noord-Wallis, wat deur die Skotse ingenieur Thomas Telford ontwerp is en in 1826 voltooi is. Dit is 176 meter lank en word nog steeds gebruik! Maar gietyster is geneig om bros te wees, en brûe het gereeld inmekaargestort. Laat in die 19de eeu is daar uiteindelik met die vervaardiging van staal begin. Hierdie materiaal het eienskappe wat geskik is vir die bou van langer, veiliger brûe.
Brugtipes
Daar is sewe hooftipes brûe. (Sien die venster hierbo.) Hier sal ons kortliks twee van hulle bespreek.
Vrydraende brûe het twee enorme pilare aan weerskante van die rivier. Balke word aan elke pilaar vasgemaak, baie soos wat ’n duikplank aan die kant van ’n swembad vasgemaak word. Die balke word dan in die middel deur ’n onbuigbare spanning aanmekaargelas om die brug te voltooi.
Waar daar ’n sterk vloeiende rivier is of waar die rivierbedding uiters sag is, word vrydraende konstruksie dikwels verkies omdat dit nie vereis dat pylers in die middel van die rivierbedding opgerig word nie. Omdat hulle so stewig is, is vrydraende brûe ideaal om swaar verkeer soos treine te dra.
Jy het dalk al gesien hoe ’n akrobaat in ’n sirkus oor ’n spandraad loop. Het jy besef dat hy eintlik oor ’n brug geloop het—’n hangbrug? Party hangbrûe wat vandag gebruik word, is nie veel ingewikkelder as ’n spandraad nie. Dit kan uit ’n kabel bestaan wat aan beide kante vasgemaak is met ’n mandjie wat daaraan hang. Die passasier sit in die mandjie en stoot homself sodat hy teen ’n effense afdraande gly totdat hy die ander kant bereik. Mense regoor die wêreld gebruik dikwels eenvoudige toubrûe.
Jy sal natuurlik nie eers daaraan dink om ’n motor oor ’n toubrug te bestuur nie. Nadat ysterkettings en staalkabels uitgevind is, het dit moontlik geword om hangbrûe te bou wat swaar vragte kan dra. Hedendaagse hangbrûe kan ’n hoofspanning van 1200 meter of langer hê. ’n Hangbrug bestaan gewoonlik uit twee staalpylers waarop ’n pilaar rus. Staalkabels, wat uit duisende drade bestaan, word aan die pilare en aan die ryvlak vasgemaak. Die gewig van die verkeer en die ryvlak word hoofsaaklik deur die kabels gedra. Wanneer ’n hangbrug behoorlik gebou is, is dit een van die veiligste brûe in die wêreld.
Miskien het jy brûe in die verlede as vanselfsprekend aangeneem. Maar wanneer jy weer oor ’n bekende brug loop, kan jy jou afvra: ‘Wat weet ek omtrent hierdie brug? Wanneer is dit gebou?’ Ondersoek dit van naderby. Is dit ’n vrydraende brug, ’n hangbrug of ’n ander soort brug? Waarom is hierdie spesifieke ontwerp gekies?
Wanneer jy dan daaroor loop, kan jy afkyk en jou afvra: ‘Hoe sou ek daarsonder klaarkom?’
[Venster/Prent op bladsy 12]
BRUGTIPES
1. BALKBRÛE word dikwels op hoofweë gebruik. Die balke rus op pylers of landhoofde. Hierdie brûe kan tot 300 meter lank wees.
2. VAKWERKBRÛE word gestut deur vakwerk wat soos driehoeke gevorm is. Hierdie brûe, wat dikwels vir spoorlyne gebruik word, word gebou om klowe, riviere en ander hindernisse te oorbrug.
3. In BOOGBRÛE vorm elke spanning ’n boog. Dit is een van die oudste soort brûe. Die Romeine het hierdie soort boog in hulle akwadukte en viadukte gebou en ’n sluitsteen gebruik om die boog in posisie te hou. Baie staan nog vandag.
4. KABELANKERBRÛE lyk soos hangbrûe behalwe dat die kabels direk aan die pilare vasgemaak is.
5. BEWEEGBARE BRÛE kan opgelig of gedraai word om skepe te laat deurgaan. Londen se Tower Bridge is ’n goeie voorbeeld hiervan.
6. VRYDRAENDE BRÛE word in die hoofteks verduidelik.
7. HANGBRÛE word in die hoofteks verduidelik.—World Book Encyclopedia, 1994.
[Tabel op bladsy 13]
’N PAAR BEKENDE BRÛE
HANGBRUG
Storebaelt Denemarke 1 624 m
Brooklyn VSA 486 m
Golden Gate VSA 1 280 m
Djiangjin Jangtze China 1 385 m
VRYDRAENDE BRUG
Forth (twee spannings) Skotland 521 m elk
Quebec Kanada 549 m
Mississippirivier VSA 480 m
STAALBOOGBRUG
Sydney-hawebrug Australië 500 m
Birchenough Zimbabwe 329 m
KABELANKERBRUG
Pont de Normandie Frankryk 856 m
Skarnsundet Noorweë 530 m
[Prent op bladsy 10]
Moderne balkbrug bo ou boogbrug in Almería, Spanje
[Prent op bladsy 13]
Brooklyn Bridge, New York, VSA (hangbrug)
[Prent op bladsy 13]
Tower Bridge, Londen, Engeland (beweegbare brug)
[Prent op bladsy 13]
Sydney-hawebrug, Australië (boogbrug)
[Prent op bladsy 13]
Seto Ohasji, Japan (kabelankerbrug)