’n Brug wat na Vasco da Gama vernoem is
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN PORTUGAL
DIE nuus was in al die Portugese koerante—een van die langste brûe in Europa is pas met ’n vuurwerkvertoning ingewy. Die 17,2 kilometer lange Vasco da Gama-brug is op 29 Maart 1998 geopen. Die nuwe brug, wat vernoem is na die Portugese seevaarder wat in die 15de eeu die seeroete van Wes-Europa na Indië oopgestel het, open nuwe roetes na die geïndustrialiseerde noorde van die land, na die wit strande van die suide in Algarve en na Spanje.
Die brug, wat die vyfde langste brug in die wêreld is, strek oor die Taagrivier-tregtermonding van Portugal se hoofstad, Lissabon, af tot by die dorp Montijo, op die suidelike oewer. Die 45 meter hoë hangbrug-gedeelte wat 826 meter lank is, maak dit vir groot skepe moontlik om onderdeur die brug te vaar.
’n Feestelike begin
Die openingsplegtigheid het eintlik ’n week voor die amptelike inwyding as ’n groot partytjie begin. Ja, Sondag, 22 Maart was ’n dag van groot opgewondenheid, aangesien 15 000 mense na ’n tradisionele Portugese maaltyd van feijoada, of boontjiebredie, genooi is. Waar sou soveel mense kos gegee word? Op die nuwe brug, natuurlik! Wat ’n gesig om ’n tafel te sien wat oor meer as vyf kilometer van die brug gestrek het! Die maaltyd was ’n sukses, en die mense het die gebaar waardeer.
’n Groeiende behoefte
Waarom was so ’n brug nodig? Lissabon het sedert 1966 die 1013 meter lange 25ste April-hangbrug gebruik. Die gemiddelde daaglikse verkeer was ongeveer 130 000 voertuie. Kan jy jou die opeenhoping gedurende spitstyd en oor naweke voorstel? Dit was nie ongewoon dat dit pendelaars een of twee uur geneem het om oor die brug van Lissabon na die suide van Portugal te gaan nie. Daarom die behoefte aan ’n alternatiewe roete. Die ses bane van die nuwe brug, wat ongeveer 13 kilometer verder stroomop geleë is, het verligting gebring. Dit is so ontwerp dat ’n bykomende baan in elke rigting bygevoeg kan word wanneer die verkeer daarop 52 000 voertuie per dag bereik. Daar word gehoop dat die verkeer vinnig sal beweeg met ’n spoedbeperking van 100 kilometer per uur.
Ons gaan oor die brug
Kom saam met ons terwyl ons van die suide, in Montijo, af oor die brug gaan. Ons laat die land en moeras agter ons en is nou op die tien kilometer lange Taagrivier-gedeelte. Dit is hoogwater, en ons is heeltemal deur water omring. Die glywerende plaveisel sowel as die 1500 pilare wat die hele brug stut, laat ’n mens veilig voel.
Ons kom nou by die hangbrug-gedeelte van die brug. Hierdie deel hang aan spankabels wat van die bopunt van die twee 150 meter hoë torings af soos triomfantlike seile uitsprei. Die fondamente van die spantorings is tot ’n diepte van 50 tot 65 meter gesink. Vir verdere veiligheid is die brug gebou om rukwinde van tot 220 kilometer per uur te weerstaan, asook seismiese skokke vier en ’n half keer groter as die aardbewing wat ’n groot deel van Lissabon in 1755 vernietig het.
Wanneer ons die einde van die Vasco da Gama-brug bereik, kan ons die palmbome aan die noordoostelike kant van Lissabon sien. As ons wil, kan ons nou verder ry en op die superhoofweg na die noorde van die land gaan. Die nuwe brug maak dit moontlik om van die Algarve in die suide na die provinsie Minho in die noorde op ’n uitstekende hoofwegstelsel te reis sonder om deur Lissabon se chaotiese verkeer te sukkel!
Veiligheidsmaatreëls
Toe die brug gebou is, is spesiale aandag aan veiligheidsmaatreëls geskenk. Iets eenvoudigs soos ’n motor wat onklaar raak, kan ’n groot verkeersophoping veroorsaak. Maar met 87 videokameras wat op strategiese plekke op die brug en by sy ingange geplaas is, word alle onreëlmatighede in die verkeer na monitors in die polisiekantoor en verkeersreëlingsentrum oorgesend. As ’n voertuig stilhou, gaan ’n alarm in die beheerkamer af.
Daarbenewens is altesaam 36 paar SOS-telefone elke 400 meter op die 17 kilometer lange brug geplaas. Hoe werk die noodstelsel? Spesiale voertuie patrolleer gereeld die brug om na moontlike probleme om te sien, wat insluit om brande te blus en voertuie weg te sleep.
Wat van drastiese weersveranderinge? Twee weerwagte meet die snelheid, sterkte en rigting van die winde en monitor pad- en weerstoestande, en spoedbeperkings word dan volgens die atmosferiese toestande aangepas.
Die prag van die simmetriese lyne word in die nag deur 1200 hoofwegligte beklemtoon.
Ekologiese uitdagings
Dit was nie ’n maklike taak om te besluit waar die brug uiteindelik gebou sou word nie. Watter faktore was betrokke?
Die terrein het ekologies ’n groot uitdaging gebied. Dit is omdat die brug oor ’n gebied strek wat ’n natuurlike habitat vir voëls is, wat by een van die grootste tregtermondings in Wes-Europa geleë is. Omvattende studies moes gedoen word vir die beskerming van die flora, visse, voëls, argeologiese vondste, water- en luggehalte en honderde hektaar soutpanne. Waarom lok die Taag-tregtermonding natuurlewe? Dit is een van Portugal en Europa se belangrikste humiede sones, wat dit ’n ideale broeiplek maak vir trekvoëls wat internasionaal beskerm word, soos die rooipootelsie, die Kentiese strandkiewiet en die kleinsterretjie. Gedurende die herfs en winter gebruik duisende voëls hierdie brak vlei as ’n skuiling gedurende hoogwater.
Visbroeiplekke wat lank reeds bestaan, moes in aanmerking geneem word. Dit het beteken dat hulle ook versigtig moes wees om die visse so min moontlik te steur. Drieduisend visse, meestal tongvisse en seebaarse, is gemerk sodat die broeiplekke gemonitor kon word.
Hierdie stil, natuurlike habitat is skielik baie na aan die stad gebring. In watter mate sal die natuurlike omgewing geraak word? Daar word gehoop dat die maatreëls wat getref is om die kosbare suidelike kus te bewaar die reservaat se natuurlike hulpbronne soveel moontlik sal beskerm.
Die Vasco da Gama-brug is waarlik ’n groot prestasie wat vooruitgang in die ingenieurswese, argitektoniese prag en simmetrie betref. Portugal kan met reg trots wees op die brug wat Vasco da Gama se naam dra!
[Kaarte/Prent op bladsy 15]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
PORTUGAL
SPANJE
[Kaart]
PORTUGAL
Lissabon
Montijo
Vasco da Gama-brug
[Erkenning]
Met vergunning van: Lusoponte/Sonomage