Gutenberg—Hoe het hy tog die wêreld verryk!
Deur Ontwaak!-medewerker In Duitsland
WATTER uitvindsel van die afgelope duisend jaar het die grootste uitwerking op jou lewe gehad? Was dit die telefoon, die televisie of die motor? Dit was waarskynlik nie een van hulle nie. Volgens baie deskundiges was dit gemeganiseerde drukwerk. Die man wat die eer daarvoor kry dat hy die eerste praktiese metode uitgevind het, is Johannes Gensfleisch zur Laden, beter bekend as Johannes Gutenberg. Hy het uit ’n adellike agtergrond gekom, en dit was dus nie vir hom nodig om ’n gewone vakleerlingskap uit te dien nie.
Gutenberg se uitvindsel is beskryf as “die groot Duitse bydrae tot die beskawing”. Elke eksemplaar van sy gedrukte meesterstuk—die so genoemde 42-reël-Gutenberg-Bybel—wat nog bestaan, is ’n fortuin werd.
Goue Mainz
Gutenberg is in of omstreeks die jaar 1397 in Mainz gebore. Mainz, wat op die oewers van die Rynrivier geleë is, was destyds ’n stad met sowat 6000 inwoners. Dit het as Goue Mainz bekend gestaan, aangesien dit die middelpunt van ’n kragtige stedebond was. Die aartsbiskoppe in Mainz was keurvorste van die Heilige Romeinse Ryk. Mainz was beroemd vir sy goudsmede. Die jong Johannes het baie oor metaalwerk geleer, en ook hoe om letters in metaal te bosseleer. Weens politieke twis het hy ’n paar jaar lank in ballingskap na Straatsburg gegaan, waar hy edelstene geslyp het en ander geleer het hoe om dit te doen. Maar wat hom die besigste gehou het, was sy geheime werk aan ’n nuwe uitvindsel. Gutenberg het die kuns van gemeganiseerde drukwerk probeer vervolmaak.
Gutenberg se vernuf en Fust se finansiering
Gutenberg het na Mainz teruggekeer en voortgegaan met sy eksperimente. Vir finansiering het hy hom tot Johann Fust gewend, wat hom 1600 gulde geleen het—’n vorstelike bedrag op ’n tyd toe ’n vaardige vakman maar net 30 gulde per jaar verdien het. Fust was ’n slim sakeman wat gedink het hy kan ’n wins maak uit die onderneming. Watter soort onderneming het Gutenberg in gedagte gehad?
Gutenberg se wakker oë het gesien dat sekere artikels in groot hoeveelhede vervaardig word, elkeen identies aan die ander. Muntstukke is byvoorbeeld geslaan en koeëls is in metaal gegiet. Waarom kon hy dan nie honderde eenderse bladsye met teks druk en die bladsye dan in die regte volgorde in identiese boeke aanmekaarsit nie? Watter boeke? Hy het die Bybel in gedagte gehad, ’n boek wat so duur was dat net ’n paar bevoorregtes hulle eie eksemplaar besit het. Gutenberg was van plan om groot getalle identiese Bybels te vervaardig, wat dit baie goedkoper as handgeskrewe eksemplare en net so pragtig sou maak. Hoe sou dit gedoen word?
Die meeste boeke is met die hand oorgeskryf, wat volharding en tyd geverg het. Daar is voorheen probeer om drukwerk te doen met handgekerfde houtblokke, wat elk ’n bladsy van die teks bevat het. ’n Chinese man met die naam Pi Sjeng het selfs afsonderlike letters van erdewerk gemaak om in drukwerk te gebruik. In Korea is letters van koper by ’n staatsdrukkery gebruik. Maar drukwerk met los letters—afsonderlike letters wat vir elke nuwe bladsy herrangskik kon word—het ’n groot hoeveelheid letters vereis en niemand het al ’n manier ontwikkel waarop dit gemaak kon word nie. Dit was vir Gutenberg bestem.
As ’n ervare metaalwerker het hy begryp dat los letters van metaal, en nie van erdewerk of hout nie, die beste vir drukwerk sou wees. Hulle sou in ’n vorm gegiet word en nie uitgesny of in ’n oond gebak word nie. Gutenberg het vorms nodig gehad waarin hy al 26 letters van die alfabet kon giet—kleinletters en hoofletters—sowel as koppelletters, leestekens, simbole en syfers. Hy het bereken dat daar altesaam 290 verskillende karakters nodig was, elk met tientalle replikas.
Hy spring aan die werk
Gutenberg het die Gotiese skrif in Latyn, wat deur monnike gebruik is om die Bybel oor te skryf, as die styl vir sy boek gekies. Hy het sy ondervinding in metaalwerk gebruik en ’n verhewe spieëlbeeld van elke letter en simbool op ’n klein staalblokkie uitgesny, dit wil sê ’n reliëfbeeld op die oppervlak van die staal (Prent 1). Hierdie staalstempel is dan gebruik om die beeld op ’n stukkie sagter metaal, soos koper of brons, af te druk. Die resultaat was ’n ware afdruk van die letter in die sagter metaal, wat ’n matrys genoem is.
Vir die volgende stap was ’n gietvorm nodig, wat die produk van Gutenberg se vernuf was. Die gietvorm was so groot soos ’n mens se vuis en was oop aan die bo- en onderkant. Die matrys vir ’n letter is aan die onderkant van die gietvorm vasgemaak, en die gesmelte allooi is dan bo ingegooi (Prent 2). Die allooi—tin, lood, antimoon en bismut—het gou afgekoel en hard geword.
Die allooi wat uit die gietvorm gehaal is, het aan die een kant ’n verhewe spieëlbeeld van die letter gehad, en dit is ’n drukletter genoem. Die proses is herhaal totdat genoeg drukletters van daardie letter gemaak is. Daarna is die matrys van die gietvorm afgehaal en deur die matrys vir die volgende letter vervang. Op hierdie manier kon daar in ’n kort tydjie enige aantal drukletters vir elke letter en simbool gemaak word. Al die drukletters was ewe groot, net soos Gutenberg dit wou hê.
Die drukwerk kon nou begin. Gutenberg het ’n gedeelte van die Bybel gekies wat hy wou kopieer. Hy het ’n sethaak gebruik om woorde met drukletters te spel, en hy het woorde in die teks in reëls gerangskik (Prent 3). Elke reël is ewe lank gemaak. Hy het die reëls van die teks met ’n galei in kolomme gerangskik, met twee kolomme op ’n bladsy (Prent 4).
Hierdie bladsy met teks is op die plat bed van ’n pers in posisie gesluit en dan met swart ink bedek (Prent 5). Die pers—soortgelyk aan dié wat gebruik word om wyn te maak—het die ink van die drukletters op papier afgedruk. Die resultaat was ’n gedrukte bladsy. Nog ink en papier is gebruik, en die proses is herhaal totdat die verlangde aantal eksemplare gedruk is. Aangesien die drukletters los was, kon dit weer gebruik word om ’n ander bladsy te set.
’n Drukkersmeesterstuk
Gutenberg se werkswinkel, waar 15 tot 20 mense gewerk het, het in 1455 die eerste gedrukte Bybel voltooi. Ongeveer 180 eksemplare is gemaak. Elke Bybel het 1282 bladsye gehad, met 42 reëls op ’n bladsy, wat twee kolomme gehad het. Later is die boeke buite Gutenberg se werkswinkel gebind—elke Bybel het uit twee dele bestaan—en is die dekoratiewe opskrifte en die eerste letter van elke hoofstuk met die hand geverf.
Kan ons ons voorstel hoeveel drukletters nodig was om die Bybel te druk? Elke bladsy bevat ongeveer 2600 karakters. As ons aanneem dat Gutenberg ses lettersetters gehad het, wat elk aan drie bladsye tegelyk gewerk het, sou hulle sowat 46 000 drukletters nodig gehad het. Ons kan maklik verstaan dat Gutenberg se gietvorm die sleutel tot drukwerk met los letters was.
Mense was verstom wanneer hulle die Bybels met mekaar vergelyk het: Elke woord was op dieselfde plek. Dit was onmoontlik met handgeskrewe dokumente. Günther S. Wegener skryf dat die 42-reël-Bybel “so eenvormig en simmetries, harmonies en pragtig [was] dat hierdie meesterstuk drukkers deur die eeue heen met ontsag vervul het”.
Finansiële ondergang
Fust het egter minder daarin belanggestel om ’n meesterstuk te maak as om geld te maak. Die opbrengs op sy belegging het nie so gou gekom as wat hy verwag het nie. Die vennote het van mekaar vervreemd geraak, en in 1455—net toe die Bybels amper klaar was—het Fust die lenings opgeroep. Gutenberg kon nie die geld terugbetaal nie en het die daaropvolgende hofsaak verloor. Hy moes noodgedwonge ten minste ’n deel van sy drukkerstoerusting en die drukletters vir die Bybels aan Fust oorgee. Fust het sy eie drukkery saam met Gutenberg se vaardige werknemer Peter Schöffer oopgemaak. Hulle sakeonderneming, Fust en Schöffer, het munt geslaan uit die goeie naam wat Gutenberg opgebou het, en dit het die wêreld se eerste kommersieel suksesvolle drukkery geword.
Gutenberg het probeer voortgaan met sy werk deur ’n ander drukkery oop te maak. Sommige kenners skryf ander gedrukte materiaal wat uit die 15de eeu dateer aan hom toe. Maar niks kan vergelyk met die grootsheid en prag van die 42-reël-Bybel nie. In 1462 het die ongeluk hom weer getref. Weens ’n magstryd in die Katolieke hiërargie is Mainz afgebrand en geplunder. Gutenberg het sy werkswinkel vir die tweede keer verloor. Hy is ses jaar later, in Februarie 1468, oorlede.
Gutenberg se nalatenskap
Gutenberg se uitvindsel het vinnig versprei. Teen die jaar 1500 was daar drukperse in 60 Duitse stede en in 12 ander Europese lande. “Die ontwikkeling van drukwerk het neergekom op ’n kommunikasierevolusie”, sê The New Encyclopædia Britannica. “Gedurende die volgende 500 jaar is heelwat verbeteringe in die drukproses aangebring, maar die basiese proses het wesenlik dieselfde gebly.”
Drukwerk het die lewe in Europa verander, aangesien kennis nie meer die alleenreg van die bevoorregtes was nie. Nuus en inligting het die gewone mense begin bereik, wat meer bewus geword het van dinge wat rondom hulle gebeur. Drukwerk het dit nodig gemaak om ’n standaard geskrewe vorm vir elk van die nasionale tale te hê wat almal kon verstaan. Gevolglik is Engels, Frans en Duits gestandaardiseer en bewaar. Die vraag na leesstof het geweldig toegeneem. Voor Gutenberg se tyd was daar ’n paar duisend manuskripte in Europa; 50 jaar ná sy dood was daar miljoene boeke.
Sonder gemeganiseerde drukwerk sou die Hervorming van die 16de eeu doodgebore gewees het. Die Bybel is in Duits, Engels, Frans, Italiaans, Nederlands, Pools, Slawonies en Tsjeggies vertaal, en die drukpers het dit maklik gemaak om tienduisende eksemplare uit te gee. Martin Luther het goed van die drukpers gebruik gemaak om sy boodskap te versprei. Hy het in sy pogings geslaag waar ander, wat voor die tyd van Gutenberg se pers gelewe het, misluk het. Dit is geen wonder nie dat Luther die drukpers beskryf het as God se manier “om die ware godsdiens regoor die wêreld te versprei”!
Eksemplare van die Gutenberg-Bybel wat nog bestaan
Hoeveel Gutenberg-Bybels bestaan nog? Tot onlangs is daar gemeen dat daar 48 eksemplare—sommige van hulle onvolledig—oor Europa en Noord-Amerika versprei is. Een van die pragtigste eksemplare is ’n perkament-Bybel in die Kongresbiblioteek in Washington, DC. Toe, in 1996, is ’n sensasionele ontdekking gedoen: Nog ’n deel van die Gutenberg-Bybel is in ’n kerkargief in Rendsburg, Duitsland, ontdek.—Sien die Ontwaak! van 22 Januarie 1998, bladsy 29.
Hoe dankbaar kan ons tog wees dat enigeen nou die Bybel kan bekostig! Dit beteken natuurlik nie dat ons sommer ’n 42-reël-Gutenberg kan gaan koop nie! Hoeveel is een van hulle werd? Die Gutenberg-museum in Mainz het in 1978 ’n eksemplaar teen 3,7 miljoen Duitse mark gekoop (vandag sou dit ongeveer R12 miljoen wees). Hierdie Bybel is nou heelwat meer werd.
Wat maak die Gutenberg-Bybel uniek? Professor Helmut Presser, eertydse direkteur van die Gutenberg-museum, noem drie redes. Eerstens, Gutenberg se Bybel was die eerste boek wat in die Weste met los letters gedruk is. Tweedens, dit was die eerste Bybel wat ooit gedruk is. Derdens, dit is asemrowend mooi. Professor Presser skryf dat ons in die Gutenberg-Bybel “Gotiese skrif op sy allerbeste” sien.
Mense van alle kulture het baie aan Gutenberg se vernuf te danke. Hy het die gietvorm, allooi, ink en pers gekombineer. Hy het drukwerk gemeganiseer en die wêreld verryk.
[Prente op bladsy 16, 17]
1. ’n Staalstempel is gebruik om die beeld van die letter op die kopermatrys af te druk
2. Gesmelte allooi is in die gietvorm gegooi. Wanneer die allooi hard geword het, was die drukletter wat uitgehaal is ’n spieëlbeeld van die letter
3. Drukletters is in ’n sethaak geplaas om woorde te spel, wat ’n teksreël gevorm het
4. Reëls is in ’n galei in kolomme gerangskik
5. Die bladsy met die teks is op die plat bed van die pers geplaas
6. ’n Koperplaatgravure van Gutenberg wat uit 1584 dateer
7. Vandag is een eksemplaar van die Gutenberg-Bybel miljoene rande werd
[Erkenning]
Prente 1-4, 6 en 7: Gutenberg-Museum Mainz; prent 5: Met vergunning van American Bible Society
[Foto-erkenning op bladsy 16]
Agtergrond: Met toestemming van British Library/Gutenberg Bible