Die jaar 2000—Sal rekenaarineenstortings jou raak?
DAAR is al gesê dat die verskyning van die rekenaar op die wêreldtoneel die grootste uitvinding was sedert die mens geleer het om elektrisiteit te benut. Vandag, ’n hele paar dekades later, wonder baie mense hoe hulle ooit sonder rekenaars klaargekom het. Hierdie tydskrif wat jy nou lees, is met behulp daarvan voorberei. Rekenaars kan inligting behou wat in hulle geheue geberg is en dit binne oomblikke weer opspoor. O, wonderlike rekenaars! Hoe merkwaardig is hulle tog! Wat sou die wêreld sonder hulle doen?
In die moderne gebiede van die wêreld word byna elke aspek van mense se lewe op die een of ander manier deur rekenaars geraak. As jy afhanklik is van pensioen, ongeskiktheidstoelaes van die regering, belasting- en versekeringsterugbetalings of ’n menigte ander soortgelyke betalings, hang dit van rekenaars af of jy dit ontvang. As jy ’n werknemer is, is jou salaristjeks heel waarskynlik gerekenariseerd. Rekenaars hou boek van geld wat by banke gedeponeer is en van die rente wat betaal is. Hulle beheer tallose toestelle in moderne huise, soos dié wat elektrisiteit opwek of water suiwer. Hulle is ’n seën vir dokters, klinieke en hospitale wat gesondheidsprobleme diagnoseer—en lewens red. Rekenaars word gebruik om weerstoestande te monitor en om te voorkom dat vliegtuie in die lug teen mekaar bots.
Hoe slim is hulle?
Rekenaars is geensins slimmer as die mense wat hulle programmeer nie. ’n Rekenaar los alleenlik probleme op volgens die instruksies wat hy gekry het. Hy het nie verstand nie. Wanneer hy verkeerd is, is dit slegs ’n weerspieëling van die onvolmaakthede van die mense wat hom geprogrammeer of gebou het. Wanneer hy reg is, oes die mens die eer daarvoor in. Die rekenaar kan take wel vinniger as ’n mens doen, maar hy kan nie probleme oplos as ’n mens nie die metode voorsien het waarvolgens dit opgelos moet word nie.
Die mens se vermoë om dinge vooruit te sien, was byvoorbeeld maar beperk toe hy aanvanklik in die vyftiger- en sestigerjare sekere rekenaars geprogrammeer het. Aangesien rekenaargeheue destyds duur was, het programmeerders na maniere gesoek om minder geheue te gebruik. In die rekenaar neem elke letter of syfer ruimte in beslag. Gevolglik het vroeë programmeerders ’n verkorte kode ontwerp deur die eerste twee syfers van jaartalle weg te laat om ruimte te bespaar. Die jaar 1965 is byvoorbeeld verkort tot “65”, 1985 tot “85”, 1999 tot “99”, ensovoorts. Dit was baie maklik om die “19” by die “85” te voeg om 1985 te kry wanneer datums gedruk is. Oor die afgelope paar dekades is miljoene programme geskryf wat hierdie kortpad gebruik. Min programmeerders het gedink dat hierdie oënskynlik onskadelike kortpad ernstige gevolge sou hê, aangesien hulle nie gedink het dat hulle programme nog by die eeuwisseling in gebruik sou wees nie. Maar ’n aantal programme met hierdie kortpad word nog steeds gebruik en sal die jaar 2000 as “00” berg.
Party rekenaars sal “00” as die jaar 1900 vertolk! Nou kan jy jou die verwarring in die rekenaarprogram voorstel wanneer die rekenaar bereken dat ’n lening van vyf jaar, wat in 1999 aangegaan is, teen 1904 afbetaal moet wees! In ander gevalle sal datumberekenings daartoe lei dat die rekenaarprogram sal hang weens ’n fouttoestand, en in ernstige gevalle sal die program heeltemal ineenstort.
“Hoewel die mikroskyfie ’n industriële revolusie teweeggebring het wat met die uitvinding van elektrisiteit meeding”, het die koerant Toronto Star geskryf, “het dit ons ook kwesbaarder gemaak as wat die uitvinders daarvan ooit sou kon droom.” Die Star het ook gesê: “Regoor die wêreld is daar rekenaarstelsels en mikroskyfies wat nie tussen die jaar 1900 en die jaar 2000 kan onderskei nie. As hierdie stelsels nie geïdentifiseer en verander word nie, kan dit tot wêreldwye chaos lei.”
Wat sommige deskundiges voorspel
“Almal raai hoe ernstig dit sal wees, en ek ook”, het die Amerikaanse senator Robert Bennett, van Utah, gesê. “En niemand sal weet voor Nuwejaarsdag 2000 of ’n week of twee daarna nie.” “Daar is rede om te sê . . . dat daar gevolge sal wees wat uiters moeilik vir die ekonomie en uiters moeilik vir mense sal wees”, het ’n assistent van die president van die Verenigde State gesê.
“Ons is bekommerd oor die potensiële ontwrigting van kragnetwerke, die telekommunikasiewese en bankdienste”, het ’n woordvoerster van die Amerikaanse Sentrale Inligtingsagentskap gesê. Volgens verslae van regoor die wêreld het sommige rekenaars alreeds probleme ondervind wanneer datums in die rekenaar tot die jaar 2000 of daarna gestrek het.
“Deskundiges voorspel groter moeilikheid in die gesondheidsektor”, het U.S.News & World Report berig, “aangesien pasiënte se rekeninge en versekeringsverslae by hospitale of mediese fondse kwesbaar is. Sekere soorte biomediese toerusting, met inbegrip van toestelle wat pasiënte monitor, loop ook gevaar om onklaar te raak. Omdat baie elektriese nutsdienste laat aan die probleem begin werk het, is plaaslike kragonderbrekings ’n bedreiging.” ’n Kanadese koerant spreek ook hierdie selfde vrees uit: “Ons hospitale en mediese tegnologie is alles op die alomteenwoordige mikroskyfie gebaseer, daarom kan mense sterf as die stelsel faal.” “Weens ons beroep”, het ’n hospitaalamptenaar gesê, “het dit ’n ernstiger uitwerking op ons. Ander nywerhede het dalk nie met ’n situasie van lewe of dood te doen nie.”
Die meer pessimistiese rekenaarvakkundiges voorspel dat die aandelemarkte in duie sal stort, klein sakeondernemings sal misluk en vreesbevange deponeerders banke sal bestorm. In die Verenigde State het die Adjunkminister van Verdediging die wêreldwye rekenaargogga die elektroniese ekwivalent van die El Niño-weerpatroon genoem en gesê: “Ek sal die eerste een wees om te sê dat ons ongetwyfeld ’n paar onaangename verrassings kan verwag.”
“Die uitwerking op sakeondernemings in Rusland sal rampspoedig wees as rekenaars nie voor 1 Januarie in die jaar 2000 reggemaak word nie”, het die hoofbestuurder van die Amerikaanse Kamer van Koophandel gesê. Reuters-nuusagentskap berig: “Duitse maatskappye is soos slaapwandelaars op pad na die millenniumrekenaarramp, en die gevolge dreig om chaos regoor Europa te veroorsaak.” ’n Navorsingsprojekleier het gesê dat “’n mens dieselfde kritiek op Oostenryk, Switserland, Spanje, Frankryk en Italië kan toepas”.
Die Bangkok Post vestig ook die aandag op Thailand se rekenaarprobleem: “Volgens die Verenigde Nasies se Inligtingsdiens het nasionale statistiekburo’s in die streek met ’n tweeledige millenniumuitdaging te kampe: om die jaar 2000-probleem (Y2K) in hulle rekenaarstelsels te verhoed en om gereed te maak om ’n nuwe rondte sensusopgawes te verwerk.” Australië, China, Engeland, Hongkong, Ierland, Japan en Nieu-Seeland het almal met dieselfde probleme te kampe. Trouens, dit is ’n wêreldwye probleem wat dringend opgelos moet word.
Die ongelooflike koste
Sommige deskundiges het die koste daarvan om die rekenaarprobleme op te los op ’n ongelooflike bedrag gestel. Die Amerikaanse Departement van Administrasie en Begroting skat byvoorbeeld dat dit $4,7 miljard (R27 miljard) sal kos om net die rekenaars van die federale regering reg te maak. Een groep deskundiges sê dat ’n meer realistiese skatting van die koste om die federale rekenaars reg te maak $30 miljard (R172 miljard) sal beloop. Wat is die geraamde wêreldwye koste? ’n Yslike “$600 miljard [R3,5 biljoen] om die programmatuur te herstel en $1 biljoen [R6 biljoen] vir die onvermydelike hofsake wanneer sommige herstelpogings misluk”, het die koerant die New York Post berig. ’n Ander groep deskundiges het geskat dat die “koste van herstelwerk, regsgedinge en sakeverliese tot $4 biljoen [R23 biljoen] kan beloop”. “Die jaar 2000-probleem”, het die New York Post geskryf, “is besig om die duurste probleem in die mens se geskiedenis te word.” ’n Ander berig het dit beskryf as “moontlik die grootste en duurste projek met die grootste risiko waarmee die mensdom al ooit te kampe gehad het”.
Menings verskil
Hoe sal dit jou raak? Na gelang van waar jy woon en die pogings wat die instellings aanwend met wie jy sake doen, kan dit wissel tussen enigiets van geen uitwerking tot effens irriterend tot baie moeilik, veral in die eerste paar weke ná 1 Januarie 2000. As daar gebiede is wat vir jou van belang is, soos gespesialiseerde toerusting wat jy vir gesondheidsorg gebruik, kan jy met die sakeonderneming of instelling in verbinding tree wat die diens lewer en vra watter uitwerking die jaar 2000 op die toerusting of diens kan hê.
Die afgelope paar jaar is daar al baie oor die jaar 2000-probleem gesê. Sommige sê dat die probleem uiters ernstig is; ander sê weer dat die scenario oordryf word. Daar is diegene wat sê dat banke te kort sal skiet, terwyl bankkenners sê dat die meeste van hulle probleme teen die jaar 2000 opgelos sal wees. “Niemand glo dat die telefoonnetwerk op ’n katastrofiese mislukking afstuur nie”, het die hoof van die Amerikaanse Federale Kommunikasiekommissie gesê. Hy het egter toegegee dat daar by die eeuwisseling telefoonprobleme sal wees, maar hy het gesê dat hulle irriterend sal wees, nie rampspoedig nie. Baie organisasies doen alreeds datumsimulasietoetse in laboratoriumtoestande. Dit sal dalk baie probleme voorkom. Maar die wêreld sal moet wag om te sien hoe ernstig die jaar 2000-probleem gaan wees.