Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 3/8 bl. 4-5
  • “Die hemel is voorwaar oop”!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Die hemel is voorwaar oop”!
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Warmlugballonne en “ontvlambare lug”
  • Sweef saam met die wind
    Ontwaak!—2002
  • Die grootste ballonvaartgeleentheid ter wêreld!
    Ontwaak!—2004
  • “Werktuie van vernietiging” vooruitgesien
    Ontwaak!—2007
  • Hoe het die vliegtuig ontstaan?
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 3/8 bl. 4-5

“Die hemel is voorwaar oop”!

“DIE begeerte om te kan vlieg, is so oud soos die mensdom”, het die geskiedskrywer Berthold Laufer in The Prehistory of Aviation gesê. Die kronieke van antieke Griekse, Egiptiese, Assiriese en Oosterse mitologie bevat talryke legendes van konings, gode en helde wat die vliegkuns probeer bemeester het. In byna elke geval vertel die verhale van mense wat die gevleuelde vlug van voëls nagemaak het.

Die Chinese vertel byvoorbeeld van die wyse en waaghalsige keiser Sjoen, wat glo meer as 2 000 jaar voor die geboorte van Jesus Christus gelewe het. Volgens legende was Sjoen bo ’n brandende graanskuur vasgekeer toe hy vir hom vere aangesit en ontsnap het deur te vlieg. ’n Ander verslag sê dat hy van ’n toring afgespring het en twee groot riethoede gebruik het om veilig na die grond toe neer te daal soos met ’n valskerm.

Onder die Grieke is daar die 3 000 jaar oue verhaal van Daedalus, ’n groot kunstenaar en uitvinder, wat vlerke van vere, tou en was gemaak het sodat hy en sy seun Ikaros van Kreta af kon ontsnap, waar hulle in ballingskap aangehou is. “Die hemel is voorwaar oop, en dit is die rigting waarin ons sal gaan”, het Daedalus gesê. In die begin het die vlerke goed gewerk. Maar Ikaros, wat so opgewonde was oor sy vermoë om deur die hemele te sweef, het hoër en hoër gevlieg totdat die hitte van die son die was gesmelt het wat sy vlerke aanmekaargehou het. Die seun het hom doodgeval in die see.

Sulke verhale het die verbeelding aangegryp van uitvinders en filosowe wie se begeerte dit was om werklik te vlieg. Reeds in die derde eeu G.J. het die Chinese vlieërs gebou waarmee hulle geëksperimenteer het, wat bewys lewer van ’n begrip van sekere lugvaartbeginsels selfs lank voordat soortgelyke eksperimente in Europa begin het. In die 15de eeu het Giovanni da Fontana, ’n geneesheer van Venesië, geëksperimenteer met eenvoudige hout-en-papier-vuurpyle wat afgeskiet is deur buskruit te laat ontplof. In ongeveer 1420 het Da Fontana geskryf: “Ek twyfel inderdaad geensins daaraan dat dit moontlik is om aan ’n mens vlerke vas te maak wat kunsmatig beweeg kan word en wat hom in staat sal stel om in die lug op te beweeg en van plek tot plek te gaan en oor torings te gaan en water oor te steek nie.”

In die vroeë 16de eeu het Leonardo da Vinci, ’n skilder, beeldhouer en vaardige meganiese ingenieur, ruwe ontwerpe geskets vir helikopters en valskerms, asook vir sweeftuie met beweegbare vlerkpunte. Die getuienis toon dat hy vir ten minste sommige van sy voorgestelde vliegmasjiene modelle gebou het. Maar nie een van Da Vinci se ontwerpe was werklik prakties nie.

Uit die twee eeue wat daarop gevolg het, kom verskeie verslae van die pogings van waaghalsige manne wat nagemaakte vlerke aan hulle liggaam vasgebind het en dit probeer klap het wanneer hulle van heuwelhange en torings afgespring het. Hierdie vroegste ‘toetsvlieëniers’ was ’n dapper en waaghalsige geslag—maar hulle pogings was heeltemal onsuksesvol.

Warmlugballonne en “ontvlambare lug”

In 1783 het die nuus van ’n verstommende deurbraak op die gebied van lugvaart deur Parys en die provinsies van Frankryk versprei. Twee broers, Joseph-Michel en Jacques-Étienne Montgolfier, het ontdek dat hulle klein papierballonne vinnig en egalig in die lug in kon laat opstyg deur dit met warm lug te vul. Hulle eerste volgrootte warmlugballon is van papier en linne gemaak en is met die stink rook van ’n groot vuur gevul. Die onbemande ballon het tydens sy eerste vlug tot ’n hoogte van meer as 1 800 meter gestyg. Op 21 November 1783 het die ballon 25 minute geneem om twee passasiers—wat deur die publiek lugvaarders genoem is—oor Parys te neem. Gedurende daardie selfde jaar het nog ’n uitvinder, Jacques Charles, die eerste gasgevulde ballon bekend gestel, wat gevul was met waterstof, of “ontvlambare lug”, soos dit destyds bekend was.

Namate ballontegnologie verbeter het, het die hemel vinnig “oop” begin gaan vir die avontuurlustige lugvaarders. Teen 1784 het ballonne hoogtes van meer as 3 400 meter bereik. Net een jaar later het Jean-Pierre-François Blanchard die Engelse Kanaal suksesvol oorgesteek in ’n waterstofballon wat die wêreld se eerste lugposbriewe vervoer het. Teen 1862 het lugvaarders lugreise oor Europa en oral in die Verenigde State gedoen en hoogtes van meer as agt kilometer bereik!

Maar die vroeë lugvaarders was nog steeds heeltemal aan die genade van die winde oorgelewer; daar was geen manier om die rigting of spoed van ballonvlugte te beheer nie. Die ontwikkeling van petrol- en elektries aangedrewe lugskepe in die laaste helfte van die 19de eeu het lugvaart tot ’n groter mate moontlik gemaak, maar die worsvormige ligter-as-lug-lugskepe het stadig beweeg—gewoonlik tussen 10 en 30 kilometer per uur. ’n Nuwe benadering was nodig indien die mens ‘in die lug wou opbeweeg en van plek tot plek wou gaan’, soos Da Fontana voorspel het.

[Prent op bladsy 4]

Die mitiese Daedalus en Ikaros

[Prent op bladsy 4]

Leonardo da Vinci

[Erkenning]

Uit die boek Leonardo da Vinci, 1898

[Prent op bladsy 4]

Die Montgolfier-broers het die eerste warmlugballon ontwerp wat passasiers vervoer het

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel