Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 4/8 bl. 18-19
  • Wanneer vriende geld uitleen of leen

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wanneer vriende geld uitleen of leen
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Beginsels om in gedagte te hou
  • Die uitlener
  • Moet ek geld leen?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Moet ek by my broer geld leen?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Die leen van geld aan mede-Christene
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • ’n Probleem met leen
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 4/8 bl. 18-19

Die Bybelse beskouing

Wanneer vriende geld uitleen of leen

“DIE GODDELOSE LEEN EN GEE NIE TERUG NIE, MAAR DIE REGVERDIGE ONTFERM HOM EN GEE.”—PSALM 37:21.

“MOENIE leen of uitleen nie; want dikwels is jy die geleende ding asook die vriend kwyt.” Dit is wat die Engelse dramaturg William Shakespeare geskryf het, ’n herbevestiging van eeue oue wysheid. Daar is ongetwyfeld maar min aspekte van menseverhoudings wat soveel probleme kan veroorsaak as om geld te leen of uit te leen. Selfs met die beste beplanning en die opregste bedoelings verloop dinge nie altyd soos jy verwag het nie.—Prediker 9:11, 12.

Omstandighede kan ontstaan wat dit vir die lener moeilik of onmoontlik maak om sy verpligtinge na te kom. Of die uitlener kry dalk onverwags die geld nodig wat hy uitgeleen het. Wanneer sulke dinge gebeur, soos Shakespeare gesê het, kan vriendskappe en verhoudings in gevaar wees.

Iemand het dalk weliswaar geldige redes om geld te leen. Weens ’n finansiële terugslag as gevolg van ’n ernstige ongeluk of omdat hy sy werk verloor het, sien hy dit dalk as die enigste uitweg. Die Bybel moedig almal wat die middele daartoe het aan om behoeftiges te help wanneer dit in hulle mag is om dit te doen (Spreuke 3:27). Dit kan die uitleen van geld insluit. Maar hoe moet Christene wat so ’n ooreenkoms aangaan hulle verpligtinge beskou?

Beginsels om in gedagte te hou

Die Bybel is nie ’n finansiële handleiding nie. Dit bespreek nie al die besonderhede wat by die leen of uitleen van geld betrokke kan wees nie. Kwessies soos om rente te vra of nie en hoeveel om te vra, word aan die betrokke partye oorgelaat.a Wat die Bybel egter wel voorsien, is duidelike, liefdevolle beginsels wat die gesindhede en gedrag behoort te rig van enigeen wat geld leen of uitleen.

Let op van die beginsels wat op die lener van toepassing is. Die apostel Paulus het Christene gemaan om “niemand enigiets verskuldig [te] wees nie, behalwe om mekaar lief te hê” (Romeine 13:8). Hoewel Paulus hier ’n algemene beginsel genoem het, kan sy raad ongetwyfeld gesien word as ’n waarskuwing om nie skuld te maak nie. Soms is dit beter om sonder iets klaar te kom as om iemand anders geld te skuld. Waarom? Spreuke 22:7 verduidelik dat ‘hy wat leen ’n slaaf is van die man wat uitleen’. Die lener moet besef dat hy onder verpligting staan om te betaal totdat die geld terugbetaal is. In beginsel is sy middele nie heeltemal sy eie nie. Die terugbetaling van sy skuld in ooreenstemming met die voorwaardes waaroor daar ooreengekom is, moet ’n hoë prioriteit in sy lewe wees, anders sal probleme heel waarskynlik ontstaan.

Die uitlener kan byvoorbeeld geïrriteerd raak as die lener nie sy geld terugbetaal wanneer hy moet nie. Die uitlener kan dinge wat die lener doen, soos om klere te koop, in restaurante te eet of op vakansie te gaan, met agterdog bejeën. Slegte gevoelens kan opbou. Die verhouding tussen hulle en selfs tussen hulle gesinne kan gespanne of selfs erger word. Dít kan die hartseer gevolge wees as die lener nie sy woord hou nie.—Matteus 5:37.

Maar sê nou die lener kan weens omstandighede buite sy beheer skielik nie sy verpligting nakom nie? Sal dit hom van die skuld onthef? Nie op sigself nie. Die psalmis sê dat die regverdige ‘tot sy skade gesweer het en tog verander hy nie’ (Psalm 15:4). In so ’n geval sal dit liefdevol en wys van die lener wees om die situasie onmiddellik aan die uitlener te verduidelik. Dan kan hulle saam ander reëlings tref. Dit sal die vrede bewaar, en dit sal Jehovah God behaag.—Psalm 133:1; 2 Korintiërs 13:11.

Om die waarheid te sê, ’n mens openbaar baie omtrent jouself deur die manier waarop jy jou skuld hanteer. ’n Ongeërgde, onverskillige gesindheid teenoor terugbetaling openbaar ’n gebrek aan besorgdheid oor ander. Iemand met daardie gesindheid is as ’t ware selfsugtig—sý begeertes en wense kom eerste (Filippense 2:4). ’n Christen wat willens en wetens weier om sy skuld te betaal, stel sy posisie voor God in gevaar, en sy dade dui moontlik op ’n hebsugtige, bose hart.—Psalm 37:21.

Die uitlener

Hoewel die een wat leen onder die grootste verpligting staan, is daar ook beginsels wat op die een wat uitleen van toepassing is. Die Bybel toon dat ons behoeftiges moet help as ons kan (Jakobus 2:14-16). Maar dit beteken nie dat ’n mens verplig is om geld uit te leen nie, selfs al is die een wat dit vra ’n geestelike broer. “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom”, sê die Bybel.—Spreuke 22:3.

’n Skrander persoon wat weet en verstaan watter werklike slaggate by die uitleen en leen van geld betrokke is, sal enige versoeke om ’n lening wat hy ontvang sorgvuldig oorweeg. Is die versoek geldig? Het die persoon wat geld wil leen die saak goed oordink? Is die voornemende lener goed georganiseerd, en het hy ’n goeie reputasie? Is hy bereid om ’n dokument te onderteken wat die voorwaardes van die ooreenkoms uiteensit? (Vergelyk Jeremia 32:8-14.) Is hy werklik bereid om jou terug te betaal?

Ons wil nie te kenne gee dat ’n Christen moet weier om ’n behoeftige te help wat lyk of hy moontlik nie kredietwaardig is nie. ’n Christen se persoonlike verpligtinge teenoor ander behels baie meer as net goeie sakegebruike. “Wie ook al hierdie wêreld se middele vir lewensonderhoud het en sy broer sien gebrek ly en tog die deur van sy tere medelye vir hom sluit, in watter opsig bly die liefde vir God in hom?” vra die apostel Johannes. Ja, Christene moet “liefhê, nie met woorde of met die tong nie, maar met dade en in waarheid”.—1 Johannes 3:17, 18.

In sommige gevalle sal ’n persoon dalk besluit om nie geld aan sy behoeftige broer te leen nie. Hy verkies moontlik om hom ’n geskenk te gee of op ’n ander manier te help. In ’n soortgelyke gees sal die lener dalk besluit om barmhartig te wees wanneer probleme met ’n leningsooreenkoms ontstaan. Hy sal moontlik die lener se veranderde omstandighede in aanmerking neem en hom die lening oor ’n langer tydperk laat terugbetaal, die paaiemente kleiner maak of selfs die skuld heeltemal afskryf. Dit is persoonlike besluite wat elkeen self moet neem.

Christene moet in gedagte hou dat God alles sien en dat hy ons verantwoordelik sal hou vir die manier waarop ons optree en ons middele gebruik (Hebreërs 4:13). Die Bybel se raad om al ons ‘aangeleenthede in liefde te laat geskied’, is beslis van toepassing wanneer vriende geld uitleen of leen.—1 Korintiërs 16:14.

[Voetnoot]

a Sien gerus Die Wagtoring van 15 Oktober 1991, bladsye 25-8, vir bykomende inligting oor die kwessie van rente op lenings.

[Prent op bladsy 18]

“Die geldwisselaar en sy vrou” (1514), deur Quentin Massys

[Erkenning]

Scala/Art Resource, NY

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel