Die Bybelse beskouing
Jy is waardevol in God se oë!
“EK VOEL AL DIE GROOTSTE DEEL VAN MY LEWE ASOF EK NIKS WERD IS NIE”, HET ’N CHRISTENVROU GESKRYF. “ONGEAG HOE LIEF EK VIR JEHOVAH IS OF HOEVEEL EK MY INSPAN OM HOM TE DIEN, EK VOEL ALTYD DAT DIT NIE GOED GENOEG IS NIE.”
KEN jy iemand wat met diep gevoelens van minderwaardigheid of onwaardigheid worstel? Of het jy partykeer self sulke gevoelens? Sulke gevoelens is nie ongewoon nie, selfs nie onder getroue aanbidders van God nie. Niemand is immuun teen die gevolge wat die lewe inhou in hierdie “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” nie. Baie is verwaarloos en mishandel deur mense wat “sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir goedheid” is—eienskappe wat algemeen is in “die laaste dae” (2 Timoteus 3:1-5). Sulke pynlike ervarings kan diep emosionele letsels laat, wat gevoelens van volslae waardeloosheid tot gevolg het.
In ander gevalle kan negatiewe gevoelens ontstaan wanneer mense uitermate hoë standaarde vir hulleself stel. Omdat hulle nie aan hierdie standaarde kan voldoen nie, versterk die gevoel dat hulle net mooi nooit goed genoeg is nie. Wat ook al die rede, diegene wat met gevoelens van minderwaardigheid worstel, vind dit moontlik moeilik om in te sien waarom God—of enigiemand anders—hulle liefhet. Trouens, hulle glo dalk selfs dat dit eenvoudig onmoontlik is om hulle lief te hê.
Maar dit is nie hoe Jehovah God voel nie! In sy Woord vermaan Jehovah ons om op ons hoede te wees vir die “bedrieglike taktiek” van sy Teenstander, Satan die Duiwel (Efesiërs 6:11, Jewish New Testament). Satan gebruik sy bedrieglike taktiek in ’n poging om ons te laat ophou om ons God te aanbid. Met dié doel wakker Satan die gevoel aan dat ons niks werd is nie, dat Jehovah ons nooit kan liefhê nie. Maar Satan is “’n leuenaar”—trouens, hy is “die vader van die leuen” (Johannes 8:44). Daarom moet ons nie mislei word deur sy bedrieglike taktiek nie! In die Bybel praat Jehovah self en verseker hy ons dat ons in sý oë waardevol is.
’n Gebalanseerde beskouing van ons waarde
Die Bybel waarsku ons teen die negatiewe uitwerking wat ontmoediging op ons kan hê. Spreuke 24:10 (NW) sê: “Het jy getoon dat jy ontmoedig is op die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees.” As ons oor ’n lang tyd negatief voel, kan dit ons van krag beroof, en ons swak en kwetsbaar laat voel. Jy kan seker wees dat Satan deeglik hiervan bewus is. Dit is moeilik genoeg as ons hart gekwel word deur gevoelens van minderwaardigheid. Maar wanneer Satan sulke gevoelens probeer uitbuit, maak dit so ’n situasie selfs moeiliker.
Dit is dus belangrik dat ons ’n gesonde, gebalanseerde beskouing van ons waarde moet hê. “Ek [sê] vir elkeen daar onder julle”, het die apostel Paulus gemaan, “om nie meer van homself te dink as wat dit nodig is om te dink nie, maar om só te dink dat hy ’n gesonde verstand het” (Romeine 12:3). ’n Ander vertaling gee hierdie woorde soos volg weer: “Ek sê vir elkeen van julle om homself nie bo sy werklike waarde te skat nie, maar om ’n matige skatting van homself te maak” (Charles B. Williams). Die Skrif moedig ons dus aan om ’n gebalanseerde beskouing van onsself te hê. Aan die een kant moet ons waak teen verwaandheid; aan die ander kant moet ons probeer om nie tot die ander uiterste te gaan nie, want Paulus gee te kenne dat dit nodig is om iets van onsself te dink sodat ons ’n gesonde verstand kan hê. Ja, onder Goddelike inspirasie toon Paulus dat elkeen van ons in Jehovah se oë waardevol is.
’n Gebalanseerde gevoel van eiewaarde word ook in Jesus se woorde geïmpliseer toe hy gesê het: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matteus 22:39). Die woorde “soos jouself” toon dat ons ’n sekere mate van eiewaarde, of selfrespek, moet hê. Ons het weliswaar tekortkominge en maak foute. Maar wanneer ons daarna streef om God te behaag, jammer oor ons tekortkominge is en hom om vergifnis vra, kan ons nog steeds ’n mate van eiewaarde hê. Ons kritiese hart hou dalk aan om anders te voel, maar onthou: “God is groter as ons hart” (1 Johannes 3:20). Met ander woorde, Jehovah sien ons moontlik in ’n heel ander lig as wat ons onsself sien.
Gebroke hart, verslae gees
Die psalmis Dawid het geskryf: “Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees” (Psalm 34:19). Matthew Henry’s Commentary on the Whole Bible lewer die volgende kommentaar oor hierdie vers: “Dit is die kenmerk van die regverdiges . . . dat hulle gebroke is van hart en verslae is van gees, dit wil sê verootmoedig weens sonde en met geen gevoel van eiewaarde nie; hulle is gering in hulle eie oë en het geen vertroue in hulle eie verdienstelikheid nie.”
Diegene wat ‘gebroke van hart’ of ‘verslae van gees’ is, voel dalk dat Jehovah ver weg is en hy nie vir hulle sal omgee nie omdat hulle te onbelangrik is. Maar dit is nie die geval nie. Dawid se woorde verseker ons dat Jehovah nie diegene verlaat wat “gering in hulle eie oë” is nie. Ons medelydende God weet dat ons hom op sulke tye nodiger het as ooit, en hy is naby.
Beskou ’n voorbeeld. ’n Paar jaar gelede het ’n moeder haar tweejarige seuntjie inderhaas hospitaal toe geneem omdat hy ’n ernstige kroepaanval gehad het. Nadat die dokters die seuntjie ondersoek het, het hulle vir die moeder gesê dat hulle hom oornag in die hospitaal moet hou. Waar het die moeder daardie nag deurgebring? In ’n stoel in die hospitaalkamer, langs haar seuntjie se bed. Haar seuntjie was siek, en sy moes eenvoudig naby hom wees. Ons kan beslis selfs meer verwag van ons liefdevolle hemelse Vader, na wie se beeld ons gemaak is! (Genesis 1:26; Jesaja 49:15). Die treffende woorde van Psalm 34:19 verseker ons dat Jehovah, soos ’n liefdevolle ouer, ‘naby is’ wanneer ons “gebroke is van hart”—altyd waaksaam, sorgsaam en gereed om te help.—Psalm 147:1, 3.
“Julle is meer werd as baie mossies”
Gedurende Jesus se aardse bediening het hy baie omtrent Jehovah se gedagtes en gevoelens geopenbaar, met inbegrip van hoe Jehovah oor Sy knegte op aarde voel. Jesus het meer as een keer sy dissipels verseker dat hulle in Jehovah se oë waardevol is.—Matteus 6:26; 12:12.
Jesus het byvoorbeeld die volgende gesê toe hy die individuele waarde van elkeen van sy dissipels toegelig het: “Word twee mossies nie vir ’n muntstuk van geringe waarde verkoop nie? Tog sal nie een van hulle sonder julle Vader se wete op die grond val nie. Maar selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dus nie vrees nie: julle is meer werd as baie mossies” (Matteus 10:29-31). Dink net wat daardie woorde vir Jesus se eerste-eeuse luisteraars moes beteken het.
Mossies was klaarblyklik onder die goedkoopste van al die voëls wat geëet is. Hierdie klein voëltjies is gewoonlik gepluk, op houtpenne ingeryg en soos sosaties gebraai. Jesus het ongetwyfeld arm vroue op die markplein gesien wat hulle muntstukke uittel om te sien hoeveel mossies hulle kon koop. Die voëltjies is so gering geag dat ’n mens vir ’n muntstuk van geringe waarde (letterlik, ’n assarion, wat minder as vyf sent werd was) twee mossies kon koop.
Jesus het ’n ruk later hierdie illustrasie herhaal—maar met ’n effense verskil. Volgens Lukas 12:6 het Jesus gesê: “Vyf mossies word vir twee muntstukke van geringe waarde verkoop, nie waar nie?” Dink daaraan. Vir een muntstuk van geringe waarde kon ’n mens twee mossies koop. Maar as hy bereid was om twee muntstukke te betaal, het hy nie vier mossies gekry nie, maar vyf. Die ekstra voëltjie is op die koop toe gegee asof dit absoluut waardeloos was. “Tog”, het Jesus gesê, “word nie een van hulle [nie eens die een wat op die koop toe gegee is nie] voor God vergeet nie.” Jesus het die illustrasie toegepas en gesê: “Julle is meer werd as baie mossies” (Lukas 12:7). Hoe moes daardie woorde tog sy luisteraars bemoedig het!
Snap jy Jesus se bemoedigende illustrasie? As Jehovah selfs klein voëltjies waardevol ag, hoeveel te meer sal sy aardse knegte nie vir hom kosbaar wees nie! By Jehovah raak nie een van ons in die massa verlore nie. Elkeen van ons is so kosbaar vir Jehovah dat hy selfs van die kleinste besonderheid omtrent ons bewus is—tot die hare op ons kop is almal getel.
Satan sal natuurlik aanhou om sy “bedrieglike taktiek” te gebruik—soos om gevoelens van minderwaardigheid uit te buit—om ons te laat ophou om Jehovah te dien. Maar moenie dat Satan wen nie! Dink weer aan die Christenvrou wat aan die begin aangehaal is. Sy is gehelp deur ’n artikel in Die Wagtoring wat ons gewaarsku het teen Satan se pogings om ons gevoelens uit te buit.a Sy sê: “Ek het nooit besef dat Satan my gevoelens probeer gebruik om my te ontmoedig nie. Hierdie wete gee my die motivering om dié gevoelens te bestry. Nou kan ek vol vertroue my man staan teen hierdie sataniese aanvalle.”
Jehovah “weet alles” (1 Johannes 3:20). Ja, hy weet wat ons nou deurmaak. Hy weet ook wat ons in die verlede deurgemaak het wat moontlik ons selfrespek verpletter het. Onthou dat dit Jehovah se beskouing van ons is wat tel! Ongeag hoe ongeliefd of waardeloos ons dalk dink ons is, Jehovah stel ons gerus dat elkeen van sy knegte vir hom waardevol is. Ons kan glo wat Jehovah sê, omdat God, anders as sy Teenstander, “nie kan lieg nie”.—Titus 1:2.
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Jy is kosbaar in God se oë!” in Die Wagtoring van 1 April 1995, bladsye 10-15.
[Lokteks op bladsy 12]
Soos ’n liefdevolle ouer is Jehovah naby aan diegene wat hartseer is
[Prente op bladsy 13]
Hoe kan Jehovah jou vergeet as hy nie eens die mossie vergeet nie?
[Erkennings]
Lydekker
Illustrated Natural History