Van ons lesers
Chemiese sensitiwiteit Ek is 17 jaar oud, en ek wil julle graag bedank vir die reeks “Alledaagse chemiese stowwe—Maak dit jou siek?” (8 Augustus 2000). Daar is onlangs vasgestel dat ek veelvuldige chemiese sensitiwiteit (VCS) het, en dit was ’n groot verligting om te weet dat ek nie die enigste mens is wat sulke vernederende simptome ervaar nie.
S. C., Italië
Die artikels wat julle voorheen gepubliseer het oor die onderwerp “Tas besoedeling jou aan?” (22 September 1983) het lewensreddende inligting bevat. Hierdie verskriklike siekte weerhou ons van lewensbelangrike assosiasie met ons geestelike familie en van sosiale bedrywighede. Tog is dit ’n siekte wat kwalik enige begrip of medelye wek. Julle jongste artikels beskryf hoe lyers werklik voel.
M. J., Frankryk
Ek was meer as ’n jaar lank siek voordat ek ’n dokter gekry het wat my kon help. Gedurende hierdie tyd was my vriende bedagsaam en onbevooroordeeld, maar ek kon sien dat hulle nie werklik verstaan het nie. Ek wil julle dus vir hierdie artikels bedank. Dit is wonderlik om ’n deel te wees van ’n organisasie wat op soveel gebiede ingelig is.
S. B., Verenigde State
Ek ly aan VCS en het nog nooit so ’n deeglike, goed gebalanseerde bespreking van die toestand en die gevolge daarvan gelees nie. Ek het gehou van die “voorskrif” dat liefde en lag ’n hulpmiddel is om dinge te verwerk. Die wenke om redelike verwagtinge van ander te koester, was ook vir my prakties.
D. G., Verenigde State
As een van Jehovah se Getuies het ek tien jaar lank as ’n reisende bedienaar gedien en ’n hele paar mense ontmoet wat aan VCS ly. Dit is baie duidelik dat hierdie siekte ’n werklikheid is en dat dit nie net hulle verbeelding is nie. Ontwaak! het soos gewoonlik nie net die siekte beskryf nie, maar het ook praktiese wenke gegee oor hoe goedhartigheid, liefde en medelye aan diegene met die siekte betoon kan word.
T. M., Verenigde State
Liggaamsversiering Ek skryf na aanleiding van julle artikel “Die Bybelse beskouing: Liggaamsversiering—Waarom redelikheid belangrik is” (8 Augustus 2000). Smaakvolle liggaamsversiering is mooi—’n ware kunswerk. Die gemeenskap veroordeel my dalk en klassifiseer my volgens my voorkoms, maar ek weet dat ek in God se oë geliefd is. Ek hoop en bid dat ander nie net my tatoeëermerke sal raaksien nie, maar ook na my innerlike sal kyk.
K. M., Verenigde State
Die artikel het erken dat dit ’n persoonlike besluit is of ’n mens jou liggaam moet versier of nie. Deur ‘jouself met beskeidenheid en gesonde verstand te versier’, is boonop een van die maniere waarop ’n mens bewys dat jy innerlik mooi is (1 Timoteus 2:9). Die Bybel toon ook duidelik dat ’n Christen onder verpligting is om nie net sy eie gewete nie, maar ook “dié van die ander persoon” in ag te neem (1 Korintiërs 10:29).—RED.
Taal Dankie vir die artikel “Tale—brûe en mure in kommunikasie” (8 Augustus 2000). Tale het my nog altyd gefassineer, en ek het alreeds vyf Europese tale geleer. Ek leer nou Singala. Wat my egter opgewonde maak, is dat ’n nuwe taal dit vir ’n mens moontlik maak om ’n brug na ander kulture te bou en die “suiwer taal” van Bybelleringe aan hulle bekend te maak!—Sefanja 3:9, NW.
C. B., Italië
Droefheid Dankie vir die artikel “Moet ’n mens uiting gee aan droefheid?” (8 Augustus 2000). Die onderwerp lê ons na aan die hart omdat ons drie jaar gelede ’n seun verloor het. Selfs al huil en treur ons nog, gee artikels soos dié ons die krag om voort te gaan.
J. A. en L. A., Verenigde State