Die Bybel se beskouing
Was Jehovah die stamgod van die Jode?
VANDAG word die naam Jehovah in baie lande ten nouste geassosieer met die hedendaagse organisasie van Jehovah se Getuies. Tog verskyn hierdie naam in party Bybelvertalings wat deur ander godsdienste buiten Jehovah se Getuies gebruik word. Trouens, die naam Jehovah, in die vorm van die Tetragrammaton, is al duisende jare lank in gebruik.
Jehovah word soms “die God van Israel” genoem (1 Kronieke 17:24). Hierdie uitdrukking het party laat glo dat hy bloot ’n plaaslike stamgod was wat die Hebreërs van ’n ander kultuur oorgeneem het of wat hulle vir hulleself geskep het. “In die begin is [Jehovah] as ’n baie aggressiewe stamgod van die Israeliete beskou”, sê Karen Armstrong, skryfster van die boek A History of God. “Later het die profete van Israel . . . , omstreeks die sewende en sesde eeu v.C., hierdie stamgod ’n simbool van die totaal onbeskryflike werklikheid gemaak.”
Verskeie godsdiensgeskiedkundiges het die oorsprong van die naam Jehovah na Kanaänitiese of Egiptiese bronne probeer terugvoer. Ander beweer dat dit “’n ou stamnaam is” en nie die God identifiseer wat in die “Nuwe Testament” uitgebeeld word nie. Is dit waar? Wat openbaar ’n noukeurige ondersoek van die Bybel?
Jehovah—die God van alle mense
Die Bybel bevestig die noue band tussen Jehovah en die Israelitiese nasie. Maar dit is geen rede om hom bloot as ’n stamgod te beskou nie. Die Christenapostel Paulus het gevra: “Is hy net die God van die Jode? Is hy dit nie ook van mense van die nasies nie?” Wat was Paulus se duidelike antwoord hierop? “Ja, ook van mense van die nasies” (Romeine 3:29). Wie was die God waarna Paulus verwys het? Wel, in dieselfde brief aan die Romeine verskyn die naam Jehovah 19 keer. Die apostel het die eertydse Hebreeuse profeet Joël aangehaal en gesê dat dit nie net die Jode is wat gered sal word nie, maar “elkeen wat die naam van Jehovah aanroep”.—Romeine 10:13; Joël 2:32.
Dit was nie die Israeliete wat Jehovah as hulle God gekies het nie, maar Jehovah wat hulle gekies het om sy voorneme te verwesenlik—dit wil sê om die weg vir die Messias te berei. Daarbenewens word ’n stamgod se lot deur sy aanbidders bepaal. Wanneer die stam verslaan word, ly die god ook ’n nederlaag. Dit was nie die geval met Jehovah nie.
Jehovah se verbond met Abraham—wat eeue voor die Christelike era gesluit is—het seëninge vir mense van alle nasies belowe, wat God se belangstelling in die hele mensdom toon (Genesis 12:1-3; Handelinge 10:34, 35; 11:18). Die Israelitiese koning Dawid het getoon dat Jehovah die eienaar van meer as net die land van Israel was: “Aan Jehovah behoort die aarde en alles wat dit vul, die vrugbare land en dié wat daarop woon.”—Psalm 24:1, NW.
Later, toe Dawid se seun Salomo ’n tempel vir aanbidding aan Jehovah toegewy het, het hy getoon dat daar ’n manier was waarop nederige mense van enige nasie Jehovah kon nader. In sy toewydingsgebed het Salomo gesê: “Ook na die uitlander wat nie van u volk Israel is nie, en uit ’n ver land . . . kom en bid na hierdie huis toe, wil U dan hoor uit die hemel, u vaste woonplek, en doen volgens alles waaroor die uitlander U sal aanroep, sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken, om U te vrees soos u volk Israel.”—1 Konings 8:41-43.
Israel word verwerp
Professor C. J. Labuschagne het oor Israel se verhouding met Jehovah geskryf: “Deur Israel se geskiedenis heen het hulle keer op keer ondervind dat die ‘nasionale’ God op ’n baie onnasionale en selfs antinasionale manier kon optree.” Toe Israel in die eerste eeu die Messias verwerp het, het Jehovah daardie nasie verwerp.
Maar Christene moes nog steeds Jehovah se naam gebruik. Namate die Christengemeente gegroei het, het dit mense van alle nasies begin insluit. Die Joodse dissipel Jakobus het tydens ’n Christelike vergadering in Jerusalem waarvan hy die voorsitter was, gesê dat God “sy aandag op die [nie-Joodse] nasies gerig het om uit hulle ’n volk vir sy naam te neem”. As ’n bewys dat dit voorspel is, het Jakobus toe ’n profesie in die boek Amos aangehaal waarin Jehovah se naam verskyn.—Handelinge 15:2, 12-18; Amos 9:11, 12, NW.
Gee vir almal om, seën almal
As ’n verdere bevestiging van Jehovah se universele Godheid het Paulus geskryf: “Daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie, want oor almal is daar dieselfde Here, wat ryk is teenoor almal wat hom aanroep” (Romeine 10:12). Ja, alle gehoorsame mense kan Jehovah se seën ontvang.
Jehovah belowe ’n wonderlike toekoms aan al sy getroue en gehoorsame mensekinders—ongeag hulle nasionaliteit of ras. Sy Woord beskryf sulke mense as “die begeerlike dinge van al die nasies” (Haggai 2:7, NW). Hierdie mense leer Jehovah ken en kry hom lief. Die laaste boek van die Bybel sê van hulle: “Al die nasies sal kom en voor u [Jehovah] aanbid, omdat u regverdige verordeninge openbaar gemaak is.”—Openbaring 15:4.
[Prent op bladsy 20]
Moses met die Tien Gebooie